Fanie Botha 2013

995193_538867836167728_1163942152_n‘n Mengelmoes van liedjies…                                                                                                     ‘n Skets van gebeure deur Jacomien Hauman

 

Sondag, 14 Julie… We are marching to Pretoria

Of jy nou gevlieg het… 1439km gery het van vanoggend 3:00 af en vinnig, soos Hendri Bruwer, jou burger moes afsluk as Julian windhond van Zyl wil ry en vir toerleier Christiaan Rabie moes help om die logistiek van vier mense in die Polo en vyf in die Corolla uit te werk… Of so gelukig was om eers in Bloemfontein op te klim… Jy’s uiteindelik by Karen van der Linde se huis, reg vir ‘n laaste bietjie avontuur voordat die tweede semester op Stellenbosch begin. Mens kan duidelik agterkom wie dit is wat gery het, dis die mense wat ongemaklik rondstaan omdat hulle boude goed deur gesit is, i.v.m. die wat gevlieg het wat heel gemaklik kan terugsit op die stoele.

Mens wil nog so half begin bekommerd raak omdat jy nêrens eers sprake van aandete sien nie, toe word daar stapels Romans pizza bokse verby jou gedra en die reuk laat jou mond sommer water. Christiaan sê dankie vir die veilige reis en die kos en dan word daar toegesak op die bokse. Saam hiermee versprei die knoffelwalms deur die hele geselskap, en jy moet besluit… is jy in, of is jy uit?

Met breine wat nou beter kan funksioneer na die ete, word kossakke verdeel. Baie dankie aan Karen, Madilien Roos, Ernst Kleynhans, Reinhardt Venter en Sanmarie Kleynhans wat dit vroeër vanmiddag verdeel het. Vir een of ander rede, is die Pick ‘n Pay sak altyd groter as wat mens verwag, dus word verstellings gemaak, en ‘n top of twee word selfs hier en daar uitgehaal, want kyk… hier word vir seker ordentlik geëet by die BTK.

Reëlings vir môre word deurgegee en die slaapreëlings vir vanaand… Jy kan maar net wonder wat dit was wat Ernst op hierdie stadium vir Reinhardt beduie het. Nietemin, daar word inbeweeg en terwyl party weer in die tou staan vir stort, gaan kruip ander solank in. Dit neem ‘n hele rukkie vir die mense om rustig te word, veral in die TV-kamer.

Nag dames.

Maandag, 15 Julie… vat jou goed en trek, Ferreira

Ons staan 4:00 op en pak laaste goed terwyl ‘n koppie koffie geniet word. Die toergroep word ook bietjie meer volledig. Christiaan verduidelik hoe die ry gaan werk en bedank vir Tannie Steph terwyl Madilien die kaaseienaar probeer opspoor.

Ons ry met moeite tot op Sabie, terwyl ander, dis nou Gerrie le Roux, Anton Kraemer en Benjamin Lavin, eers in Nelspruit gaan draai. Natuurlik is daar altyd nog plek vir ‘n eet- of drink ietsie, so die meerderheid van die toergroep vaar die Spar binne. Alta-Marié Bruwer deel fizzers uit, terwyl Gustav Wiid Carmyn Jansen van Vuuren se muffins uitdeel.

Met groot inspanning en verwarring kom ons uiteindelik by die beginpunt aan. Sonbrandroom word gesmeer en foto’s word geneem.  Toe al die bestuurders ook by is, roep Christiaan uit: “Sakke op!” en “Stap nou!”. Madilien, of GPS soos wat Ernst haar later begin noem het, se beskrywing van reguit stap was bietjie misleidend, aangesien die stap sommer dadelik begin met ‘n stewige stukkie klim en tussendeur plantasies beweeg.

Daar word gestop by die Lone Creek waterval vir middagete, maar daar moet natuurlik eers ordentlikheidspraatjie gehou word, gevolg deur ‘n koning so oor die klippe en sommer amper by die krans af. Dis moeilik om nie die uitkykkring se intelligensie te onderskat wanneer hul uitroep dat daar o.a. nog 88 minute oor is voor die wraak, nie. Tog help dit om die misterie daaragter te laat oplaai. Dit is ook min of meer op hierdie stadium wat Jaco Delport dit goed dink om sy groepie se billy ‘n meter vanaf die waterval te gaan uitspoel. Onnodig om te sê:  die stroom was toe wel te sterk, en daar sit Groepie 3 sonder ‘n billy vir die res van die toer…

Met almal goed uitgerus, begin ons weer stap op die grondpad, met Gerrie wat hard probeer om die toergroep aan die sing te kry. Dis nie lank nie, of ons word gegroet deur die Maritzboshut met sy groot grasperk, lekker stoep, tafeltjies en opsigter, Albert. Reinhardt en Ernst wend so ‘n halwe poging aan om te verduidelik wat item is, en met dit as inspirasie gaan oefen die eerste toeriste, met die hulp van die twee Le Roux’s, terwyl die res solank bad.

Stokery begin met groepies wat maar redelik oor die werf versprei is, maar dit gee ook kans dat jy jou groepielede goed kan leer ken. Jou pakkie kitsvla is ook nie meer so opwindend as jy die gerug hoor dat Julian twee bokse ultramel vla saamgebring het vir sy groepie nie.  Hieraan smul hulle al heerlik terwyl jy nog wag vir jou pasta om te kook.

Daar word vanaand gebondel-slee en Gustav en Alta-Marié is eerste aan die woord om skiet en so aan te verduidelik. Na ‘n goeie verduideliking van die drie-sirkeltegniek, ‘n baie grafiese demonstrasie van die spittegniek en ‘n hele paar “en so aan”’s, verstaan almal ook nou waaroor skiet gaan. Vervolgens verduidelik Reinhardt en Hendri, of altans, Antonio en Gesepe, wat ‘n item is. Hulle roei êrens op en af op ‘n rivier, nou nog nie seker of dit in Italië of Frankryk was nie, terwyl dele van Maria en ook ‘n billy verby dryf.

Aangesien daar nie toerouers is nie, word hekels gerig aan grote koning Gerrie, wat verreweg die mees senior toerlid is. Christiaan vra sommer dadelik vir Reinhardt hoekom hy vir Jacomien gesê het sy moet haar ore op die grond hou. Julian wil weet hoekom Anton vir hom gesê het dat hy maar sy klere kan uittrek, nadat hy wat Julian is vir hom gevra het of Hendri daar is. Hendri vra vir Maryna Eksteen wat van haar ouers loperig, maar gaar hou en Jacomien vra Lindie Coetzee uit oor haar verwarring rondom hoekom die ou wat vóórstap nie ook so ‘n oulike naam soos slot en sleutel het nie. Hendri word ook uitgevra oor hoekom hy sou sê dis Gustav se tipe skiet waar hy agter niemand aan hardloop nie. Anton vra vir Alta-Marié hoekom sy vir Gerrie sou sê sy hou daarvan as hy haar misbruik, wat volg met Hendri wat ook by haar wil hoor wat sy bedoel het toe sy gesê het sy gaan nie gehekel word nie. Terwyl almal nog aan die lag is, vra Grietjie skielik uit die bloute vir Gerrie of hy onthou het dat hul ma vandag verjaar.

Die vloer word weer oopgemaak vir ‘n paar items. Jaco besluit om sy episode met die billy van vanmiddag vir ons te probeer demonstreer. Troepe Grietjie, Thys Delport en Phillipe du Preez tree aan, en toe die twee le Roux’s hul woorde onthou, word sy uitgeskel oor haar afwesigheid by die kamoefleersessie. Gerrie leer Thys om push-ups te doen, terwyl Philippe sommer vir homself hande klap wanneer hy dit regkry. Magriet, wat word ‘n slag Sanmarie genoem deur Gerrie, en Jacomien is weer Hans en Mans en ‘n Ninja en Samurai wat oor die gras rol. Reinhardt is die kroegman by Mikes drive-in bar met Johannes Rabie as sy deur. Besoekers is Pieter Retief wat op die ou end ‘n goeie les vir die Japannees Anton leer met ‘n Toyota spanner, wat ook in Japan gemaak is. En hiermee is items vir die aand eers klaar.

Daar word geskuif na die stoep waar Alta-Marié vir ons Jesaja 51:16 en Markus 11:22 lees en ons aanmoedig om ons eie waarde te ontdek, waarna die Magaliesbergse aandlied gesing word.

Die vure word vir nog so tydjie geniet totdat almal bed toe gaan vir ‘n goeie nagrus.

Nag dames.

Dinsdag, 16 Julie… Op berge en in dale

Dit is net vier mansstemme wat ons vanoggend wakker sing, gevolg deur Julian wat dadelik uitroep dat Groepie 4 se water reg is. Dis heel vreemd, maar tog lekker, met die son wat hier so vroeg opkom en die toergroep kom sit stuk-stuk op die stoep.

Charl Ellis lees vanoggend vir ons Matteus 11:32-39 en getuig van die liefde wat daar is tussen ons as BTK-ners en dat die oorvloed geniet en gedeel moet word.

Vandag begin ons deur op te stap in die kloof met ‘n hele paar rivier-kruisings. Gerrie vereis dat die eerste toeriste voor moet stap, sodat hy daar vir hulle die liedjies kan leer –iets wat nie eintlik deur die res van die toergroep verwelkom word nie. Ons vat die afdraai om te gaan kyk na die kastieg groot waterval, en maak gebruik van die geleentheid om ‘n groepfoto te neem.

Ons stap verder in die woud met die son wat hier en daar wil deurkom. Ons sak af om te kan opkyk na ‘n 40m-hoë (volgens Anton en Christiaan) waterval met sproei wat elke nou en dan oor ons waai. Game break word ‘n entjie verder gehou by ‘n koue poel wat Eleonore Slabbert en Lonel Steyn aandurf – lekker meisies van die BTK.

Van hier af styg ons weer om uit die woud te kom. Dit is ook toe ons amper uit die ruigte is wat die boodskap van agter kom dat Charl besig is om krampe te kry. Gustav bied dadelik aan om die pligte van slot oor te vat, dit het natuurlik niks met sleutel, Carmin, uit te waai nie. Dit voel omtrent soos ‘n oorwinning om bo uit te kom en ‘n gemaklike pas word weer gehandhaaf op die grondpad.

Ons vat vir die tweede keer vandag ‘n afdraaipad op pad na ‘n waterval toe. Ons stap oor groen grasveldvlaktes, met zebra’s en elande in die verte en “BTK 2013” word darem ook op een van die klippe in die klipbaken geskryf.

Die padjie loop verby ‘n lekker poel, ideaal vir middagete, maar Christiaan besluit nee, ons stap aan. Net om 200m later weer terug te draai en te sê ons kan maar daar ons kerrievis-middagete geniet. Daar word lekker geswem en ook van hoë klippe afgespring, daar’s selfs ‘n paar wat bad en ‘n middagslapie inkry. Ons val weer in die pad en kort voor lank is ons by die tweede hut, Stables.

Dit is ‘n vreemde gevoel om so vroeg by die hut te wees, en Ernst, Christiaan, Gerrie, Hendri, Simon, Jacomien, Grietjie, Eleonore, Reinhardt en Jaco herleef weer hul kinderdae van albaster speel in die sand, terwyl die res bad of oefen vir die Wraak. Die albaster-speel gaan natuurlik gepaard met lopende kommentaar van die toeskouers, en reëls wat die heeltyd verander, aangesien die geheue ook maar bietjie verroes is. Die res van die middag word daar uitgespan op matrasse en stoute middagslapies word ingewerk.

Net soos wat almal goed aan die stook is en reg is vir hulle lekker koppie sop, begin Christiaan met ‘n storie dat daar Boesmantekeninge is om te gaan kyk, voordat die son sak. Jy’s nog so besig om onderlangs te mompel dat hy dit wraggies maar vroeër vanmiddag kon gedoen het, of selfs te wonder of hier in Mpumalanga Boesmantekeninge kan wees… wanneer Christiaan uitroep: “Skiet is oop!” Dis maar ‘n verleë groep wat terugstap na ‘n nóg meer verleë groepie wat agtergebly het om aan die stook te bly, of net nie lus was vir Boesmantekeninge nie. Daar word verder gestook en weereens baie lekker geëet.

Johannes Rabie lees vanaand vir ons uit Matteus 28 en dan word daar na die sleekring geskuif.

Eerste toeris konvenor, Anchen van Dyk, verwelkom almal by die eerste toeriste se aand, almal… elke moontlike portefeulje…behalwe die sketsskrywer. Daarna volg Benjamin wat sy kitaar, Maryna, probeer tune om die deuntjie vir vanaand se sangkompetisie te speel. Beoordelaars vir hierdie kompetisie sluit in Nataniël, Vernon Koekemoer en Dowwe Dolla wat onderskeidelik deur Lerise Strydom, Philippe en Lonel vertolk word. Die deelnemers is Lindie as Paris Hilton, Sanmarie as Hannah Montana, Devon Morillion as Jack Parrow en Marli du Toit as ‘n Telly Tubby. In ‘n advertensiebreuk is dit Thys wat sy grassnyers, Michelle Gous en Johannes probeer verkoop, met Benjamin wat die gras is.

Hierna is die ou toeriste nog nie tevrede nie en eis dat daar nog ge-item moet word. Dus doen Lonel en Anchen ‘n Matilda weergawe, met lyf en bene wat nie heeltemal saamwerk nie. Ons skuif na ‘n brandende huis met Johannes, Lindie, Sanmarie, Lerise, Marli.  En Thys, wat seker die meeste praat wat hy nog op die hele toer gepraat het. En laaste is Philippe ‘n eend wat die kroeg en kroegvrou, Anchen besoek.

Met die singery, is dit omtrent ‘n sing-off tussen Lindie en Thys. En die Sarais Marais-geïnspireerde Koning is so skokkend, dat Gerrie sommer skaam kry. Nadat die ou toeriste vir hulle Koning gesing het, word daar na die bome agter die hut geskuif vir die wraak.

‘n Ruk later, is dit ‘n groep volwaardige BTK-ners wat terugklim in die slees en items word voortgesit. Hollander Tim, dis nou Gerrie, en Nigel van die Cape Flats, dis nou Christiaan, verduidelik  sommer dadelik waarvandaan die ai-tim nou eintlik kom, aangesien daar ‘n hele paar eerste toeriste was wat daarna verwys het as ietems. Dit is ook húlle twee wat later vir ligtoring Lonel aansteek, wat helder begin gloei. Drie kannibale, Anton, Pieter Retief en Hendri wag die foursome, Reinhardt, Ernst, Gustav en Carmin in wat elk ‘n wens kan maak voordat hulle in kanoes verander, waarop Gustav wens dat Carmin saam met hom na Dagbreek se huisdans sal gaan – en toe sê sy ja… Tussendeur word daar ook treffers soos “Staan op, staan op”, “Alleen, leen, leen” en “Span die seile” gesing. Grietjie, Magriet en Jacomien vervaardig tandepasta in ‘n fabriek, totdat Grietjie begin dink sy’s ‘n gloeilamp.

Gerrie kry die plaaswerf aan die gang met volgende diere: Lindie, die lekker skaap tjoppie, Marli, die melkerige koei, Thys, die haastige hoender, Johannes, die jong varkie en Philippe, die vryfbare eendjie… iets sê vir my hulle was nie te goed met hulle alliterasie op skool nie. Hierna vertel Ernst die lang uitgerekte storie van veerpenmaats in Amerika en Japan – net om nooit die einde te vertel nie. Gerrie probeer ‘n nuwe tipe item deur papiertjies met woorde op uit te deel en almal wat dan moet bydra om ‘n storie te vertel. Woorde soos lig van my lewe, bobotie, rooi lipstick, geboortemerk en sleutelbeen, veroorsaak bietjie verwarring, maar darem ook vermaak.

Met vanaand se hekels loop Sanmarie en Ernst en hul verhouding goed deur met opmerkings wat heen en weer vlieg. Alta-Marié vra ook vir Ernst hoekom hy sou sê hy’t Wilson toffies vir sy slee-date gebring, sodat sy nie baie praat nie. Thys word ook deur Christiaan gevra om sy one stroke enjin te verduidelik.

Christiaan verduidelik die dag van môre wat heewatl “rustiger” gaan wees (volgens Madilien) en hiermee word die dag ook afgesluit en almal gaan lê rustig, veral nadat Magriet eers die mense by die vuur gaan stilmaak het.

Nag dames.

Woensdag, 17 Julie… The hills are alive, with the sound of music

Ons word wakker gesing met “Goeie more my sonskyn” en begin met die nou al gewoond-aan roetine van ontbyt eet, koffie drink en sak pak.

Eleonore lees vanoggend uit Fillipense 2 en deel ‘n getuienis van hoe belangrik dit is om daar wat jy is God se wil uit te voer en ook reg te wees om in gehoorsaamheid teenoor Hom te reageer.

Met ‘n BTK-wifey foto geneem, val ons in die pad. Met die eerste bult wat nie lyk asof hy ophou nie, is dit moeilik om te verstaan hoe Lindie genoeg asem kan hê om nog te kan sing ook. Maar ons kom tog bo en draai af op ‘n paadjie wat oor die grasvelde loop. Daar word gestop om nog ‘n groepfoto te neem, of ‘n hele paar, met Hugo se fancy kamera wat elke 3 sekondes of iets een neem. Ons sak weer af om deur ‘n klofie te gaan en water bottels vol te maak en stap dan verder deur die grasvelde. Middagete word geniet op ‘n uitkykpunt met bobbejane wat net hieronder ons skree. Danksy Simon, eet Groepie 2 net saamgedrukte krummels vir middagete, terwyl Groepie 1 besluit om eerder een van hul pakkies provitas oop te maak.

Ek begin die opsie oorweeg dat Ernst dalk net vir Voorsitter sal wil staan, sodat hy die bevele kan gee, soos wat hy elke keer as daar iets gedoen moet word dit uitroep… “Rus nou!”, “Eet nou!” of “Swem nou!”. Ons begin stap deur ‘n gebrande deel en hier en daar probeer iemand heel terloops klink as hul benoud vra of die hut nie dalk ook afgebrand het nie.

Dis nie lank nie, en ook nie laat nie, inteendeel, dis 14:45 toe ons by die hut aankom. Weereens word daar uitgespan op matrasse. Party gryp dadelik ‘n pot of billy om skoon te kom. Een so iemand is Jaco wat net betyds gekeer is voordat hy seep in een van die billies gooi – en toe nog die water heeltemal te ver oor sy lyf gooi.  ‘n Massage garage word aan die gang gesit, terwyl die satellietfoon gebruik word om vir voorsitter, Anna-Marie Müller, in Amerika te bel. Die vet, ronde blaas op Karen se hak word ook behandel met opmerkings en kommentaar van omstanders, een so ‘n omstander is Reinhardt wat sukkel om sy verbasing weg te steek en vra of sy met klompe stap. Gerrie, Pieter van Rooyen, Christiaan Scholtz en Johannes het nog heeltemal te veel energie en laat val ‘n boom in die verte. Die mans se toiletgeriewe is ook heeltemal ontoeganklik en volgens Ernst gaan jy jou reuksintuig verloor as jy dit besoek.

Toe daar begin word met die stokery ontstaan daar groot drama. Vervolgens Julian se weergawe van die gebeure: Groepie 4 het Groepie 2 se pasta saamgedra wat opgetel is, met die doel om dit te kan terugruil vir iets meer waardevol. Daar kan egter nie ‘n ooreenkoms bereik word tussen die groepies nie, en Groepie 4 hou dus die pasta. Groepie 2 bied toe bacon kips aan, wat eintlik Groepie 3 s’n is, met die gevolg dat 3, Gustav, vir 4 aanval om dit terug te kry. Julian gryp toe al Groepie 4 se sakke en staan in die hoek waar daar ‘n groot gestoeiery ontstaan. Groepie 3 vat toe 4 se pasta, wat hul terugruil vir ‘n boks bacon kips wat eintlik net ‘n bottel Bovril inhet – dus wen Groepie vier. Ek sukkel maar om hierdie storie te verstaan – ek hoop dit maak vir jou sin. Met al die drama verby, word daar tog lekker geëet.

Jacomien lees vanaand uit Psalm 8 en 1 Konings 19 en spreek waardering uit oor die stilte wat ons hier kan ervaar.

Ons klim in die slees reg vir die aand se items. Christiaan begin die aand met die Wild West Show. Hendri, Julian en Anchen vry in die donker. Grietjie, Jacomien, Magriet en Alta-Marié doen vir die eerste keer in jare die BTK-meisie item, met Christiaan se line op die einde: En die ouens… hulle like dit. Reinhardt is nog steeds deurmekaar met sy aardrykskunde, en Pieter verkoop koppe, Thys, Sanmarie en Lerise, en die nooit-gebruik kop: Philippe. Jacomien, Christiaan, Grietjie en Gerrie doen Big Joe met die twee Le Roux’s se gebroke engels. En natuurlik, as Anton toer, moet klippies ook in die water gegooi word. Johannes en Simon is in die hoof se kantoor oor Tommy se gedrag. En Faizel verkoop skoene langs die straat.

Hekels begin met Jacomien wat vir Julian vra hoekom hy sou sê hy’t ook hart. En daarna vir Ernst uitvra oor sy stelling: Ek’t minus nul game. Hendri wil by Ernst hoor hoekom hy sou sê: Dis so lekker, onder in, bo uit. En dan vra Hendri ook vir Maryna oor haar erkenning: Daai meisie is so mooi dat ek ook kyk. Julian vra vir Reinhardt hoekom iets wat tuis van Japan, made in Taiwan sal wees, en ook hoekom hy as sy hand uitgesteek is sou sê: Speak to the face. Madilien wil ook by Ernst weet hoekom hy onder die slaapsak wil verdwyn met sy sleedate Alta-Marie as hekels begin. Gustav het ook vroeër vandag erken dat jou stort partners jou op ‘n ander manier leer ken – en hier by die BTK kan ons seker nie daarmee stry nie!

Dit is al goed toegetrek toe ons gaan lê en jy’s gelukkig as jy betyds in jou slaapsak kan kom voordat die reën begin uitsak.

Nag dames.

Donderdag, 18 Julie… Sing vir my saggies, sing van die reën

Die son verrys is skaars klaar gesing, of die ouens val weg met ‘veels geluk liewe maatjie, omdat jy verjaar…’ vir Sanmarie wat vandag verjaar. Dit is maar moeilik om jou sak te pak en opgewonde te raak oor die dag se stap met die mistigheid en reën hier om die hut.

Lindie vertel van die Lewende Water wat in oorvloed vir ons elkeen beskikbaar is en onderstreep dit met Johannes 7:38 en 39.

Met splash covers of poncho’s oor die sakke getrek val ons teen ‘n stewige pas in die tweespoor pad wat deur die plantasies loop. Met die herinnering van Christiaan dat ons bymekaar moet bly in die digte mis, kan jy nie help om weer jou kinderprentjie van Rooikappie en wolf in die woud op te roep nie. Dit is ook oor hierdie rede dat ek te bang is om agter te raak, en eerder besluit om te maak asof ek seergekry het sodat die groep kan stop terwyl ek gou my veter weer vasmaak.

Ons volg ‘n bospadjie deur die ruigtes om weer by ‘n tweespoorpad uit te kom, en om uit te vind dat ons al 7km in ‘n uur gestap het. Teen hierdie spoed van 4.8km/h is ons ook al 11:45 by die MacMac hut en word die Gentlemen’s challenge sommer dadelik gehou. Gerrie bewys dat hy dalk al oud is, maar vir seker nog nie koud nie, deur al die jong klonge weg te hardloop.

Nadat middagbroodjies geëet is, gaan lê pary ‘n bietjie vir ‘n middagslapie, ander kuier en sing om die gerookte vuur, en bestuurders stap Graskop toe om solank die motors te gaan haal. Hulle kom ook terug met ‘n hele paar biere en bottels Muskadel en Rooiwyn wat dadelik geskink word in die blikbekers terwyl daar verder gesing word om die vuur met die hulp van: en die apie sit en droom. Net wanneer jy dink Gerrie se gesig kan nie nog rooier nie, kom die volgende liedjie en sing hy dit met nog meer passie en emosie. Dit wil voorkom asof die 163 liedjies in die sangbundel wel nie genoeg is nie en sommiges word herhaal, of ou volksliedjies word ook ingesit. Philippe en Hendri begin sommer ook ‘n beatbox om bietjie aksie te kry. Ons kuier lekker man, lekker.

Stokery begin, en wéér ontstaan daar drama met biltong wat gesteel of weggesteek is. Twee oud BTK-ners, Retha Roos en Melissa Laubsher, kom kuier ook en bring lekker roomys saam, wat veroorsaak dat die beertjie-poeding in baie groepies tweede kom. Heeltemal gekant teen kos mors, voer Jacomien Groepie 4 se orige poeding aan die geselskap om die vuur, ook aan Gerrie … sy hele gesig loop deur.

Daar word nog lank lekker om die vuur of op die stoep gekuier, terwyl tee of koffie gestook word voordat ons sommer in die hut slee vanaand. Items wat uitstaan is Gerrie, Pollie papegaai en Lindie in die Kleinhandelaars en Kie, met besoekers Anton, Marli, Eleonore en Johannes. Getroude paartjie Ernst en Sanmarie wat skoonpa Gerrie, wat vir die eerste keer choke in ‘n item, besoek. Philippe wat een of ander been-oefening probeer demonstreer. En natuurlik Kaptein, met Pieter van Rooyen, Christiaan, Hugo, Johannes, Anton en kkkkk-kaptein Gerrie wat by tye vergeet dat hy nie meer ‘n pappegaai is nie, en dus nie meer in so ‘n stemmetjie hoef te praat nie. Reinhardt en Ernst neem deel in ‘n gedigkompetisie en ‘n blonde Grietjie word afgetrek deur ‘n nog blonder Jacomien.

Hekels val weg met Julian wat sy foon uitruk en die volgende by Reinhardt wil hoor: As hulle baba’s toelaat, moet hulle honde ook toelaat. By Grietjie: Ernst is Sanmarie se hondjie. By Christiaan Rabie: lek eers klaar, dan praat ons en by André: Nee ou, moenie daar gaan aan tafel nie. Hendri vra ook vir André hoekom hy sou sê hy’t dit in die heat of the moment gedoen en vir Maryna hoekom sy sou sê: Moenie vir Philippe gaan nie, gaan vir my.

Die planne van môre word deurgegee en daar word uitgeskuif na die vuur vir godsdiens. Pieter lees uit 1 Korintiërs 13, gevolg deur ‘n geseënde sessie lofprysing en aanbidding.

Daar word tot vroegoggend gekuier om die vuur met ‘n geskaterlag wanneer Reinhardt ‘n pakkie jelly babies heeltemal verkeerd oopskeur sodat dit in alle rigtings vlieg, Benjamin wat (beter is as ‘n noot-vir-noot deelnemer) deur liedjies wat ingesit is uit volle bors aan te hou sing, en Gerrie wat goed gatvol raak vir die vuur en tog te dankbaar is as Johannes uiteindelik inspring om te help.

Vrydag, 19 Julie… Time to say goodbye

Die koor wat ons wakker sing vanoggend klink ietwat hoër, en hou ook langer aan. Dit is ook asof almal wil vasskop teen die idee dat ons vandag klaar is, aangesien die oppakkery vandag ekstra lank vat.

Alta-Marie en Philippe kom agter dat Thys nog baie min van die toerlede se name ken, en probeer die toerleier se van verduidelik met die leidraad: Dit begin met ‘n R, en dit eindig met ‘n ‘abie’ waarop Thys selfversekerd uitroep: “Jan Rabie”.

Dis met ‘n swaar gemoed wat daar ‘n kring gemaak word, want ons moet afskeid neem van Hendri, Eleonore, Julian, Grietjie, Christiaan, Pieter, Anton en Gerrie wat vandag maan toe gaan (nadat van hul al wel daar was). Ek sal eerder nie verder hieroor uitbrei nie.

Ons sluit ons oë en dank God vir die nuwe dag en die toer wat sover geseënd was en vra dan ook sy beskerming deur die dag.

Die karre word gelaai en ons vertrek met Julian se musiek wat hard blaas. Ons ry tot by God’s window, om die toeriste wat daar is se rus en vrede te versteur en dan ook ‘n paar foto’s te neem – min gepla oor hoe ons lyk met stokies en vuil klere.

Ek neem aan die pad na Pretoria was maar stil met verlore slaap wat ingehaal word, want almal het weer baie energie toe ons by Atterbury bymekaar kom vir Terrash. Anton is heel teleurgesteld dat daar nie ‘n burger challenge is nie, dit is nogals swak van die ouens, ek stem saam.

Ons sluit die toer sommer in die parkeerterein af, met Pretoriâners wat ons heel vreemd aankyk wanneer ons begin Koning.

By Karen se huis gekom word die groep weer verdeel, aangesien ‘n hele paar karre al vanaand deurry Bloemfontein toe. Die wat agterbly, kuier lekker en kan ook uiteindelik steak braai wanneer die hout uitgebrand is.

Na ‘n lang dag se gery kom die Kaapse berge weer nader, met kleurvolle blommetjies langs die pad en sterk wattervalle teen die hange. Ons is veilig tuis na nog ‘n toer van mooi uitsigte, soet herinnerings, nuwe grappies en vriende, reg vir die nuwe semester. Vaarwel toermaters, die toer was lekker man, lekker!