Seweweekspoort 2018

 

 

Dag 1 – Maandag 16 Julie

Die bus is stil soos ons wegry, want almal wil graag slaap. Ons spring immers weg sodra ons daar anderkant aankom. Dis so vier en ‘n half ure se ry oor Laingsburg voor ons op die grondpad kom en voor Bosch Luys Kloof (I kid you not) se hek stop. Dis maar koouud en ons hou al ons klere aan terwyl ons al die kos oor- en uitpak. Mart-Marié Serfontein en Chelaine Maree sluit by ons aan en ons is amper gereed om te stap.

Twintig voor nege is ons weg op die tweespoor by Bosch Luys Kloof se hek in. By die bordjie wat sê To Hell and Gone, draai ons regs af en loop op by ‘n heuwel wat op die bopunt skielik oopmaak op ‘n lieflike landskap van golwende geleidelik rollende heuwels wat ‘n Engelse digter uit die Romantiese periode seker strofes en strofes oor sou skryf. ‘n Deel van die groep het selfs op ‘n stadium koedoes gesien, wat net bydrae tot die magiese element van die roete. Aan ons regterkant, in die verte kan ons die Seweweekspoortpiek sien, wit van die sneeu. Ons klim hom Donderdag, maar ons moet eers verbrand in die hel voor ons kan vries op die piek.

Dit begin intussen so bietjie te reën, maar nie te veel nie, net genoeg dat almal hulle reënseile uithaal en verder stap. Ook net genoeg dat toe ons by Die Leer kom wat in Die Hel afgaan, die klippe net-net nat genoeg was om gevaarlik wees. Die Leer is die naam van die zig-zag-paadjie wat by die berg af loop. En so, na so bietjie van ‘n verkeersknoop na die pas van die stap skielik afgeneem het, is ons daar af. Jacques Theron is amper dood na hy net-net ‘n waatlemoen-grootte klip ontduik, na hy oor die ding struikel en dit losgekom het uit die berg uit. Die pad is lank en baie steil en na die einde se kant toe raak party van ons lekker sat en vat sommer kortpaaie om onder te kom. Nie ‘n goeie idee nie. En as jy nog van die wat voor was sien, waar hulle op die onderste grasperk lieflik uitgestrek sit, wil jy ondertoe! Dit was hel.

Middagbroodjies was onder en daar is gemengde gevoelens oor die polonie wat op die spyskaart was. Klaarblyklik het dit die kerrievis vervang want dié word nie meer verkoop nie. Dané Eloff wil haar groepie aanmoedig en sê dit lyk vir haar na Woolies ham. Johan Slabbert knik sy kop en sê dat die hele ding van polonie is in hoe jy dit sny. Pieter Sakkie Coetzee val ook in met: “As ek dit eet begin ek sommer spontaan Frans te praat.”
Nou ja ouens.

Aan die anderkant van die grasperk vra groepieleier Jacques vir sy Middagbroodjies of hy asseblief ‘n kaasbroodjie kan aankry en toe hy weer sien sit hy met ‘n blok kaas en twee stukke brood in elke hand.

Dis steeds koud en ons sit maar almal saamgeboesem, steeds in ons baadjies en langbroeke. Ordentlikeidspraatjies word gedoen deur Fritz Buhrmann en Chelaine onderskeidelik en daarna Machtige Koning ons, tot die verskrikking van die eerste toeriste.

En toe is ons die laaste heuwel uit, ons klomp wat soos huppelende jellybeans lyk, met al die Technicolor reënseile wat ons steeds oor ons sakke getrek hou vir ingeval daar weer ‘n swaar wolk verbykom. Frederik van Zyl besluit sommer om die tweespoor opdraande uit te draf tot bo, waar ons kan sien dat ons pas by Kleinberg was, luidens die bordjie wat ons daar aantref.

Bo-op die heuwel kan ons vir die eerste keer waarlik regtig die Hel voor ons uitgestrek sien waar hy byna direk Suid tot Noord lê. Dit is waarlik asemrowend. En toe huppel die jellybeans weer by die heuwel af na ons kampplek toe vir die aand. ‘n Paar stap amper 200m verder verby die afrdaaiteken wat sê “Camp.”
“Nee,” sê Tannie Rose van den Heever, ons toerma en Louw en Christiaan van der Heever se ma, “ons het nie gedink ons is al daar nie, toe stap ons maar aan.”

Net voor ons afdraai na die kampplek toe is daar ‘n wye stroompie of twee wat ons moet oorsteek en waar gewone mense in die water sal val, val Danike Burger en Annemicke Kotze langs dit. Eindelik daar aangekom, skyn die son nog helder en kan ons die grasperk met sy vuurpitte nog sien en waardeer, asook die twee spoeltoilette en twee storte wat aan ‘n donkie gekoppel is. Die laaste agterossies het net aangekom en gaan sit om hulle skoene uit te trek, toe daar met ‘n luide gebrul ‘n blinkblou 1958 1 Series Land Rover aangery kom en met ‘n skielike ruk tot stilstand kom in die middel van die kamp. Jannes Reddig en Frans Grotepass het aangeland, met Winston die Land Rover!

Soos dit donker word, word die vuur aangesteek, die stokers stook en die res van ons kuier lekker saam, so tussendeur alles. Op ‘n stadium begin die wolke saam te pak en reën dit kort-kort. Genoeg sodat Fritz bondelslee vir die aand afstel en meeste van ons al agtuur 20:00 terug in ons tente is en aan die slaap gesus word deur die ritmiese tap-pat-tap-pat van die reëndruppels teen die tente se seile.

Dag 2 – Dinsdag 17 Julie 2018

Ons hoef eers 08:00 op te staan en die byna 10 ure slaap wat meeste van ons ingepas het, laat ons uitgerus en reg vir vandag … watokal vandag mag beteken. Niemand is eintlik vreeslik seker nie.

Ons eet rustig ontbyt en soos ons begin regmaak om te begin stap vir die dag, maak ons oudergewoonte Die Sirkel, waar skiet (onsuksesvol) deur Louw en Dané verduidelik word. Al wat arme Louw net heeltyd wil doen is op sy knieë gaan voor Dané. Sakkie en Jannes het gehelp om interception te demonstreer. Fritz besluit toe dat omdat hy nie die dag saamstap vir die Dagstappie nie, gaan hy sommer daar al skiet oopmaak, soos ons almal in die sirkel staan. Ongelukkig het hy een fundamentele stukkie informasie vergeet – eerste toeriste mag nie skiet of geskiet word nie, aangesien hulle vanaand gewraak word. Ja nee, dit het omtrent so goed gegaan soos jy jouself kan voorstel.

Op die ou end is ons ook daar weg, terug op die pad wat ons gister mee ingekom het. In plaas daarvan om weer by Die Leer op te gaan het ons op die tweespoor gebly wat Wes uit Kleinberg loop, en kon ons sien hoe ‘n 4×4 uit Die Hel sou kom.

Mens hou later op met tel hoeveel keer jy by die een berg op en weer in die volgende klofie af gaan (drie keer op en twee keer af soontoe), en hou net aan met stap, seker daarvan dat die uitsig by die beloofde waterval en swempoele die moeite werd sal wees. Toe ons “daar” kom is dit ‘n byna vertikale afgrond in de kloof af wat net ‘n paar brawes aandurf. Onder andere Janneman Gericke, Tainton Hutton, Niel Lambrechts, Loubser van der Merwe, Ernie Weyers, Morne Bester, Frederik, Jacques, Daniel von Eschwege, Van Zyl Venter, Kalvyn Roux, Louw en Oom Johan van den Heever, toerpa.

Die’s wat bo bly kyk of hulle klippe tot in die poel wat dooeer onder lê kan gooi (meer punte as jy een van die’s wat afstap kan raakgooi). Na dit vervelig raak stap ons toe een affie terug na ‘n driffie toe en eet middagbroodjies daar. Ons is immers in Die Hel en die burns vlieg toe Tana Toerien, haar groepie se kok, vir Danike, ‘n middagbroodjie, sê dat sy maar die brood dikker kan smeer en Danike toe antwoord met: “Jy kan maar sout in my kos gooi.”

Ons het nog geen ander mense gesien vandat ons hier is nie, alhoewel daar baie huisies is wat leeg staan (wat ons aanneem vir kamp is). Afgesien van die koedies op dag een, is daar ook maar min ander diere, behalwe natuurlik die voëls. Ons is diep in die Klein Karoo en die berge rondom ons is skalieklip en daar is baie sukkulente soos spekbome en aalwyne. Pendorings is ook algemeen.

Deur die afgelope twee dae hoor mens elke nou en dan ‘n vliegtuig wat oor vlieg, maar sterkte om hom raak te sien! Op dié spesifieke middag hoor ons twee wat kort na mekaar oor vlieg. … maar Ons besef vinnig dis donderweer wat ‘n kloof of wat langsaan druis, en saam met die aarde wat byna skud, kom ‘n drip-drip uit die hemele. Gelukkig klaar die weer op en ons stap in sonskyn terug (2 oppe en 2 affe) kamp toe.

Daar aangekom brand die donkie al lankal, die hond wat in die pad af bly het haarself by ons tuisgemaak (sy het die aand sommer in die slee kom lê) en almal ontspan in die laaste bietjie sonskyn wat nog oor die pieke uitsteek. Oudergewoonte gooi ons frisbee, die meisies stort en die laaste bietjie eerstetoeriste word uitgekyk. Francesca Strydom sit haar sokkies langs die smeulende vuur wat die donkie stook, maar vergeet hulle ongelukkig daar en toe sy ‘n rukkie later terugkom het haar tone afgebrand. Carina van der Watt, ons Tone vir die toer het vandag baie meer pasiënte na almal wat nie wou erken dat hulle seer is nie, oplaas ingegee het.

Jannes bak vir Alexander Flemming wat net voor die toer verjaar het ‘n sjokolade piesangkoek en deel gou vir almal uit voor hy en Frans weer die pad uit die vallei vat, na Jannes besluit het dat hy te siek is om by ons te bly.

Items

Eerste toeriste:
Dis nuustyd op SABC en ons het vir Riaan Calitz as Riaan Cruywagen. Isolde Gildenhuys is ons pianis wat die deuntjie speel, Jané Coetzee is ons interpreteerder vir gehoorgestremdes, sodat almal kan saam luister . Ons eerste storie is oor Diana en Dodi (gespeel deur Tannie Rose en Loubser (nie ‘n eerste toeris nie)). Almal weet hoe dié storie eindig.
Dan is dit tyd vir Prince Charles (Oom Johan) om sy verskyning te maak en te spog oor hoe hy nou met Camilla gaan trou.
Volgende het ons ‘n advertensiebreek en Nicolene van der Merwe en Jacobus kom verkoop vir ons Jack Parow se nuwe patty.
Terug by die nuus is ons in die hede by Megan Markle en Prince Harry se troue (Danielle Kok en Paul-Henri Lombard ). Die diens word oorsien deur Dominee Casper Nell.
Nog ‘n advertensie, waar Merinda Loessl die keer vir ons Mirinda gaskoeldrank kom adverteer.
Terug by die nuus het ons oorgeskuif na die skinder insetsel en is ons by die Grammies waar ons sien ons hoe Justin Bieber (Cobus Theunissen with the Good Hair) en Selena (Ané Marais) verloor (??) toe Bradd Pitt (Russel Pratt) instap, selfs met Gold Digger Elsara van der Merwe aan sy arm.
Laastens kom Pieter-Jan Eloff (Jannes Eloff) opgestap en hy en Louw (Ernie) praat oor die BTK.

Regte Items:

Fritz open oudergewoonte met Ballade van ‘n Sterwende Bok.
Oom Johan is Die Padda.
Daar is ‘n vliegtuig met mense in wat van Zimbabwe af Johannesburg toe vlieg.. Janneman is die pilot en hy lyk soos ‘n reverse Batman – alles is toe behalwe sy oë. Chelaine is die lugwaardin op die vlug en Pieter is groundcontrol. Die toeriste is Johan van Die Plain en hy bring sy blou- tumbledryer en yskas, Loubser wat net “waves soek, man”, Hanno as Jannes Reddig, en Ernie. Teen dié tyd weet almal al hoe dié storie eindig.
Jané en Ernie kom wys ons hoe om ‘n veltie te vang.
Hanno maak weer sy toerlikse roomyswinkel oop en sy counters is Cobus en Russel. Ma Diena Malan en Klein Fritz kom soek polonieroomys, en toe Hanno dit nie het nie, kerrievisroomys. But the rest was lost in translation.
Oom Johan en Tannie Rose van Brakpan het huweliksprobleme (klaarblyklik Louw se skuld) en gaan toe vir berading. In tussen waai hulle karavaan weg en Dr Frederik help hulle om beter te voel daaroor.
Gatiep (Pieter) en Lorenzo (Johan) verkoop naartjies en Louw kom vra vir hulle hoe ver tot in Johannesburg. Toe hy daar weg is speel hulle maar I Spy om die tyd om te kry.
Janneman en Fritz is Mario en Luigi.
Hanno probeer karparte aan Louw afsmeer, maar dis eintlik net ‘n groot misverstand.
Hanno is ‘n Sersant-Offisier-Luitenant-Konsultant en kom ruk die troepe reg. Maar Jannes, Jacobus, Johan, Russel en Fritz sukkel maar om dit alles mooi te begryp.
Dané bou ‘n legkaart en Louw moet kom help. Dis waarlik een van die snaakste items van die toer.

Hekels

Hulle het vir twee dae opgehoop, so bear with me:

Fritz wil by Tainton weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek’s altyd desperaat met ‘n gesig soos hierdie.”
Sian Bradbury wil by Fritz weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Die lewe is pret, jy wil nie wees soos jou ma jou grootgemaak het nie.”
Hanno wil by Chelaine weet wat sy bedoel het toe sy vir hom gesê het: “Russel is warm, ou.”
Chelaine wil by Hanno weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek het geen hekels nie – maar dis uit die slee.”
Charlene Potgieter wil by Diena weet wat sy bedoel het toe sy vir Tainton gesê het: “Kan ek aan jou boud vat?” En Tainton geantwoord het met: “Solank Fritz net nie uitvind nie.”
Dané wil by Louw weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “I prefer to look at myself as a prawn.”
Hanno wil by Louw weet wat hy bedoel het toe hy vir hom gesê het: “Kan ek jou lek.”
Diena wil by Mari-Louise weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Sien julle daai wolk, hy trek my.”
Sian wil by Daniel weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Jy moet nou klaarmaak, ek wil op my sleedate gaan lê.”
Sian wil by Fritz weet wat hy bedoel het toe hy vir haar gesê het: “Ek het jou die eerste keer gesien, dis ‘n waarskuwing, volgende keer gaan ek net kyk.”
Niel wil by Sian weet wat sy bedoel het toe sy vir Daniel gesê het: “Jy’s vanaand myne.”
Kobie van Schalkwyk wil by Tana weet wat sy bedoel het toe sy vir Kobie gesê het: “Wat’s fout met jou?”
Sian wil by Tana weet wat sy bedoel het toe sy vir haar gesê het: “Sian, wat is jy?”
Fritz wil by Russel weet wat hy bedoel het toe hy vir Chelaine gesê het: “Hoekom eet jy so baie? Kry ons nie vanaand kos nie?”
Mari-Louise wil by Tana weet wat sy bedoel het toe sy vir Johan gesê het: “Wat is jy, vandag?”
Dané wil by Hanno weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Gee my bietjie van daai sunscreen aan, ek wil bietjie tandeborsel.”
Frederik wil by Riaan weet wat hy bedoel het toe hy vir hom ‘n blaar aangegee het en gesê het: “Hierdie is die perfekte voorbeeld van ‘n veltie plantjie.”
Van Zyl wil by Dané weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Ek hoop Bensine loop uit op jou brood.”
Tainton wil by Sian weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Jou goed juggle orals, kom ons maak dit vas.
Sian wil by Jacques weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Dis so skeef dit gaan uitval.”
Frederik wil by Diena weet wat sy bedoel het toe sy vir Chelaine gesê het: “Jou kos proe soos bordkryt.”
Kobie wil by Jacques weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek hou van aan mense vroetel.”
Fritz wil by Sian weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Ek hou nie van blou steak met mostertsous nie.”

Dag 3 – Woensdag 18 Julie 2018

Ons is vroeg weg uit Die Hel uit en die eerste bult breek ons omtrent al. omtrent al die eerste bult breek ons. Die’s wat bo kom stap weer af en help die’s wat sukkel. Van Zyl gooi ‘n frisbee terug in Die Hel af en Janneman vang dit … baie amper. Toe is dit nog ‘n affie voor ons by Die Groot Op van die dag kom – Die Leer. Hy lyk verskriklik van onder af, maar jy styg vinniger as wat jy besef. As jy weer sien, lê die Hel ‘n vallei weg en die onderpunt van Die Leer is vinnig baie klein. Maar daar is meer as een vals piek en nes jy dink jy’s klaar en jouself op die skouer wil klop vir ‘n job well done is daar nog ‘n bult wat wag.

‘n Paar gewillige siele onder leiding van Niel, wat blykbaar geroep het: “Ons moet hardloop, hulle het ons nodig!”, kom weer van bo af en help die’s van ons wat sukkel deur ons rugsakke tot by die bopunt te dra. Daar’s ‘n kwart van die weg oor en skielik voel jy jy kan vlieg na die 15-20 kg van jou skouers gelig is. Alhoewel, volgens Francesca het Sakkie steeds vinniger met haar rugsak aan geloop, as sy sonder ‘n rugsak. Dankie Russel, Cobus en Niel en Sakkie!

En moenie bekommer nie, na die eerste toeriste gewraak is die vorige aand, is daar uit volle bors by die berg op gesing. Die groepie onder leiding van Johan, met sangers soos Loubser, Van Zyl en Frederik het vandat hulle hulle voet vir die eerste keer op Die Leer gesit het tot heel bo elke musical se opera (plural van opus) gesing en al die Disney movies se liedjies sommer ook. Later moes hulle aanbeweeg na gewyde liedere, en soos hulle die laaste paar meter van Die Leer bestyg het, het hulle klaargemaak met Alle Volke.

Na almal bo aangekom het, asook Suzaan wat weereens ‘n sleutel was, neem ons die groep- en wifeyfoto. Baie geluk aan Dané wat dié keer die dae van die week reg gekry het!

Ons hou Gamebreak bo en iemand merk op dat “Die Hel” ‘n gepaste naam is omdat dit baie maklik is om in te kom, maar veel moeiliker om uit te kom. Nietemin stem meeste van die toeriste saam dat ons eerder weer sou op as wat ons sal af. Die knieë!

En toe is dit weer aan, aan met die rolling hills, wat baie meer op as af is, kom ons skielik agter. The road to hell is definitely paved with good intentions want ons kan nie onthou dat dit twee dae gelede so baie af was toe ons af is nie, want nou is dit net op en op en op. En ons is op. Bygegesê is hierdie oppe vulletjies in vergelyking met die’s wat ons die vorige dag gestap het. Om ons aan te moedig het Johan se groepie Skof 2 aangepak en dié keer het hulle al die Golden Oldies gesing, toe Afrikaanse Treffers en kon toe eindig met die Volkslied – net vir balans.

By die trog (Dag 1 se 4km merk) eet ons Middagbroodjies en stap van daar af die laaste bult (belowe) uit. Let wel, dit is vandag damesskiet en Chelaine het nog niks van haar laat hoor nie en die dames onder ons raak trippelrig. Maar ons stap maar aan, alhoewel ons heeltyd rondom ons potensiële sleedates sirkel. En toe ons UITEINDELIK AAN DIE ONDERKANT IS STAAN DIE BOER DAAR EN WAG MET ‘N BAKKIE EN ‘N TREKKER MET ‘N SITWAENTJIE EN ‘N TRAILER VIR ONS SAKKE. God is goed.

40 minute later by Seweweekspoortkamplek aangekom (die bakkie het dit in 15 minute gemaak), span ons lekker uit, slaan tente op. Dit is ‘n kampterrein op die Hunlun’s se plaas, en dit was Boer Frits Hunlun wat so gaaf was om ons aan te ry sodat ons nie nog 13km padlangs na hulle plaas toe hoef te stap nie. Maar slee is nogsteeds nie oopgemaak nie (al trek die ouens al aan) en al die meisies trip-trap senuagtig in afwagting rond vir Chelaine. En net toe ons dink sy gaan dit eers by 18:00 stook oopmaak en helfte van ons in die storte is (lùùks dié keer, met deure en aparte dames- en mansbadkamers), maak sy oop. Dit het omtrent so goed verloop soos jy jouself kan voorstel. Die storie het later uitgekom dat almal so baie vir Chelaine gevra het wanneer sy skiet oopmaak dat sy op die ou end besluit het om dit net oor en verby te kry. Daar was klaarblyklik selfs ‘n paar bribes by betrokke!

Iemand het ‘n klip in Sian se sak gesit en sy sien dit eers by die kamp. Aanvanklik weet ons nie of dit Janneman of Hanno was nie… maar na “deeglike” ondersoek stel ons gesamentlik vas dat dit Hanno was en daar word ‘n boikot op sy slee vir die aand geplaas – niemand sal hom skiet nie! Hy sal betaal vir sy dade!

Die ouens lyk vreeeslik spoggerig. Johan het selfs ‘n onderbaadjie aan en hy, Alexander en Frederik gaan sit op die trekker wat langs die geploegde land staan. Ook sommer net toe ry die Mooi Boer daar verby op sy eie trekker en lyk nie té gelukkig dat die BTKners sy baas se trekker as ‘n prop gebruik nie.

In die stokersarea moet ons hoor dat Groepie 3 nou as Groepie Effektiwiteit bekend wil staan, omdat hulle klaarblyklik elke aand eerste eet. Verkeerd!. Dit was Groepie 1 daai gewees.

Items

Suzaan en Chelaine Ninja vir ons
Suzaan en Hanno is Mrs&Mr Wong
Petro van Eck voer vir ons die gedig, Hands, op.

Hanno, Daniel en Niel sing vir ons ‘n selfgeskrewe liedjie.

Ek sal ‘n klip in jou sak sit,
Vir jou lag as jy val in ‘n sloot
Sê jy lyk sleg as jy opstaan
Sê jy ruik sleg vir die slee

Ek sal vir jou weg hardloop
As jy vra om met my te slee
Ek gee nie om hoe jy voel nie
Ek gee nie om wat jy dink

Ek sal spoeg in jou koffie
Jou trip as jy verby my loop
Jou tentpenne in die nag uitrek
Op jou seer tone trap.

Ek haat lang beenhare
Ek wil hê jy moet dit skeer
Jy kan kaas daarmee rasper

Genoeg om op te gee

Om te verstaan waar al dié woorde vandaan kom moet die Hanno-boikot bietjie verder verduidelik word:
Teen sleetyd het dit uitgekom dat dit nie Hanno was wat die klip in Sian se sak gesit het nie, maar Janneman. Dus is Hanno verkeerdelik beskuldig en die boikot op ‘n sleedate vir hom was ongegrond. As gevolg van die smeer veldtog teen Hanno het hy in weerwraak dié liedjie saam met sy broer en Daniel geskryf. En op die ou end het hy toe wel in elk geval ‘n sleedate gehad, want Merindah, die Duitse uitruilstudent, het nie heeltemal die boikot-boodskap ontvang nie, en het intussen vir Hanno geskiet. Namens al die BTK-dames wat sonder voldoende bewyse blindelings vir Hanno valslik beskuldig het, vra ons onverskoning.

Verdere Items:

Van Zyl sing vir ons Best of Both Worlds, van Hannah Montana.
Janneman is Sir Sand, Pieter sy Samajoor en Johan, Cobus, Jakobus en Russel die troepe wat een vir een hulle huise verloor.
Hanno, Pieter en Louw is Boesmans wat hout bymekaarmaak omdat die weerdiens sê dit gaan baie koud wees – of is dit anders om?
Louw en Loubser is twee ou ooms wat bietjie vergeetagtig is.
Tana en Hanno gaan hakelskool toe.
Sersant Loubser sê vir sy troepe Hanno, Frederik, Van Zyl en Elwin om ‘n sirkel te trek.
Hanno en Louw is Sgagel en Fgikkie wat ‘n olifant vang.

Hekels

Janneman wil by Jacques weet wat hy bedoel het toe hy vir Tana gesê het: “Ek gaan jou in die gesig skop.”
Mart-Marié wil by Elwin weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek wil graag ‘n baard groei, maar my ma het gesê ek mag nie.”
Niel wil by Hanno weet wat hy bedoel het toe hy gesê het, na Niel gevra het: Wat het jy met Jansie gedoen?” En Hanno geantwoord het: “Ek het probeer maar ek kon niks regkry nie.”
Louw wil by Casper weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek dink al die laaste ses jaar aan myself as ‘n huisvrou.”
Fritz wil by Chelaine weet wat sy bedoel het toe sy gesê vir hom gesê het: “Ek gaan nie nou skiet oopmaak nie, daar’s mense in die stort.”
Frederik wil by Chelaine weet wat sy bedoel het toe sy vir Suzaan gesê het: “Hulle ry soos hard.”
Sian wil by Van Zyl weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ouens in delicate.”
Elwin wil by Diena weet wat sy bedoel het toe sy vir Fritz gesê het: “Ons wat, ons weet wat ons doen.”
Dané wil by Hanno weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Die meisies op BTK se beenhare is so lank jy kan kaas daarmee rasper, maar die ouens, hulle laaikit.”
Fritz wil by Hanno weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Hoekom kry ons dan altyd blokkies kaas in die kos?”
Cobus wil by Mart-Marié weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Nou is dit asof ek jou soen as ek koffie drink.”
Hanno wil by Dané weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Spoeg jy dit uit dan suig ek dit op.”
Fritz wil by Hanno weet wat hy bedoel het met sy hele liedjie in sy item?
Loubser wil by Elwin weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Girls dig scars.”
Frederik wil by Hanno weet wat hy bedoel het toe hy vir Suzaan gesê het: “Hierdie sleutel sluit klomp slotte oop, dis ‘n loper.”
Fritz wil by Chelaine weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Ek klim sommer weer Die Leer af, dis koud hierbo.”

Dag 4 – Donderdag 19 Julie 2018

Ons is dou voor dag op (actually, nee, die dou het klaar geval dit het klaar gedou) om reg te maak vir die Groot Een – Seweweekspoortpiek.

Die Ou Boer en die Mooi Boer ry ons aan met hulle Toyota Land Cruisers na die voet van die Seweweekspoortberg en ons is soos ‘n klomp honde wat losgelaat word as jy kyk na die spoed waarmee ons weggetrek het in daardie eerste paar honderd meter oor die vlakte om te begin klim. Die pad was lank, veral omdat daar nie ‘n duidelik gemerkte paadjie is nie, net bakens hier en daar en stekelrige, knie-hoogte plante oral. Die’s wat langbroeke en/of lang beenhare gehad het, het goed gedink. Ons het ‘n rowwe idee waar die piek is na die Ou Boer so met die hand in die lug van onder af vir ons beduie het hoe op. Maar ons klim, ons klomp jellytots wat op huppel.

Ons styg, oor klippe, om klippe, in ‘n klofie af, teen 70 opdraandes op. Die plantegroei verander hoe hoër ons gaan, en daar is plek-plek swart proteas wat uit die grond kom. Daniel verwonder hom aan die natuurlike swart blom, tot Lisa Smuts vir hom sê hulle is swart gebrand, deur vuur. Aanvanklik glo hy haar nie, maar toe hy tot sy sinne kom, sê hy vir almal dat dit sy was wat gedink het die plante natuurlik swart is. Maar ons weet ken die waarheid, Daniel!
Ons weet die piek is 2325m hoog en ons weet ons het min of meer op ‘n 1020 begin, dus weet ons ons moet 1305 klim om bo uit te kom. Daar was van die fikses en vinniges wat lekker vinnig geklim het, maar as die gemiddelde spoed gemeet is, het dit ons so 4 ure gevat om bo te kom. Ons het Middagbroodjies net onder die piek gebou, na almal hopeloos te pê was om verder te gaan. Groepie 2 het tee gestook en net toe Hanno en Janneman begin pannekoek maak, het die res van ons die laaste 10 minute se klim gou geklim om op die piek te kom.

Dit is asemrowend – deels as gevolg van die pragtige uitsig maar ook omdat die wind jou asem wegwaai sodra jy uitgeblaas het. Dit is ysig bo op die piek, al het amper al die sneeu wat ons drie dae tevore gesien het, al gesmelt. Al wat oor is, is ‘n paar groot klonte sneeu op die suidelike hange. Van nature gaan haal ‘n paar van die ouens daarvan en kom verras (lees: “dreig”) ons daarmee. Almal wil vat en ‘n foto daarmee hê. Maar dis nie genoeg nie. Toe ons weer sien het ‘n groep van die manne hulle hemde uit en flex hulle almal vir ‘n foto. Want dit is mos nou gesond.

Mens kan Zoar en Ladismith na die Suide toe sien, met die Rooiberge nog verder Suid. Na die Weste is dit net nog pieke soos die res van die Klein Swartberge uitgestrek lê. Na die Noorde weet ons Laingsburg lê agter die heuweltjies wat soos ‘n groot bruin ruspe oor die land lê, sy gesegmenteerde liggaam wat van Oos na Wes lê. En, eindelik, in die Ooste kan ons, net onder ons, die Seweweekspoort sien en verder as dit, Die Hel. En hoe meer jy afkyk en jouself verkyk, hoe minder kan jy glo dat jy dit tot hier bo gemaak het. Ons het die hoogste piek in die Wes-Kaap geklim. Ons het dit inderdaad reggekry.

Op pad af het Casper se foon uit sy sak geval, en Jòke wat ‘n end agter hom gestap het, het dit wonder bo wonder opgetel. Op ‘n berg met geen pad, het sy toevallig op dieselfde pad as hy geloop, die foon gesien en dit opgetel. Wat is die kanse?

Oplaas is ons weer onder en die son sit laag oor die Ruspeberge. Toe die eerste (lees: “vinnige”) groep onder kom, het hulle weer die boer gebel en dié kom toe weer daar aan met die Cruiser en sy Hilux (bestuur deur Die Boervrou). Die agterste groep moes toe bietjie wag vir hulle lift, maar Wilmien het nie tyd daarvoor nie en vat ‘n draffie terug kamp toe – so ‘n vinnige 4km, met ‘n heuweltjie tussendeur.

Teen die tyd dat almal weer terug by die kamp is, is dit sterk skemer en skiet word dadelik oopgemaak. Ons is verbaas dat ons nog kan hardloop. Elwin intercept vir Wilmien, na Jannes haar skiet. Wynand en James intercept vir Pieter en Hanno probeer vir Tannie Rose intercept, maar sy verkies haar eie man se warm omarming. Carina spring sommer oor die badkamer se muur soos sy van Niel probeer wegkom!

Die aand maak Die Boer en Sy Mense vir ons hoenderpotjie en ons kuier almal lekker in die klubhuis, waar ‘n vuur brand en daar genoeg warm sitplek vir almal is. Daar word natuurlik ook gesokkie – wat ook bekendstaan as die tweede beste ding wat BTKners kan doen. Teen die einde het ons ‘n battle of the couples en dis Fritz en Diena, Louw en Dané en Ernie en Jané wat dit uitdans teen mekaar. Om mee af te sluit, dans Tannie Rose en Oom Johan teen Oom Frits en Tannie Jonel Hunlun (die boere), om vir ons te wys dat hulle ouer maar definitief nie kouer is nie!

Items

Kaptein is sommer eerste. Johan is Kaptein, Loubser is Kajuitknaap, Pieter is Kraaines, Daniel is Kok en Nick is Kanonknaap. Die klubhuis op die kampterrein maak baie deure oop i.v.m. props en die skip se kraaines is in die vorm van die pyppilaar in die middel van die vloer.
Janee, met Johan, Fritz en Diena.
Fritz en Janneman kom wees vir ons onderskeidelik Luigi en Mario met Hambushers Diena en Chelaine.
The Jills met langaftsand sterre Chelaine, Mart-Marié, Wilmien, Carina en Diena.
Boetie Louw vra baie mooi vir Mamma Dané vir ‘n baba boetie, maar toe Padda Jannes opkom is hy glad nie tevrede nie, selfs toe die retake gedoen word.
Hans, Mans, Chaans en Suzaans omsingel almal gelyk ‘n vrot vis.
Diena kruip vir Fritz weg, maar ‘n soen seal die deal.
Elsara is ons lighthouse, met Kaptein Pieter, Elwin, Loubser, Janneman en Johan.
Oupa Riaan vertel vir Kleinseun Johan oor die leeus.
Oupa Louw en Ouma Dané sit op die stoep en wonder wat die lig is wat flits. Seun Pieter verduidelik en Louw praat amper sy mond verby voor sy ouers.
Broekies met Kaptein Pieter, wat dis ‘n pline vir Nat Provita, Slimy Mango, Broekies en Brawejan leer.
Taste Test met unlucky deelnemers Jané, Danielle en Cobus.
Klippies met ‘n nat Johan.
Mr Wong’s Chinese Food (Best in da world!), maar Eskom is not the best in da world.
Koppe met Niel en Carina wat opsoek is na ‘n kop, maar nie Jacobus, Cobus of Elsara se koppe is goed genoeg nie. Uiteindelik het Fritz ‘n wenner met duurkop Jannes.

Hekels

Lisa wil by Daniel weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek dink die bome is natuurlik swart.”
Fritz wil by Louw weet wat hy bedoel het toe hy vir Dané gesê het: “Rawr.”
Louw wil by Oom Johan weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Hier is sewe verskillende gele wat by my uitkom.”
Fritz wil by Oom Frits weet wat hy bedoel het toe hy 19:20 gesê het: “Ons eet oor ‘n halfuur.”
Ané wil by Mari-Louise weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Die man hier langs my is nogals keen.”
Louw wil by Oom Johan weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Jô, ek moes dalk my ander vrou gebring het.”
Mart-Marié wil by Petro weet wat sy bedoel het toe sy vir haar gesê het: “Mart-Marié, gooi my met ‘n hoender.”
Charlene wil by Hanno weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek wil nie rassisties wees nie, maar hierdie is tipiese witmans.”
Jacques wil by Hanno weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Ek wil die Koran swot tot dit by my ore uitkom.”
Tannie Rose wil by Dané weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Ek gaan wasgoed ophang sonder wasgoedpennetjies.”
Loubser wil by Wynand weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “ggges.”
Dané wil by die mans in die badkamer (maar meer spesifiek Wynand) weet wat hulle bedoel het toe hulle gesê het, na Hanno ingekom het en gekla het dat hy seer was omdat hy pas rejected is na ‘n mislukte interception (Tannie Rose): “Moet dit nie persoonlik vat nie, maar ek sou ook.”
Fritz wil by Tana weet wat sy teen James het na sy hom gehandle het met ‘n interception.
Mari-Louise wil by Niel weet wat hy bedoel het toe hy gesê het, besem in hand voor die meisiesbadkamer: “Julle kan in maar niemand kom uit nie.”
Wilmien wil by Joke weet wat sy bedoel het toe die ouens hulle hemde uitgetrek het en sy gesê het: “Sjoe nou raak dit skielik warmer.”
Charlene wil by Dané weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Jacques is vreemd, maar ‘n goeie vreemd.”
Wilmien wil by Morné weet wat hy bedoel het toe hy gesê het: “Gooi die bottel.”
Mari-Louise wil by Annemicke weet wat sy bedoel het toe sy gesê het: “Hoe stap julle?”

Dag 5 – Vrydag 20 Julie

Ons wou nog vroeg stap, maar dit het nie gebeur nie. In plaas daarvan het ons 10:00 eers die tog deur die Seweweekspoortpas aangedurf. Die Ou Boer, die Mooi Boer en die Boervrou het ons almal in hulle onderskeie Toyota Land Cruisers en een Hilux aangery, met die sakke weer op ‘n trailer, tot by die noordelike ingang van die poort, waar ons toe gou vir ons verjaarsdagmaatjies Dané, Fritz, Pieter en Jacques sing en gooi.

Die poort is om en by 15 kilometer lank, maar dis ‘n pad, so as jy lekker stap, stap jy maklik 5km/h. En dis presies omtrent hoe vinnig ons gevorder het. Met ‘n ietwat van ‘n angstige Middagbroodjies by Aristata, net so verby die halfpadmerk, was ons teen 14:00 op die R62 op pad Worcester toe, na ons van Pieter en Kobie afskeid geneem het en hulle sterkte op die maan toegewens het.

By Mountain Mill Inkopiesentrum se Spur het ons aangesit en toegekyk hoe die eerstetoeris mans hulle burgers verorber. Almal is verbaas toe redelike skraal Cobus die eerste een is om sy burger op te eet, met ‘n tyd van 2:52. Versadig en redelik moeg is ons die laaste entjie terug Stellenbosch toe, waar ons, na alles eers terug stoor toe gedra is, almal uitmekaar uit is.

Nou sal ons almal ‘n paar meer gesigte op kampus herken, en hopelik ‘n huisdansdate of twee meer hê om van te kies.

– Mart-Marié Serfontein