Drakensberge 2025
Deur Inge Botes
As Stellenboschberg jou hoërskoolmeisie is, is die Drakensberge jou trouvrou. Stellenboschberg is alledaags, jy sien dit in die verbygang, sy vereis nie veel opoffering nie. Ukhahlamba is ‘n ongemaklike dag se reis met min slaap. Sy is hemelhoë pieke en diep valleie en jy sal moet klim in wind en weer. Haar vlaktes bloos in kosmos en die taal van haar mense klink anders as waaraan jy gewoond is. Sy is nie ‘n berg wat jy in die verbygang groet nie, en as jy doen is jy ‘n dwaas.
Baie woorde sal net geraas wees in ‘n skets oor die Drakensberge, want haar skoonheid laat jou stil. As ek mag voortgaan met hierdie metafoor, dat die Drakensberge soos ‘n bruid is, dan is sy een wat elke vrou droom om te wees en elke man droom om te wen. Ek glo die staptoer vra die vraag: “het ek wat dit vat?”
Ons het almal foto’s geneem op hierdie toer, en as jy nie het nie, was jy êrens in een of jy het gevra dat iemand die wêreld om jou vir jou vasvang. Foto’s is net frustrasies, want dan kom jy by die huis en die mis omring jou nie en die hoogtes laat nie jou binneste wemel nie en jou bobene kramp nie en die donkies stap nie meer nederig verby jou nie. Met baie goeie rede onderwerp God ons aan hierdie frustrasie, en dit is heimwee.
Heimwee vat die leisels van jou wil en beweeg vasberade in die moeilikheid in. Daar waar lafhartigheid wil onthou hoe jy nie jou vingers kon voel toe jy in die plato se storm moes tent opslaan nie, kom heimwee en maak jou ‘n ridder wat sê dit maak nie saak nie. Daar waar selfsug jou wil herinner aan ‘n warm stort, gemaklike bed en jou ma se kos, kom rig heimwee jou hart na ‘n altaar van ongebytelde klip in die bergstrome waar jy jou lewe in die koue water verloor. Die broodjies wat jou naaste in haar wapperende tent vir jou gesmeer het in die liggaamshitte-dreigende reën smaak beter as Kersfees se hoofgereg en die hardheid van die berg waarop jy slaap sluit die hemele vir jou oop soos Jakob se kopkussing by Bet-el. En jy onthou jy is net stof. En jy onthou dat God onthou jy is net stof. En jy RUS. Heimwee is verlange wat maak dat jy wil belowe om terug te kom na hierdie plek wat jou hart gesteel het.
Stellenboschberg is bekend vir haar vals pieke. En dis opwindend want die objektief is om die toppunt te bereik, so jy klim daardie vals pieke en vergewe haar 7 maal dat sy vir jou gejok het. Jy voel mos die moeite werd as jy by die laaste piek kom en weet dis nou klaar, en ‘n sekere tipe self-tevredenheid kom oor jou soos jy in jou slaapsak klim, en Maandag vertel jy al jou vriende jy het Stellenboschberg gepiek en hulle klap jou oor die skouer. Maar die Drakensberge is wêrelde anders, die objektief is nie eers om te piek nie, is dit? Die objektief is om jouself te verloor. ‘n Tipe oorgee vloed jou binneste. Die ekstases is nie meer wat jou dryf nie, maar ‘n stop-in-jou-spoor verwondering vir die watervalle wat sy ontsluier vir jou oë alleen.
En as jy wel ‘n piek in die Drakensberge bereik, kyk jy na die valleie onder jou met minder hoogmoed en dieper ontsag, want jy sien dat die groewe van die aarde onder jou die groewe van God se eie vingerafdruk is, en jy word nederig deur bloot te besef jy het die voorreg om dit te verken.
Ek skryf nie oor die verhale van die April toer nie, want dit leef aan in die heimwee van die stappers en die Drakensberge hou haar bemindes soos mirrebossies teen haar bors. As jy die stories wil hoor, ry bus vir 22 ure en begin klim, en dalk, wanneer jy stil genoeg is, sal jy hoor hoe sy begin praat van ‘n groep jong, skarlaken-gevlekte BTKaners wat ontdek het, hulle het wat dit vat.
