Breërivier 2025
Deur Kyanti Greyling
“Diewe! Almal van julle is diewe!”
Dit is ‘n alombekende feit dat Stellenbosch studente ‘n hoë waardering het vir wyn, maar nooit het ek gedink sal ek die dag sien dat wyn sal maak dat ‘n BTK’ner sy toermaters so fel beskuldig nie. Geïnteresseerd in die rede vir dié uitbarsting? Ons storie skop af vroeg een oggend in die Neelsie parkeerterrein…
Dag 1 – Rietdakkie padstal
Al sit die slaap nog dik in sommige BTK’ners se oë, kan dit nie die sprankel daaragter verberg nie.
“Dink julle rerig ons gaan wynproe?”
“Met toergeld van net R1200? Moenie laf wees nie.”
Verskeie soortgelyke gesprekke spekuleer presies wat die beloofde wyntoer vir ons inhou soos ons wag vir Matthys en Simone Anna-Mart om terug te keer met hopelik meer as niks in die voorheen dolleë medikit. Hierdie mag dalk nie die Drakensberge wees nie, maar wanneer dit by die BTK kom, het ek nou al geleer: mens weet nooit nie. ‘n Medikit gepak vir elke moontlike aanval, ongeval & ingeval, was nog nooit ‘n slegte ding nie.
Aangekom in die Breëriviervallei word die res van ons toermaters met vreugdevolle omhelsings gegroet terwyl Lenka met groot verligting vasstel dat Charlize wel nie verslaap het nie, maar net reeds by die beginpunt vir ons gestaan en wag het. Soos al die ander groepe hulle kos onder hul lede verdeel, dink ons liefste toerouers, Tannie Maryke en Oom Rian, ‘n slim dog slinkse plannetjie uit om hul groepie, Pinotage, ‘n bietjie gewig te spaar. “Hulle weet nie wat ons weet nie,” word daar gefluister terwyl die hele groep se kos summier agterin die Botha bakkie gelaai word – die bakkie wat nou deur Frederick teruggery word na die eerste aand se slaapplek. Te lui om ons stapskoene aan te trek, doen ek en Marietjie spoedig ons navorsing deur vir Oom Rian te peper met vrae oor die dag se stapterrein en stel ons vinnig vas dat ons maar in ons Crocs kan stap. Dis mos nou al deel van die amptelike BTK drag.
Müller is aangestel as slot vir die dag met die uwe aangestel as sy sleutel – ‘n keuse grootliks bevraagteken deur meneer die voorsitter, maar in vrede gelaat nadat hy eers moes keer dat sý sleutel nie vir die dag moes agter stap nie. Nog ‘n keuse grootliks deur die groep in die algemeen bevraagteken, is Eden se keuse van stapsak. Wel, ek weet nie of ek dit regtig ‘n stapsak kan noem nie; ek is redelik seker daai sak het nog nooit in sy lewe die woord “stap” gehoor nie. Dit was ‘n toksak. Op Eden se skouers gelaai soos ‘n rugsak. Eina. Sterkte, Eden.
Dit het nie lank gevat vir die agterosse om hulself te skei van die res nie. Selfs sonder haar Drakensberge tent van ‘n reënjas op haar rug vat Jada maar haar tyd, jong. Kort voor lank bulder ‘n uitgerekte “Kom aan stappeeeeeers!” van agter af deur die lug. Met groot oë kyk die agterosse vir Müller aan. Ongeërg trek hy sy skouers op en reken “ek staan net in vir die voorsitter; sy stem word mos altyd weg.”
Teen Game Break #1 het die einste bakkie besturende Frederick die groep ingehardloop met sy spiekeries nuwe draftekkies. In die koelte van die blaredak bo ons ruk ek my breipenne uit en luister hoe Carla haar amptelike BTK “snack” rangorde voorlees: (1) sjokolade, (2) pretzels, (3) grondboontjies & rosyntjies, (4) melkbotteltjies. Nou ja, daar het julle dit uit die mond van die kosdogter haarself. So gepraat van kos – sou jy ‘n roosterkoek wat jy langs die pad in ‘n bossie weggesteek vind, vertrou? Dit is die vraag op Matthys se lippe nadat Frederick soos wat ons stap een uit die bos uitpluk en dikgelukkig daaraan begin eet.
Al het ons nie ver gestap nie voel die middagete worsbroodjies soos ‘n wolkie op my tong. Daar word vinnig besef dat die tamatiesous nie só streng gerasioneer hoef te word nie – “die bottel moet op asb!” vra die wat daaraan dra – en so word daar gou sommer aan broodjies met nét tamatiesous op gesmul (Müller het opinies hieroor). Enige steeds oorblywende tamatiesous word aan die Wraakkaptein, Drian, geskenk en gou drentel eerstetoeriste met rooi tamatiesouswange terug in ons geselskap in. Die ewig betwiste vraag oor watter geur Game die beste is, word onder die enigste koelte afdakkie vurig gedebatteer. Ongeag waar jy staan met dié saak, een ding is verseker, sê Müller: die beste Game in Stellenbosch is by Game te vinde.
Op die deuntjie van Meisie Meisie daal ons neer in die vallei en verkyk ons aan die wingerdblare, bont verkleur asof ‘n kleuter nie mooi kon besluit watter kryt om te gebruik nie en sommer iets van alles aangewend het. Die meer opgewasse landbou studente lig ons in dat baie van dié mooi in werklikheid deur ‘n siekte veroorsaak word en ons stel net weereens vas dat die Here se skepping in elke fase, lewe of dood, beeldskoon is.
Eindelik aangekom by die Botha huishouding word skiet oopgemaak tot die groot opwinding van rifrûe Demi en Tunzi wat saam met die manne tussen die dames rondbaljaar op soek na ‘n sleemaat. Ons verbeel ons vir ‘n oomblik dat ons nie op ‘n staptoer is nie en hardloop almal deur die Bothas se storte – slegs 2 minute elk nè, dames! Met skoon hare en warm voete wandel ons oor die pad na Rietdakkie toe en moet ek myself uitdruklik herinner dat dit wel die eerste aand van toer is en nié die laaste nie, want die toneel wat voor my afspeel, is een van uiterse bederf: sommige sit salig op die stoep, glase wyn en koppies warm sjokolade in die hand, en peusel aan dadels, gedroogte pere en perskes terwyl ander padel speel op die gras of op stelte rondjanter. Liggies is gestring tussen die bome en ‘n vuurtjie knetter vriendelik voort. Die tente is opgeslaan in die padstal se agterplaas, onder ‘n lae blaredak wat die prentjie van ‘n geheime tuin, weggesteek in die woud van ‘n sprokie namaak. Die kwynende winterlig val in sagte pienk en oranje op die berge wat ons van alle kante magies en groot omring. Ek draai en draai en draai totdat ek lighoofdig raak in ‘n poging om al die mooi van ons Vader se skepping in te neem.
In my draaiery vang my oog die tafel swaargelaai onder roosterkoek, botter, kaas en wortelkoekkonfyt (!!) en blitsvinnig kom my draaiery tot ‘n einde. Kos. Nog beter – Botha kos. Ek het al genoeg van Carla se bakprojekte geproe om te weet dat dáái roosterkoeke my lewe gaan verander. Tannie Maryke en Oom Rian deel die storie van geloof, hoop en liefde wat die fondasie van Rietdakkie vorm asook hul gesegde: “We are blessed to be a blessing.” Wat ‘n seëning is dit nie om op so ‘n spesiale plek in die gemeenskap wat die Here ons elkeen mee voorsien het, te verkeer nie.
Ek was reg. Die roosterkoek het my lewe verander. Ek is seker joune ook, indien jy op toer was. Indien nie – shame. Klim nóú in jou kar en vat die afdraai Rietdakkie toe. Jy sal nie spyt wees nie. (Bring sommer vir my een terug asseblief en dankie.) Carla, wie die volgende dag moet terugkeer Stellies toe vir ‘n chemie vraestel, vliet wraggies tussendeur ‘n laaste bietjie swottery met ‘n groot glimlag tussen die bondel honger studente rond en maak seker dat almal oorgenoeg warm sop en vars roosterkoek in hul mae kry.
Nadat Drian en Müller klaar baklei het oor wie waar op die seil mag slee, open die toer se items. Oorweldig deur die groot oomblik “spoel [SW se] gedagtes soos ‘n skottelgoedwasser rond”, maar eindelik haal hy Van Wyk Johannes Joubert Louw se woorde aan met die fynste aanvoeling wat slegs toegeskryf kan word aan jare se bestudering van digkuns. Luigi sit vanaand ‘n kop korter as Mario, wie wil weet “what is the word when it is gaar but still firm?” waarop Luigi uit volle bors lostrek met ABBA se “Andante Andante”. Marialle vergeet so ‘n bietjie hoe Jill begin – seker maar al die “shots shots, shots shots shots” wat sy geneem het. Die hoogtepunt van die aand móét egter toegeken word aan die revolusionêre Candice met haar stokkielekker en gebreekte Kway zip wat met haar hele hart net wil weet “How can I help you?”.
Met hekels kom dit aan die lig dat SW van Müller versoek om sy kinders met sy wysheid te baar, Drian sou huil oor die Drakensberge, Kyanti se breiwerk vir haar baie seksiepunte verdien en Jada nou dalk nie kan sing nie, maar wel kan suip. Ons bevestig ook dat Kehan nie gemaak is vir die myne nie, dat Tanya aangestel is as Kyanti se Tydelike Kêrel op toer en dat ons in oorvloed lewe met 28 mans en 33 dames op toer.
Dag 2 – die droë rivier
Koud. Die algemene konsensus onder die groep as jy gevra het hoe ons geslaap het. Dis natuurlik uitsluitend Carla, Frederick en ons liewe toerouers wat warm in hul knus beddens oorkant die pad geslaap het. Hulle is natuurlik nie wakkergesing deur die stokers se geesdriftige weergawes van “Hasie, hoekom is jou stert so kort”, “Padda moet gaan opsit by sy nooi in die vlei”, en Shrek se “Believer” nie, so. Jy kan besluit wie’t nou eintlik iets misgeloop hier.
Oor BTK pap met mini malvalekkers in word daar bespreek wat die mees aanvaarbare verloop van aksie sal wees in die geval dat jou pel ‘n onderbroek benodig en jy slegs ‘n addisionele vuil een byderhand het – dop jy hom binneste buite om, of trek jy self die vuil een aan en bied hom jou huidige skoner een aan? Indien jy wonder wie hierdie gesprekspunt by ontbyt aangeknoop het – natuurlik niemand anders nie as die BTK meisies.
Johannes verjaar, maar die dames is duidelik nog effe aan die slaap en wens hom baie entoesiasties geluk deur die mans se verjaarsdagliedjie te sing. Moenie bekommer nie, Cozette sorg vir ‘n behoorlike gelukwensing met ‘n private optrede van die regte lied kort daarna. Dis tjat koud en my hande word summier onder my Tydelike Kêrel, Tanya, se kieliebakke ingedruk om die bloedvloei na my vingers te herstel. Oom Rian spoor ons aan om so ‘n bietjie die moontlike verteenwoordiging van die Heilige Gees deur wyn in die Bybel uit te pluis. Ons bied ongelukkig ‘n paar siekes vaarwel, maar met Carla, TJ en Tiaan se afskeid verwelkom ons ook vir Johannes in die groep. Slot Christof word ‘n kombinasieslot toegeken en so stap Tanya en Jada vir die dag agter.
SW prikkel ons nuuskierigheid toe hy aankondig dat daar klomp Lekker Dinge vir die dag beplan is, maar dat dit beteken dat ons asseblief moet bybly en nie moet ronddrentel nie – ‘n dapper poging om die onmoontlike van die BTK te vra. Drian bring egter sy kant deur op en af op die treinspoor langs die groep te draf en in Matthys se woorde ons “aan te spoor.”
Getrou aan sy woord lei meneer die voorsitter ons kort voor lank deur die ingang van Lekker Ding #1, die Botha kelder, waar ons onsself in die Bolandse weergawe van Willy Wonka se sjokoladefabriek bevind. Dis nuwe terrein dié, maar BTK’ners weet mos van klim. Met pype wat kruis en dwars oor ons koppe en teen die mure konkel, klim en klouter ons met behulp van lere en metaal loopgange oor die massiewe masjinerie. Te danke aan ons persoonlike toergidse kom die studente van Stellenbosch eindelik so ‘n bietjie meer te wete van die wyn wat ons so graag geniet. Ons stel ook vas dat indien daar nou ooit die perfekte plek was om wegkruipertjie te speel, hierdie kelder heelbo aan die lys sou wees.
Die BTK kan baie dinge doen, maar klaarblyklik is grootpaaie oorsteek nie een van hulle nie. Genadiglik is dit baie duidelik dat ons so vaardig soos die hoender in Crossy Road is en stop karre en trokke dood sodat ons veilig oor die pad kan kom – ‘n baie belangrike taak, want aan die ander kant van dié pad wag die Botha “real magic” spaza winkel waar meer as een BTK’ner inhardloop om ‘n vergete tandeborsel te vervang.
Ons roete neem ons volgende deur die hekke van Bosjes, tot in die bekende Bosjes Kapel. Onder leiding van Oom Rian weerklink “In die Hemel is die Heer” tussen die glasmure en grond ons onsself weer in die glorie van ons Vader. Voor die boom wat die Boom van Goed en Kwaad verteenwoordig, voel ek weer klein soos ek opnuut bewusword van die grootheid van my Vader en sy genade.
Lekker Ding #2 doen hom voor in die vorm van koffie en ‘n soetigheid, geborg deur die BTK, in Bosjes se tuine. Wiskunde sommetjies word vinnig gedoen om te sien hoeveel mense moet saamspan om die maksimum voordeel uit dié geleentheid te put. Terwyl tentseile eenkant lê en droogbak, strek ons soos bakvissies uit in die son. Dit is in hierdie toestand van absolute tevredenheid dat Karli tot die gevolgtrekking kom dat om medisyne te drink eintlik is soos om Smarties te sluk.
Ons los ons stapsakke agter en vertrek op ‘n sirkelroete vir middagete. Marialle moedig die agterosse met soveel woema op die ukelele aan dat haar vingers begin bloei en die groep wat reeds ‘n ent agter die res is, teenstrydig met haar intensie, moet stop dat Tone haar vingers kan dokter. Gevolglik begin die agterosse ‘n drafstappie aanpak om die res in te haal, net om te besef dat arme Eden se voete, wat meer pleisters as voet is, dit nie kan volhou nie. Nou ja, as hulle gaan agter wees kan hulle netsowel met gees agter wees en so begin die Taylor Swift “sing-a-long” sessie van die dekade. Middagete word voorberei op die wal van ‘n groot dam wat praatjies van kleilat en glip en gly ontlok. Groepie Muskadel het tot die verbasing van almal anders broodjies oor aan die einde van middagete. Groepie Pinotage het deur twyfelagtige eksperimentering vasgestel dat salamisap dien as goeie sous vir droë brood.
Die skeptiese oë wat SW tegemoetkom met die aanwysing van ons kampplek vir die aand word blitsig vervang met vreugdevolle juiging met die aankondiging van Lekker Ding #3: ons benzyne bottels kan vanaand maar weer styftoe in die stokers se sakke bly slaap – SW se ouers is op pad en ons gaan nóú braai.
In ‘n poging om ‘n koue stort ná sononder vry te spring, hardloop Anna, Marialle en hierdie einste sketsskrywer in die rigting van die veronderstelde badplek in die rivier. Ek het geweet iets is woes verkeerd toe ek al begin ópdraend hardloop en daar steeds geen rivier onder my voete was nie – waar ek vandaan kom, vloei riviere nie opdraend nie. Terughardloop in die rigting waarvandaan ons gekom het. Die son hang al gevaarlik laag oor die berge. Vind ‘n bruggie waaroor ons voorheen laat spaander het. Brug beteken rivier, nè? Wel, as ‘n stroom so breed soos my hand en so diep soos die voorste lid van my pinkie tel as ‘n rivier, dan ja. Bel vir SW.
“SW, die rivier het opgedroog.”
“Dit kan nie wees nie. Is julle seker?”
“Ek weet hoe water lyk, SW. Hier’s niks.”
“Dis nou jammer. Sterkte, dames.”
Dankie, Tanya se wet wipes.
Onder ‘n koeëlronde volmaan so groot hy sluk jou in, val ons weg aan die feesmaal van boereworsrolle met smoor wat die Zeemans vir ons voorberei het. Nes ons begin dink die lewe word nie beter as aandete om die vuur met iemand wat rondtokkel op ‘n kitaar nie, word koeksisters onthul as nagereg.
Items skop af met Hans (of was dit nou Mans?) wat verklaar dat hy effens benoud, bietjie paniekerig, dalk versigting, maar NOOIT bang is nie.
En toe.
EN TOE.
Die item van die jaar. Moontlik van ons leeftyd. ‘n Item 1 jaar en 5 maande in wording. Dit begin met Simi-simi Simson en ‘n sak. Dit eindig met ‘n haarknipper in Lize en Taylor se hande en SW se krulle op die grond. Müller spring sommer ook in die ry en spog gou met ‘n vars buzz cut.
Drian, die jar, neuk Bottelstoor legendaries vinnig op deur binne 30 sekondes te verklap waarvandaan hy bel. Johan, die sopraan, lewer ‘n opvoering van “Jolene” wat jou ‘n traan of twee sal laat pik (so tussendeur die rondrol van die lag). Die afsterwe van Pappie Matthys se vrou sien spoedig die geboorte van Matthys-Masuips-Mavapes. Die eerstetoeris manne herinner ons mooi om ‘n selfie of twee vas te vang tydens jou veldies. Stefani kla dat “niemand die emmer wil skop nie” en begin so langs die treinspoor ondersoek instel in Ouma se “aftreeplan”. Plathond Johannes kraai koning oor veghond Kehan, maar eers nadat die slee behoorlik verreneweer is. Post-toasties sien ‘n angsbevange Kyanti wat regtig hoop Pieter kom gou huis toe, want fluisterings van ‘n blou yskas word nou al hardop gespreek.
Tydens hekels versoek Karli van al die dames om nou al hulle weerstand teen hoofpyn op te bou vir hulle swangerdae deur “minder pille te pop”. Almal se monde val oop vir –
“Edelagbare Oom Rian, wat het Drian bedoel toe hy sê ‘ek het gisteraand vir Emile oopbek gesoen’?”
“… Edelagbare Oom Rian – did I stutter?”
Ons sak salig weg in ons slaap daai aand met die vreugdevolle gelag van Carla Botha wat helder deur die naglug klingel en ons kom gerusstel dat sy weer terug onder ons geledere is, presies waar sy behoort.
Dag 3
“My oom se motor is ‘n ou masjien…”
‘n Oggendvuurtjie is luuks vir BTK’ners wat gewoond is aan die baba vlamme van benzyne bottels. Dit begin te blyk dat “luuks” die slagspreuk van hierdie toer word.
Te midde die dames se kamp-opslaanery word daar bespiegel presies wanneer jy nou eintlik agter is met die hele proses. Marietjie verklaar dat dit eintlik doodeenvoudig is: solank Lenka Visagie se tent nog staan, is jy fine. Sodra Lenka Visagie se tent gesak is, dán het jy moeilikheid.
Slot Pieter vind sy sleutels in Carla en Cozette en arms vol vars naartjies word gegryp vir padkos. (Wys vir my nog ‘n BTK stap waar vars vrugte op dag 3 opgelewer word. Ek sal wag.)
‘n Paar BTK eenhede se stap later gooi ons ons sakke sonder ‘n tweede gedagte agterop twee tamaai groot trokke en klouter spoedig agterna om ‘n goeie sitplek te kry. Dié wat nog gestaan en ginnegaap het, moet maar tevrede wees met ‘n sitplek in die middel en ‘n goeie rondte “slap tjips”. Dis eers so ‘n paar kilo’s in die rit in dat iemand dit goeddink om te vra waarheen die trokke ons nou eintlik neem. Ons wil darem net weet waarheen ons ontvoer word, jy weet?
Ons ontvoerders blyk toe die Lategans van Bergzicht plaas te wees en ek dink ek praat vir die groep wanneer ek sê dat ons met liefde weer deur die Lategans ontvoer sal word. Ek weet nogal nie van baie ontvoerders wat jou met gratis koffie en beskuit begroet nie. Jada het wel helfte van my koffie op my uitgegooi te midde die chaos van ‘n BTK groepfoto, soveel so dat ek en Anna in die Lategans se voortuin gestaan en stort het, maar nou ja. Dit is dan nou ook hier wat ons vir Frederick verruil vir Viljoen en voortwaartsmars, maters, ons het nog ‘n plaas om te verken!
Bergzicht is een van die min wynplase met botteleringstoerusting en ons loop verby kratte wyn van Ernie Els, Koelenhof en nog te meer wat wag om gebottel te word. Villa en sy wyndief vaar bietjie by die vate in om vir almal van Bergzicht se Pinotage te laat proe. Dit is egter waar die Bergzicht wynproe eindig; ongelukkig mag ons die oudste Port in die land (wat al vir 30 jaar in hulle vate lê) slegs besigtig. Mag ons eendag genoeg geld hê om so ‘n bottel te bekostig.
Ons vertrek (steeds sakkeloos!) op ‘n sirkelroete oor die plaas. Ek bevind myself weereens in verwondering oor die veerkragtigheid van die Here se skepping en die boodskap van hoop wat dit ewig dra: die heuwels om ons lê nog swart ná die brand waaronder dit minder as 3 maande gelede deurgeloop het en tog is die nuwe wit en pers blomme wat reeds die grond oortrek hul gebrande voorgangers se eweknie. Die meisies is vinnig om hulle hare met hierdie tekens van hoop en nuwe lewe te versier en so dra ons die hoop van die Here in meer as net ons harte saam met ons terug. Dis egter nie net die BTK meisies wat so die blommetjies langs die pad pluk nie. Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat ‘n sekere voorsitter sy eie blomme-pluk aksie aangegaan het om vir mejuffrou Burger BTK dans toe te vra .
Blomme in die hare wals ons by Country Sjiek se trou venue in waar mini burgers, vars sap en water, koffie en koekies ons inwag. (Ek kom graag terug na die gesprek wat ek aan die begin van hierdie skets [*kortverhaal] aangehaal het – al hierdie vir slegs R1200? Moenie laf wees nie. Mense het hulle harte en hande verseker vir die BTK oopgemaak op hierdie toer.) Nadat René haar danspassies op die amfiteaterverhoog gedemonstreer het, klim ons vir oulaas in blinde vertroue agterop die trokke vir ‘n laaste rondte “slap tjips” terwyl die hele As Jy Sing album luidkeels opgevoer word. Ek moet bieg, dié rit het effens meer hobbelrig as die voriges geword; ek het bietjie gegiggel toe ek sien hoe geharde, gesoute BTK’ners spring om hulle boude te beskerm wanneer daar net te vinnig oor ‘n klip of twee gejaag word. Dit is nou, totdat my eie boude dit gevoel het nadat ek ‘n meter of wat in die lug in gebons het soos ons oor ‘n besonderse groot klip geshnoll het. Kom ons sê maar net my ogies was nie die enigste blou ding aan my lyf ná daai trokrit nie.
Van die trokke afgeklim word wawiele op die gras gedoen; Lenka demonstreer vir almal waarom sy die gimnas in die groep is en ek waarom “doen ‘n ordentlike wawiel” letterlik op my lepellys (“bucketlist”) vir die jaar is. Dit voel nou al soos tradisie dat die dames iewers halfpad deur ‘n toerdag ‘n harewas sessie langs ‘n rivier hou. Ons volgende rivierkruising verloop geensins anders nie. Spoedig word die salon oopgemaak en bioafbreekbare sjampoe en conditioner van stasie tot stasie aangegee. Tanya blink uit in haar pos as Kyanti se Tydelike Kêrel met ‘n baie billike ruggiekrap terwyl ons wag vir die laastes om af te droog voor ons aanstap.
Op, op, op klim ons in die berge in. In die verte blink die waterval waarnatoe ons sou stap as dit nie vir ons verlengde kuiertjie by Country Sjiek was nie. Niemand voel egter ingedoen nie; almal stem soos een man saam dat die gratis salami en pesto burgers 100% die regte keuse was. Arme Christof wat al vandat ons van die trokke afgeklim het per Oom Rian se instruksies met ‘n boks vol wynbottels in sy hande stap, word eindelik deur Drian afgelos. Opgepraat na ‘n lang dag van stories spin, skop ‘n speletjie af waarin niemand om de dood aan ‘n dier wat met ‘n “u” begin, buiten ‘n uil, kon dink nie. Die dinkskrum word kortgeknip deur SW wat die hele groep tot stilstand bring, vir Drian ‘n stok in die hand stop en hom aan die woord stel vir ‘n vinnige motiveringspraatjie. Vasoortuig dat skiet nou oopgemaak gaan word, sit al die ouens suutjies en versigtig hulle sakke neer en skuifel-skuifel nader aan die naaste dame. Dit is, totdat Drian daar lostrek met die motiveringskreet van die jaar:
“Weet julle wat? Julle is almal wille honde – WILLE HONDE! Hoor julle my? Julle kan enigiets doen, want julle, is wille. Honde. WILLE HONDE!!”
Beter kon SW dit nie sê nie, Drian. Voorwaartsmars, manne.
In die kwynende lig merk die einste Drian later op dat die Heilige Gees (die wyn) nou nogal swaar word. Nou ja, en so stap ‘n paar BTK’ners dus met ‘n bottel wyn elk in die hand verder. Tot almal se groot verligting bring SW die dag se stap tot ‘n einde nes die son oor die berg se rand wegglip en die donker van die nag ons omvou. Aand nommer een van self moet kosmaak, bring saam met hom al die chaos van “het iemand ons derde pak pasta gezop?” en “wie’t ons tweede pot?” Bestanddele word by eerstetoeriste, wie se eerste fokus by die wraakkonsert lê, gesmeek en met tyd hang die reuk van bacon en pesto pasta in die koue berglug. Dit is ook dan nou hier, presies in die middel van die toer, liewe leser, waar die eersgenoemde diefstal geskied het, want terwyl Wraakkaptein Drian die laaste uitkykkring gelei het, het die kosgroepies elkeen ‘n bottel Heilige Gees geskenk gekry by Oom Rian en summier ook opgedrink. Die einste bottels waaraan Drian berg op so swaar gedra het. Dit is met die ontdekking dat ‘n ieder en ‘n elk van dié bottels wyn sonder hom deur die groepe dolleeg gedrink is dat Drian se ontstelde stem deur die naglug getrek het –
“Diewe! Almal van julle is diewe!”
Dit kon erger wees, Drian. Dit kon jóú sak, in plaas van Villa s’n, wees waarin Oom Rian skelmpies al die leë wynbottels gelaai het.
Ek moet oop kaarte speel hier: ek is steeds nie 100% seker wat geklap het in die wraakkonsert nie, maar ek deel wat ek wel kon vasstel: ‘n Waatlemoen het op Isaac Newton se kop geval en skielik maak dinge nie mooi sin nie. ‘n Een-been Usain Bolt hinkepink agter sy runaway bride Nina aan en Frederick verklaar sy liefde aan Cozette (hulle hoef nie te bekommer oor Carla nie, sy sê dan al ewig vir Frederick hoe oulik haar vriendinne is). Die vegan besluit dat varktjoppies tog dan nou te lekker lyk om nee te sê en die voëlverskrikker wat bang is vir mielies prewel elke vyf sekondes ‘n beteuterde, vreesbevange “mielie”. Kathonde en hondkatte dwaal die hele plek rond en die krieketspeler kry nie die dekselse runaway bride gebat nie. Eindelik ontdek ou Newton die wette van… emosies? In my ervaring volg emosies nie enige wette of handleidings nie en as hulle doen, kon ek tot op hede nog nie self uitpluis hoe hulle werk nie, maar laat weet my as jy dalk kon.
SW verloor amper ‘n oog gedurende “Two suckers on a stick” danksy Stefan se onbeheerbare behoefte aan roomys. Gedroggie skrik vir influencer Charlize en Kazakhstani Drian diep in die donker in. Die BTK meisies herinner ons weereens dat die BTK manne die meisies se gebrek aan fiemiese laaik. Villa word omtrent verhoog toe gesleep om te item, net om man alleen gelaat te word deur Drian wat in ‘n absolute lagbui verval toe Villa onwetend vir Klippies vermoor deur aan te kondig dat hulle besig was om hom “in die water te skiet”. Stoute Wouter Kabouter maak weer sy verskyning om die aand mee af te eindig.
Hekels is vanaand kort en kragtig. Anna hou vol dat mens in die wildernes moet “kapitaliseer op elke toilet wat jy vind” en Stefan berou die afwesigheid van sy “rubberduck Janu” by die middag se rivieroorsteking.
Almal kruip in hulle tente in vir ‘n heerlike nagsrus op die warmste aand van die toer. Wel, amper almal, maar meer hieroor môre.
Dag 4
In die luukse verloop van hierdie toer is opstaantyd vir alle toeriste vanoggend eers 08:00. Die opwinding van nog ‘n dag se stap tussen ons geliefkoosde berge sorg egter dat ‘n hele klompie mense reeds hul tente ooprits met die eerste sonstrale wat oor die grond naderkruip. Gevolglik is die stokers ‘n paar sopraanstemme ryker met die wakkersing van die laatslapers. Na ‘n paar floppe aan die Pinotage potte vasgebrand het, smul ‘n hele paar gelukkige siele aan kosdogter Carla se meesterstuk ham, kaas en blatjang geroosterde toebroodjies.
Noem dit maar my en Marietjie se “series of unfortunate events”, want een oomblik is dit aand en smul ons aan ons pesto pasta, die volgende het ‘n vreemde vlaag naarheid ons heelaand in sy greep, dwaal ons beide uit radeloosheid middernag op die berg rond, het ons boggerol geslaap en sit ek en Slabbert toe nou in die oggendson en sluk saam aan ‘n walglike, flou konkoksie nadat sy die medikit van ALLE Rehydrate beroof het. Nie een van ons weet wat die siekte voorafgegaan het nie, maar ons altwee weet wat volg: ‘n baie lang dag van stap.
Die egtheid waarmee 60 stemme daardie oggend tussen rotswande ge-eggo het in lofprysing van die Here sal my altyd bybly. Die eenvoud van ‘n stem wat verklaar dat sy eienaar se hart aan die Here behoort, het die betekenis van lofsang in my hart kom herdefinieër. Oom Rian en Tannie Maryke lei hierna die nagmaal in en René deel met ons die belangrikheid en kosbaarheid van gemeenskap.
Slot Villa kies sonder huiwering vir sleutel Drian, maar hmm, wag, dit kan nie reg wees nie. Die skaterlag wat volg, bevestig hierdie vermoede. Drian is onbeïndruk – met die laggery, nie sy verkiesing tot sleutel nie. Inteendeel, hy het hard gestry teen die regime, maar moes maar vrede maak dat sy toekoms nie in sleutel-wees lê nie. Toe sy eerste keuse nie uitwerk nie raak Villa sommer voorbarig en begin vir hom ‘n hele bos sleutels kies totdat SW tussendeur sy gelag en gehyg na asem dit regkry om hom te beperk tot ‘n kombinasie slot.
Na ‘n paar kettie-skiet lesse van Oom Rian val ons in die pad. Met geen plek in sy sak nie, stap Trevor sommer met ‘n pot in die hand voort. Tannie Maryke vermaak ons met stories van haar Nerina dae waar hulle die Eendrag manne geteister het deur stroop op hulle fietssale te gooi. Die beste was egter toe hulle al Eendrag se vurke met deurskynende, bitter aalwyn naelpolitoer bedek het, soveel so dat die manne die arme kombuispersoneel behoorlik laat hoor het hoe sleg die kos is – en toe ewe kwaai terug ingelig is hoe voel nonsens hulle is. Lekker, Tannie Maryke!!
Toe SW nog voor middagete aandring dat ALMAL ‘n bottel Game aanmaak, of jy nou lus het of nie, moes ons geweet het – na ‘n ellelange stuk son-stap op die jeep track verander SW se “lekker plat stuk” hopeloos te vinnig in ‘n lekker opdraend stuk. By verspoelde rivierpaaie op (en genadiglik later af) kruip Villa se slotgroepie ‘n goeie 15 minute agter die res. Vir eens toe SW oor die radio vra wie dan nou “so baie praat dat julle so stadig stap” en of dit “alweer Kyanti is”, kon ek met alle eerlikheid sê nee, want my woorde was, miskien vir die eerste keer ooit, bitter min. Stap nadat jy siek was, is nie snaaks nie. Ek het daai dag al my lewensbesluite bevraagteken.
Die beloofde waterval kon nie gou genoeg binne sig kom nie. ‘n Uitbundige gejuig en die neersmyt van stapskoene en -sakke gee vinnig aanleiding tot groot watersports. Nadat Pieter die diepe waters getoets het, volg die res agterna met groot spronge, bomme en flips. Seer voete word in die koel water ge-ys en sweterige hemde skoongewas. So sit ons vir ‘n oomblik waar die water oor die rotse val, af, af, af ondertoe, ewig aan die vloei om die volgende draai, in die volgende poel, na die volgende mens wat ‘n stukkie ewigheid daarin sal sien. Middagslapies en middagbroodjies in die middagson rond die watervalstop mooi af.
Vanaand slaap ons by ‘n kampterrein met storte, maar wag! Voordat ons in die luuks lekker mensgemaakte watervalle kan klim, moet damesskiet eers geskied, want die son hang al gevaarlik naby aan die hoogste bergkrone. Alle oë is op Anna en sy weet dit. Sy geniet die spanning wat sy skep. Haar tone krul van die lekkerkry, ek kan dit sommer sien. Haar mondhoeke trek staaadig op in ‘n grinnik. Dames skuifel-skuifel solank nader aan hul gekose teiken. Anna kyk ‘n laaste keer om haar rond. Neem die meisies in hul wegspringposisies in. Skep asem.
“SKIET IS OOP!!!”
Nog voor haar woorde ophou weergalm, daal chaos op die kampterrein neer. Daar word oor tente gespring en om bome gekoes. Die paar wat dit gewaag het om eers te gaan stort, kom met handdoeke om die hare en seep in die hand daaruit gepyl. Dis net gras wat vlieg soos hakke grond tref en sleemaats omgeduik word. In al hierdie wanorde is daar een stukkie kalm; SW stap doodluiters vir Lize weg, mingespin met die toneel om hom. Dit is, totdat Cozette mik-mik om hom te intercept. SW gooi ‘n vuil gluur.
“Jy DURF dit nie.”
Na die chaos kalmeer, blyk dit dat een sleemaat nie genoeg is vir Viljoen nie, want kort nadat Anna hom geskiet het, kondig Drian luidkeels aan dat “Villa nog up for grabs is!” Die storttyd krimp intussen al hoe meer en na ‘n streng “EEN minuut storte, dames!” van SW laat spaander almal ablusie blokke toe. Betyds hare gewas (ek weet fisies nie hoe nie), dasse geknoop en rokkies oor die kop getrek, word foto’s in die laaste stukkie goue lig geneem. Marialle kry wonder bo wonder ‘n damesskiet rokkie opgetoor nadat sy haar uitrusting by die huis vergeet het en die eerstetoerismanne vou vir hulle dasse uit hulle BTK nekdoekies. Netjies, manne.
Alles Wat Lekker Is is op die spyskaart vir vanaand – of wel, vir groepie Muskadel is dit net Alles Wat Is, want iewers langs die pad het hulle biltong verlore gegaan. Ons almal weet egter dat ons hier by die BTK altyd deel en kort voor lank is genoeg biltong donasies ingeneem om weer die Lekker in Alles Wat Lekker Is terug te sit. ‘n Spesiale dankie aan JJ wat sy persoonlike biltong aan sy groep geskenk het.
Item geskiedenis is gemaak met wat meneer die voorsitter self beskryf het as “die beste weergawe tot dusver” van Salomé (no takesies backsies, SW). Met Anna en die ukelele in die middel lisp-sing die spulletjie voort met rooi BTK nekdoekies op al die verkeerdste maniere om hul koppe geknoop. Die ster van die hele affêre is egter loshande Tanya wat haar kop elke paar sekondes onwillekeurig ruk en haar hande uit nêrens uit laat opskiet om van ritme af te klap. Troepe buit so hard uit dat Matthys later sy eie broer blou yskas, maar nie voordat Sigaret die hond “Vape” herdoop word en Johannes ‘n entoesiastiese “tjoef tjoef” uitkry nie. K-k-k-kajuitknaap Ch-Ch-Ch-Christof haak op b-b-b-bietjie m-m-m-meer as n-n-n-net sy k’s vas. Lighthouse vereis ‘n paar addisionele “steps” weens wesenlike lengteverskille tussen die bemanning en die lighuis. Vriendin skop af met Pieter wat die vraag op almal se gedagtes uitroep –
“Jissie, Matthys, is jy nou by Maties of Virgin?”
So bespreek die vriendinne hoe die BTK meisies wragtig kan innoveer met Country Sjiek se handeroom wat spoedig ‘n paar droë bene gedokter het, en dat Brendan dalk mooi, maar sy broer die eintlike “catch” is.
Met ligte harte en swaar ooglede kruip ons almal vir oulaas by ons tente in om beskutting teen die koue Breërivierlug in ons slaapsakke te soek.
Dag 5
Hoe klink Eet-Sum-Mors en kondensmelk vir ontbyt?
Dis ‘n groot oggend, want Anna word 21 en dis tyd om ‘n paar legendes maan toe te stuur. Eersdaags bied ons vir Taylor, Trevor, Michelle en Carina vaarwel. Elkeen herinner ons van hoe kosbaar ons tyd met die BTK is en getuig van presies hoe ver hierdie vriendskappe ons nog in die lewe sal dra.
Oom Rian se oggendboodskap kom in die vorm van ‘n vraag: hoe weet mens dat iemand die een is? Ek sal jok as ek sê dat almal se oë op hierdie oomblik nie onmiddellik in SW en Lize se rigting geskiet het nie. Alhoewel sy nou nie vir ons ‘n presiese resep kan gee nie, spoor Lize ons aan om iemand te vind wat weet dat nóg hulle nóg jy perfek is en dat net Jesus jou heel kan maak. Jada deel ook weer die eeue oue waarheid: hardloop so vinnig as wat jy kan na Jesus toe en as iemand kan byhou, stel jouself voor. Stefan is slot en word die eer van ‘n trippelslot toegeken. Dit is egter nie hierdie outoeris se eerste, tweede of derde rodeo nie en twee van sy sleutels is lankal, soos hy sê, “reeds deur hulleself aangestel” – Kyanti en Tanya. Anna sluit vir die dag aan by die trio.
Toerpa wees sorg dat Oom Rian vanoggend seker die meeste Vadersdagdrukkies van sy lewe ontvang, maar dié dag bring daarmee saam ook ‘n unieke probleem: Spur neem nie besprekings nie. Eish. Die slotgroepie stap ekstra stadig agter die res aan soos Anna deur 3 Spurs se bestuurders werk om terrash gereël te kry. Intussen sit SW se pa se motorfiets vas in die modder en help die manne om dit uit te stoot terwyl die oom vir ons inlig presies hóé ver agter ons nou eintlik is. Dankie, Oom. Altyd goed vir die gemoedere. Met behulp van Stefan die plaaslike Paarl jeug pastoor en nog 6 oproepe is ons terrash bestelling uiteindelik geplaas.
Ek moes al sleutels laat sny, maar hierdie sleutel moes gou ook leer spoorsny synde ons langvergete mede-BTK’ners se voetspore al bewyse van hulle deurtog deur die veldblomme was. Gelukkig sorg ‘n draadheining dat die groep bietjie moet brieke aanslaan en haal ons eindelik in. Carla ruk tot almal se bewondering ‘n blik Pringles uit wat na 4 dae nog heel is. Die brieke is nog skaars na die heining gelig of hulle word weer aangeslaan: Eden het Drian se stapsandale letterlik middeldeur gestap. Dis egter niks wat ‘n paar lae insulation tape nie kan red nie en gou doen ons soos Stefan sê en “make like a tree and leaf.” Die groep neem doelbewus (volgens SW) ‘n verkeerde afdraai om toe te laat (volgens SW) dat die agterosse die res inhaal (volgens SW). By die treinspoor neem ons vir oulaas ‘n Game breuk waar almal se beste snack en sokkie game sommer ook uitgeruk word. Jy weet jy’t lekker geëet op toer as al die beste snacks eers op dag 5 uitgeruk word; dis net Kiri kasies, biltong en sjokolade waar jy kyk.
Opgekikker en reg om die busbestuurder te groet, klim ons op die treinspoor, maar hierdie is nie net enige treinspoor nie, o nee; hiérdie is Die Treinspoor Wat Tot In Ewigheid Aangaan. Dit neem nie lank vir die groep om ordentlik uit te sprei oor die lengte van die spoor nie. Toe Stefan iewers opkyk van die eindelose dwarslêers onder sy voete en sien dat daar weereens absoluut niemand in sig is nie, merk hy doodluiters op dat die res alweer spoorloos verdwyn het. Ons skep later asem in die skaduwee van ‘n tonnel en sommige bespiegel hoe ver weg die einde is waarop SW hul verseker:“dis net om die draai.”
Die regte vraag is nou: hoe ver weg is die draai?
My brein hou daarvan om lukrake dinge te tel – die hoeveelheid trappe na my kriminele reg 314 klaskamer, die hoeveelheid slukke in ‘n small 18 cappucino. Ek het probeer met die dwarslêers van daai spoor, maar vrekkit, ek het myself woes deurmekaar getel. Die spoor het later tot ‘n einde gekom en stééds was SW se draai nie in sig nie. Dit is eers etlike BTK eenhede later dat die vae verre beeld van ons bus ‘n werklikheid word. Na ‘n gentleman’s race wat die stof laat staan, word deodorant en wet wipes vrylik in die bus rondgestuur ter voorbereiding van ons toetrede terug in beskawing.
Terrash buite op die Spur se stoep beteken ons speel in die spuitfonteine terwyl ons wag vir die kos. Binnekort roei die roeiers en kom Johan eerste met Kehan kort op sy hakke. Te gou is dit tyd om ons liewe toerouers te groet en terug te keer bus toe. ‘n Kort rit later is dit weer bekende ou Simonsberg en Stellenboschberg wat teen die blou lug lê. Bus afgepak en toermaters gegroet, is nog ‘n toer verstreke.
Met die lang wintervakansie wat nou vir die meerderheid voorlê, mag dit dalk ‘n rukkie wees voor ons mekaar weer sien, maar ons troos onsself aan die feit dat die BTK dans reeds in week 1 van die nuwe semester vir ons lê en wag. Intussen, koester ons die herinneringe wat ons op hierdie toer gemaak het saam met al die wyshede wat ons geleer het diep in ons harte. Tussen die gasvryheid, vrygewigheid en liefde van die Breërivier mense en ou Candice het ek regtig op hierdie toer geleer hoe om te vra:
“How can I help you?”
