Ouman Komitee

Oor die afgelope 50 jaar het ons Oumanne ’n sterk fondament vir Helshoogte gelê, en ons wil graag voortbou daarop. Ons doel met die Ouman Komitee is om ’n platform te skep om:

  • Oumanne in die verskillende streke aan te moedig om saam te kom vir informele byeenkomste;
  • netwerke te bou waardeur ons mekaar kan ondersteun;
  • die huidige huislede, waar toepaslik, te ondersteun en bande te vorm tussen die Oumanne en die huidige inwoners, sodat ons saam kan werk en in dieselfde rigting kan beweeg;
  • te verseker dat daar sterk kontinuïteit is tussen reünies en groot reüniegeleenthede (die volgende een is ons 55-jaar reünie in 2028);
  • hoofsaaklik klem te lê op die behoud van die verbintenisse tussen Oumanne, maar ook om vriendskappe weer aan te wakker – selfs voordat ons by finansiële bydraes uitkom (“Friend-raising before fund-raising”).

Saam met die verkose lede dien die Inwonende Hoof, Luke Cuff, en die Primarius, Thando Tshabalala, ook op die Oumanne Komitee as ex officio lede. Hulle dien as die skakel tussen die Oumanne en die Huis. Hierdie ex officio posisies het nie stemreg nie, soos bepaal in die Grondwet.

Belangrike prioriteite vir die nuwe termyn (ons filosofie):

Koördinering tussen die Huis en Oumanne

Die Oumanne en die huidige Helshoogters het uiteindelik ‘n gemeenskaplike doel: dat die Huis en die Helshoogte-gemeenskap ’n plek moet wees waar ons mekaar vir nóg 50 jaar (en selfs langer) kan vorm. ’n Huis waarna ons jaarliks kan terugkeer vir reünies, omdat dit staande gebly het ten spyte van uitdagende tye op ’n moderne kampus. Daarom is dit belangrik om hande te vat met die huidige Helshoogters, onder leiding van die Huiskomitee, en ons energie te rig op aktuele sake, sodat Helshoogte nog baie jare die toets van die tyd kan deurstaan.

Die huidige langtermynvisie van die Huis is om die Leidende Manlike Gemeenskap in Suid-Afrika te word, met die doel om goed-ontwikkelde individue te vorm wat die wêreld ingestuur kan word. Dít is ’n doelwit om op trots te wees! As Oumanne wil ons ook die pogings van die nuwe Helshoogters in hul komende termyn ondersteun.

Vestiging van takke in provinsies en ander lande

Tradisioneel is ons 5-jaar-reünies bykans die enigste geleenthede waarna Oumanne kan uitsien. Dit is iets wat ons in die komende jare wil verander, sodat daar meer gereelde kontak tussen voormalige Helshoogters kan wees.

Daarom nooi ons al die Oumanne uit om die Stellenbosch Alumni-geleenthede by te woon as ’n beginpunt om nouer bande te bou. Hierdie geleenthede word jaarliks in verskeie streke regoor die land én wêreld aangebied. Ons wil hierdie platforms benut om Helshoogters se netwerke te versterk en nuwe bande te vorm. Die idee is dat ons tussen die jaarlikse Maties Alumni-funksies Helshoogte-spesifieke byeenkomste aanbied vir OuManne in daardie streek.

Ons reken op die samewerking en ondersteuning van al ons voormalige Helshoogters om aan die proses deel te neem en die verbintenisse sistematies uit te brei, sodat ons saam oor die volgende paar jaar ’n sterk plaaslike netwerk kan vestig.

’n Lys van Maties Alumni-geleenthede is beskikbaar by: https://console.vpaper.ca/stellenbosch-university/alumni-calendar-2024_eng/.

Komende reünies

Natuurlik is die hoof fokus vir die huidige termyn om op te bou na die 55-jaar-reünie in 2028. Dit bly ’n deurlopende prioriteit. Die Komitee besef egter dat dit nie ideaal is om slegs op een “groot” reünie elke vyf jaar te fokus en al die ander reünies as “kleiner” te beskou nie. Daarom wil ons wegbeweeg van die tradisionele idee van “groot” en “klein” reünies. Ons wil saam met die Helshoogte Huiskomitee ’n jaarlikse program tydens die Universiteit se Tuiskomsnaweek aanbied waarheen Helshoogters kan terugkeer. Dit bied die ideale geleentheid om te netwerk, ou vriendskappe te hernu en sterk bande te vestig.

Helshoogte finansiële hulpfonds om terug te ploeg in die Huis

Aangesien die Helshoogte-gemeenskap reeds 50 jaar bestaan, het ons beslis nie meer ’n klein of jong alumnibasis nie. Vir lank was daar min of geen strukture waarin Oumanne met oortuiging kon belê of waarvoor hulle sterk kon mobiliseer nie. Die Komitee wil dit verander deur ’n amptelike beursfonds te stig. Hierdie fonds sal gebruik word om Helshoogters finansieel te ondersteun met beurse en ander behoeftes – spesifiek vir akademies verdienstelike studente. Jaarliks word baie Helshoogters gedwing om hul studies te staak wanneer befondsing opdroog. Hoewel die Universiteit hulp bied, is dit wyd versprei oor alle koshuise en PSO’s. Ons wil ’n instrument skep wat spesifiek Helshoogte jaarliks ondersteun. Ons vertrou dat hierdie inisiatief oor die komende jare sal groei soos die fonds gevestig raak en meer Helshoogters daarby baat vind.

Alle Oumanne word vriendelik versoek om uit te kyk vir verdere kommunikasie rakende die fonds.