Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Dion Forster

Intreerede

Augustus 16, 2022 @ 17:3018:30

ʼn Betaamlike lewe in ʼn onbetaamlike wêreld? Die deugde en ondeugde van ʼn publieke teoloog

Hierdie lesing handel oor ʼn vreemde paradoks wat die hedendaagse lewe in Suid-Afrika kenmerk. Alhoewel 92,3% van Suid-Afrikaners hulself as gelowig beskou (waarvan 85,6% hulself as Christene beskou), voer ons steeds ʼn stryd teen die individuele en sistemiese onwelvoeglikhede van rassisme, seksisme, armoede, geweld en vernietiging van die omgewing. Wat sou ʼn goeie, korrekte en wyse belydenis deur ʼn Christenteoloog in hierdie situasie wees? Die antwoord op hierdie vraag verg noukeurige en kritiese besinning oor die ingewikkelde kruispunte tussen geloof en die openbare lewe. Die booshede waarvoor ons te staan kom, is nie net in die onbetaamlike gedrag en oortuigings van individue te sien nie, maar word ook deur onbetaamlike stelsels en instellings (soos ekonomiese stelsels, politieke stelsels en geloofinstellings, om net ʼn paar te noem) volgehou en versterk. Die Christentradisie beken dat God, wat die wêreld geskep het, goed is. Christene beken voorts dat dít wat God geskep het, goed is, en dat die doel van God se goeie skepping die goeie is. Dit is ʼn politieke aanspraak wat gevolge vir sowel geloof as die openbare lewe inhou. Wat sou die gepaste, regte en betaamlike optrede wees wanneer ons, as mense wat in die beeld van Christus gevorm word, boosheid teëkom? Ten einde te verstaan hoe ons meer betaamlik kan leef, moet ons daarop fokus om geduld te beoefen, moedig op te tree en ʼn profetiese verbeelding te kweek sodat ons hoop vir ʼn beter wêreld nie ʼn blote hersenskim bly nie. Hierdie besinning is gegrond op ʼn kritiese begrip van die aard en verantwoordelikheid van die beoefening van publieke teologie in Suid-Afrika vandag

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Dion Forster is in Zimbabwe gebore en het in Suid-Afrika grootgeword. Ná hoërskool studeer hy elektriese ingenieurswese. In die laat 1980’s word hy as Metodiste-lekeprediker aanvaar en begin deur Unisa teologie studeer. Hy tree in 1990 tot predikantskap in die Metodistekerk van Suider-Afrika toe en word in 1998 tot die bediening van Word and Sacrament gewy ná sy studies aan Rhodes Universiteit en dienslewering in verskeie kruiskulturele kerkkontekste.

Hy behaal ʼn BTh Hons-graad (met onderskeiding, 1998) en ʼn MTh-graad (met onderskeiding, 2001) aan Rhodes Universiteit. Hy verwerf in 2006 sy eerste PhD in Sistematiese Teologie aan Unisa met ʼn tesis getiteld “Self-validating consciousness in strong artificial intelligence: An African theological contribution”. Hy bring ook tyd by Cambridge Universiteit en Duke Universiteit Teologieskool deur. Hy behaal ʼn tweede PhD in Nuwe Testamentstudies aan Radboud Universiteit, Nijmegen in 2017, met ʼn tesis getiteld “The (im)possibility of forgiveness? An empirical intercultural reading of Matthew 18:15–35”. Hy voltooi ook ʼn Senior Bestuursontwikkelingsprogram aan die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool (met onderskeiding, 2009).

Dion dien tussen 2002 en 2008 as dekaan van John Wesley Kollege, die kweekskool van die Metodistekerk van Suider-Afrika. In daardie tydperk dien hy ook as voorsitter van die gesamentlike raad vir die Diploma in Teologie (2004–2005), as ʼn kontrakdosent in Nuwe Testamentstudies by die Universiteit van Pretoria en as ʼn kontrakdosent in Teologiese Etiek by Unisa. Tussen 2008 and 2013 dien hy as ʼn werkplek-kapelaan by die Power Group, waar hy ʼn lid is van die leierskap van die Global Day of Prayer-, Unashamedly Ethical- en Exposed – Shine a Light on Corruption-bewegings.

Hy word in 2011 vir die eerste keer by die Universiteit Stellenbosch aangestel in ʼn deeltydse posisie by Ekklesia. Hy dien vanaf 2014 in sy huidige pos in die dissiplinegroep van Sistematiese Teologie en Ekklesiologie en is sedert 2014 ʼn senior dosent in Publieke Teologie en etiek. Hy is tans die voorsitter van die dissiplinegroep van Sistematiese Teologie en Ekklesiologie, die direkteur van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie, die hoof van die Eenheid vir Innovasie en Transformasie, en ʼn professor van Sistematiese Teologie, wat onder meer insluit dat hy doseer, as studieleier vir nagraadse studente dien en navorsing in sistematiese teologie, publieke teologie en etiek doen. Hy is voorts ʼn navorsingsgenoot by Wesley House, Cambridge, en ʼn vennoot van die Allan Gray Centre for Values-Based Leadership by die Universiteit van Kaapstad se nagraadse bestuurskool. Hy is ook tans die voorsitter van die direksie van TEE College. Dion is getroud met Megan (wat so pas haar PhD in Opvoedkundebeleidstudies voltooi het). Hulle het twee kinders: Courtney (wat tans haar honneursgraad in Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch voltooi) en Liam (in Graad 9 by Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes).

RSVP vir hierdie Intreerede


Kyk die intreerede hier

Besonderhede

Datum:
Augustus 16, 2022
Tyd:
17:3018:30

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za

Lokaal

Room 2031 Attie van Wijk Auditorium, 171 Dorp Street, Stellenbosch, 7600
171 Dorp Street
Stellenbosch, 7600 South Africa
+ Google Map
Afrikaans