Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Stephen Matope

Intreerede

4 April 2024 @ 17:3019:00

Additiewe vervaardiging ’n deurbraak in gevorderde vervaardigingsingenieurswese

Vervaardigingsingenieurswese dra aansienlik by tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk en tot die algemene wêreldekonomie. Additiewe vervaardiging is ’n kerndeel van gevorderde vervaardiging. As die teenoorgestelde van die tradisionele subtraktiewe masjienbewerking wat vir die vervaardiging van ingenieurskomponente gebruik word, word additiewe vervaardiging as ’n ontwrigtende tegnologie beskou. Dit het begin as ’n snelprototiperingstegnologie om die ontwerp van konsepte in 3D te bewys. Deesdae word additiewe vervaardiging egter gebruik vir die produksie van finale, bedryfsklaar items, en nie net meer prototipes nie. Die voordeel van die tegnologie is dat ingewikkelde produkte op een slag vervaardig en die vermorsing van grondstowwe tot ’n minimum beperk word. Dit word onder meer ingespan vir die vervaardiging van konforme verkoelingstelsels vir die bewerkingsbedryf. Nietemin hou naspanning in additief vervaardigde produkte sekere uitdagings in. Hierdie spanning kan die finale produk onder meer verwring, laat kraak en laat kromtrek. Om ’n produk van ’n hoë gehalte te verseker, moet naspanning dus behoorlik gedurende die additiewe vervaardigingsproses bestuur word.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Prof Stephen Matope sluit hom in 2008 as ’n PhD-kandidaat in die Departement Bedryfsingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch (US) aan. Sy onderrigtalent word gedurende ’n demonstrasie van die Motoman-robot by ’n US Opedag raakgesien, en die aanbieding van twee modules (Vervaardigingsprosesse en Produksiebestuur) word daarna aan hom toevertrou. Toe hy sy PhD-studie voltooi, stel die US hom in 2012 as ’n senior dosent aan. Bevorderings tot medeprofessor en volprofessor in Gevorderde Vervaardigingsingenieurswese volg in onderskeidelik 2018 en 2023.

Prof Matope se navorsing handel oor die prosesse en stelsels van gevorderde vervaardiging. Die publikasiegeskiedenis van hierdie geregistreerde professionele ingenieur van die Ingenieursraad van Suid-Afrika, die Suider-Afrikaanse Instituut vir Bedryfsingenieurswese (SAIIE) en die internasionale Instituut vir Bedryf- en Stelselsingenieurs sluit reeds meer as 105 ewekniebeoordeelde vaktydskrifartikels en konferensiereferate in. Hy is ook ’n artikelkeurder vir drie tydskrifuitgewers.

In sy onderrigrol was hy al studieleier vir een nadoktorale genoot, tien PhD-studente en oor die 70 MIng- en BIng-studente in hulle maatskappygebaseerde Bedryfsingenieurswese-projekte. Saam met sy studente het hy al meer as 60 bedryfsgebaseerde ingenieursprojekte by Suid-Afrikaanse vervaardigingsmaatskappye onderneem. Hy behoort tot die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Ingenieursonderwys sowel as die Europese Netwerk van Innoverende Leerfabrieke (NIL) en het as die eerste NIL-koördineerder vir Suid-Afrika opgetree. Daarbenewens is prof Matope ’n eksterne eksamineerder vir vier Suid-Afrikaanse en twee Zimbabwiese universiteite.

Hy glo vas in die waarde van leergemeenskappe en help sedert 2016 die driejaarlikse Internasionale Konferensie oor Mededingende Vervaardiging reël. Boonop het hy in 2019 en 2020 tot die reëlings vir die Internasionale Konferensie oor Leerfabrieke bygedra. Hy dien ook in die reëlingskomitee vir die SAIIE-konferensie en is in 2021 aangewys as ’n evalueerder vir die keuring van Afrika-beurshouers as deel van die Europese Unie-program Education for Laser-based Manufacturing (ELbM).

As voormalige besoekende navorsingswetenskaplike aan die Chemnitz Universiteit vir Tegnologie in Duitsland (2011), het prof Matope in 2022 ’n gesamentlike projek tussen Chemnitz en die US se Fakulteit Ingenieurswese geloods. Dít loop in 2023 uit op die ondertekening van ’n vyf jaar lange memorandum van verstandhouding. Die ooreenkoms maak voorsiening vir personeel- en studente-uitruilbesoeke, gesamentlike navorsing oor onderwerpe van gemeenskaplike belang (waaronder waterstoftegnologieë) en gesamentlike finansieringsaansoeke (onder meer by Erasmus+ en die Duitse Akademiese Uitruildiens (DAAD)). Hy is ook ’n medewerker van die Fraunhofer-instituut in Duitsland, die voorste toegepaste-navorsingsorganisasie ter wêreld.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
4 April 2024
Tyd:
17:3019:00

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za

Lokaal

Reitz Hall, Engineering Faculty
156 Banghoek Road, Stellenbosch Central
Stellenbosch, Western Cape 7605 South Africa
+ Google Map
Afrikaans