Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Theo Broodryk

Intreerede

9 April 2024 @ 17:3019:00

Besinning oor klasaksie in Suid-Afrika die afgelope 30 jaar: ’n nasie gewoond aan swaarkry, maar skugter vir kollektiewe herstel?

Klasaksies stel verskeie persone met soortgelyke eise teen dieselfde verweerder in staat om hulle sake in ’n enkele regsgeding te konsolideer. Klasaksies bevorder doeltreffendheid deur te keer dat die hofstelsel oorval word met etlike individuele sake oor dieselfde of soortgelyke kwessies. Dit bewerkstellig ook toegang tot geregtigheid deur ’n meganisme te voorsien aan individue wat dalk nie oor die finansiële middele om individuele sake in te stel, beskik nie. Daarbenewens kan klasaksies konsekwente uitsprake help verseker vir eisers in soortgelyke omstandighede, as afskrikmiddel dien vir persone wat betrokke is by onwettige praktyke, en sistemiese verandering teweegbring deur wydverspreide kwessies aan te roer wat ’n groot groep mense raak. Ondanks hierdie voordele, was daar egter tot dusver nog net ’n beperkte getal klasaksies in Suid-Afrika. Hierdie intreerede besin oor waarom die klasaksie steeds onderbenut is bykans 30 jaar sedert dit in die Suid-Afrikaanse regstelsel bekend gestel is en waarom daar waarskynlik ’n transformasie voorlê op die terrein van kollektiewe herstel in die land.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Theo Broodryk is ’n professor in die regte aan die Universiteit Stellenbosch (US) en die bestuurder van die Universiteit se Regskliniek. Hy het die graad BA, LLB en LLD aan die US verwerf. Hy is ’n toegelate prokureur van die Suid-Afrikaanse hooggeregshof en het voorheen by Afrika se grootste regsfirma gepraktiseer. Daarbenewens is prof Broodryk ’n senior navorser by die Ius Commune-navorsingskool in die program oor die grondslag en beginsels van Europese siviele prosesreg, ’n Beaufort- (Colenso-)genoot aan St John’s College, Cambridge, en ’n voormalige besoekende navorser aan Stanford se regsfakulteit.

Hy is ook ’n gesertifiseerde arbiter van die Vereniging van Arbiters (Suider-Afrika) en het ’n sertifikaat in gevorderde arbeidsreg aan die Universiteit van Suid-Afrika se Sentrum vir Besigheidsreg verwerf.

Hierdie Y1-gegradeerde navorser van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) het toonaangewende publikasies op die terrein van Suid-Afrikaanse siviele prosesreg die lig laat sien, waaronder Eckard’s Principles of Civil Procedure in the Magistrates’ Courts. Prof Broodryk is ook ’n medewerker aan verskeie internasionale projekte, onder meer as medeskrywer van ’n segment oor kollektiewe litigasie en die beskerming van nie-litigante se belange as deel van ’n kompendium van vergelykende siviele reg onder leiding van die Max Planck Instituut vir Prosesreg. Boonop dien hy tans in die Suid-Afrikaanse Reëlsraad vir Geregshowe.

Prof Broodryk het al verskeie befondsingstoekennings ontvang, waaronder die MJ & HB Thom-navorsingstoekenning en ’n NNS-toekenning vir kennisuitruiling en samewerking. Hy is in 2020 met die gesogte Georg Forster-genootskapstoekenning van die Alexander von Humboldt-stigting in Duitsland vereer. Sy aansienlike bydrae tot die US se navorsingsuitset in wetenskaplike publikasies wat by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geakkrediteer is sowel as sy voortreflike werksprestasie het hom al institusionele erkenning en eerbewyse besorg.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
9 April 2024
Tyd:
17:3019:00

Organiseerder vir intreerede

Olivia Adams
Epos:
adamso@sun.ac.za

Lokaal

Kamer 1023, Ou Hoofgebou, Fakulteit Regsgeleerdheid, Ryneveldstraat, Stellenbosch
50 Ryneveld Street
Stellenbosch, Western Cape 7600 South Africa
+ Google Map
Afrikaans