Loading Events

« Alle Intreeredes

  • This event has passed.

Prof Christie Dorfling

Intreerede

18 April 2024 @ 17:3019:00

Hidrometallurgiese ekstraksie van metale uit primêre en sekondêre hulpbronne

Metaalproduksie uit primêre hulpbronne word al hoe moeiliker weens die geleidelike daling in ertsgehalte, die evaluering van alternatiewe, meer komplekse ertsmassas, en al hoe strenger omgewingsbeleide en regulasievereistes. In die soeke na vernuwende prosesse om hierdie uitdagings die hoof te bied, word hidrometallurgie dikwels as ’n moontlike geskikte tegnologie vir metaalherwinning beskou. Daarbenewens sal hidrometallurgiese prosesse ’n belangrike rol vervul in die behandeling van sekondêre metaalhulpbronne soos nywerheidsafval (byvoorbeeld mynuitskot) en snel groeiende verbruikersafvalstrome (byvoorbeeld einde-van-leeftyd elektriese en elektroniese toerusting). Die doeltreffende behandeling van sulke sekondêre hulpbronne is belangrik uit sowel ’n ekonomiese as ’n omgewingsbestuursoogpunt en is noodsaaklik om die wêreldwye oorgang na ’n sirkel-ekonomie te ondersteun.

Hierdie aanbieding bied ’n oorsig van navorsing op die terrein van hidrometallurgie, met die klem op die modellering, optimalisering en versterking van bestaande hidrometallurgiese prosesse sowel as prosesontwikkeling vir metaalherwinning uit sekondêre hulpbronne. Die navorsing behels onder meer eksperimentele ondersoeke sowel as die fundamentele modellering van hidrometallurgiese verwerkingstappe soos loging, oplossingsuiwering (byvoorbeeld oplosmiddel-ekstraksie, ioonruiling, en presipitasie) en metaalproduksie (byvoorbeeld elektrowinning). Hierdie aktiwiteite word aangevul met die ontwikkeling van moontlike prosesvloeikaarte, die gepaardgaande tegno-ekonomiese evaluering van prosesse sowel as omgewingsimpakbeoordelings om besluite oor proseskeuse te help rig en tegniese gebiede te identifiseer wat verdere navorsing en ontwikkeling verg.

Kyk die intreerede hier

Kort biografie

Christie Dorfling het sy ingenieursloopbaan in die Afdeling Meting en Beheer by Mintek begin nadat hy die graad BIng (Chemies) in 2005 aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Hierna behaal hy in onderskeidelik 2008 en 2012 ’n MPhil (Gevorderde Chemiese Ingenieurswese) aan die Universiteit van Cambridge en ’n PhD aan die US. Hy is sedert 2009 ’n voltydse akademiese personeellid in die US se Departement Chemiese Ingenieurswese.

Sy navorsingsbelangstellings op die gebied van hidrometallurgie sluit in die tipering en modellering van logingstelsels, die herwinning van onedel- en edelmetale uit loogoplossings, en die ontwikkeling van prosesse vir metaalherwinning uit laegehalte-erts en sekondêre hulpbronne. Prof Dorfling het al studieleiding aan drie PhD-studente en 37 studente in die program MIng (Navorsing) tot voltooiing gebied en het voorheen as voorgraadse programkoördineerder in die Departement Chemiese Ingenieurswese opgetree. Boonop beklee hy sedert 2021 die amp van departementele voorsitter.

RSVP HIER

Besonderhede

Datum:
18 April 2024
Tyd:
17:3019:00

Organiseerder vir intreerede

Amira Brown
Epos:
browna@sun.ac.za

Lokaal

Reitz Hall, Engineering Faculty
156 Banghoek Road, Stellenbosch Central
Stellenbosch, Western Cape 7605 South Africa
+ Google Map
Afrikaans