Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Skakel in by Bits & Bytes

Komende September vier Bits & Bytes se radio-weergawe sy tweede verjaardag met meer as 55 uitsendings op ons kerfstok. Wat aanvanklik begin het as `n tweeweeklikse radio-insetsel om allerlei IT-nuus te deel, het intussen gegroei tot `n weeklikse instelling wat veel meer as net die doen en late van IT bespreek. Bits & Bytes is tans dié tech-show op MFM en hoe dan anders met twee aanbieders, Marc-Allen Johnson en Tian Petersen wat behoorlik moet bontstaan om by te hou by elke week se tegnologiese nuutjies. 

MFM het `n gehoor van 30 000 luisteraars tussen die ouderdom van 14 en 28 en word nie net op kampus uitgesaai nie, maar dek die hele Stellenbosch. IT word dus gehoor dwarsoor Stellenbosch en enigiemand wat wil op hoogte bly van tegnologie sal nie spyt wees om 10 minute af te staan en in te skakel nie. Met elke insetsel probeer ons om `n kombinasie van relevante nuus vir studente en personeel, sowel as interessante verwikkelinge op die tegnologiese front op `n informele trant aan luisteraars oor te dra.

Ons besef egter dat almal nie toegang het om altyd regstreeks daarna te luister nie en het die fasiliteit geskep waar jy, nadat dit uitgesaai is, steeds aanlyn na die uitsendings kan luister. Al wat jy hoef te doen is om na WWW.SUN.AC.ZA/BB te gaan waar daar `n lys van alle vorige nuusbriewe is, maar ook al 56 vorige radio-uitsendings. Kliek bloot op die mp3-skakel en bly op hoogte van wat aan die gebeur is met tegnologie.

Die insetsels word binne die US-netwerk gehuisves, dus gaan dit nie jou internetkoste opvreet nie – jy kan met `n geruste hart luister. As jy wel die regstreekse uitsending wil hoor, skakel gerus elke Woensdag om 15:15 op die Lunch Show op MFM saam met Lesley en ons eie Tian en Marc-Allen in. Kliek HIER om aanlyn na MFM te luister.

Jy is ook welkom om kommentaar en vrae in daardie tydsgleuf via Twitter aan ons te stuur en indien daar geleentheid is, sal dit op die lug beantwoord word. Tweet ons by @ITStellenUni!

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.