Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Jy sê Tomato, ek sê Zomato

Eet jy net om aan die lewe te bly of is eet jou lewe? Wat ookal die geval, net om te besluit waar om te eet, kan vinnig ontaard in `n onnodige 20-minute gesprek. Gelukkig is daar Zomato.

Zomato is nie die veraf, eksotiese nefie van die eenvoudige tamatie nie. Dis ʼn toepassing wat jou besluite sommer baie makliker gaan maak. Oor die afgelope naweek het ons Zomato gebruik en beproef en hier is ons opinie.

Zomato-2

Zomato kom oorspronklik van Indië en is in 2008 gestig. Die web en mobiele toestel toepassing kan beskryf word as ʼn globale restaurant soek-en-ontdek hulpmiddel, of soos Gearburn dit so beskrywend stel, “Facebook vir kos”. Zomato is inderdaad meer as net ʼn soekenjin, dis ʼn sosiale netwerk vir kosliefhebbers.

Tot op datum is daar reeds 1.4 miljoen restaurante in 22 lande gelys op die databasis en word dit 90 miljoen keer per maand besoek.

Die toepassing gebruik jou foon se GPS om jou ligging te bepaal en restaurante in jou nabye omgewing voor te stel. Maar, jy kan ook volgens verskeie ander kriteria soek, byvoorbeeld die tipe kos (Indies, Chinees of Marokkaans, ens.) of tipe maaltyd (middagete, aandete, wegneemetes, ens.)

Jy sal ook spyskaarte, fotos, resensies en graderings vir restaurante te siene kan kry. Die belangrikste is egter dat die toepassing die ligging aandui op Google maps, sowel as kontakinligting. Die foontoepassing het ʼn addisionele funksie ingebou waarmee jy direk uit die toepassing die restaurant kan skakel om te bespreek.

Die gemiddelde prys per ete word ook ingesluit – baie handig as jy nie hou van onwelkome verrassings nie. Hou in gedagte dat Zomato enigiets van Steers tot Overture insluit – van wegneemete-plekke tot eksklusiewe restaurante. Daar is iets vir almal, watookal jou begroting of smaak.

Zomato ontwikkel ook meer funksionaliteit en sal binnekort aanlyn besprekings en betalings by hul toepassing insluit. ʼn Projek saam met Uber was ook al ter sprake.

As jy ʼn kompeterende streep het, kan jy probeer om ʼn ekspert in jou buurt te word deur ten minste 10 restaurante te resenseer en 50 fotos op te laai. Daar is verskeie vlakke wat bepaal word deur die hoeveelheid punte wat jy insamel. Jy kan ʼn foodie, big foodie, super foodie en connoisseur word as jy ʼn toegewyde Zomato-gebruiker is.

zomatoDIE GEVOLGTREKKING

Ons het Zomato oor ʼn naweek beproef om ons uiteet-ekskursies te beplan en dit het baie goed gewerk. Inligting was deurlopend akkuraat en die kaarte het handig te pas gekom toe ons ʼn nuwe restaurant in Bellville wou uitprobeer.

Selfs gradering en resensies is maklik om te doen en die reeds bestaande resensies gee vir jou ʼn goeie idee van wat om te verwag. Ek is nie ʼn toepassing-fanatikus nie, maar Zomato is eenvoudig, tog effektief, dus beveel ek dit aan.

Laai Zomato vir Android af 
Laai Zomato vir iOS af 
Laai Zomato vir Windows af 

Tags:

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.