Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Facebook: die gras is nie groener nie

As jy in die 80s jou buurman se blink-nuwe BMW wou sien, moes jy maak asof jy die laventel-heining snoei. Deesdae is sy Facebook-muur besaai met fotos van sy kopie.

Jy’t mismoedig geraak toe jy gesien het die jongste Petersentjie oorkant die pad dra alweer strandsambrele en -rakette aan kar toe vir hul Natalse Suidkus-vakansie.

Ons beny nogsteeds ander. Die omvang is net groter as gevolg van sosiale media platforms soos Facebook. Hoewel jy dertig jaar gelede van jou bure se doen en late geweet het, weet jy nou ook van jou langverlore neef in Australië se vakansie by die Great Barrier Reef of die skoolmaat – wat jy 20 jaar gelede gesien het – se oënskynlik suksesvolle besigheid. 

In 2013 het Ethan Kross, ʼn sielkundige van die Universiteit van Michigan, na aanleiding van sy navorsing, bevind dat Facebook `n groep studente wel hartseer en alleen laat voel het. Oor ʼn tydperk van twee weke het Kross en sy kollegas ʼn groep studente bestudeer, vrae gevra en tot hierdie gevolgtrekking gekom. (Facebook use predicts declines in subjective well-being in young adults: Kross E, Verduyn P, Demiralp E, Park J, Lee DS, Lin N, et.al (2013))

Beteken dit dat sosiale media inherent sleg is vir ons? Nie heeltemal nie, maar ons moet let op hoe ons dit gebruik en watter invloed dit op ons lewens het. 

Reeds in 1998 het Robert Kraut, ʼn navorser by die Carnegie Mellon Universiteit, bevind dat mense meer alleen en depressief raak hoe meer tyd hulle op die internet spandeer. Die rede hiervoor lê in die mens se ingebore sosiale aard. Ons wil konneksies maak met ander, maar daarmee saam is dit onvermydelik dat ons onsself vergelyk met ander. 

Hoewel die deel van inligting met ander mense die area van ons brein aktiveer wat gepaard gaan met belonings en bevrediging, word ons ook blootgestel aan ʼn magdom inligting oor die mense aan wie ons verbind is op sosiale media: inligting waarvan ons andersins nie van bewus sou wees nie. Ons besef nie dat hierdie inligting baie fyn uitgesoek en selektief geplaas word om net die beste beeld voor te hou nie. Dis nie realisties nie.

Volgens Mai-Ly Steers se artikel, “Seeing Everyone Else’s Highlight Reels: How Facebook Usage is Linked to Depressive Symptoms”, gepubliseer in die Journal of Social and Clinical Psychology is die konsep van vergelyking op sosiale vlak niks nuuts nie. Die koms van sosiale media sfeer vergroot egter die speelveld. 

“It doesn’t mean Facebook causes depression, but that depressed feelings and lots of time on Facebook and comparing oneself to others tend to go hand in hand”, sê Steers.

 

[BRONNE: www.livescience.com; www.sciencedaily.com; www.newyorker.com; http://blogs.plogs.org]

 

 

Comments are closed.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.