Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Academic IT

Aanlyn-eksamens gedurende grendeltyd

Donderdag, Augustus 6th, 2020

Binne ʼn geweldige kort tydperk is ʼn uitsonderlike poging deur, onder andere, IT, SLT, die Skeduleringskantoor en gemengde leer-köordineerders gemaak om te verseker dat die mid-jaar eksamens ten spyte van grendeltyd kan voortgaan deur van papiergebaseerde eksamens tot ten volle aanlyn te verander. Die voorbereidings het die volgende ingesluit:

  • Vestiging van ʼn uitgebreide CLT-ondersteuningspan vir studente en dosente om die verhoogde volume ondersteuningsoproepe te kan hanteer.
  • Verlengde ure sodat ondersteuning beskikbaar is tot 22h00, sowel as Saterdae.
  • Opleiding van dosente en ondersteuningspersoneel.
  • Voorbereiding van opleidings- en informasiedokumentasie oor aanlyn-eksamens. 
  • Hersiening van die eksamenskedule sodoende die begintye met 15 minute te versprei om die impak op die stelsel te verminder. 
  • 30 minute ekstra tyd vir eksameninhandigings om te kompenseer vir moontlike tegnologiese probleme met die inhandiging van die assesserings.  
  • OPgradering van die SUNLearn-infrastruktuur om die verhoogde lading te kan hanteer. 
  • Voorbereiding van ʼn Outlook-kalender vir eksamentye vir inligtingsdoeleindes, koördinering van ondersteuning en om die lading op die stelsel te antisipeer.  
  • Reël van skootrekenaars en data vir studente wat dit benodig om tuis te leer en eksamens te skryf. 

Dankie en waardering vir dosente wat noodgedwonge binne ʼn besondere kort tyd kursusse en eksamens moes aanpas na ʼn 100% aanlyn-formaat. Feitlik almal moes hulle Paasvakansies opoffer om gereed te wees vir onderrig en eksamens gedurende grendeltyd. 

Die eksamens het grotendeels glad verloop, met enkele uitsonderings: 

  1. Etlike veranderings moes gemaak word aan die opstelling van eksamens in SUNLearn, spesifiek waar studente probleme ondervind het op die stelsel of die stelsel onder geweldige druk verkeer het. Lesse is geleer oor die metodes wat nie goed werk nie. Riglyne is deurlopend opdateer soos ons bewus geword het van die impak van praktyke. Byvoorbeeld:
  • Opname-vrae is gestel sodat slegs een vraag per bladsy wys, sodat daar meer gereeld gesave kon word.
  • Dokumentasie soos sigblaaie of dokumente, behoort nie enkripteer te word met wagwoorde nie en dokumente behoort nie oop te maak in dieselfde venster as die assessering nie. Die voorkeur-metode is om die dokument vry te stel buite die assessering self.
  • Turnitin behoort nie gebruik te word waar oorspronklikheid nie getoets kan word nie, byvoorbeeld grafika. 
    • Geen veranderinge aan assesserings moet gemaak word nadat die assessering begin het nie.
  1. Die SUNLearn-stelsel het skerp ladingspieke by drie geleenthede ondervind – 16 en 20 Mei, sowel as op 15 Junie. Hierdie toenames was so skielik dat dit onmoontlik was om betyds op te tel en proaktiewe aksie te neem. Die voorlopige bevindings wys dat die onverwagse toenames veroorsaak is deur SUNLearn assesserings wat sub-optimaal gestel is. Die bevindinge is daarvolgens gebruik om die riglyne vir aanlyn-assesserings te verbeter.
  2. Per geleentheid het studente probleme ondervind om aan te teken op SUNLearn. Die ondersteuningspanne en ondersteuningsdokumente het tydelike, alternatiewe werkswyses verskaf, maar intussen is ʼn permanente oplossing ontwikkel. 
  3. By tye het studente gesukkel om hulle toetse in te handig. Die ekstra 30 minute bedoel hiervoor is dikwels deur studente misbruik as ekstra skryftyd en gevolglik het hulle gesukkel om betyds op die nippertjie in te handig. 
  4. Daar is aanduidings van bedrog gedurende aanlyn-eksamens. Dit moet verder ondersoek word. 
  5. Die ondersteuningsinfrastruktuur was nie altyd in staat om die volume van ondersteuningsoproepe te kan hanteer nie. Die span is uitgebrei en prioriteit eksamendienstoonbank-toue is geskep. 
  6. Ondersteuningspersoneel moes onder geweldige druk werk en by tye misbruik van studente en selfs ouers verduur. 

Gegewe die groter prentjie, glo ons dat die Universiteit hulle goed van hulle taak gekwyt het met die noodoorskakeling na die aanlyn-platform. Ons sal egter nie op ons laat wag om steeds te poog om die prosesse en stelsels te aanhou verbeter nie.

[ARTIKEL deur Johann Kistner and Lianne Keiller]

Tegniese riglyne vir assessering op SUNLearn

Maandag, Junie 22nd, 2020

Aangesien die meeste amptelike eksamens die jaar op SUNLearn gefasiliteer word, het die Sentrum vir Leer en Onderrig en Akademiese IT saamgewerk om vir dosente ʼn gids saam te stel met riglyne vir die opstel van asseserings.

Hierdie gids is gedeel met dosente en so ver het die +/- vyftig eksamens wat daagliks plaasvind glad verloop.  

Laai die gids in .pdf-formaat af

Ons is seker dat ons dosente tans teen die spoed van lig hierdie nuwe tegnologie aanleer en daarby aanpas en weet ook dat studente hulle pogings waardeer. 

Leertegnologie-spanne werk steeds oortyd

Maandag, Junie 22nd, 2020

Onlangs het ons enkele projekte waarmee die Leertegnologie-span hulle besig hou ter voorbereiding van die skuif na aanlyn Leer en Onderrig gedeel. Sedertdien werk ons steeds lang ure om dosente en studente se leer-en toetservaring te vergemaklik. 

Oor die afgelope twee weke het ons menige opwindende projekte afgeskop en afgesluit. Terselfdertyd het ons hard gewerk om die stabiliteit van SUNLearn te versterk ter voorbereiding van die volgende eksamenperiode. Die SUNLearn-dienstoonbank het meer as 4000 navrae ontvang sedert Maart, dus kan ons verseker wees daarvan dat almal ʼn daadwerklike poging aangewend het om leer en onderrig aanlyn te skuif – van studente tot die ondersteuningspan.

 Enkele hoogtepunte van ons Leertegnologiestelsels afdeling sluit in:

  1. Die integrasie van ʼn aantal handboeke in SUNLearn-modules.
  2. Samewerking met Fakulteit Natuurwetenskap om ʼn virtuele laboratorium bekend te stel en te integreer in SUNLearn.
  3. Aktivering van ʼn aantal MS Teams vir spesifieke modules.
  4. Bekendstelling van die eerste toetsfase van ʼn leeranalistiese stelsel wat skakel met SUNLearn. 
  5. Uitbreiding van ons dienstoonbank vir SUNLearn en ander leertegnologie om daagliks beskikbaar te wees tot 10pm, sowel as Saterdae.

Ons bedank julle, ons kollegas en studente vir julle geduld gedurende hierdie proses en ook soos ons voortgaan om te werk om die beste moontlike leeromgewing te skep wat ons kan.

[Artikel deur Lianne Keiller – Bestuurder: Leertegnologie-stelsels]

OneDrive for Business

Maandag, Junie 22nd, 2020

Wat is OneDrive for Business?

OneDrive for Business is Microsoft se lêer-bergingsdiens wat jou toelaat om werk-lêers te stoor, deel met kollegas en sinkroniseer. Dit voldoen aan internasionaal erkende inligting-sekuriteitstandaarde, maar dit bly steeds jou verantwoordelik om dit veilig en verantwoordelik te gebruik.  

Hoekom OneDrive for Business?

  • Dit verskaf 5TB wolk-stoorspasie aan elke personeellid en student. Dit beteken dat jy oorgenoeg spasie het om jou dokumente te stoor.
  • Jou data sal beskikbaar wees vanaf enige plek, enige tyd en met enige toestel wat aan die internet verbind is. 
  • Jou dokumente sal gerugsteun en veilig wees indien jy probleme ondervind met jou apparatuur of indien dit verlore raak of gesteel word. 

Hoe kry ek toegang tot OneDrive for Business?

Alle personeel het reeds outomaties toegang tot OneDrive en toegang kan gekry word op die volgende wyses:

  • OneDrive desktop-toepassing

Indien jy nie toegang het tot die OneDrive for Business-toepassing nie, kan jy dit hier aflaai: https://microsoft.com/en-za/microsoft-365/onedrive/download.

  • Web-koppelvlak

Teken aan by Office365 met jou e-posadres en wagwoord.

  • OneDrive is ook toeganklik via die my.sun portal deur te kliek op die Office365-skakel of te soek vir Office365 in die soek-veld.

Wat as ek OneDrive personal, Dropbox of ander wolkopsies gebruik? 

Jy kan aanhou om dit te gebruik, maar dis baie belangrik dat jy hierdie opsies slegs vir persoonlike data gebruik.

OneDrive for Business en SharePoint online is beskikbaar onder die US Microsoft lisensieooreenkoms vir stoor en deel van institusionele data. Stoor en deel van institusionele data word nie toegelaat op Dropbox, OneDrive personal of enige ander wolk-stoorspasie nie. 

BELANGRIK:

  • Raak vertroud met kopiereg-regulasies. Maak seker jy weet wat jy aanlyn mag stoor en deel. US kopiereg-ooreenkomste sluit nie die stoor en deel van dokumente wat beskerm word onder kopiereg op OneDrive for business, SharePoint online of enige ander publieke stoorspasies in nie.
  • Jy is ten volle verantwoordelik vir jou inligting.  Wees versigtig vir wie jy regte en toegang gee, aangesien dit jou inligting blootstel indien dit sigbaar is vir die verkeerde persone.
  • Jy is verantwoordelik vir die sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data. Sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data moet korrek opgestel word en gereeld gedoen word. 
  • Terwyl jy op kampus is, sal die gebruik van wolkdienste niks kos nie, maar as jy weg van kampus is word jou eie datakostes gebruik. 
  • Indien `n personeellid bedank of `n student die universiteit verlaat, sal hulle nie meer toegang hê tot die inligting wat op hulle OneDrive-spasie gestoor is nie. Verwyder alle data vanaf jou Microsoft One Drive stoorspasie en kopiëer dit op jou eksterne hardeskyf of eerder op aanlyn wolk-stoorspasie, byvoorbeeld Google Drive of Drop Box oordat jy die universiteit verlaat.

Meer inligting:

https://www.agileit.com/news/benefits-of-microsoft-office-365-onedrive-business-collaboration/

Basiese hulpbronne vir dosente op SUNLearn

Dinsdag, Junie 2nd, 2020

Het jy geweet?

SUNLearn beskik oor ʼn aantal hulpbronne om dosente te help om studente effektief te onderrig, beoordeel en mee te skakel – veral noudat ons dit nie in persoon kan doen nie. 

Hier is ʼn vinnige en maklike gids tot enkele van die basiese middele beskikbaar op SUNLearn wat dosente kan help om die regte besluit vir die gewenste uitkoms te kies. 

Vir meer gedetailleerde inligting, gaan asb. na https://learnhelp.sun.ac.za en versoek hulp via die “Lecturer Support” opsie.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.