Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Toepassings

Goeie nuus vir die super-organiseerders

Vrydag, April 15th, 2016

Verbeel jou daar is een platform waar jy notas, tekeninge en lysies kan maak of skakels plaas – netjies versamel in notaboeke met toegang vir vriende, kollegas of familie. Klink heel handig, né?

onenoteMicrosoft OneNote is sagteware wat ontwerp is om informeel informasie te versamel en ook verskeie persone in staat stel om saam te werk aan een projek. 

Die sagteware kan groot hoeveelhede informasie organiseer op bladsye en seksies binne-in notebooks en lyk soos ʼn ring-leêr waarin jy enigiets kan bêre. Jy kan maar sê dis ʼn digitale notaboek waar jy dit wat jy saamgestel of gekry het op ander toepassings, selfs skermskote en klank- en videogrepe, kan oplaai.

Al hierdie inligting is soekbaar, kan gestoor word in die wolk in OneDrive en is daarom ook beskikbaar op jou ander toestelle.

Maar wat is die verskil tussen OneNote en ʼn woordverwerkingsprogram soos Word? Met OneNote kan jy enige plek op die dokument-ruimte skryf of iets plaas deur daarop te kliek. Jy hoef ook nie te onthou om gereeld te stoor nie. OneNote stoor data soos jy werk. 

OneNote is beskikbaar as deel van Microsoft Office en Windows 10. Dis ook beskikbaar as ʼn gratis, losstaande toepassing vir Windows OS X, Windows RT, Windows Phone, iOS en Android. ʼn Webgebaseerde weergawe van OneNote word ook verskaf as deel van OneDrive of Office Online en stel gebruikers in staat om notas aan te pas deur middel van hul webblaaier.

Die goeie nuus vir US-personeel is dat jy nie die sagteware hoef te koop of installeer nie. Dis waarskynlik reeds op jou werkrekenaar. Kliek op die Windows knoppie heel links in die hoek van jou skerm en tik “OneNote” in die soekveld.

Indien jy OneNote op jou foon wil gebruik, kan jy dit aflaai op Google Play. Jy sal sodoende, van enige plek, toegang tot jou notaboeke hê as jy dit sinchroniseer na OneDrive.

Wil jy leer hoe om OneNote te gebruik? Hier is ʼn OneNote instruksie-video op Youtube. 

[BRONNE: http://www.pcworld.comhttp://www.wikipedia.org/]

 

Ontmoet jou digitale rasieleier

Vrydag, April 15th, 2016

goals

Dis maklik om redes uit te dink om nie te oefen, jou studies te voltooi of die motorhuis reg te pak nie. Ons stel graag uit en gebruik tyd as ʼn verskoning om dit wat ons moet en soms ook wil doen, af te skeep.

Google het Calendar Goals ontwikkel om ons persoonlike assistent en rasieleier te wees.

Deur middel van sy masjienleervermoeë bepaal die sagteware waar op jou Google kalender jy tyd kan afknyp om jou doelwitte te bereik. Of dit nou oefening is of net meer tyd om te lees. Dit wys uit waar gapings in jou skedule is wat jou behoeftes sal vervul.

Om Calendar Goals te gebruik, moet jy ʼn Gmail-gebruiker wees en die kalendertoepassing gebruik. Voeg net jou “Goal” by en Google sal vir jou ʼn paar vrae vra om vas te stel wat jy wil doen en watter tye jou die beste sal pas.

Daar is  ʼn paar opsies beskikbaar soos Exercise, Build a Skill en Me Time, maar jy kan jou eie byvoeg. Daarna kan jy dit aan Google oorlaat om tydgleuwe te skeduleer en gereeld daaraan te herinner.

Indien dit gebeur dat ʼn ander afspraak skeduleer word in die voorgestelde tye, sal Google dit aanskuif na ʼn volgende beskikbare tyd. As jy ʼn chroniese uitsteller is, sal jy natuurlik maniere kry om Goals te omseil, maar die sagteware sal probeer om dit vir jou moeilik te maak. 

Hoe om Google Calendar Goals op Android en iOS te gebruik.

Dié nuwe funksie is die week beskikbaar op Android en iPhone, maar nog nie op die webgebaseerde Gmail kalender nie.

Google Calendar | Google Play Store via Google Blog

 

[BRONNE: http://gadgets.ndtv.comhttp://techcrunch.comhttp://www.idigitaltimes.com]

 

`n Virtuele metgesel vir jou gemoedsrus

Donderdag, Maart 31st, 2016

companion2

Ons kan nie veel doen aan die geweld en misdaad in ons land nie. Maar ons kan wel tegnologie inspan om dit te bestuur.

Een voorbeeld hiervan is `n toepassing wat vyf studente ontwerp het, omdat hulle bekommerd was oor veiligheid op hulle die Universiteit van Michigan-kampus.

Die Companion-toepassing volg jou roete soos jy huistoe beweeg en laat jou  ʼn virtuele metgesel, jou wederhelfte, `n vriend of vriendin of ʼn familielid is, byvoeg op jou roete. Die idee is dat dit jou veiliger en minder onrustig sal laat voel wanneer jy alleen moet stap.

Die toepassing laat jou metgesel jou roete via GPS monitor volg en bied ook die platform om iemand vinnig in kennis te stel in geval van ʼn noodgeval . Behalwe vir GPS sporing, vra die toepassing ook sporadies of jy nog ok is. Indien jy nie vinnig genoeg reageer nie, word jou virtuele metgesel in kennis gestel.

Dieselfde aksie word uitgevoer wanneer die roete ongewoon langer neem, jy begin hardloop of as jou oorfone skielik uitgeruk word. Jy kry 15 sekondes om te reageer voordat die alarm aktiveer word.

Companion het twee alarmknoppies. “I Feel Nervous” kontak jou metgesel en “Call the Police” bel outomaties nooddienste. Een van die grootste voordele van die toepassing is sy vermoeë om aan te dui waar jy is, sodat jy maklik deur middel van GPS koördinate opgespoor kan word.

Om Companion te begin gebruik, tik jou eindbestemming se adres in en kliek op “Start a Trip”. Jy sal gevra word om ʼn persoon by te voeg uit jou kontaklys. Die persoon ontvang ʼn SMS waarmee die toepassing afgelaai kan word of kliek net op ʼn skakel om die roete in werklike tyd op ʼn kaart te volg.

Sodra jy veilig tuis is, sal  ʼn boodskap na jou kontakpersoon gestuur word.

Companion kan gratis afgelaai word vir iOS en Android.

 

[BRONNE: http://gadgets.ndtv.com, http://www.theguardian.com, http://fortune.com]

Periscope: Nuus, soos dit gebeur

Vrydag, Februarie 5th, 2016

Twitter is alombekend as die vinnigste direkte manier om op hoogte te bly van nuus van regoor die wêreld. Maar gestel jy wil nie net lees nie, maar ook sien hoe gebeure ontvou? 

Periscope is ʼn lewendige videostroom toepassing wat ontwikkel is vir iOS en Android deur Kayvon Beykpour en Joe Bernstein.

periscope

“… we became fascinated by the idea of discovering the world through someone else’s eyes. What if you could see through the eyes of a protester in Ukraine? Or watch the sunrise from a hot air balloon in Cappadocia? It may sound crazy, but we wanted to build the closest thing to teleportation. While there are many ways to discover events and places, we realized there is no better way to experience a place right now than through live video. A picture may be worth a thousand words, but live video can take you someplace and show you around.”

Periscope gee aan gewone mense ʼn addisionele platform om nuus mee te rapporteer. Feitlik enigiemand kan nou nuus uitsaai en jy hoef nie meer op televisiestasies te vertrou vir wêreldnuus nie. Natuurlik word Periscope nie net vir nuus gebruik nie.  Net soos met ander sosiale netwerke is die verskeidenheid wyd en kan dit ook grens aan belaglik. 

Scopers (Periscope se noemnaam vir hulle gebruikers) kan enigiets uitsaai wat hulle wil – of dit ʼn uitstappie strand toe is of ʼn kosmaakdemonstrasie. Deel van die kritiek op Periscope is ook dat daar geen sensuur toegepas word nie en kopiereg het vroeg reeds kop uitgesteek as ʼn potensiële probleem. 

Die scope word lewendig uitgesaai en bly beskikbaar vir 24 uur. Uitsendings kan gebêre word sodat jy dit later kan kyk, ʼn voordeel wat Periscope bo Meerkat, sy kompetisie, het. Kykers kan tydens uitsendings kommentaar lewer en boodskappe verskyn op die skerm tydens die uitsending sodat almal dit kan sien. Die scoper kan ook met hartjies gooi word as sy uitsending populêr is. (ja regtig) Lees meer op The Verge.

Beykpour en Bernstein het hulle maatskappy in Februarie 2014 begin en skaars ʼn jaar later, in Januarie 2015 – selfs voordat dit bekendgestel is – het Twitter die toepassing gekoop. Op 12 Januarie vanjaar het Twitter Periscope integreer in sy tydlyn , sodat jy nou direk vanaf Twitter uitsendings kan maak en kyk. 

Verlede week is Periscope se baanbreker-status nog meer verstewig, toe aangekondig is dat dit nou ook versoenbaar is met die GoPro hero 4. Sodra ʼn GoPro gekoppel word aan jou foon, word Periscope outomaties aktiveer en die GoPro se beeldmateriaal word direk na Periscope versend. 

Jy kan die Periscope toepassing aflaai op die Google Play store of rondkyk op hul tv-kanaal, PeriscopeTV.  Kyk ook onder hoe Kayvon Beykpour Periscope aan kletsprogram-aanbieder Stephen Colbert verduidelik hoe dit werk of, as jy ʼn scoper wil word, bestudeer Socialmediaweek se beginnersgids.

[SOURCES: www.wikipedia.org, www.theverge.com]

Lewe in 3D

Vrydag, November 20th, 2015

cardboard“Kom nou, regtig?” sou ʼn geldige eerste reaksie wees op Google se jongste uitvindsel. Grotendeels gemaak uit karton, lyk dit soos iets waarmee jy gespeel het op laerskool.

Google Cardboard beloof nie enigiets revolusionêr nie. Dis ʼn virtuele realiteit kopstuk wat jou in staat stel om 3D beelde en video’s met jou slimfoon te kyk.

Die eenvoud en toeganklikheid van hierdie stukkie karton is egter die groot pluspunt.

Die kopstuk is gemaak van riffelkarton, Velcro en ʼn paar goedkoop, plastiek lense – die belangrikste part aangesien hulle gaan help om die plat beeld op jou foon in 3D om te tower. 

Hoewel Cardboard deur Google ontwikkel is, is daar nie ʼn amptelike vervaardiger of verkoper nie. ʼn Lys van die parte en instruksies is beskikbaar op Google se webwerf. Met ʼn paar basiese items kan jy jou eie VR-kyker saamflans. Voeg jou selfoon by, laai die Google Cardboard toepassing en jy is reg vir 3D-aksie.

Die toepassing deel die selfoon se beeld in twee en pas tonneldistorsie toe op beide beelde sodat daar nie stippelvervorming op die lense voorkom nie. Die uitkoms is ʼn stereoskopiese (“3D”) beeld met ʼn wye veld van sig. 

Meer inligting is beskikbaar op https://developers.google.com/cardboard/

 

[BRONNE: http://www.wired.com; www.wikipedia.org]

 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.