Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Konnektiwiteit

R27 000 wat rondlê?

Vrydag, Augustus 22nd, 2014

google-glassAs jy iemand met `n bril op kampus sien rondloop, terwyl hy sporadies “Ok Glass!” sê, moenie te bekommerd raak nie. Hy is dalk `n techverslaafde wat Google Glass vir homself aangeskaf het.

Jy kan ook `n paar op Takealot koop – dis nou as jy R27 000 het om rond te gooi. Dié stukkie tegnologie is, soos die naam aandui, ontwikkel deur informasie-reus Google en reeds sedert April beskikbaar in die VSA. Aanvanklik is dit slegs beskikbaar gestel aan `n gekose groepie, maar in Mei kon die Amerikaanse publiek ook hul eie Google Glass bekom.

Volgens Google is Glass nie duur om te vervaardig nie, maar die hewige prys word veroorsaak deur ingenieurskostes en duur sagteware- en platformontwikkeling.

Sergey Brin, medestigter van Google, beweer dis ontwikkel sodat mense weer die wêreld in die oë kan kyk in plaas van kop-in-die-grond rondloop met `n foon in die hand of krom getrek voor `n rekenaarskerm.

Because we ultimately questioned whether this is the ultimate future of how you want to connect to other people in your life, how you want to connect to information. Should it be by just walking around looking down? But that was the vision behind Glass,and that’s why we’ve created this form factor. ” (Sergey Brin, TEDtalks)

Google Glass is `n draagbare rekenaar vermom as `n gewone bril. Die enigste verskil is `n ekstra gemonteerde skermpie bo-aan die raam, vervaardig uit vloeibare kristal op silikon, terwyl dit ook LED gebruik. Dis so lig soos jou sonbril en is beskikbaar in verskeie style en kleure.

Ongelukkig vervang Google Glass nie jou foon nie, al het dit bykans al `n slimfoon se komponente. Jy het steeds `n versoenbare foon nodig om dit  te kan gebruik.

Soos met Streetview, neig Google weereens na die kontroversiële kant – om sekuriteit- en privaatheidsredes. Bloot om Glass in die openbaar te gebruik opper `n paar etiese kwessies. Mag jy fotos en opnames van mense neem, terwyl hulle nie bewus is daarvan nie? Google het in die die lig hiervan riglyne uitgebring vir Glass-gebruikers. (lees meer daaroor)

Ons het nou reeds vasgestel dat dié slim brille reageer as jy daarmee praat, maar jy moet eers “OK Glass” sê voordat dit vir jou gaan luister. Daarna kan jy bevele afsneller soos “Take photo”, “Give directions”, ens. Vir nou lyk dit asof Glass Engelssprekend is, maar dalk sal dit eendag ook op Afrikaans en ander tale kan reageer.

Buiten stem-aktivering het jy ook die opsie om met die tik van jou vinger op `n raakskerm teen die kant funksies te aktiveer. Afhangende van die rigting waarin  jy rol (“scroll”), wys dit die weer, nuus, vorige oproepe of fotos.

Die lys van funksies wat jy met Google Glass kan verrig lyk geweldig indrukwekkend – te veel om hier te lys. Maar gaan kyk gerus op die webwerf wat dié nuwigheid alles kan doen.

Nog Google Glass YouTube-videos.

[BRONNE: www.wikipedia.orgwww.mashable.comwww.techradar.com, www.pcmag.com]

Kliek en koop!

Vrydag, Augustus 8th, 2014

snapscan3Het jy al gewonder wat die kriptiese prentjie (sien regs) by sommige restaurante, koffiewinkels en markte is? Wel, dis NIE die geheime kode van een of ander organisasie waaraan jy nie behoort of `n optiese illusie nie. Inteendeel, dit eintlik iets nuttig wat gewaarborg is om jou lewe makliker te maak.

SnapScan is `n slimfoon applikasie wat net hier in Tegnopark, Stellenbosch se eie Silicon Valley, deur FireID ontwikkel is. Die ouens van FireID het besef dat `n kontantlose samelewing waar betalings vinnig en maklik gemaak kan word, binnekort `n noodsaaklikheid gaan begin word.

In 2013 het SnapScan die eerste prys gewen as Suid-Afrikaanse Toepassing van die jaar en is dit reeds gelys op Business Insider se Top 12 African Startups– lys. In Mei vanjaar het dit ook `n venootskap aangegaan met Standard Bank.

SnapScan is voordelig vir beide die kliënt en die handelaar. Vir die kliënt bied dit `n alternatief vir kontant en kredietkaarte, beloof dit om veiliger te wees en is dit vinniger as tradisionele betaalmetodes.

Jy hoef nie meer te staan en wag dat jou betaling by `n kredietkaartmasjien verwerk word of die risiko neem om `n kaart saam met jou te dra nie. Jy neem bloot `n foto van die handelaar se unieke QR-kode (die kriptiese prentjie), sleutel jou PIN-kode in en die bedrag wat jy wil betaal. Sodra die transaksie voltooi is, ontvang die handelaar en kliënt beide `n sms ter bevestiging.

Die handelaar hanteer nooit jou kredietkaart of details nie. Jou kaartinligting word veilig op jou foon gestoor, enkripteer en word beskerm deur `n PIN-nommer wat jy self gekies het.

Dit kos jou niks. Geen aansluitfooi, opstelling of maandelikse betaling nie. Jy hoef net die toepassing af te laai van die Apple of Google Play-winkel, jou kaartinligting te stoor en jy’s reg om dit te gebruik. Die toepassing is reeds beskikbaar vir iOS, Android, en BlackBerry

Vir handelaars is die aansoek vinnig en maklik. Hulle benodig slegs `n selfoon om betalings te kan verwerk – of dit nou `n koffiewinkel of `n informele handelaar by `n mark is. So gebruik verkopers van The Big Issue, `n nie-winsgewende tydskrif wat op straathoeke verkoop word, ook reeds SnapScan.

Nie sleg vir iets wat eers net in `n paar winkels in Stellenbosch gebruik is nie – van 600 handelaars aan die einde van 2013 tot die huidige 12 000.

So waarvoor wag jy? Gaan neem daai prentjie af!

Meer inligting oor SnapScan: 

https://www.facebook.com/SnapScanApp
http://www.getsnapscan.com/

[BRONNE: http://mybroadband.co.za, http://www.techcentral.co.za, http://www.2oceansvibe.com, http://ventureburn.com]

ADSL – wat is die opsies?

Vrydag, Mei 23rd, 2014

Asymmetric digital subscriber line – wed jou jy’t nie geweet dis waarvoor ADSL eintlik staan nie, né? Ek ‘s seker jy weet ook nie hoeveel verskillende ADSL data-opsies daar tans in Suid-Afrika beskikbaar is en hoe hul prusstrukture vergelyk nie?

Mygaming het onlangs `n vergelyking gemaak van internetdiensverskaffers en sodoende die besluit meer pynloos gemaak vir ADSL-gebruikers. Maar voordat jy aan die diepkant inspring, maar seker jy weet eers die basiese inligting.

Hier is wat jy nodig gaan hê:

1. `n Telkom analooglyn (stem) teen R157 per maand.

2. Telkom ADSL lyntoegang. Beskikbaar in verskeie spoedvlakke, vanaf 2Mbps (R165 per maand) tot 40 Mbps (R952 per maand). (Vir meer detail, sien die mygaming artikel.)

3. `n ADSL datarekening by `n ISP (internet service provider) om vir jou toegang tot die internet te gee. Hierdie is die enigste plek waar jy `n groter keuse het en jy nie Telkom voor nodig het nie. (Vir meer detail, sien die mygaming artikel.)

Lees mygaming se volledige vergelyking hier.

 

Skype groep video-oproepe nou gratis

Vrydag, Mei 23rd, 2014

As jy vriende en familie oorsee het, weet jy dat Skype `n handige middel is om gratis, of teen `n relatiewe lae koste, met hulle te kan kommunikeer. Jy is ook een van 663 miljoen geregistreerde Skype-gebruikers.

Skype vier die jaar reeds sy 11de verjaardag en is ontwikkel deur `n Deen en Sweed genaamd Janus Friis en Niklas Zennström as `n stem-oor-IP- en blitsboodskapdiens. Friis en Zennström het die applikasie se naam afgelei uit twee woorde – sky en peer. 

Sedert 2011 is Skype die eiendom van Microsoft. Dié maatskappy het Skype gekoop teen die stewige bedrag van $8.5 biljoen. Skype se hoofkantoor sit egter nie in Amerika nie, maar in Luxembourg, terwyl die grootste gedeelte van die ontwikkelingspan en 44% van Skype-werknemers hulle in Tallinn en Tartu in Estonia bevind.

Met Skype kan jy met enigiemand gesels deur middel van oorfone, via video met `n webkamera en ook deur blitsboodskappe te tik. Oproepe na ander Skype-gebruikers is gratis, maar landlynoproepe en selfoonoproepe word van jou rekening gedebiteer. 

Buiten die gewone funksionaliteit, soos bo genoem, is daar ook funksies soos leêroordrag en video-oproepe vir groepe. Laasgenoemde is onlangs eers gratis beskikbaar gestel aan alle Skypegebruikers. Voorheen was dit slegs vir premium-gebruikers. 

Skype video-oproepe gee aan jou die geleentheid om groepoproepe deur middel van `n webkamera te maak met tot `n maksimum van 9 ander mense op een slag. As jy gebruik wil maak van hierdie nuwe, gerieflike funksie, kan jy meer daaroor lees op Skype se webwerf

In- of uitgeprop?

Vrydag, April 11th, 2014

Tot nie te lank gelede nie was ons area van werk ingeperk deur die lengte van die kabel wat die netwerkpunt aan ons rekenaar verbind. Dit was voordat wi-fi `n gegewe in ons lewens geword het. 

WI-FI op die US-kampus is ‘n kabellose verbinding aan die netwerk vir studente en personeel. Met wi-fi word die verwagting dikwels geskep dat dit oral 100% reg gaan werk en altyd beskikbaar sal wees. Wat verwag word en die werklike aanbod, stem ongelukkig nie ooreen nie en kan lei tot frustrasie by gebruikers.

Die realiteit is dat wi-fi `n beste poging is en faktore soos fisiese afstand vanaf die WAPs, WAPs wat mekaar beinvloed en fisiese strukture is in die pad van die sein is, speel `n groot rol. 

Kom ons kyk na die tegniese details – 

Wi-Fi netwerke het `n beperkte sendbereik. Die standaard WAP (wireless access point) gebruik 802.11b of 802.11g en met `n gewone antenna sal dit `n ontvangsgebied van 35 meter binneshuis en 100 meter buite kan dek.  Ontvangs kan wel verbeter word met `n sterker antenna en deur die antenna-rigting aan te pas. 

Weens die komplekse aard van radioverspreiding op tipiese Wi-fi frekwensies, veral die effek van seine wat weerkaats teen bome en geboue, kan algoritmes net `n beraamde seinsterkte voorspel vir `n area in verhouding tot `n sender. 

Wi-Fi verbindings kan onderbreek word of die internet spoed verlaag word weens ander toestelle in die omgewing. Wi-fi besoedeling of `n oormatige hoeveelheid toegangspunte kan toegang belemmer en inmeng met ander toestelle se toegang. Dit word veroorsaak deur oorvleueling op die 802.11g/b spektrum en kan `n probleem word in digbevolkte areas soos groot woonstelblokke of kantoorgeboue met baie wi-fi toegangspunte. 

Op ons kampus word die maksimum verbindings na `n “hotspot” beperk tot 25 tot 35 en die res word toegang geweier. Die hoeveelheid toestelle wat op een oomblik aan `n “hotspot” gekoppel word moet dus die deurset deel en verlaag effektiwiteit.  

Boonop gebruik ander toestelle ook die 2.4 GHz band, insluitende mikrogolfoonde, ISM band toestelle, sekuriteitskameras, koordlose telefone, babamonitors en amateur-radios en dit kan beduidende steurings veroorsaak. 

Met bogenoemde in ag geneem, is dit duidelik dat wi-fi nie altyd die beste opsie is vir `n stabiele, betroubare netwerkkonneksie nie. As jy in jou kantoor is, prop eerder jou rekenaar by die netwerkpunt in en gebruik wi-fi slegs vir noodgevalle of wanneer jy rondbeweeg op kampus. 


 

As jy wil registreer vir die gebruik van wi-fi op kampus, kontak die IT Dienstoonbank by +27 21 808 4367 of stuur `n e-pos na help@sun.ac.za met die volgende informasie: 

  • Gebou
  • Kamer
  • US nommer
  • Gebruikersnaam
  • Batenommer van toestel of beskrywing van die toestel
  • Netwerkkaartadres (of te wel die MAC-adres) 

Toegang tot Wi-fi dienste op kampus kan verkry word deur die Secure of MatiesWifi SSIDs. Toestelle met batenommers word normaalweg op Secure geregistreer met toegang tot alle netwerkdienste, terwyl alle ander toestelle op MatiesWifi geregistreer word met beperkte toegang tot dienste. Beide hierdie wifi-verbindings gee `n spoed van tot 54 Mbps.

Vir verdere navrae kontak die IT Dienstoonbank of telecom@sun.ac.za

[BRON: www.wikipedia.org]

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.