Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

E-pos

Argivering – nie net vir biblioteekarisse nie

Vrydag, Augustus 21st, 2015

Argivering. Dit klink nie besonder prettig nie, né?

Ongelukkig kan ons elektroniese posbusse nie altyd byhou by die massa e-posse waarmee hulle daagliks gebombardeer word nie – veral daai groot video leêrs en prentjies … 

As jy nie gereeld huis skoonmaak en onnodige of groot e-posse uitvee nie, gaan jy kort voor lank sonder enige spasie sit. Dis op hierdie punt wat argivering sy staal wys.

In hierdie kort artikeltjie sal ons vir jou wys hoe maklik dit is om argiewe op jou rekenaar te skep en onderhou.

  1. HOE OM JOU EIE ARGIEF-LEêR TE SKEP

archiving-1

Maak MS Outlook oop

  • Kies die Home oortjie
  • Gebruik die afrol-spyskaart langs New Items
  • Kliek op More Items
  • Kies Outlook data file

archiving-2

Hierdie aksies sal `n leêr vir jou nuwe argief skep.

Belangrik:

  • Kies die regte benaming sodat daar nie verwarring is wanneer jy later nuwe argiewe skep nie. 
  • Moenie `n wagwoord op die argief plaas nie. Dit veroorsaak onnodige verwarring en verlies van e-pos wanneer jy `n nuwe rekenaar kry of data herwin moet word. 

Dit moet ook onder  “My Documents\Outlook Files” gestoor word.

Wanneer jy op OK kliek, sal jy teruggeneem word na die Outlook Home skerm.

Soos hier onder aangedui (wanneer die posbus oopgevou is), sal jy jou nuwe Outlook-argief sien.

archiving 3

2. NOU VIR DIE ARGIVERING

Kliek op File in die linkerkantse, boonste hoek. 
Onder Info sal jy Cleanup Tools sien.
Wanneer jy op die opsie kliek, sal jy Archive as die derde opsie sien.

archiving-4

Die volgende sigbare een lyk soos die een hier onder. 

archiving 5

Die belangrikste ding wat jy moet onthou is dat jy nagaan dat die regte argief-leêr gekies word vir argivering.

Om dit na te gaan, kliek op die browse-knoppie en maak seker dit wys na die korrekte leêr in “My Documents\Outlook Files”

Tweedens:

  • Kies `n datum – alle e-posse voor die ingevoerde datum sal geargiveer word na jou leêr. Dit mag `n tydjie neem as jy nog nooit voorheen geargiveer het nie. 

Thirdly:

  • Kies jou posbus (nie net dele daarvan nie, maar gebruik die oopgevoude sig soos in die voorbeeld) en kliek op OK.

Jy het nou jou eerste suksesvolle argief geskep.  Argiveer gerus jou e-posse eerder as om dit uit te vee – dis soms belangrik om rekords te behou. 

WENKE:

  • BAIE BELANGRIK – geen wagwoord op jou argief-leêr nie.
  • Hou argiewe klein – byvoorbeeld jaar-vir-jaar. Dit voorkom dat argiewe te groot raak en jou rekenaar stadig maak.  
  • Deur op bogenoemde wyse te argiveer bly jou leêrstruktuur altyd dieselfde en is dit makliker om heen en weer te soek na e-posse van vorige jare. 

Vir meer informasie op ander Outlook-funksies, gaan kyk gerus op ons selfhelp webwerf.

Phishing versteek in `n DHL-kennisgewing

Maandag, Mei 11th, 2015

Phishing-kriminele sal nooit ophou probeer om mense om die bos te probeer lei om hul persoonlike details, wagwoorde en bankinligting in die hande te kry nie. Die nuutste poging gebruik `n DHL (koerier) verskepingsdokument:

Die onderwerp sal wees: “Track Your Shipment DHL Shipping Document (B/L ******#####) 

Die inhoud sal as volg wees: 

“Good Day

Your Shipment arrived at the post office on <recent date>. Our courier was unable to deliver the Shipment to your address. 

To receive the Shipment you should go to the nearest DHL office and take your mailing label with you. The mailing label is attached. Please print it and show at the nearest DHL office to receive the Shipment.

Thank you for using DHL Service”

Soos jy waarskynlik kan sien, is hierdie nie `n geldige DHL-kennisgewing nie. Dis nie direk aan jou gestuur nie, DHL lewer nie by die poskantoor af nie en sal jou ook nooit vra om `n etiket te druk en na `n DHL-kantoor te neem nie.

Indien jy wel op die aanhangsel gekliek het, sou dit jou neem na `n webwerf waar jy jou persoonlike inligting, bankrekeningnommer en e-posadres moes invul (klaarblyklik alles vir die etiket). Dis natuurlik hier waar hulle jou vang. 

Dis nie hoe DHL werk nie. Jy ontvang `n DHL-pakkie by jou deur met jou details (insluitende jou telefoonnommer) en jy wys jou ID-dokument as bewys. Jy kan ook die roete van die pakkie op hul webwerf naspeur en hulle sal jou telefonies laat weet wanneer aflewering sal geskied. 

[ARTIKEL DEUR DAVID WILES]

 

Hoe om verdagte e-posse uit te ken

Vrydag, Maart 27th, 2015

Met die toename van virusse, ransomware, malware, spyware, phishing en kuberbedrog oor die algemeen, is dit belangrik dat e-posgebruikers toenemend meer op hul hoede moet wees.  Alhoewel ons jou nie teen elkeen van hierdie e-posse kan waarsku nie (hulle word eenvoudig net te vinnig gegenereer), kan ons wel vir jou sê watter kenmerke om voor uit te kyk sodat jy self `n verdagte e-pos kan identifiseer. 

Dink so daaraan – gestel om `n e-pos te ontvang is gelykstaande aan iemand wat jou op straat voorkeer op `n Saterdagoggend. Gewoonlik is jy bly om een van jou vriende, kennisse, kollegas en bure raak te loop en jy gesels graag terug met hulle, want dis mense wat jy ken. Maar as `n vreemde persoon jou uit die bloute voorkeer, sal jy anders reageer. As daardie selfde persoon vir jou `n pakkie in die hand stop en sê jy moet dit oopmaak of sê “Hallo meneer, ek wil vir jou iets wys by my huis, kom gou saam met my!”, sou jy dit doen?

Net omdat die internet die illusie van afstand skep, beteken dit nie dat die situasie verskillend benader moet word nie – inteendeel, jy is meer weerloos en jou inligting is meer bekombaar op die internet as op straat.

So hoekom sal jy op `n e-pos reageer en dit vertrou as 

– nie aan jou gerig is nie en jy nie die sender ken nie,
-`n aanhangsel (die pakkie) oopmaak wat `n onbekende persoon aan jou gestuur het en
– op `n skakel kliek wat na sy webtuiste (sy huis) gaan?

KENMERKE

  1. Aanhegsels (Attachments)
    Al is jy hoe nuuskierig oor wat in daai ZIP leêr is, moet dit nie oopmaak nie. Die oomblik as jy `n aanhangsel oopmaak, maak jy jou rekenaar oop vir sagteware of leêrs om daarop geinstalleer te word. In die mees onlangse geval met die Cryptowall 3.0 ransomware is `n ZIP-leêr gestuur met die titel “My resume”. Sodra dit oopgemaak word, laai dit `n skrip wat die data op jou rekenaar enkripteer. (lees meer daaroor hier)
  2. Spelling en taal
    Meeste gevalle waar phishing plaasvind, sal jy opmerk dat spelling en taalgebruik opmerklik swak wees. Moet egter nie dink omdat `n e-pos in Afrikaans is, dit veilig is nie. Ons het verlede jaar insidente gehad waar ABSA se Afrikaanse teks gebruik is. 
  3. Foutiewe of onbekende skakels
    Beweeg jou rekenaarmuis oor die skakels in die e-pos (moenie daarop kliek nie) – die teks lyk miskien soos `n bekende adres, maar die regte skakel is `n heeltemal onbekende webwerf. Dieselfde geld vir e-posse in die teks.
  4. `n Generiese aanhef
     As `n e-pos nie aan jou persoonlik gerig is, byvoorbeeld “Dear Mrs du Preez”, of iets soortgelyk nie, is dit duidelik nie vir jou bedoel nie en `n massa e-pos wat aan `n groot groep mense gestuur is met die doel om een van hulle uit te vang.
  5. Geen persoonlike inligting
    Daar sal nerens `n verwysing na jou rekeninginligting wees nie.
  6. Sperdatums
    Deur `n sperdatum by te sit, skep die e-pos `n dringendheid en maak jou, as e-pos gebruiker, meer haastig om, sonder om te dink, op `n skakel te kliek en die sogenaamde probleem so gou as moontlik op te los.

E-POS ONDERWERPE

  1. Probleme met jou bankrekening
    Onthou, almal luister as hulle geld moontlik ter sprake is. Jou rekening is gesluit, iemand het probeer toegang kry, inligting het verander, ens. word almal gebruik om jou aandag te trek.
  2. Geld is in jou rekening betaal
    Rondom belastingtyd is hierdie `n populêre keuse en word dit gewoonlik uitgestuur van “SARS”. SARS sal jou sms as hulle vir jou geld wil gee (en dan is jy in elk geval besonder gelukkig)
  3. Aflewering van `n pakkie
    Iemand het vir jou `n pakkie gestuur en jou moet op `n skakel kliek om dit te bevestig anders word dit nie afgelewer nie. Die poskantoor of `n koerierdiens sal selde vir jou `n e-pos stuur hieroor.
  4. Probleme met jou e-pos rekening
    Jou wagwoord het verval, iemand anders het jou e-pos gebruik,ens. Alle kommunikasie in dié verband vanaf IT, sal in `n spesifieke formaat wees, met kenmerkende grafika, die US-logo en sal altyd in Afrikaans en Engels wees.
  5. Kompetisies
    Jy het `n kompetisie gewen, of die lotery of iets geërf. Het jy ingeskryf vir hierdie kompetisie en ken jy hierdie sogenaamde familielid wat wou hê jy moet by hom erf?

As jy onseker is oor `n e-pos, kontak eerder direk die bank of vir SARS. Vir enigiets anders kan jy dit bloot ignoreer. Moet glad nie daarop reageer nie – al wat jy dan doen is om te bevestig dat die e-pos wel bestaan en jy sal voortaan vele meer van hierdie korrespondensie kry.

Onthou – kuberkrakers weet watter onderwerpe ons aandag trek en dat mense van nature maar nuuskierig is. Moenie daarvoor val nie.

Vorige artikels oor phishing, malware, spyware en virusse.

Waarskuwing: Cryptowall “ransomware”

Woensdag, Maart 25th, 2015

Insidente van die Cryptowall 3.0 virus neem tans toe op kampus.

MOENIE .ZIP aanhangsels oopmaak nie.
• Bly weg van onbekende, suspisieuse webwerwe en torrents wat speletjies, flieks of sagteware aanbied nie en MOENIE op enige pop-ups kliek nie.

Hierdie ransomware kan op verskeie maniere op jou rekenaar beland – as jy speletjies, flieks of sagteware aflaai van nie-amptelike webwerwe OF kliek op aanhegsels, byvoorbeeld .zip leêrs in `n e-pos.

Cryptowall 3.0 kopieer alle data op jou hardeskyf, enkripteer dit en laat slegs onherkenbare en onbruikbare simbole. `n Losprys word geëis as jy jou data wil terughê, maar die kans vir herwinning is skraal.

Cryptowall besmet nie net jou hardeskyf se data nie, maar alle skywe waaraan jy op daardie oomblik verbind is, insluitende jou departementele netwerkspasie en jou kollegas se data. Data op die hardeskyf is verlore en data op netwerkskywe kan tot op `n punt herstel word, maar daar is geen waarborg nie.

Meld verdagte e-posse aan by sysadm@sun.ac.za. Lees ook meer oor hoe om verdagte e-posse uit te ken.

Heraktivering: pensionarisse

Woensdag, Maart 11th, 2015

Alle gebruikers van die US-netwerk moet jaarliks heraktiveer vir netwerkgebruik (e-pos, internet, ens.) Ook pensionarisse wat steeds van US-dienste gebruikmaak moet deur die proses gaan om te verseker dat hulle steeds e-pos toegang het.

Die afgelope paar weke het alle gebruikers e-pos kennisgewings ontvang van helpinfo@sun.ac.za wat aandui dat hul gebruikersnaam gaan verval. Drie waarskuwings e-posse word normaalweg versend voor die afsnydatum op 1 April 2015.

Omdat pensionarisse se toegang deur hulself betaal word en nie deur `n departement nie, verskil die betalingsmetodes ietwat. Betaling kan geskied deur middel van kredietkaart of kontant. Die kredietkaartbetaling kan aanlyn gedoen word (sien onder vir instruksies) of by die kassiere in Admin A.

Vanaf Februarie 2014 het alle banke dit om sekuriteitsredes verpligtend gemaak dat `n addisionele 3D-verifiëring op kredietkaarte van toepassing is indien enige aanlyn aankope gemaak word. Sedertdien is `n grasietydperk aan bankkliënte gegee om hul kredietkaarte te registreer vir 3D-verifiëring. Genoemde grasietydperk het intussen verval. 

As gevolg van hierdie nuwe reëling deur banke, mag pensionarisse onderstaande foutboodskap kry:

“Your payment in the amount of R284.00 could not be processed successfully. | U betaling vir die bedrag van R284.00 kon nie suksesvol verwerk word nie.”

“Reason / Rede: Transaction Failed. Restricted transaction due to 3D authentication merchant risk setting. Please return to merchant website and use an alternative payment method or card. (10205)”

Ongelukkig is hierdie gedeelte van die betalingsproses buite die beheer van Informasietegnologie en sal pensionarisse genoodsaak wees om dit op te neem met hulle betrokke bank, spesifiek die kredietkaartafdeling. Bankwebwerwe behoort ook meer inligting te kan verskaf oor die aansoekprosedure vir die 3D-verifiëring. Meer inligting is ook op PAYGO se webwerf beskikbaar. 

Heraktivering via kredietkaart 

  1. Maak Internet Explorer, Google Chrome of Mozilla Firefox oop.
  2. Gaan na http://my.sun.ac.za
  3. Kliek op Personeel
  4. Kliek op PENSIOENARISSE
  5. Kliek op Herregistrasie
 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.