Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

Wetenskap in jou agterplaas

Vrydag, Augustus 5th, 2016

frog-1445779__180Almal kan nie ʼn loopbaan in die wetenskappe hê nie, maar niks keer jou om deel te wees van navorsingsprojekte en ʼn bydrae tot belangrike navorsing te maak nie. Te danke aan tegnologie kan enigiemand nou ʼn wetenskaplike wees.

Burgerlike wetenskap, ook genoem massawetenskap, massa-gewerfde wetenskap, siviele wetenskap, vrywillige monitering of netwerk-wetenskap, is wetenskaplike navorsing wat uitgevoer word deur ʼn amateur of nie-professionele wetenskaplike. (www.wikipedia.org)

Joseph M. Hulbert noem in sy artikel, Citizen science tools available for ecological research in South Africa, dat gewone landsburgers, sonder enige ervaring, kan deelneem aan navorsing met behulp van hul eie rekenaars, in hul eie tuine of in die buitewêreld. Daar is vele geleenthede en projekte in Suid-Afrika vir amateur-wetenskaplikes – van die monitering van voël-migrasiepatrone tot die identifikasie en kartering van swamme. 

Amateur-sterrekkunde is een van die mees algemene vakgebiede waar nie-professionele wetenskap beoefen word. Ander sluit skoenlappertellings, voëlkunde, oseanografie en selfs kunsgeskiedenis in. Projekte in Suid-Afrika sluit die Stream Assessment Scoring System (miniSASS) in en by die Universiteit van Pretoria help die publiek navorsers om Phytophthora (plantvernietigende elemente) in Fynbos op te spoor en sodoende plantsiektes spesifiek tot Fynbos, te ondersoek. Lees hier meer oor die projek.

Die Universiteit van Kaapstad se Diere-demografie Eenheid (ADU) is verantwoordelik vir talle plaaslike gemeenskapswetenskapsprojekte. Die eenheid het reeds verskeie virtuele museums geskep, insluitende die MammalMAP webwerf waar jy fotos kan laai op die groeiende databasis van verspreiding en gewoontes van soogdiere in Suid-Afrika. As soogdiere jou nie interesseer nie, is daar enigiets van paddas en skoenlappers tot seesterre en seekastaiings in hierdie virtuele museums.

Joseph M. Hulbert verwys na twee ander plaaslike projekte, OrchidMap en Aliens of the Cape Peninsula. OrchidMap word sedert September 2014 op die Universiteit van Kaapstad se virtuele museum gehuisves. Lede van die publiek kan fotos en ligging van plante op die databasis, met bykans 3000 orgideë rekords met geo-etikette, laai. Aliens of the Cape Peninsula se doel is weer om om nuwe indringerplante en waar hulle versprei op die Kaapse Skiereiland, op te spoor.

Indien jy ʼn wetenskaplike in jou gemeenskap wil wees, hier is ʼn paar hulpmiddele om jou aan die gang te kry: 

Ispot,  ʼn South African National Biodiversity Institute (SANBI) inisiatief, is in Junie 2012 begin. Feitlik 400 000 internasionale observasies van 30 000 verskillende spesies is teen middel-2014 aangeteken. 

WhatSpecies is die breinkind van ʼn ouer wat haar kinders wou help om plante en insekte te identifiseer. Die webwerf se uitleg is gevolglik gebruikersvriendelik en toeganklik vir ʼn jonger leser en poog om, deur middel van sosiale media platforms, jongmense te betrek.

Soos vroeër genoem, word Virtual Museum bestuur deur die ADU by UK. Daar is reeds 17 verskillende projekte op die platform waarby die publiek by betrokke kan raak.

Die Cape Town Citizen webwerf  is ook propvol informasie en instruksies vir aspirerende wetenskaplikes. Kyk gerus ook The SciShow se video oor gemeenskapswetenskap op YouTube.

Gratis opgraderings

Vrydag, Augustus 5th, 2016

Vanaf 5 tot 30 September sal ons personeel se rekenaars met verouderde sagteware GRATIS opgradeer na Windows 10. Die enigste voorvereiste is dat jou rekenaar sterk genoeg is om die nuwe bedryfstelsel te kan hanteer. 

Die opgraderingsproses sal in groepe hanteer word om seker te maak elkeen kry `n kans en ook sodat alles vlot en vinnig verloop. Gevolglik sal die opgraderings verdeel word in twee groepe; die eerste groep sal die eerste helfte van September hanteer word en die tweede in die laaste helfte.

 

Office 365 is hier

Vrydag, Julie 22nd, 2016

Weens groeiende studentegetalle en daarmee saam ʼn groeiende tekort aan stoorspasie, moes Informasietegnologie in 2014 die universiteit se e-pos opstelling herevalueer. Gevolglik is studenterekeninge geskuif na Office 365, ʼn wolkgebaseerde diens wat soomloos integreer met die sagteware wat reeds op kampus gebruik word.

Personeel e-posrekeninge is tot dusver plaaslik op ons Exchange-bedieners onderhou en gehuisves. Binne die volgende paar maande word personeel se e-pos, net soos studente s’n, ook na Office 365 migreer.

office365Aanvanklik sal slegs e-posfasiliteite op die wolk gehuisves word, maar in die nabye toekoms sal personeel ook vanaf enige plek toegang tot hul dokumentasie kan kry d.m.v. Office 365 toepassings soos OneDrive, Word, Excel en Powerpoint.

Buiten ʼn welkome toename in e-pos stoorspasie na 50GB, is daar verskeie ander voordele:

  • minder argivering is nodig as gevolg van groter e-pos spasie
  • tydsbesparing en verhoogde produktiwiteit
  • ʼn nuwe, beter aanlyn e-posplatform
  • meer toeganklik en beskikbaar
  • strenger sekuriteit

Dienste sal soos normaalweg voortgaan tydens die migrasieproses en min, indien enige aftyd word voorsien. Rekeninge sal in groepe en per departement geskuif word, sodat so min as moontlik ontwrigting veroorsaak word. Kommunikasie rakende die proses sal fasiliteer word m.b.v. departementshoofde en sekretaresses.

Vir enige navrae, kontak gerus die IT Dienstoonbank by 021 808 4367 of helpinfo@sun.ac.za.

 

Wie is ISS?

Vrydag, Junie 24th, 2016

Aan die einde van die maand is jou salaris veilig in jou bankrekening. Ons beskou dit as `n gegewe en dink skaars daaroor. Maar wie sorg dat dit elke maand klokslag plaasvind?

Inligting is krities en strategies vir `n instelling wat kennis verskaf en ook kennis-intensief is, soos die universiteit, om te gedy. Institusionele programmatuuroplossings[1] vorm die basis van alle institusionele inligtingstelsels en verwerk die grootste gedeelte van institusionele inligting. Voorbeelde hiervan by Universiteit Stellenbosch  sluit die Menslike Hulpbronne, Finansiële, Navorsingsadministrasie en Studente-inligtingstelsels, in.

Informasietegnologie se nuutstruktureerde afdeling, Institusionele Programmatuuroplossings (ISS) word gelei deur Ralph Pina. Die afdeling is verantwoordelik vir die bou, onderhoud en ondersteuning van innoverende en volhoubare institusionele programmatuuroplossings wat tydig en langdurig aan die Universiteit se behoeftes voldoen. Die afdeling, bestaande uit 36 programmeerders, besigheidsanaliste en bestuurders, word gehuisves in `n oopplan-area in die nuwe IKT-gebou.

Sonder hierdie stelsels sal jy nie jou salaris maandeliks ontvang of aansoek om verlof kan insit nie. Geen finansiële transaksies sou moontlik wees nie. Studente sou nie toegang tot hulle eksamenresultate kon kry of aan die begin van die jaar registreer vir studies nie. Administrasie vir studente sou per hand moes geskied.

Bogenoemde is enkele programmatuuroplossings waarvoor ISS verantwoordelik is. Om sy kritieke funksie te vervul, moet die afdeling: 

    • verhoudings met oplossing-en stelseleienaars, (kliënte), eksterne en interne IT-vennote, aandeelhouers, gemeenskappe en verkopers bestuur;
    • besigheidsanalises uitvoer om institusionele prosesse te verstaan en verfyn en ook om behoeftes te bepaal;
    • programmatuur ontwikkel met langtermyn ontwerp- en kode-oplossings en die nodige omgewing vir programmatuurontwikkeling, vaardighede en kennis, vestig en handhaaf;
    • programmatuur in stand hou oor die langtermyn;
    • programmatuurtoepassings en – stelsels integreer sodat institusionele prosesse georganiseerd is, verslae ïntegreer kan word en institusionele inligting geïntegreerd bestudeer kan word;
    • programmatuuroplossings vind vir kliente en vennote, hulle help met hul keuses en die proses fasiliteer. 
    • programmatuuroplossings ondersteun deur prosesse te monitor, stelsels te konfigureer, insidente en probleme te bestuur en kliente en vennote te help om gebruikers op te lei;
    • datastrukture en programmatuuroplossings ontwerp en integreer, in samewerking met die IT Argitek.
    • die ontwikkeling van programmatuuroplossing bestuur en projekte implementeer.

[1] Programmatuurtoepassings of -oplossings besit en bestuur deur die Universiteit en wat oorhoofs gebruik word, in teenstelling met die gespesialiseerde waarde van `n enkele of paar organisatoriese entiteite binne die universiteit. Dit sluit programmatuur soos webinhoud bestuurstelsels en mobiele toepassings in.  `n Laboratorium inligtingstelsel wat waarde het vir `n enkele, akademiese departement of fakulteit, sal byvoorbeeld nie geklassifiseer word as `n institusionele programmatuuroplossing nie. 

 

Nuwe aantekenmetode vir sun-e-HR

Vrydag, Mei 27th, 2016

 Neem asb kennis dat weens die vernuwingsproses van die Afdeling Informasietegnologie, die sun-e-HR-stelsel ‘n nuwe aantekenmetode sal verg. Vir alle sun-e-HR stelselgebruikers sal die aantekenskerm verander (skermdruk hieronder).

Die sun-e-HR-stelsel sal steeds gesinchroniseerd wees met u Universiteit Stellenbosch gebruikersnaam en wagwoord. Dit beteken dat daar u steeds met u Universiteit Stellenbosch gebruikersnaam en wagwoord sal aanteken.

Behalwe bogenoemde verandering sal sun-e-HR ook ‘n nuwe webwerfadres kry. U sal egter steeds deur die My.SUN webblad (http://my.sun.ac.za/) toegang tot sun-e-HR verkry.

As gevolg van bogenoemde veranderinge sal die sun-e-HR-stelsel nie beskikbaar wees vanaf 27 Mei 2016 om 17:00 tot 30 Mei 2016 om 08:00.

Indien enige probleme met u aantekenbesonderhede na 30 Mei 2016 ondervind word, skakel asb IT Dienstoonbank by 021 808 4367 of help@sun.ac.za.

Ons vra verskoning vir enige ongerief.

Informasietegnologie en Menslike Hulpbronne

mhb

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.