Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Algemeen

Een, twee, drie, blok my selfie

Vrydag, Julie 25th, 2014

Deesdae neem al wat leef en beef ‘selfies’ – bekendes, politici, musikante … Die woord word so algemeen gebruik, die Oxford English Dictionary monitor dit reeds vir moontlike insluiting by sy aanlyn weergawe. In 2012 is dit deur Time magazine as een van die jaar se Top 10 gonswoorde beskou.

`n ‘Selfie’ word gedefinieer as `n selfportret, geneem met `n handtoestel (`n digitale kamera of selfoon) `n armlengte weg. Dit word gewoonlik op sosiale netwerke soos Twitter, Instagram of Facebook versprei.

Die neem van selfportrette het reeds in die vroeë 2000’s populêre geraak met die “MySpace pic” – `n onprofessionele foto wat normaalweg voor `n spieël geneem is. Ook Flickr het in 2009 die woord begin gebruik om die eindelose fotos wat tienermeisies van hulleself op dié netwerk geplaas het, te beskryf.

Maar is ‘selfies’ regtig so `n nuwe verskynsel soos ons dink?

[Foto: Twitter / @TheRealBuzz]

Buzz_Aldrin_EVA_Selfie

Ruimtevaarder Buzz Aldrin beweer hy het die eerste ‘selfie’ geneem in 1966 toe hy, as deel van `n opleidingsessie in 1966, homself afgeneem het.

Ongelukkig vir Mnr Aldrin was daar iemand wat hom voorgespring het 127 jaar tevore. In 1839 het Robert Cornelius, `n Amerikaanse baanbreker in fotografie, homself afgeneem. Ander historiese selfportrette sluit Joseph Byron (1909) en die Russiese hertogin Anastasia Nikolaevna (1914) in.

Sommige sê die fenomeen is `n aanduiding van die self-gesentreerde samelewing waarin ons leef – ander beweer dit dui op ons toenemende tegnologiese ingesteldheid. Hoe dit ookal sy en wat jou opinie daaroor is, ‘selfies’ is, vir nou, hier om te bly. Tot die volgende tegnologiese gril in elk geval.

[

BRON: www.wikipedia.org]

Ontmoet die techies: Petro Uys

Vrydag, Julie 25th, 2014

“Om vir IT te werk is soos om elke dag op ‘n nuwe planeet te wees.”

profile-petroPetro Uys, IT Dienstoonbank bestuurder en alombekende simpatieke oor, se loopbaan by die universiteit strek veel verder terug as net die afgelope agtien jaar by Informasietegnologie.

Na die voltooiing van haar Honneursgraad in Voorligtingsielkunde begin sy in 1985 as datavaslegger by Studenterekords, waar dit haar taak is om studentedata op microfiche te stoor. Rex van Staden, haar destydse hoof, merk op dat sy `n buitengewone belangstelling in en vaardigheid met rekenaars het en speel `n beduidende rol in die rigting wat haar loopbaan inslaan.

Na `n draai by Kursusse en `n breuk om ma te wees, aanvaar sy `n halfdagpos by Huis Horison, ‘n tehuis vir volwasse gestremdes, as, onder andere, boekhouer. Vier jaar volg waartydens Petro en haar familie nou betrokke raak by die tehuis se inwoners.

Die rekenaargogga het egter gebyt en selfs voordat sy by IT beland, bied sy rekenaarklasse aan by twee laerskole in die Wes-Kaap vanaf 1994 tot 1996.

In April 1996 begin haar IT-loopbaan by die destydse hulptoonbank  – eers as hulptoonbankagent, daarna ondersteuningspesialis en later as bestuurder.

Gedurende die 18 jaar leer sy om analities te dink, haar probleemoplossingsvaardighede te slyp en gebruikers se navrae soomloos kaf te draf. Benette Kriel se mentorskap in die aanvangsjare as ondersteuningspesialis, bly haar steeds by.

“Ek is baie dankbaar vir al die opleidingsgeleenthede wat IT US vir my gegee het. In die omgewing moet jy bereid wees om deur te druk en jou nie deur struikelblokke te laat onderkry nie.Dit bied legio geleenthede en met die nodige belangstelling en passie, is daar vir ieder en elk `n plek binne hier.

Elke dag is anders en tegnologie bly ontwikkel. Hierdie dinamika is vir haar lekker. “Om elke dag dieselfde werk te doen, sou sieldodend wees.”

“Die beste vergelyking wat ek nog daarvoor gekry het was: Om vir IT te werk, is soos om elke dag op ‘n nuwe planeet te wees.Die basiese oorlewingselemente moet daar wees, maar verder is alles nuut.”

Sy onthou hoe, destyds by die hulplyn, `n verwarde persoon geskakel en gevra het,  “Is this call-a-housewife?”, en ook die akademikus wie se kantoor bestrooi was met sigaretstompies.

Om op die grond rond te kruip om rekenaarkabels te koppel, of swaar toerusting op kampus rond te dra, was niks eienaardig nie. `n Tradisionele manswêreld het egter sy voordele. Sy het geleer om sterk te wees, op haar regte te staan en voorbereid te wees vir enige situasie.

Petro se onuitputbare geduld en toeganklike geaardheid verseker dat sy oor die weg kom met feitlik enige persoonlikheid. Moeilike kliënte is vir haar `n uitdaging en bied `n goeie geleentheid om haar liefde vir mense en tegnologie te beoefen.

Kommunikasie in `n IT-omgewing bly `n tameletjie en moet deurlopend aan gewerk word. “Daar bestaan steeds `n wanpersepsie op kampus oor wat IT presies doen. Ons is nie `n winsgewende afdeling wat gebruikers wil uitbuit nie. Gebruikers moet asseblief die vrymoedigheid hê om ons te kontak – ons wil regtig help en hulle tegnologiese lewens maklik maak!”

Petro glo dat IT nie `n entiteit op sy eie is nie, maar die universiteit as `n besigheid moet ondersteun. Met die voltooiing van die ITIL (Information Technology Infrastructure Library ) bestuurseksamens in 2009 het sy ook besef dat ITIL die beste raamwerk is om te volg om IT te belyn met besigheid.

As die ma van drie dogters, wat grotendeels nou al op hul eie gevestig is, geniet sy deesdae die rustigheid saam met haar man, Jannie. Maar wanneer jy haar nie op die telefoon sien nie, is sy `n kranige fietsryer wat al 9 Cape Argus fietstoere voltooi het.

Daarbenewens is sy tans besig om ‘n MPhil in Management Coaching te voltooi, sodat sy al haar mensekennis en ervaring ten volle kan benut.

IT DIENSTOONBANK KONTAKDETAILS

Foon: +27 21 808 4367
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (navrae)
help@sun.ac.za (foutaanmelding)
Skype: handle = ITStellenUni
Twitter: handle = ITStellenUni
Web: www.sun.ac.za/itselfhelp
Blog: www.sun.ac.za/infoteg

SUNid – nog better

Vrydag, Julie 25th, 2014

Oor die afgelope paar maande het ons julle bekendgestel aan IAM (Identity Access Management) en spesifiek, aan een van sy kroos, SUNid. As dit alles vir jou `n bietjie vaag klink, laat ek jou herinner.

SUNid is die eerste en en `n belangrike bousteen van identiteit-en toegangsbestuur(IAM). Eksterne werkers en besoekers word op hierdie stelsel geskep. Die taak is voorheen deur Menslike Hulpbronne verrig, maar is nou desentraliseer en departemente neem dus self verantwoordelikheid vir eksterne werkers en besoekers by die departement.  Lees meer oor die stap-vir-stap prosedures hier.

Ons het onlangs `n paar veranderinge aangebring en `n nuwe weergawe van SUNid sal binnekort implementeer word. Die grootste gedeelte van die aanpassings is aan die tegniese kant van die stelsel gemaak en dus nie direk sigbaar aan gebruikers nie. Daar is egter `n paar veranderinge wat gereelde SUNid-gebruikers wel mag oplet.

Die belangrikste veranderings wat gebruikers sal sien, is:

  1. Personeel- (HR) en studenteverbintenisse (engagements) word bygevoeg op SUNid sodat daar een plek is (‘Maintain Identities’) om alle verbintenisse van ʼn persoon te sien (HR en studente verbintenisse kan nie op SUNid geskep of verander word deur SUNid gebruikers nie).
  2. Voorheen kon ʼn persoon nie gelyktydig ʼn HR en SUNid verbintenis mag hê nie. Hierdie beperking is verwyder. ʼn Persoon mag egter steeds slegs een van elke tipe verbintenis, onder andere personeel, student, eksterne werker en besoeker, gelyktydig hê.
  3. Die ‘Register Identity funksie’ word verander sodat gebruikers eers ʼn soektog moet doen vir ʼn bestaande persoonrekord voordat daar gepoog word om ʼn nuwe te skep.  Hierdie stap is uiters belangrik om duplikate te vermy. Opleiding vir die gebruik van SUNid is eintlik noodsaaklik voordat persone toegang tot SUNid kry.
  4. `n ‘Delete’-funksie word bygevoeg vir verbintenisse in ‘Draft’ status vir gebruik waar die invoerder ʼn fout maak of besluit om nie voort te gaan nie. SUNid vee wel alle ‘drafts’ na 7 dae uit as dit nie goedgekeur word nie, maar nou sal gebruikers dit self ook kan doen.

Ons hoop hierdie verbeterings sal `n gladder en meer aangename SUNid-ondervinding vir alle SUNid-gebruikers meebring. Indien jy enige navrae of voorstelle het, kontak ons gerus by helpinfo@sun.ac.za.

En nou vir iets snaaks …

Vrydag, Junie 27th, 2014

Met soveel slegte nuus in die wêreld en voortdurende waarskuwings oor digitale sekuriteit, virusse, malware en ander nare dinge, het ons tog `n bietjie humoristiese verligting nodig. En wie beter as die klassieke BBC-reeks The Two Ronnies om die spot te dryf met die soms belaglike tegnologies-georienteerde samelewing waarin ons leef.

Vat `n ruskansie en geniet The Two Ronnies se Blackberry-skets.

Sukkel met bestuur van nagraadse studente?

Vrydag, Junie 6th, 2014

Twee weke gelede het ons julle bekendgestel aan NAO (Nagraadse Akademiese Ondersteuning/Postgraduate Academic Support), `n webgebaseerde stelsel om jou te help om jou nagraadse studente se inligting sonder moeite te bestuur. 

Die vrae wat die meeste gevra word deur personeellede reeds bekend met NAO, is die volgende: 

  1. Hoekom is NAO nie op my.sun.ac.za beskikbaar nie?  Ek verloor aanmekaar die skakel na die stelsel!
  2. Kan jy nie ‘n towerstaffie swaai en ontslae raak van al die vorms wat ons moet invul en met interaktiewe vorms vervang nie?
  3. Kan jy ons asb laat weet as daar iets nuuts op die NAO front gebeur het? 

Die goeie nuus is dat vraag 1 en 2 volgende semester aandag gaan ontvang. Vir vraag 3 is daar reeds ‘n oplossing. Bits & Bytes en die blog sal voortaan gebruik om inligting ivm NAO bekend te maak. 

Wat vraag 1. hierbo betref, word daar beoog om ‘n werkvloei-proses in plek te stel waarmee peroneellede magtiging by hul lynhoofde moet verkry om die stelsel te gebruik.  Die rede hiervoor is dat sensitiewe inligting, wat noodsaaklik is vir die bestuur van nagraadse studente, via die stelsel verkry kan word en jou lynhoof sal weet of jy toegang behoort te hê of nie.  

Inligting in verband met die uitkoms van bg magtigingsproses moet ook aan die US ouditeure beskikbaar wees sodat hulle kan bepaal of daar aan betrokke wetgewing voldoen word wat betref die privaatheid van individue se persoonlike inligting, wie toegang het en wie toegang verleen het. 

Wanneer hierdie toepassing in plek is, sal personeellede via my.sun.ac.za kan aansoek doen om toegang tot NAO en ‘n spesifieke Rol binne die stelsel ontvang op grond van vrae wat vooraf beantwoord en deur die lynhoof bekragtig moet word. 

Vraag 2. hierbo is ‘n onderwerp wat al lank onder bespreking is.  Die rigting waarin daar tans gedink word, is generiese vorms vir verskillende doeleindes, wat outomaties deur NAO  met die korrekte inligting  bevolk word, soos benoeming van M en PhD-kandidate, benoeming van Studieleiers/Promotors en talle ander voorbeelde, maar wat deur alle Fakulteite/Departemente gebruik kan word.    

Die inligting wat deur die vorms van verskillende Fakulteite ingewin word, stem 95% ooreen en die gedagte is om die ander 5%  as opsioneel by te voeg sodat personeel dit kan invul indien hulle areas dit benodig. 

Om NAO-gebruikers geinteresseerd te kry, sal daar gaandeweg prototipes via NAO bekend gestel word om sodoende terugvoer van personeel te kry. Jy is ook welkom om jou idees en voorstelle op hierdie blogpos te kommentaar-area te plaas en ons te laat weet wat jou opinie is.   Jy kan ook vir Rita de Jager kontak.

 

[ARTIKEL DEUR: Rita de Jager (Hoof: Nagraadse Akademiese Ondersteuning, Informasietegnologie, US)]

 

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.