Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Internet

Van teer-hennep en Indiese rubber tot optiese vesel

Vrydag, November 20th, 2015

Die internet het sy opwagting gemaak in die laat 1980s en vroeë 90s. Die infrastruktuur wat dit ondersteun is egter al sedert 1839 beskikbaar.

Vandag word ons internetverkeer hoofsaaklik gefasiliteer deur ondersese kabelstelsels vanaf Europa en Amerika.

ʼn Ondersese kommunikasiekabel word op die seevloer tussen stasies op land gelê, met die doel om telekommunikasie seine oor gedeeltes van die oseaan stuur. Voor die internet is hierdie kabels gebruik vir ander tipes kommunikasie, byvoorbeeld telefone en telegramme. 

Laying-undersea-cable-Cape-Town
Lê van `n ondersee kabel in Kaapstad
(Foto krediet: Telkom)

Na die ontwikkeling van die telegraaf in 1839, het die moontlikheid van ʼn ondersese lyn oor die Atlantiese oseaan na ʼn sterk moontlikheid begin lyk. Samuel Morse het in 1842 dit reggekry om, onderwater in New York se hawe, ʼn telegram te stuur met ʼn draad geïsoleer met teer-hennep en Indiese rubber.

Die eerste ondersese kabel in Suid-Afrika is op 27 Desember 1879 van stapel laat loop en vir die eerste keer is Suid-Afrika direk verbind aan Europa. Die verbinding is moontlik gemaak deur die East Coast cable of the South African Telegraph Company via Durban en Zanzibar na Aden. 

Vandag optiese vesel tegnologie gebruik om digitale data te versend en dit sluit telefone, internet en private dataverkeer in. 

Moderne kabels is gewoonlik ongeveer 25 millimeter in deursnee en weeg ongeveer 1.4 kilogram per meter vir die gedeeltes diep onder die see, wat die grootste deel in beslag neem en groter en swaarder kabels vir die vlakwater gedeeltes naby die strand.

Die jongste toevoeging tot ons telekommunikasie infrastruktuur is gemaak in Mei 2012 met die aanlê van die West Africa Cable System (WACS). Die 17 200 kilometer vesel optiese kabel begin by Yzerfontein aan die weskus en eindig by die Verenigde Koninkryk. (Meer oor die WACS-stelsel)

 

[BRONNE: www.mybroadband.co.za & https://en.wikipedia.org]

Facebook: die gras is nie groener nie

Vrydag, November 6th, 2015

As jy in die 80s jou buurman se blink-nuwe BMW wou sien, moes jy maak asof jy die laventel-heining snoei. Deesdae is sy Facebook-muur besaai met fotos van sy kopie.

Jy’t mismoedig geraak toe jy gesien het die jongste Petersentjie oorkant die pad dra alweer strandsambrele en -rakette aan kar toe vir hul Natalse Suidkus-vakansie.

Ons beny nogsteeds ander. Die omvang is net groter as gevolg van sosiale media platforms soos Facebook. Hoewel jy dertig jaar gelede van jou bure se doen en late geweet het, weet jy nou ook van jou langverlore neef in Australië se vakansie by die Great Barrier Reef of die skoolmaat – wat jy 20 jaar gelede gesien het – se oënskynlik suksesvolle besigheid. 

In 2013 het Ethan Kross, ʼn sielkundige van die Universiteit van Michigan, na aanleiding van sy navorsing, bevind dat Facebook `n groep studente wel hartseer en alleen laat voel het. Oor ʼn tydperk van twee weke het Kross en sy kollegas ʼn groep studente bestudeer, vrae gevra en tot hierdie gevolgtrekking gekom. (Facebook use predicts declines in subjective well-being in young adults: Kross E, Verduyn P, Demiralp E, Park J, Lee DS, Lin N, et.al (2013))

Beteken dit dat sosiale media inherent sleg is vir ons? Nie heeltemal nie, maar ons moet let op hoe ons dit gebruik en watter invloed dit op ons lewens het. 

Reeds in 1998 het Robert Kraut, ʼn navorser by die Carnegie Mellon Universiteit, bevind dat mense meer alleen en depressief raak hoe meer tyd hulle op die internet spandeer. Die rede hiervoor lê in die mens se ingebore sosiale aard. Ons wil konneksies maak met ander, maar daarmee saam is dit onvermydelik dat ons onsself vergelyk met ander. 

Hoewel die deel van inligting met ander mense die area van ons brein aktiveer wat gepaard gaan met belonings en bevrediging, word ons ook blootgestel aan ʼn magdom inligting oor die mense aan wie ons verbind is op sosiale media: inligting waarvan ons andersins nie van bewus sou wees nie. Ons besef nie dat hierdie inligting baie fyn uitgesoek en selektief geplaas word om net die beste beeld voor te hou nie. Dis nie realisties nie.

Volgens Mai-Ly Steers se artikel, “Seeing Everyone Else’s Highlight Reels: How Facebook Usage is Linked to Depressive Symptoms”, gepubliseer in die Journal of Social and Clinical Psychology is die konsep van vergelyking op sosiale vlak niks nuuts nie. Die koms van sosiale media sfeer vergroot egter die speelveld. 

“It doesn’t mean Facebook causes depression, but that depressed feelings and lots of time on Facebook and comparing oneself to others tend to go hand in hand”, sê Steers.

 

[BRONNE: www.livescience.com; www.sciencedaily.com; www.newyorker.com; http://blogs.plogs.org]

 

 

ONTAPtv.com bekendgestel in Suid-Afrika

Woensdag, September 23rd, 2015

ontaptvVerlede maand het ons berig oor die toekoms van televisie en gekyk na die hoofspelers op die veld van VOD (video on demand) – Naspers se Showmax, VIDI en FrontRow. 

Skaars `n maand later, verlede Woensdag, is nuwe kompetisie aangekondig in die vorm van ONTAPtv.com. En met pakkette wat by R39-00 begin, is dit `n aanloklike opsie vir diegene wat hul begroting  dophou.

Standaard-pakkette sluit `n familiepakket in met familievriendelike inhoud,  een met slegs TV-reekse, een vir die fliekvlooie, `n pakket vir 16+ en `n Mega Pack wat alle hierdie opsies insluit. Elkeen is R69-00 per maand, maar jy kan ook vir twee inskryf teen R79-00 per maand of die Mega Pack vir R89-00 per maand.

Buiten plaaslike inhoud bied ONTAPtv ook aan jou die geleentheid om Afrika-spesifieke inhoud te kyk teen R39-00 per maand, Chinese televisie (nowTV) teen R88-00 per maand en FightSports teen R69-00 per maand.

Alternatiewelik, as `n maandelikse inskrywing vir jou te bindend is, kan jy altyd net flieks aflaai teen R15-00 (ouer flieks) en R25-00 (nuwe vrystellings). Net soos met ShowMax hoef jy nie dadelik jou naam of geld weg te teken nie – jy kan dit eers vir `n toetsperiode gebruik om seker te maak dit werk vir jou.

Anders as al die ander VOD-opsies, laat ONTAPtv sy kliënte toe om inhoud af te laai in plaas van om dit slegs aanlyn te kyk. Reekse en flieks is ook beskikbaar in laer resolusie om bandwydte te spaar.

ONTAPtv.com is toeganklik deur middel van die diens se webplatform en is tans versoenbaar met PC, Mac, iOS- en Android-toestelle. Die platform is gebou vir Firefox, Internet Explorer, en Safari. Op die stadium werk dit nog nie op Google Chrome nie, maar dit behoort in die toekoms te verander.

[BRONNE: www.memeburn.com]

 

Die toekoms van televisie

Vrydag, Augustus 21st, 2015

5 Januarie 1976  – Menige Suid-Afrikaner sit in afwagting voor nuut-aangekoopte televisiestelle vir die eerste televisie-uitsending. Intussen het heelwat water onder die brug geloop en ook subskripsie-dienste, soos DSTV, is deesdae algemeen.

Tussen 1976 en 1978 is geen advertensies tussen programme uitgesaai nie en advertensiebreuke was `n geleentheid om vinnig te gaan koffie maak. Vandag  is ons terug by advertensielose televisie met PVR en die meer onlangse nuweling VOD. 

Video per aanvraag (VOD) bevredig die groeiende behoefte vir onmiddellike vermaak en ononderbroke reekskykery, maar tot `n jaar gelede was die keuses maar skraps.

DSTV het eerste toegetree tot die geveg met Boxoffice online, `n fliek-verhuringsdiens vir DSTV-intekenare. Kort daarna het ander hul voorbeeld gevolg – Altech met Node, MTN met Frontrow en Times Media Groep met VIDI. Die laaste hupstoot na meer kompeterende dienste, was Amerikaanse reus Netflix, se aankondiging dat hulle beplan om teen einde 2016 in Suid-Afrika te wees.

En toe gooi Naspers finaal die jakkals in die hoenderhok Woensdag met Showmax, hulle VOD-diens. 

SHOWMAX

Volgens bronne kan Showmax beskou word as nie nuwe M-Net vir die internet-eeu. Twee intekenopsies is beskikbaar – premium en gratis opsie. Premium diens sal jou R99-00 per maand kos met `n verskeidenheid gewilde reekse, sowel as nuwe en ouer flieks. Ou Suid-Afrikaanse reekse soos Egoli, Binnelanders en Agter elke man verskyn ook op hul spyskaart. Of dit `n poging is om `n spesifieke demografie te wen of bloot om geld te spaar, is `n ander vraag.

Vir Showmax het jy `n lyn met internetspoed van ten minste 1MB en `n webblaaier nodig. `n Onbeperkte internetrekening mag waarskynlik ook handig te pas kom. 

As jy onseker is of jy dié roete wil volg, kan jy gerus wees – jy kan dit eers vir 7 dae toets voor jy besluit.

[BRONNE: www.mybroadband.co.za,  www.iafrica.com]

vidiVIDI 

Times Media-Groep het VIDI in September 2014 bekendgestel en tot Woensdag was dit die grootste plaaslike kompetisie vir Netflix. 

Die maandelikse fooi vir onbeperkte toegang tot reekse en flieks (klaarblyklik meer as `n 1000 uur s’n), is ietwat meer as Showmax teen R149-00 kos. Die voordeel is egter dat jy slegs flieks apart kan huur – R27-00 vir nuwe vrystellings en R15-00 vir ouer flieks. Kyk dit wanneer jy wil, maar sodra jy begin het, verval dit na 48 uur.

Soos met Showmax het jy ook `n lyn met internetspoed van ten minste 1MB en `n webblaaier nodig. As jy egter van jou sport en flieks in HD en op `n groot skerm hou, is 2 tot 4 MB `n noodsaaklikheid. 

Een van die grootste voordele van VIDI, en die meeste ander VOD-dienste, is dat jy jou kykgenot kan skeduleer soos jy wil, met, met onderbrekings of nie. As `n fliek te lank raak, kan jy dit stop, by jou lysie voeg en volgende keer kyk jy verder.  

Inhoud kan op verskeie platforms benut word, insluitende PC, MAC, skootrekenaars, Apple en Android tablette en slimfone. VIDI pas ook die kwaliteit van sy leêrs aan by die platform waarop jy kyk en jou bandwydte.

[BRONNE: www.htxt.co.za, www.bizcommunity.co.za, www.sabc.co.za, www.tvsa.co.za and www.mybroadband.co.za]

FRONTROW

MTN-initiatief, Frontrow, is bekendgestel in September 2014 – `n week na VIDI. Bemarking vir die diens was betreklik yl en die grootste kritiek op Frontrow is die beperkte keuse van materiaal en die ondersteunde platforms. Soos seker te verwagte kan wees van `n selfoonverskaffer, is die fokus op slimfone en tablette, nie op rekenaars of televisie nie. 

MTN bied wel `n pakket wat mobiele data insluit. Maar moenie ons woord daarvoor vat nie, lees gerus mybroadband se resensie van Frontrow.

Tans kan VOD nie op dieselfde vlak kompeteer as tradisionele uitsaaikanale nie. DSTV het alleen oor die afgelope 5 jaar 5 miljoen intekenare gewerf. Sport bly sport die grootste trekpleister  – iets waarvoor VOD-dienste nie voorsiening maak so ver nie. 

Alles ten spyt sal televisie en ons bestaande kykgewoontes moet verander om by te hou by tegnologie.

As VOD vir jou klink na die ideale vermaakoplossing, lees wat die deskundiges sê het oor jou opsies, die moontlike koms van Netflix in 2016 en hoe hulle vergelyk:

ShowMax, Netflix and SA’s disrupted TV future

Netflix could be game-changer in SA
Netflix vs FrontRow vs Vidi vs Node in South Africa

Dink jy’s veilig aanlyn?

Vrydag, Junie 12th, 2015

Memeburn, `n webwerf wat spesialiseer in technuus en -analise, het onlangs berig oor die stand van kuberveiligheid in Suid-Afrika. (lees die volledige artikel hier)

Volgens die artikel is daar gedurende die 2015 Security Summit, in Johannesburg, bekendgemaak dat, in Afrika, Suid-Afrika die land is wat die afgelope ses weke die meeste deur kuberkrakers geteiken is. Hierbenewens het DDOS-aanvalle die afgelope 18 maande  met 150% toegeneem in Afrika.

Volgens Antonio Forzieri van Symantec was een uit elke 214 e-posse verlede jaar in Suid-Afrika gestuur, pogings om internetgebruikers se inligting te bekom.

Suid-Afrikaners verloor reeds R2.2 biljoen per jaar aan kubermisdaad. Statistieke soos hierdie benadruk weereens dat ons as internetgebruikers in Suid-Afrika meer ingelig en versigtig moet wees.

Terselfdertyd neem aanlynaankope toe en verskaf dit ‘n addisionele kanaal vir kubermisdaad om plaas te vind.

onedollarKaspersky Lab, `n maatskappy wat hulle roem daarop dat hulle sekuriteitsdeskundiges is, het `n projek begin wat die gevaar van kubermisdaad op `n meer visuele,  verstaanbare en interaktiewe manier demonstreer.

Die one dollar lesson is `n geanimeerde webwerf wat jou eerstehands wys wat kan gebeur as jy aanlyn inkopies doen en jou inligting word onderskep.

One dollar lesson bied ook drie opleidingsmodules wat elk een dollar se  virtuele reis na die bank volg met al die uitdagings langs die pad. 

Moenie aanneem jy weet alles van kuberveiligheid nie. Bly op hoogte van nuwe kuberbedreigings en wees versigtig wat jy met jou persoonlike inligting doen.

 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.