Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Internet

(English) Free sites for students and staff

Woensdag, Februarie 22nd, 2017

Jammer, hierdie bladsy is nie in Afrikaans beskikbaar nie.

Selfies: die risiko werd?

Donderdag, Maart 31st, 2016

Die selfie is so algemeen, ons merk nie eers meer op as iemand in die openbaar `n foto neem met `n selfie-stok, of te wel, `n  Naricisstick, nie. Volgens Michael Weigold, van die Universiteit van Florida, word beraam dat daagliks tussen een miljoen en 93 miljoen selfies geplaas word met Android-fone alleen. (http://businesstech.co.za

Ja, dit is soms irriterend en indringerig, maar dis tog net onskuldige pret?

Die teenoorgestelde blyk waar te wees in sommige gevalle. 

Vanjaar in Februarie is `n bedreigde La Plata babadolfyntjie in Argentinië dood as gevolg van trauma en hitte-uitputting, omdat `n groep toeriste selfies daarmee op die strand wou neem.

In Maart gryp `n toeris `n swaan uit `n meer in Macedonië vir `n selfie en kort daarna beswyk dit.

Selfs al is jy nie `n dierliefhebber nie, bedreig die selfie ook menselewens (hoewel ‘n paar van hierdie gevalle dalk kwalifiseer vir Darwin-toekennings?)

In 2015 loods Rusland `n veldtog om te waarsku teen die gevare van selfies  — “A cool selfie could cost you your life”. Inderdaad.

Blykbaar is `n honderd Russe reeds dood as gevolg van selfies. Dit sluit `n vrou in wat haarself per ongeluk geskiet het, twee mans wat hulle misgis het met `n handgranaat en ander wat waaghalsig bo-op bewegende treine poseer het.

In Seville, Spanje, het `n Poolse toeris van `n brug geval terwyl sy `n selfie wou neem. In Mei 2014 verloor `n Cessna-loods beheer oor sy vliegtuig en verongeluk homself en sy passasiers — vir `n selfie.

Dinsdag is `n Egyptian Airline-vliegtuig gekaap en `n Britse man het die geleentheid aangegryp om `n selfie saam met die kaper te neem. Hy’t gereken hy’t in elk geval niks om te verloor nie. 

Gister moes `n Britse vrou gered word vanaf Brittanje se hoogste berg, Ben Nevis, omdat sy nie behoorlik toegerus was vir die weertoestande toe sy `n selfie wou neem nie. Meer oor selfie-verwante sterftes op CNN.

Wat dryf iemand om homself in gevaar te stel om bloot `n “cool” foto te neem?

Dalk die behoefte om onsself te bewys en vergelyk met ander? Met sosiale media is dit net soveel makliker om te doen en dadelik kommentaar en reaksie te kry.

Michael Weigold van die Universiteit van Florida het `n artikel in The Conversation publiseer waar hy hierdie vraag ondersoek. Hy verwys ook na navorsing deur die sielkundige Gwendolyn Seidman.

Dr Seidman beweer dat daar `n skakel tussen narsissisme en selfies is en baseer haar navorsing op twee steekproewe wat fokus op Facebook-selfies. Lees gerus dr Seidman se artikel in Psychology Today en besluit self. Laat weet ons wat jy dink van selfies en hoekom jy dink dis so populêr?

Maak Google Street View inbreuk op ons privaatheid?

Donderdag, Maart 31st, 2016

google-mapsGoogle Street View laat ons toe om dele van die wêreld te sien wat ons nie andersins sou nie. Jy kan nou die Great Barrier Reef, Grand Canyon of Eiffeltoring besoek, sonder om ʼn tree oor jou drumpel te gee. Selfs ons eie universiteit is al op Street View.

Ongelukkig beteken toegang tot voorheen ontoeganklike areas, ook ʼn uitdaging vir privaatheid en veiligheid.

Besware is gemaak teen Google foto’s wys van persone wat besig is met aktiwiteite wat hulle nie noodwendig afgeneem of aanlyn publiseer wil hê nie. Nommerplate en gesigte word wel verdof om privaatheid te beskerm.

Google hou egter vol dat hierdie beelde heeltemal wettig is aangesien dit geneem is in ʼn publieke area. Wat hulle wel nie noem nie, is dat hulle kameras op strukture monteer word wat hoër is as die normale mens en dit dus oor heinings en mure kan kyk. 

Op 13 Mei 2009 het Google Japan aangekondig dat hulle kameras aangepas sal word na 2.05 meter bo die grondvlak, 95 cm laer as die gewone hoogte van die Google kamera. Die doel hiervan was om te voorkom dat kameras oor heinings en in huise kan kyk. Die verminderde hoogte was dadelik van toepassing en alle areas wat voorheen verfilm is, moes oorgedoen en vervang word.

Verskeie lande, insluitende Brittanje, Denemarke, Duitsland, Pole en Indië, het klagtes gelê teen Google se Street View beleid en probeer om te voorkom dat daar verfilm word. In die meeste gevalle het Google egter die sake gewen en voortgegaan met hul dokumentasie.

Jy kan wel, as jy ʼn probleem met ʼn Google foto het, dit rapporteer op Google Street View ondersteuningsblad. Hou net in gedagte dat die foto nie verwyder sal word nie, maar net verdof sal word.

[SOURCE: https://en.wikipedia.org]

Stellenbosch-kampus beskikbaar op Google Street View

Donderdag, Maart 17th, 2016

As jy jouself in 2014 tussen 17 en 19 Desember op kampus bevind het, sou jy iemand toegerus met `n vreemde toestel opgemerk het. Die toestel is `n Google Trekker kamera en word gebruik om die omgewing te fotografeer vir Google Street View.

Te danke aan `n gesamentlike poging tussen IT, Fasiliteitsbestuur en Google oor die afgelope jaar, is verskeie areas op ons Stellenbosch-kampus ook nou karteer.

Google Street View is tegnologie in Google Maps en Google Earth wat panoramiese beelde van strate wêreldwyd verskaf. Dis in 2007 bekendgestel in verskeie Amerikaanse stede, maar is mettertyd uitgebrei na stede en plattelandse areas regoor die wêreld. 


Street View
vertoon `n panoramiese beeld deur middel van verskeie fotos wat aanmekaar gelas word. Die meeste fotografie word met `n motor uitgevoer, maar trekkers, driewielfietse, bote, sneeuvoertuie, onderwatertoestelle en voetslaan, word ook gebruik. `n Driewielfiets is ontwerp om staproetes, soos Stonehenge en ander UNESCO Wêreld Erfenis-areas, in te sluit.

In 2010 is `n stelsel monteer op `n sneeuvoertuig om die 201o Winter Olimpiese Spele se ruimtes te karteer. Trollies is gebruik om binne-in museums te fotografeer. Venesië se nou straatjies is afgeneem met `n kamera wat op `n rugsak monteer is en kanale is vanaf bote waargeneem. (www.wikipedia.org.za)

google-streetview-logoOp 8 Maart is die Mzansi experience op Google Maps bekendgestel. Terselfdertyd is ons Street View fotos ook gelaai. Jy kan die fotos op jou rekenaar of slimfoon kyk.

Strate wat deel uitmaak van die Street View-projek word deurlopend met blou lyne op Google Maps aangedui. As jy die muis hou oor die mini-kaart in die linkerkantse hoek, sal jy ook sien watter areas op kampus beskikbaar is.

Jy kan nou, onder andere, die Rooi PleinBotaniese Tuin en Coetzenburg, sowel as Jonkershoek, op Street View besigtig. Kyk gerus na die res hier en jy kan ook kliek op die kortpaaie onderaan jou Street View om na ander plekke op kampus te gaan. 

Meer oor die Mzansi-ondervinding.

Die “Internet of Things”

Vrydag, November 20th, 2015

“The internet of things” — `n taamlike flou manier om iets vreeslik omvangryk te beskryf.  Wat was Kevin Ashton bedoel daarmee toe hy dit vir die eerste keer in 1995 gebruik het?

Wat is dit?

Die Internet of Things (IoT) verwys na enige toestelle wat verbind is aan mekaar en met masjien-tot-masjien (M2M) kommunikasie werk, met behulp van van virtuele, mobiele en onmiddellike verbindings.

Hierdie netwerk van fisiese toestelle is toegerus met elektronika, sagteware, sensors en netwerkverbindings wat hulle in staat stel om data uit te ruil en te versamel.

Toestelle kan enigiets insluit wat toegerus is met die regte tegnologie en aan die internet kan verbind. Byvoorbeeld, huishoudelike toestelle, vervoermiddele, toestelle in winkels, vervaardigingsmasjienerie, landbou-masjinerie, sowel as toestelle gebruik in gesondheidsorg. Bestaande M2M toepassings sluit slim meterlesings, monitering van pasiënte, CCTV-toesig, voertuig-opsporing, sekure ATMs en digitale kennisgewingborde in.

network-782707_640Wat is die nut daarvan?

Die grootste voordele van The Internet of Things is verhoogde produktiwiteit, effektiwiteit en organisasie van hulpbronne, masjinerie en mense.
 
In gesondheidsorg kan siektes kan monitor en analiseer word om nuwe behandelings te ontwikkel en op die lang duur, siektes te kan voorkom.
 
In vervaardigingsomgewings, soos landbou, word sensors aan gewasse en vee vasgemaak om produksie te verhoog en troppe na te speur.
 
Tuis kan sekuriteitstelsels en huishoudelike toestelle monitor en beheer word. In die toekoms sal jou yskas jou laat weet as die melk op is en dit moontlik vir jou aanlyn bestel. Jy sal jou koffiemasjien kan aktiveer met jou selfoon sodat daar ʼn koppie vars koffie wag as jy by die voordeur instap.
 
LG het onlangs LG Homechat, ʼn toepassing wat jou in staat stel om enige van jou LG huishoudelike toestelle te SMS, bekendgestel. En ja, hulle antwoord terug. Ongelukkig is dié nuutjie nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar dit word reeds oorsee gebruik. 
 
Hierdie is net die ysberg se punt. Die impak van IoT strek veel wyer. Om ʼn idee te kry van wat alles moontlik is, kyk gerus na hierdie informatiewe webtoepassing.
  
Is dit veilig?
 
Die grootste bekommernis, veral in die vroeë stadium van ontwikkeling, is sekuriteit sekuriteit en privaatheid. Om optimaal te kan funksioneer, het hierdie toestelle jou persoonlike data nodig. Dit moet ook verbind wees aan ander toestelle d.m.v. die cloud of maatskappye se databasisse. Indien streng sekuriteit nie in plek is nie, sal persoonlike inligting toeganklik kan wees vir enigiemand wat dit wil misbruik.
 
Gesondheidsorg bied die hoogste risiko indien daar met data gepeuter of dit uitgelek word.  Sensitiewe inligting wat uitgevee word, byvoorbeeld bloedgroep inligting, kan noodlottige resultate hê. (Meer hieroor in die Guardian)
 
Deskundiges beweer dat dit relatief veilig is, maar daar is geen waarborg nie.
  
 
 
 

 

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.