Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Navorsing

Mobiele tegnologie opname wys nuwe gebruikspatrone uit

Vrydag, November 1st, 2013

Diit blyk dat Android- en Apple-selfone waarskynlik binne die volgende jaar om studente se guns gaan kompeteer, terwyl Blackberry se populariteit vinnig wegkwyn. Die prentjie het beduidend verander sedert 2012:

mobile-phones

Hierdie is slegs een voorbeeld van die resultate van ‘n onlangse mobiele tegnologie opname, geneem deur Informasietegnologie, om patrone in mobiele toestelle onder studente te bepaal.

Die doel van die opnames, waarvan die eerste in September 2012 uitgevoer is, is om gedragspatrone te identifiseer sodat toepaslike universiteitsdienste en -strategieë in die toekoms implementeer kan word. Die kombinasie van toestelle waaroor studente beskik en hoe vinnig omstandighede verander, is kritiek vir ingeligte beplanning en besluitneming.

‘n Ander onverwagse neiging is die stadige toename van tablette op kampus. Aangesien die meerderheid studente daagliks toegang tot ‘n skootrekenaar, ultrabook of notebook het, word die tablet gesien as ‘n “derde” toestel wat 47% van studente nie kan bekostig nie en 25% verkies om nie te gebruik nie. 

Slegs 28% van deelnemers besit ‘n tablet, waarvan bykans die helfte Apple iPads is, met Android tablette kort op sy hakke. Studente dui aan dat `n styging mettertyd sal plaasvind, maar wel geleidelik. 

Ongelukkig is bewustheid rondom die Studente Tegnologie Program, wat aan studente die geleentheid bied om skootrekenaars, tablette en notebooks teen afslagpryse te koop, steeds gebrekkig. 

Aan die positiewe kant sien studente deurlopend dienste en inhoud wat verband hou met leer, akademiese geleenthede en skedules, byvoorbeeld eksamenresultate, klas- en eksamenroosters en taakinformasie, as die noodsaaklikste funksie wat mobiele toestelle moet vervul.

Dis moontlik dat, wanneer meer leerinhoud, insluitende e-handboeke, meer beskikbaar raak via mobiele toestelle, ook vir aflyn gebruik, die toename van tablette ook mag versnel.

mobile-content

Verdere opnames sal in die toekoms uitgevoer word om gebruikspatrone en addisionele veranderinge oor tyd te bestudeer.

Een gelukkige wenner, BComm-student Pierre-Etienne, was die gelukkige wenner van ‘n Incredible Connection geskenkbewys ter waarde van R1500.

2832 studente uit 32266 uitgenooides is, het die opname voltooi. 

[FOTO: Ralph Pina (direkteur: ontwikkeling) met wenner Pierre-Etienne Rossouw]

 

 

Vista & Blackboard staan opsy vir Moodle

Vrydag, Mei 24th, 2013

Vanaf 2014 skakel die Universiteit se elektroniese onderrigleerbestuurstelsel oor van Vista en BlackBoard Learn na ‘n oop-bron e-Leer-stelsel, Moodle. Die oorskakeling is genoodsaak deur  ‘n verandering in die Universiteit se strategie en tekortkominge in die bestaande stelsel wat nie reggestel kon word nie. Die besluit is gegrond op `n deeglike ondersoek. Moodle is dus voortaan die standaard e-Leer stelsel van die Universiteit.

‘n Taakspan (Johann Kistner, drr Antoinette van der Merwe & JP Bosman en me Marinda van Rooyen) het die evaluering gedoen, insluitend konsultasie met akademiese, administratiewe en steundienste personeel.  Daar is ook gekyk na hoe die stelsels suksesvol en op groot skaal by ander universiteite gebruik word.  Uiteindelik is die besluit gemaak op grond van ‘n stel vooraf gedefinieërde, geweegde kriteria. Dit het volgende in ag geneem:

  1. Toegang tot die stelsel van buite kampus moet betroubaar wees. Daar is `n beduidende groei in die gebruik van e-Leertegnologie van buite die kampus:  dienskursusse, nagraadse modules, en studente wat vanaf hul huise werk.
  2. E-assessering word toenemend gebruik, dus is `n betroubare assesseringskomponent noodsaaklik.  
  3. ’n Mobiele koppelvlak wat op alle toerusting werk, agv die groot toename in die gebruik van mobiele toerusting (selfone, tabletrekenaars, skootrekenaars).
  4. ‘n Akkurate tredhoustelsel om rekord te hou van studente se vordering. 
  5. Af-lyn funksionaliteit om voorsiening te maak dat studente die leermateriaal en ander inligting maklik kan sinkroniseer na  toerusting terwyl hulle op kampus is en dan tuis kan werk sonder om aanlyn te wees.
  6. ‘n Meer soepel lisensiëringsmodel aangesien beperkende lisensieooreenkomste nie meer volhoubaar is indien daar groter gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking met skole en ander Universiteite, veral op die Afrika kontinent (bv in die CHEC kursusse, skole ondersteuning) in die vooruitsig gestel word nie. 

In praktyk beteken dit dat Moodle vanaf Januarie vir alle modules gebruik word, en dat Vista en BlackBoard net tot Maart 2014 vir 2013 modules beskikbaar bly (tot na die laaste eksamengeleentheid).

Die kort tydperk voor die implentering moet plaasvind bied `n groot uitdaging vir dosente om inligting  betyds te migreer, asoof aan IT om die bedieners betyds gereed te kry.  Die projek word tans gedefinieer en daar word streng by `n tydlyn gehou om te verseker dat hierdie doelwit bereik word. 

Meer inligting sal ook in volgende uitgawes van Bits & Bytes kommunikeer word. 

Turnitin fnuik plagiaat

Vrydag, Mei 24th, 2013

Akademiese werk aan ’n universiteit bring mee dat die student blootgestel word aan die idees, geskrewe materiaal en ander intellektuele en kreatiewe produkte van ander. Die bedoeling met akademiese studie is juis dat die idees van sowel die dosent as die student deur hierdie idees en materiaal van ander gevorm en geslyp sal word. Terselfdertyd moet die student ook verder gaan as dit wat ander gedink, geskryf en geskep het en dit krities evalueer, nuwe en oorspronklike insette of sinteses maak, en dit van toepassing maak op eietydse internasionale en plaaslike problematieke. Hierin lê die besondere bevrediging van akademiese werk op universiteitsvlak. 

Uiteraard kan die dosent slegs evalueer wat die bydrae van die student self is wanneer die bydrae van ander persone duidelik onderskei word. Dit gebeur by wyse van erkende stelsels van erkenning en aanhaling. Deur nie hierdie konvensies te volg en die nodige erkenning te gee nie, word die grondslag van die akademiese werk aan ’n universiteit ondermyn. Deur die werk (woorde, idees, skeppinge) van ander persone oor te neem asof dit die skrywer se eie is, word plagiaat gepleeg. 

Die universiteit gebruik Turnitin om plagiaat mee te toets. Turnitin integreer met die Leerbeheerstelsel (Webstudies of Ematies). Werkstukskakels word binne die LBS geskep wat deur studente gebruik word om hulle werkstukke na op te laai. Die werkstukke wat opgelaai word, word in ‘n databasis gestoor en word dan gebruik vir die toets van plagiaat. Dit verhoed dat een student ‘n ander student se werkstuk kan gebruik, deur woorde en sinne wat ooreenkom te identifiseer. Werkstukke word ook teen bestaande webblaaie, aanlyn boeke, koerante en journale getoets. 

Die mees suksesvolle benaderings m.b.t. die hantering van plagiaat in die geval van studente laat ruimte vir wat genoem kan word ’n ontwikkelingsbenadering, naamlik dat die voorkoms van gevalle van plagiaat – uitgesonderd gevalle van ’n ernstige aard gebruik word as ’n geleentheid om die persone wat hulle daaraan skuldig maak te wys op wat verwag word en hoe om met inligting om te gaan, asook om (byvoorbeeld) die werkstuk oor te doen. 

Vir meer inligting oor die universiteit se Interim-benadering m.b.t. die hantering van plagiaat, besoek die SOL webtuiste: http://stbweb02.stb.sun.ac.za/sol/beleide

Inligting verkry en aangepas uit Interim riglyne vir die hantering van plagiaat deur Marinda van Rooyen

 

TURNITIN/WebStudies webwerf

TURNITIN Aantekenprobleme & hulp

–          As jy nie kan aanteken by WebSTudies of Blackboard, gaan na www.sun.ac.za/useradm  en verander joiu wagwoord.

–          Vir enige ander WebSTudies of Blackboard-verwante navrae (modules wat nie wys nie, ens.), stuur e-pos aan WebStudies of Samuel Morris.
            Tel:  +27(0)21 808-2443

 

 

 

DRM – `n Sentrale Afrikaland?

Vrydag, April 26th, 2013

Die afkorting klink soos `n verwysing na `n sentrale Afrikaland en alhoewel DRM ook versigtige bestuur behels, is dit minder tasbaar en strek dit wel oor grense heen.

As gevolg van die drastiese toename in digitale inhoud in ons lewens, of dit musiek, video of e-boeke is, het dit noodsaaklik geword vir maatskappye om hul eiendom te beskerm deur sekere maatreёls in plek te sit. Maar wat is DRM?

Ons het die volgende definisie en verduideliking op een van ons gunsteling webwerwe opgespoor – 

Digital Rights Management (DRM) is `n tipe toegangsbeheer tegniek gebruik deur kopiereg-eienaars, uitgewers en hardwarevervaardigers om die gebruik, manipulasie en verspreiding van digitale inhoud na die verkoop daarvan te beperk.

Voorbeelde van DRM sluit die inkripsie van digitale video (op DVD en Blu-ray skywe) om te voorkom dat die koper nie die inhoud ontsluit nie of die beperking van e-boeke tot die rekening van die oorspronklike koper (jy kan byvoorbeeld you Amazon e-boek op jou Kindle lees of op Amazon.com, maar jy kan nie die boek vir iemand anders aanstuur of gee nie). Dit sluit ook die beperking op die aflaai van speletjies na slegs die rekenaar waarvan die afgelaai is – dus kan jy dit nie kopieer en uitdeel vir vriende nie. 

Onder sekere geledere is daar `n sterk weerstand teen DRM en bly dit `n kontroversiёle onderwerp. Maatskappye voel dis nodig om hul intellektuele eiendom te bekerm en rowery te beveg, maar gebruikers se grootste frustrasie is dat DRM hardeware as’t ware sluit en data nie tussen verskeie toestelle geskuif kan word nie. 

Vandag is ook Wereld Intellektuele Eiendom dag en Stellenbosch Universiteit het verskeie aktiwiteite om bewustheid te kweek georganiseer. Meer inligting. 

(BRON: www.howtogeek.com)

Toegang tot Biblioteek e-bronne verander binnekort

Vrydag, Mei 25th, 2012

Tot op hede word gratis Internet toegang tot die US Biblioteekdiens se subskripsie gebaseerde elektroniese bronne deur ‘n verstelling in die gebruiker se webleser bewerkstellig.

Hierdie verstelling, bekend as die PAC lêer, bevat ‘n lys van al die elektroniese bronne waartoe die Biblioteekdiens gratis Internet toegang verskaf.  Dit behels hoofsaaklik agente- en subskripsie e-bronne, alhoewel daar in spesiale gevalle al aan departemente vergunning gegee was om ander vakspesifike e-bronne ook so gratis toeganklik te maak.  Weens die voortgesette afname in Internet kostes word hierdie vergunning vanaf 1 Julie 2012 gestaak.

Met die toename in e-bronne op die Internet, asook die onlangse opgradering van die kampus vuurmuur (“firewall”) en SANReN koppeling, is die webleser verstelling nie meer ‘n praktiese metode om gratis Internet toegang te bewerkstellig nie.  Voortaan sal gratis toegang tot e-bronne vir gebruikers slegs beskikbaar wees deur die Biblioteekdiens se webtuiste.  Gebruikers kan nuwe plekhouers (“bookmarks”) in hul weblesers skep vanaf die Biblioteek se e-databasis lys, indien hulle nog steeds op so ‘n wyse toegang wil verkry.

Hierdie reëling geld vir tafel- en skootrekenaars, hetsy op of af van kampus.  Gebruikers hoef dus van ingang Julie 2012 nie meer hul skootrekenaars se webleser konfigurasie te verander na mate hulle tussen die huis en kantooromgewing werk nie.

Die gebruik van Inetkey is egter ten alle tye nodig vir toegang tot die Biblioteekdiens se e-bronne vanaf die kampusnetwerk.

Hierdie verandering tree in werking vanaf 1 Julie 2012.

Artikel verskaf deur Wouter Klapwijk, Informasietegnologie, Biblioteek- en Inligtingsdienste

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.