Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Studente

Die wolk is oppad

Vrydag, September 26th, 2014

24726-cloud-outline-vector

Binne die volgende paar maande gaan Matie-studente e-pos kan stuur soos nooit tevore.

As jy `n gereelde Twitter-gebruiker is of soms in die Neelsie of Biblioteek ronddwaal, het jy waarskynlik al kennisgewings opgemerk wat verwys na die “cloud”. Moenie bekommerd wees nie – ons verwys nie na die ontwykende son en tipiese Kaapse weer nie. Inteendeel, hierdie wolk bring goeie nuus.

Studentegetalle het oor die afgelope paar jare met rasse skrede toegeneem en daarmee saam die behoefte vir meer e-pos stoorspasie. Tot hede is alle studente se e-pos gehuisves op die universiteit se bedieners, maar spasie is besig om uit te loop. Die dae van e-pos op plaaslike bedieners huisves, is iets van die verlede.

Sedert verlede jaar ondersoek Informasietegnologie moontlike oplossings vir die probleem en die gevolgtrekking is gemaak dat Office 365 die beste keuse vir studente e-posse is. MS Office en Microsoft bedryfstelsels word reeds gebruik in studente rekenaargebruiksareas en sal gevolglik maklik kan integreer met bestaande tegnologie.

Met die wolkpos-projek betree Universiteit Stellenbosch `n nuwe fase van e-pos en hoewel personeel dieselfde pad gaan stap, is die grootste behoefte tans om eers alle studente se e-pos te skuif.

Die teikendatum vir die migrasie is Oktober. Ons sal studente egter deurlopend op hoogte hou van verwikkelinge deur middel van Twitter.

`n Webblad sal beskikbaar gestel word waar studente self kan migreer en die wolk-platform toets. Studente kan dus self kies wanneer hulle wil migreer. Diegene wat teen die Desember nog nie self migreer het nie, sal outomaties teen die einde van die jaar deur IT geskuif word na die Office 365.

Maar hoekom sukkel met min spasie as jy `n volle 50GB tot jou beskikking kan hê? Office 365 bied ook ander voordele soos stoorspasie op OneDrive en aanlyntoegang tot Microsoft toepassings soos Word, Excel, ens.

As jy meer wil weet oor die Wolkpos-projek, volg ons op Twitter by @ITStellenUni of #theitcloud.

Koop`n tablet: Die keuses

Vrydag, September 5th, 2014

In `n vorige skrywe het ons gekyk na die voordele van tabletgebaseerde leer. Hierdie keer stel ons ondersoek in na die verskeie opsies beskikbaar wanneer jy een wil koop.

Hoewel daar ’n groot verskeidenheid tablette op die mark is, kan hulle almal in terme van die sagtewareplatform waarop hulle loop, gekategoriseer word. Net soos ’n rekenaar op Microsoft Windows, Mac OSX of Linux loop, het ’n tablet ook ’n sogenaamde bedryfstelsel. Wanneer jy dus ’n tablet kies, het jy drie vername keuses[1]:

  1. ’n iOS-gebaseerde tablet:
    1. Apple iPad (begin teen omtrent R4 500 vir ’n ouer iPad 2 met WiFi)
    2. Apple iPad Mini (begin teen omtrent R3 500 vir ’n eerste generasie toestel met WiFi)
  2. ’n Android-gebaseerde tablet:
    1. Samsung Galaxy Tab (begin teen omtrent R6 000 vir ’n ouer Galaxy Tab 2 P5100 met WiFi)
    2. Samsung Galaxy Note (kos omtrent R7 000 vir ’n Galaxy Note N7100 met WiFi+3G)
    3. Goedkoper alternatiewe van ander maatskappy (kos so min as R1 500)
  3. ’n Windows-gebaseerde tablet:
    1. Lenovo en Dell (begin teen omtrent R5 000)

Die eerste twee groepe is verreweg die gewildste. Hoewel baie mense sal argumenteer dat ’n iPad beter is as ’n Samsung Galaxy Tab – of omgekeerd – is enige keuse tussen die twee hoofsaaklik ’n geval van smaak. As jy egter ’n slimfoon het (bv. ’n iPhone of ’n Samsung Galaxy), maak dit sin om ’n tablet te koop wat op dieselfde sagteware loop sodat jy maklik data en apps tussen die twee kan deel.

Indien koste jou grootste bekommernis is, sal jou beste opsie wees om ’n goedkoper Android-tablet te kry. Hierdie tablette behoort feitlik alles te kan doen wat hulle Samsung grootboet doen, hoewel ietwat stadiger en sonder etlike van die verbeterings wat met Samsung toestelle kom. Wanneer jy egter so ’n tablet koop, moet jy seker maak die batterylewe is goed (jy sal ten minste 8 ure se batterylewe wil hê om deur ’n dag se klasse te kom) en dat die tablet voldoende stoorruimte het (minder as 16 GB sal bietjie vinnig vol word).

Vir gedetaileerde spesifikasies oor beskikbare tablette, kliek hier (aflaaibare pdf)

WENK: Die Universiteit Stellenbosch vorm deel van die nasionale Studente Tegnologie Program (STP), wat skootrekenaars en tablette teen verlaagde pryse aanbied. Kyk gerus na hulle webwerf: www.stp.ac.za. Teen middel-September sal daar nog modelle bygevoeg word, onthou dus om gereeld te gaan kyk.

[1] Let wel dat die gelyste pryse van die tablette bloot as ’n algemene riglyn dien en in Januarie 2014 geldig was.

Gebruik ’n tablet om slimmer te leer (deel 1)

Vrydag, Augustus 22nd, 2014

Sedert tablette in 2010 die hoofstroom betree het, het ’n toenemende aantal studente begin om op hierdie slim toestelletjie te vertrou om hulle leerervaring na die volgende vlak te neem.

Daar is egter baie studente wat nog onbewus of onoortuig is van die voordele van tabletgebaseerde leer. In die volgende afdeling sal ons ondersoek instel na presies hoekom ’n tablet ’n fantastiese belegging is.

Hoekom ’n tablet?

Daar is basies vier redes:

1. Die mees voor-die-hand-liggende voordeel van ’n tablet is die vlak van mobiliteit wat dit bied. As ’n student sal jy heel moontlik ten minste ’n notablok, jou voorgeskrewe boeke en jou klasnotas met jou ronddra. En in sommige gevalle is ’n sakrekenaar, ’n woordeboek en ’n dagboek/kalender ook onmisbaar. Die gewig van al hierdie items word vinnig ’n uitputtende las – wat die rede is hoekom baie studente eenvoudig hulle swaar boeke by die huis los.

Met ’n tablet kan jy egter al hierdie hulpbronne kompakteer tot die grootte van ’n A5 notablok. Dan is daar nie meer ’n kans dat jy boeke of notas by die huis sal vergeet nie – alles wat jy benodig is net ’n paar vingertikke weg. Dít is ’n wenner eienskap op sigself.

2. Die ware akademiese waarde van ’n tablet word egter duidelik in sy potensiaal as ’n metgesel in die klaskamer. Nie net hou ’n tablet alles wat jy benodig byderhand nie, maar dit laat jou ook toe om hierdie hulpbronne op bruikbare wyses te manipuleer. Byvoorbeeld, jy kan boekmerke, veelkleurige onderstreping en notas by jou voorgeskrewe boeke en klasnotas voeg terwyl die dosent hulle bespreek. Jy kan ook baie doeltreffend ryk notas van jou eie skep.

Jy sal tik en teken op die skerm kan kombineer om byvoorbeeld sleutelpunte in klaskamer besprekings of diagramme en tabelle wat deur die dosent geteken word, vas te lê. Jy sal al hierdie notas netjies kan organiseer in vaklêers vir toekomstige verwysing.

Die beste wenner-eienskap van ’n tablet in die klas is egter die feit dat dit jou toelaat om op te neem wat in die klas gesê word, wat beteken dat jy na die opnames kan luister terwyl jy vir ’n eksamen voorberei. Hoewel dit nie prakties is om elke sekonde van elke klas op te neem nie (want – en laat ons nou eerlik wees – jy sal nooit weer na alles luister nie), is hierdie eienskap baie nuttig om belangrike dele van ’n dosent se verduideliking of van ’n bespreking in die klas op te neem.

Laastens, ’n tablet verskaf ook vinnige toegang tot nuttige verwysingsmateriaal. Moet jy vinnig die definisie van ’n woord naslaan of ’n berekening doen? ’n Tablet laat jou toe om albei teen die spoed van weerlig te doen, wat beteken dat jy nie jou gedagtegang in die klas sal verloor nie.

3. Tablette is nie net in die klaskamer so wonderlik nie. Enige student wat al deur hope en hope notas op papier moes swoeg om spesifieke inhoud voor ’n eksamen te hersien, sal weet hoe frustrerend, vervelig en ’n gemors van tyd dit kan wees.

Maar as al jou notas – en die skyfievertonings en uitdeelstukke wat deur die dosent verskaf is – netjies in ’n enkele toestel bymekaar is, waar dit met ’n paar tikke van die vinger toeganklik is, sal dit die gesukkel van papiergebaseerde eksamenvoorbereiding uitskakel en jou meer tyd gee om werklik te studeer.

4. Een voordeel van tabletgebaseerde leer wat gereeld misgekyk word, is die feit dat e-boek weergawes van voorgeskrewe en handboeke gewoonlik goedkoper is as hulle gedrukte weergawes.

Hoewel baie boeke nog nie in digitale formaat beskikbaar is nie, kan die besparing op dié wat wel is, vinnig ’n noemenswaardige bedrag uitmaak.En die gebruik van ’n e-boek bied natuurlik al die voordele van digitale leer, insluitend tydbesparings soos dat jy onmiddellik woorde en frases kan naslaan, na spesifieke bladsye en hoofstukke kan spring, veelkleurige onderstreping kan byvoeg en digitale notas kan maak.

Volgende keer : die keuses wanneer jy ’n tablet koop

[ARTIKEL DEUR JOHANNES JONKER]

Gevorderde wenke om die meeste uit Zotero te kry

Vrydag, Junie 13th, 2014

In `n vorige bloginskrywing het ons meer vertel van Zotero, `n kragtige verwysingsmiddel. Dié keer gee ons vir jou `n paar gevorderde wenke om die meeste daaruit te kry.

ALGEMEEN

  1. Indien jy gewoonlik deur die internet blaai met ’n ander blaaier as Firefox (bv. Google Chrome of Internet Explorer), is dit ’n goeie idee om Firefox as ’n “navorsing alleenlik” blaaier te gebruik. Deaktiveer al die onnodige byvoegsels en plugins en voeg vinnige skakels na jou gunsteling navorsingswebwerwe in jou boekmerk toolbar by. Op hierdie manier sal jy doeltreffende navorsing sonder afleidings kan doen wanneer jy Firefox oopmaak.

VERSAMELING VAN BRONNE

  1. As jy met Google Scholar, JSTOR of iets soortgelyks blaai en beide die adreslyn ikoon en die Aflaai (Export) skakel vir ’n spesifieke item vertoon word, gebruik eerder laasgenoemde. In sommige gevalle kan Zotero nie die volledige metadata vir die item ekstraheer wanneer dit poog om dit automagies te doen nie. In hierdie (skaars) gevalle is die metadata wat deur die bron (Google Scholar, JSTOR, ens.) verskaf word, meer akkuraat en dit maak dus meer sin om die “Aflaai” skakel te gebruik.
  2. Leer hoe om ZotFile te gebruik. Hier slim byvoegsel sal jou toelaat om volteks PDF’s van jou artikels uit vaktydskrifte op jou hardeskyf te stoor. Dit sal jou ook toelaat om hierdie PDF’s na jou tablet te stuur, waar jy dan met behulp van jou gunsteling PDF app hulle van aantekeninge kan voorsien. Daarna trek dit die geannoteerde PDF’s terug in jou biblioteek in. Hierdie is briljant as jy gedagtes wil neerskryf terwyl jy ’n artikel lees.

ORGANISEER JOU BRONNE

  1. Die maklikste manier om jou bronne te organiseer is deur versamelings (collections) te gebruik. Tags of merkers is agter ook baie nuttig om ‘statusse’ aan jou bronne toe te ken. Jy kan byvoorbeeld besluit om die merker “Begin” by all die bronne wat jy reeds vir ’n spesifieke projek begin lees het, te voeg. Wanneer jy klaar is met ’n spesifieke bron kan jy die merker “Klaar” byvoeg. Jy kan ook ’n merker gebruik om die gehalte van die bron aan te dui, byvoorbeeld “Nie van toepassing nie” of “Awesome”. Lees hierdie artikel vir raad oor die gebruik van versamelings en merkers.

AANHALINGS IN `N DOKUMENT

  1. Jy kan jou eie aanhalingstyl skep indien – die hemel verhoed – geen van die bestaande style jou behoeftes vervul nie. Wees egter gewaarsku dat dít heelwat tegniese vaardigheid neem.
  2. In Microsoft Word kan jy sleutelbord kortpaaie skep om aanhalings in te voeg en aanhalings te redigeer. Dan sal dit vir jou nóg makliker wees om aanhalings in te voeg terwyl jy tik (wat letterlik die tyd om ’n aanhaling in te voeg, verkort tot ’n paar sekondes). Jy kan byvoorbeeld CTRL+ALT+D aanwys om ’n aanhaling in te voeg, en CTRL+ALT+E om ’n aanhaling te redigeer.
FINALE PUNT

Die kanse is goed dat jy moeilik sal onthou hoe jy navorsing sonder Zotero gedoen het sodra jy begin om dit te gebruik. Buiten die korttermynvoordele wat hierbo uiteengesit is, het die gebruik van Zotero ook die langtermyn voordeel dat jy geleidelik jou eie navorsingsbiblioteek opbou, wat ’n mate van samehang in jou verskillende opstelle/artikels/skripsies sal verseker.

Ter afsluiting, en ter opsomming: Zotero hanteer die kern praktiese sake van navorsing, wat jou ten volle laat konsentreer op wat die belangrikste is: die interpretasie van huidige kennis en die bydra van jou eie kennis.

[ARTIKEL BY JOHANNES JONKER]

 

 

Sukkel met bestuur van nagraadse studente?

Vrydag, Junie 6th, 2014

Twee weke gelede het ons julle bekendgestel aan NAO (Nagraadse Akademiese Ondersteuning/Postgraduate Academic Support), `n webgebaseerde stelsel om jou te help om jou nagraadse studente se inligting sonder moeite te bestuur. 

Die vrae wat die meeste gevra word deur personeellede reeds bekend met NAO, is die volgende: 

  1. Hoekom is NAO nie op my.sun.ac.za beskikbaar nie?  Ek verloor aanmekaar die skakel na die stelsel!
  2. Kan jy nie ‘n towerstaffie swaai en ontslae raak van al die vorms wat ons moet invul en met interaktiewe vorms vervang nie?
  3. Kan jy ons asb laat weet as daar iets nuuts op die NAO front gebeur het? 

Die goeie nuus is dat vraag 1 en 2 volgende semester aandag gaan ontvang. Vir vraag 3 is daar reeds ‘n oplossing. Bits & Bytes en die blog sal voortaan gebruik om inligting ivm NAO bekend te maak. 

Wat vraag 1. hierbo betref, word daar beoog om ‘n werkvloei-proses in plek te stel waarmee peroneellede magtiging by hul lynhoofde moet verkry om die stelsel te gebruik.  Die rede hiervoor is dat sensitiewe inligting, wat noodsaaklik is vir die bestuur van nagraadse studente, via die stelsel verkry kan word en jou lynhoof sal weet of jy toegang behoort te hê of nie.  

Inligting in verband met die uitkoms van bg magtigingsproses moet ook aan die US ouditeure beskikbaar wees sodat hulle kan bepaal of daar aan betrokke wetgewing voldoen word wat betref die privaatheid van individue se persoonlike inligting, wie toegang het en wie toegang verleen het. 

Wanneer hierdie toepassing in plek is, sal personeellede via my.sun.ac.za kan aansoek doen om toegang tot NAO en ‘n spesifieke Rol binne die stelsel ontvang op grond van vrae wat vooraf beantwoord en deur die lynhoof bekragtig moet word. 

Vraag 2. hierbo is ‘n onderwerp wat al lank onder bespreking is.  Die rigting waarin daar tans gedink word, is generiese vorms vir verskillende doeleindes, wat outomaties deur NAO  met die korrekte inligting  bevolk word, soos benoeming van M en PhD-kandidate, benoeming van Studieleiers/Promotors en talle ander voorbeelde, maar wat deur alle Fakulteite/Departemente gebruik kan word.    

Die inligting wat deur die vorms van verskillende Fakulteite ingewin word, stem 95% ooreen en die gedagte is om die ander 5%  as opsioneel by te voeg sodat personeel dit kan invul indien hulle areas dit benodig. 

Om NAO-gebruikers geinteresseerd te kry, sal daar gaandeweg prototipes via NAO bekend gestel word om sodoende terugvoer van personeel te kry. Jy is ook welkom om jou idees en voorstelle op hierdie blogpos te kommentaar-area te plaas en ons te laat weet wat jou opinie is.   Jy kan ook vir Rita de Jager kontak.

 

[ARTIKEL DEUR: Rita de Jager (Hoof: Nagraadse Akademiese Ondersteuning, Informasietegnologie, US)]

 

 

 

© 2013-2025 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.