Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

wolk stoorspasie

OneDrive: 5TB net vir jou

Maandag, Julie 31st, 2017

Sedert Junie vanjaar het alle personeel volledige toegang tot die aanlyn Office65-toepassings. Buiten Outlook e-pos, toegang tot die MS-toepassings (byvoorbeeld Word, Excel, PowerPoint, ens.) en die aflaaibare Office 2016 programmatuur, is daar een voordeel wat uitstaan bo die res – OneDrive. 

OneDrive gee vir elke personeellid en student 5TB se wolkstoorspasie. Dit beteken dat jy nou oorgenoeg spasie het om jou dokumente te stoor. Jou data sal ook beskikbaar wees vanaf enige plek, enige tyd en met enige toestel wat aan die internet verbind is. 

Wat is die voordele van wolkdienste?

  • Meer stoorspasie beskikbaar – tot 5TB op OneDrive en 50GB op Outlook.
  • Jou data is beskikbaar vanaf enige plek, enige tyd en op enige toestel. Jy sal altyd toegang tot jou data hê as jy `ʼn internetverbinding het. 
  • Jou inligting word veilig gestoor, selfs al verloor jy een van jou toestelle. 

Wat is die nadele van wolkdienste? 

  • Raak vertroud met kopiereg-regulasies. Maak seker jy weet wat jy aanlyn mag stoor en deel. US kopiereg-ooreenkomste sluit nie die stoor en deel van dokumente wat beskerm word onder kopiereg op OneDrive for businessSharePoint online of enige ander publieke stoorspasies in nie.
  • Jy is volledig verantwoordelik vir jou eie inligting.  Wees versigtig vir wie jy regte en toegang gee, aangesien dit jou inligting in gevaar mag stel as dit sigbaar is vir ander mense. 
  • Jy is verantwoordelik vir die sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data. Sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data moet korrek opgestel word en op `ʼn gereelde basis uitgevoer word. 
  • Hou in gedagte dat die gebruik van wolkdienste terwyl jy op kampus is, nie enigiets sal kos nie, maar as jy tuis werk sal jou eie datakostes gehef word. 
  • Dit is baie belangrik dat jy jou privaat gebruikersname, wagwoorde en inligting apart hou van jou amptelike werk om te voorkom dat jou data deurmekaar raak. 
  • Digitale identifikasie is kwesbaar as jy toegang tot die wolk het vanaf enige rekenaar. Moenie rekenaars of toestelle wat jy nie vertrou nie, toelaat om jou wolkdienste te gebruik nie. 

Wat as ek OneDrive personal, Dropbox of ander wolkopsies gebruik? 

Jy kan aanhou om dit te gebruik, maar dis baie belangrik dat jy hierdie opsies slegs vir persoonlike data gebruik.

OneDrive for business en SharePoint online is beskikbaar onder die US MS lisensieooreenkoms vir stoor en deel van institusionele data. Stoor en deel van institusionele data word nie toegelaat op Dropbox, OneDrive personal of enige ander wolkstoorspasie nie. 

Hoe kry ek toegang tot my OneDrive spasie?

Alle personeel het reeds outomaties toegang tot OneDrive. Jy hoef net op Office365 aan te teken met jou e-posadres en wagwoord. Dis ook beskikbaar op die portaal deur op die Office365 skakel te kliek of Office365 in die soekveld in te tik.

BELANGRIK:

  • Wanneer jy wolkgebaseerde dienste gebruik, is dit geweldig belangrik dat jy jou privaat-gebruikersname en werk-gebruikersname, wagwoorde en data apart van mekaar gehou word. Moet nooit dieselfde gebruikersnaam vir jou privaat en werk-eposrekeninge, -stoorspasie en -toepassings gebruik nie.
  • US kopiereg-ooreenkomste sluit nie die stoor en deel van dokumente beskerm onder kopiereg op OneDrive for businessSharePoint online of enige ander publieke stoorspasies in nie.

Indien jy enige navrae het, laat weet ons asseblief deur `n versoek aan te meld op ServiceNow of ons Dienstoonbank te kontak by 808 4367. Vir meer inligting oor die Office365 pakket, raadpleeg asseblief ons FAQs of kyk na die Office365 opleidingsvideos.

Die wolk is oppad

Vrydag, September 26th, 2014

24726-cloud-outline-vector

Binne die volgende paar maande gaan Matie-studente e-pos kan stuur soos nooit tevore.

As jy `n gereelde Twitter-gebruiker is of soms in die Neelsie of Biblioteek ronddwaal, het jy waarskynlik al kennisgewings opgemerk wat verwys na die “cloud”. Moenie bekommerd wees nie – ons verwys nie na die ontwykende son en tipiese Kaapse weer nie. Inteendeel, hierdie wolk bring goeie nuus.

Studentegetalle het oor die afgelope paar jare met rasse skrede toegeneem en daarmee saam die behoefte vir meer e-pos stoorspasie. Tot hede is alle studente se e-pos gehuisves op die universiteit se bedieners, maar spasie is besig om uit te loop. Die dae van e-pos op plaaslike bedieners huisves, is iets van die verlede.

Sedert verlede jaar ondersoek Informasietegnologie moontlike oplossings vir die probleem en die gevolgtrekking is gemaak dat Office 365 die beste keuse vir studente e-posse is. MS Office en Microsoft bedryfstelsels word reeds gebruik in studente rekenaargebruiksareas en sal gevolglik maklik kan integreer met bestaande tegnologie.

Met die wolkpos-projek betree Universiteit Stellenbosch `n nuwe fase van e-pos en hoewel personeel dieselfde pad gaan stap, is die grootste behoefte tans om eers alle studente se e-pos te skuif.

Die teikendatum vir die migrasie is Oktober. Ons sal studente egter deurlopend op hoogte hou van verwikkelinge deur middel van Twitter.

`n Webblad sal beskikbaar gestel word waar studente self kan migreer en die wolk-platform toets. Studente kan dus self kies wanneer hulle wil migreer. Diegene wat teen die Desember nog nie self migreer het nie, sal outomaties teen die einde van die jaar deur IT geskuif word na die Office 365.

Maar hoekom sukkel met min spasie as jy `n volle 50GB tot jou beskikking kan hê? Office 365 bied ook ander voordele soos stoorspasie op OneDrive en aanlyntoegang tot Microsoft toepassings soos Word, Excel, ens.

As jy meer wil weet oor die Wolkpos-projek, volg ons op Twitter by @ITStellenUni of #theitcloud.

Te veel data? Bêre dit op `n wolk

Vrydag, April 12th, 2013

Verlede jaar het ons julle meer vertel van “cloud storage”, wat dit behels en wat die opsies is as jy jou inligting erens op `n wolkie wil bêre. (lees die artikels hier) As jy nog nie die groot virtuele stap geneem het nie, het ons vandag meer inligting vir jou – die keer spesifiek oor Microsoft se Skydrive.

Wat is SkyDrive?

SkyDrive is a leêr huisvestingsdiens wat aan gebruikers die geleentheid gee om leêrs op te laai en sinkroniseer na `n wolkbergingsfasiliteit en daarna toegang daartoe te verkry deur middel van `n webblaaier of jou plaaslike toestel.

Wat bied SkyDrive my?

Die diens bied 7 GB gratis stoorspasie en ekstra spasie is te koop beskikbaar. Leêrs van tot 300 MB kan opgelaai word deur die webblaaier met `n sleep-en-los-proses of tot  2 GB deur middel van die SkyDrive gebruikskoppelvak-toepassing (desktop app) vir Microsoft Windows en OS X.

Met die SkyDrive gebruikskoppelvlak-toepassing vir Windows of Mac, is jou leêrs aanlyn of van lyn af beskikbaar en word dit outomaties oor alle toestelle opgedateer. Jy kan ook toegang tot SkyDrive verkry deur `n splinternuwe toepassing vir Androi v2.3 of die opgedateerde toepassing vir Windows Phone, iPhone, en iPad te gebruik.

Die Office toepassingss (Word, Excel, etc.) laat jou toe om jou dokumente by verstek na die SkyDrive gids op jou plaaslike rekenaar te stoor. Met die hulp van SkyDrive word daardie leêrs gesinkroniseer met jou dokumente in jou SkyDrive wolkstoorspasie – en gevolglik het jy toegang van enige plek en kan jy jou dokumente aanlyn redigeer met die webweergawe van Microsoft Office.

Aanlyn samewerking word aansienlik vergemaklik met nuwe Office Web toepassings, insluitende Excel vorms, mede-outeurskap in PowerPoint en ingebedde Word-dokumente. As jy dokumente deel met ander mense wil deel, word `n skakel outomaties aan hulle gegee waarmee hulle deur hul eie SkyDrive-rekening toegang tot die dokumente kan kry. Hulle kan veranderinge aanbring aan die dokumente terwyl jy ook daaraan werk en jy kan die veranderinge  sien soos dit verander word. Wanneer jy dus die dokument wil stoor, sal jy die opdaterings van die ander persoon ontvang. Indien daar enige konflikte is, sal jy daarvan in kennis gestel word en die geleentheid kry om dit aan te pas. Jy kan ook die geskiedenis van al die vorige weergawes nagaan.

Indien jy enige dokumente uitvee van SkyDrive, laat die diens jou toe om die aksie te herroep en die verwyderde dokument te herstel na sy oorspronklike leêr uit die Recycle bin. Alle items in die Recycle bin word vir `n minimum van 3 dae gestoor en `n maksimum van 30 dae.

SkyDrive is ten volle geintegreer met sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en LinkedIn om aan gebruikers die geleentheid te gee om vinnig leêrs met hulle kontakte te deel op hierdie netwerke. Dit ondersteun ook geo-ligging data vir fotos wat opgelaai word en sal outomaties `n kaart wys indien `n ligging gemerk word. SkyDrive laat ook gebruikers toe om persone te merk op fotos deur middel van die webkoppelvlak of deur die Windows fotogallery. 

Addisioneel tot bogemoemde funksies kan jy ook leêrs sorteer, leêr uitlegte verander, foto skyfievertonings kyk en video stroom. Al hierdie funksionaliteit op een plek, veilig in die wolke.

[SOURCE: Wikipedia]

 

(more…)

Elke wolk het `n silwer randjie

Vrydag, Augustus 31st, 2012

Moenie `n fout maak nie, die beweging na “cloud computing” is `n groot verskynsel, maar voordat jy al jou sensitiewe en akademiese inligting alles die wye wêreld instuur, is dit belangrik dat jy moet weet wat die voor-en nadele, asook die risikos is.

VOORDELE

Die grootste voordeel van “cloud”-berging is die vermoë om toegang tot jou data of sagteware te hê vanaf enige plek, enige tyd en op enige toestel. Jy hoef nie meer jou skootrekenaar, flitsskyf of eksterne hardeskyf rond te dra sodat jy al jou inligting naby het nie.

Aangesien jou data gestoor word op `n sentrale plek en toeganklik is via die internet, is dit makliker om dokumente te deel  en kollegas kan saam aan dieselfde dokument werk sonder om dit met e-pos heen en weer te stuur. As jou dokumente ook op een plek gestoor is, is dit net soveel makliker om te kry waarvoor jy soek. Google Docs stoor byvoorbeeld jou dokumente in chronologiese volgorde en gee jou ook die opsie om hulle in leêrs te sorteer.

Jy hoef ook nie bekommerd te wees oor die veiligheid van jou inligting nie – as jou kantoor afbrand of jou geyser bars en jou studeerkamer verspoel, sal al jou data nog veilig erens ver weg gebêre wees.

Ook vir maatskappye, is daar minder oorhoofse uitgawes. Die maatskappy betaal slegs vir die diens gelewer en spaar op onderhoud, gebruikerslisensies en uitgawes soos elektrisiteit en rakspasie.

NADELE

Soos ons gesien het, is daar `n hele paar voordele verbonde aan databerging op die “cloud”, maar ongelukkig is daar ook een groot nadeel. Dit werk net as daar internettoegang, omdat dit afhanklik is van internettoegang. As Telkom of Mweb dus probleme ondervind, is die “cloud” en jou data onbereikbaar. Werkverrigting hang ook af van die internetspoed en die hoeveelheid mense wat toegang het daartoe.

Selfs al bespaar maatskappye oorhoofse kostes met die gebruik van `n  “cloud” , kan gebruikskostes maatskappye `n lelike knou gee as dit nie gemonitor en reg bestuur word nie. Wees baie versigtig as jy leêrs deel met ander mense. As jy `n 500 MB leêr met drie ander mense deel, sal dit drie keer sinkroniseer – maw `n koste van 1500MB se data. As jy dit sinkroniseer met jou rekenaar, iPad en iPhone betaal jy elke keer en as jy 3G (wat tussen 15c en R1-00 per MB kan kos) gebruik, kan dit `n aardige bedraggie word. Probeer om jou internetverbruik noukeurig na te gaan as jy van “clouds” gebruikmaar – anders mag jy dalk aan die einde van die maand `n onwelkome verrassing kry.

Privaatheid en sekuriteit  is nog `n “cloud” tammeletjie. Daar is veiligheidsmaatreëls om gebruikers te beskerm in plek, maar die vlak van sekuriteit en privaatheid wat nodig is, is nogsteeds `n grys area. Tegnies gesproke kan die “cloud”-diensverskaffer enige tyd toegang kry tot sy kliënt se informasie en ook data verander of verwyder. Fisiese beheer oor private “cloud”-toerusting bly steeds meer sekuur as toerusting  wat nie op die perseel en onder iemand anders se beheer is nie.

Kliëntedata sal ook nie noodwendig in dieselfde datasentrum of selfs op dieselfde “wolk” bly nie. Dit opsigself veroorsaak vrae  op `n regsvlak oor die jurisdiksie van data.

Ongelukkig is “clouds” ook tot `n mate weerloos teen bedreigings en kriminele  sal poog om nuwe wyses te kry om hierdie weeloosheid uit te buit.  Vele onderliggende uitdagings en risikos kom te voorskyn as data bedreig word.

Kies dus versigtig watter diens jy jou kosbare inligting aan wil toevertrou en maak seker dat dit altyd beskikbaar sal wees as jy dit nodig het.

(SOURCES: Regan Januarie (IT User Services), http://www.ahimajournal-digital.com), www.wikipedia.org)

`n Gids tot datarugsteuning

Vrydag, Augustus 31st, 2012

Of dalk moet die titel van die artikel eerder wees  “Hoe om jou verslawing aan uitstel te oorwin in 5 maklike stappe!”. Want, kom ons wees nou maar eerlik, daar is `n magdom interessanter dinge wat ek eerder sal doen as om elke Vrydag my data te rugsteun.

Tensy jy lus is om al jou harde werk weer oor te doen en moontlik kosbare inligting te verloor, probeer om in `n roetine te kom van datarugsteun. Moenie uitstel nie, doen dit so gou as moontlik. Kies `n dag in die week – dalk `n tydjie wat minder besig is en dinge rustiger op kantoor is – soos `n Vrydagmiddag en maak elke week  dieselfde tyd `n nota in jou dagboek vir data rugsteun. Jy sal gou genoeg in die gewoonte kom om dit te doen tussen jou ander werk deur.

Moenie elke keer net jou vorige rugsteun kopie oorskryf nie – maak liewer ‘n paar opeenvolgende kopiee in verskillende gidse op die rugsteunskyf of rekenaar. Maak byvoorbeeld  elke week  ‘n nuwe gids met daardie dag se datum in die naam. Indien enige van jou dokumente dan op ‘n manier korrup word, byvoorbeeld a.g.v. probleme met jou hardeskyf, kan jy terugval na ‘n vorige weergawe wat nog reg was.

Maak van gereeld seker dat die medium waarop jy rugsteun nog in werkende toestand is en dat die dokumente wel oopgemaak kan word. Juis ook om hierdie rede, maak gebruik van meer as een rugsteunmedium, byvoorbeeld jou netwerkspasie EN `n eksterne hardeskyf.

`n Vorige keer het ons vertel van die nuwe Sharepoint weergawe wat nou tot julle beskikking is. Sharepoint is `n effektiewe en kragtige hulpmiddel vir inligtingsbestuur en samewerking waar spanlede inligting kan deel en saamwerk. Sharepoint is egter nie `n platform waar gebruikers hulle data kan rugsteun nie.

SharePoint 2010 word tans gebruik vir Teamsites, wat hoofsaaklik deur groepe (fakulteite of departemente) gebruik word en een lid van so ‘n groep word opgelei om regte en dokumente op hierdie webomgewing in te rig en bestuur.

Elke personeellid het ook toegang tot sy eie netwerkspasie waar jy gratis `n beperkte hoeveelheid data kan stoor. As jy verkies om jou data eerder in jou eie hande te hê, kry vir jou `n eksterne hardeskyf of dvd-skywe (die hoeveelheid data wat jy op laasgenoemde kan stoor is egter beperk). Moet nooit data rugsteun op `n flitsskyf nie – dis slegs bedoel vir data oordra van een toestel na `n ander en is glad nie betroubaar nie. Jy mag dalk een oggend verras word met snaakse karaktertjie in plaas van jou belangrike aanbieding of tesis.

Laastens is daar natuurlik die “cloud”, soos julle nou al tot vervelens gehoor het in die week se nuusbrief! Jy kan gebruikmaak van `n verskeidenheid “cloud”-opsies. (Lees meer oor voor- en nadele hier.)

Daar is net twee belangrike feite om in gedagte te hou ivm “clouds”. Gebruik hierdie opsie slegs vir persoonlike inligting, nie vir enige akademiese inligting of data wat sensitief is nie. As jy verskeie toestelle gebruik, onthou dat sekere van hierdie dienste elke keer sinkroniseer tussen jou toestelle – as jy dus 500 MB se data het op een plek en jy het 3 toestelle, gaan jy betaal vir 1500 MB se data. Dit mag na min klink maar as jy `n 3G modem gebruik, gaan jou rekening aan die einde van die maand angswekkend lyk.

Meeste van die dienste het gratis opsies wat genoeg spasie gee vir jou belangrikste lêers om veilig aanlyn gestoor te word, en dit kan selfs outomaties die lêers sinkroniseer tussen jou werk- en tuisrekenaars, wat beteken jy hoef nie dokumente op ‘n flashdrive rond te dra en te onthou om dit te kopieer sodat jy vanaand by die huis kan verder werk aan daardie aanbieding nie – sodra jy dit stoor is dit binne sekondes ook op die ander rekenaar!

Die onderskeie aanlyn dienste het elkeen maar so ‘n paar onderskeidende eienskappe wat een of twee voordele oor die ander bied, dus moet mens maar jou behoeftes ontleed vir data rugsteun en/of sinkronisasie en die beste een vir JOU kies. Lees hier meer oor die verskillende opsies vir “clouds”.

(FEITE VERSKAF DEUR NEELS BLOM, IT USER SERVICES)

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.