Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Onedrive

Microsoft 365 vs. Office 365: Wat is die verskil?

Dinsdag, Junie 4th, 2019

Microsoft 365 vs. Office 365: Wat is die verskil?

Konsekwentheid van produkname is belangrik as jy nie jou kliënte wil verwar nie, maar as jy veelvuldige produkte met verskeie weergawes het, kan dinge begin deurmekaar raak. Ja, Microsoft, ons kyk na jou…

Microsoft het Microsoft 365, ’n groep bestaande produkte, onder een lisensie bekendgestel. Die naam is soortgelyk aan die reeds bestaande Office 365 (en die onlangse naamverandering van Dynamics 365). Heelwat mense het in der waarheid alreeds Office 365 eerder Microsoft 365 begin noem.

So dis maklik om te sien hoe hierdie twee produkte verwar kan word met mekaar. Dit raak selfs meer verwarrend as jy besef dat Microsoft 365 ook Office 365 insluit.

Kom ons kyk na die verskille:

Die kort weergawe

Office 365 is ’n wolkgebaseerde stel produktiwiteitstoepassings soos Outlook, Word, PowerPoint, ens. Microsoft 365 is ’n groep dienste wat Office 365 insluit, sowel as etlike ander dienste, insluitende Windows 10 Enterprise.

Die lang weergawe

Office 365

Office 365 is ’n wolkgebaseerde stel toepassings en dienste gebou rondom produktiwiteit in besigheid. Dit sluit toepassings in wat jy waarskynlik reeds ken, soos Microsoft Outlook, Word, PowerPoint, Excel, Skype for Business, SharePoint, OneDrive en Teams, sowel as ander kragtige produktiwiteit-, saamwerk- en sekuriteitseienskappe.

Microsoft 365

Microsoft 365 is ’n groep dienste wat Office 365 insluit. Dit sluit ook Windows 10 Enterprise, Enterprise Mobility + Security (EMS) en masjienleer in. Soos die naam aandui is dit meer gerig op groter organisasies wat ’n enkele, veilige platform benodig waar daar gedeel en saamgewerk moet word. Dit sluit sterk data-eienskappe bo en behalwe Windows 10 Pro en Office 365.

Wat is ingesluit by Microsoft 365 in vergelyking met Office 365?

Beide produkte het die vermoeë om volledig geïnstalleerde Office-toepassings op fone, tablette en PCs te loop, sowel as die webblaaier weergawes. Jy kry 1TB persoonlike stoorplek vir jou lêers, besigheid e-posse en kalenders. Jy het ook toegang tot Skype for Business vir kitsboodskappe en video-oproepe, sowel as Microsoft Teams en nuwe hulpmiddels soos Delve en Planner.

Die verskil kom in by die bestuur van toestelle. Anders as Office 365, kom Microsoft 365 met ’n enkele konsole waar gebruikers en toestelle bestuur kan word. Jy kan ook outomaties Office-toepassings uitrol na Windows 10 PCs.

Office 365 het geen sekuriteitshulpmiddele nie. Die alternatief het die vermoeë om data te beskerm oor verskeie toestelle en ook veilige toegang. Jy kan ook Windows 10 toestelle beskerm teen risiko’s soos malware deur middel van Windows Defender.

[ARTIKEL DEUR MANDY WANZA]

OneDrive for Business: Anonieme deel van lêers    

Maandag, Januarie 22nd, 2018

Informasietegnologie het onlangs ons OneDrive for Businessplatform herevalueer om te verseker dat daar nie enige sekuriteitsrisiko’s vir ons gebruikers en netwerk is nie. Na aanleiding van die evaluering het ons ʼn aantal gebruikers geïdentifiseer wat die anonieme funksie (“Anyone with the link can view and edit”) op OneDrive gebruik om lêers te deel.

Indien lêers anoniem gedeel word, is daar geen beheer of rekord van wie toegang tot die gedeelde lêers het nie. Enige persoon met die skakel het toegang en kan inhoud verander. Dit bied ʼn hoë sekuriteitsrisiko vir die Universiteit en ons gebruikers. Gevolglik is ons verplig om die anonieme deel van lêers af te skakel.

Vanaf Donderdag, 1 Februarie 2018 sal jy nie meer lêers anoniem kan deel op OneDrive nie. Dit sal steeds moontlik wees om inligting te deel met interne en eksterne gebruikers, maar met ʼn strenger vlak van sekuriteit.

Handleidings vir die beste praktyk vir deel van lêers op OneDrive is beskikbaar by www.sun.ac.za/itselfhelp onder die Office365 afdeling of direk op hierdie bladsy. Indien jy enige navrae het, kontak asb. die IT Dienstoonbank deur e-pos te stuur aan help@sun.ac.za of 808 4367 te skakel.

OneDrive: 5TB net vir jou

Maandag, Julie 31st, 2017

Sedert Junie vanjaar het alle personeel volledige toegang tot die aanlyn Office65-toepassings. Buiten Outlook e-pos, toegang tot die MS-toepassings (byvoorbeeld Word, Excel, PowerPoint, ens.) en die aflaaibare Office 2016 programmatuur, is daar een voordeel wat uitstaan bo die res – OneDrive. 

OneDrive gee vir elke personeellid en student 5TB se wolkstoorspasie. Dit beteken dat jy nou oorgenoeg spasie het om jou dokumente te stoor. Jou data sal ook beskikbaar wees vanaf enige plek, enige tyd en met enige toestel wat aan die internet verbind is. 

Wat is die voordele van wolkdienste?

  • Meer stoorspasie beskikbaar – tot 5TB op OneDrive en 50GB op Outlook.
  • Jou data is beskikbaar vanaf enige plek, enige tyd en op enige toestel. Jy sal altyd toegang tot jou data hê as jy `ʼn internetverbinding het. 
  • Jou inligting word veilig gestoor, selfs al verloor jy een van jou toestelle. 

Wat is die nadele van wolkdienste? 

  • Raak vertroud met kopiereg-regulasies. Maak seker jy weet wat jy aanlyn mag stoor en deel. US kopiereg-ooreenkomste sluit nie die stoor en deel van dokumente wat beskerm word onder kopiereg op OneDrive for businessSharePoint online of enige ander publieke stoorspasies in nie.
  • Jy is volledig verantwoordelik vir jou eie inligting.  Wees versigtig vir wie jy regte en toegang gee, aangesien dit jou inligting in gevaar mag stel as dit sigbaar is vir ander mense. 
  • Jy is verantwoordelik vir die sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data. Sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data moet korrek opgestel word en op `ʼn gereelde basis uitgevoer word. 
  • Hou in gedagte dat die gebruik van wolkdienste terwyl jy op kampus is, nie enigiets sal kos nie, maar as jy tuis werk sal jou eie datakostes gehef word. 
  • Dit is baie belangrik dat jy jou privaat gebruikersname, wagwoorde en inligting apart hou van jou amptelike werk om te voorkom dat jou data deurmekaar raak. 
  • Digitale identifikasie is kwesbaar as jy toegang tot die wolk het vanaf enige rekenaar. Moenie rekenaars of toestelle wat jy nie vertrou nie, toelaat om jou wolkdienste te gebruik nie. 

Wat as ek OneDrive personal, Dropbox of ander wolkopsies gebruik? 

Jy kan aanhou om dit te gebruik, maar dis baie belangrik dat jy hierdie opsies slegs vir persoonlike data gebruik.

OneDrive for business en SharePoint online is beskikbaar onder die US MS lisensieooreenkoms vir stoor en deel van institusionele data. Stoor en deel van institusionele data word nie toegelaat op Dropbox, OneDrive personal of enige ander wolkstoorspasie nie. 

Hoe kry ek toegang tot my OneDrive spasie?

Alle personeel het reeds outomaties toegang tot OneDrive. Jy hoef net op Office365 aan te teken met jou e-posadres en wagwoord. Dis ook beskikbaar op die portaal deur op die Office365 skakel te kliek of Office365 in die soekveld in te tik.

BELANGRIK:

  • Wanneer jy wolkgebaseerde dienste gebruik, is dit geweldig belangrik dat jy jou privaat-gebruikersname en werk-gebruikersname, wagwoorde en data apart van mekaar gehou word. Moet nooit dieselfde gebruikersnaam vir jou privaat en werk-eposrekeninge, -stoorspasie en -toepassings gebruik nie.
  • US kopiereg-ooreenkomste sluit nie die stoor en deel van dokumente beskerm onder kopiereg op OneDrive for businessSharePoint online of enige ander publieke stoorspasies in nie.

Indien jy enige navrae het, laat weet ons asseblief deur `n versoek aan te meld op ServiceNow of ons Dienstoonbank te kontak by 808 4367. Vir meer inligting oor die Office365 pakket, raadpleeg asseblief ons FAQs of kyk na die Office365 opleidingsvideos.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.