Oefeningsuitstappie na Steenbras & Koeëlbaai

18 Maart 1933

Die eerste uitstappie van die BTK hierdie jaar!

Baie was in hierdie woorde opgesluit. Vir die nuweling het dit nuwe ondervinding beteken, vir die veteraan het dit kans gegee om nuwe kennisse te maak en ou kennisse te vernuut.

Almal wat dan ook kon gaan het opgedaag en die Saterdagmôre net na die son sy kop agter Sonkop uitgesteek het, het drie groot lorries een-en-tagtig singende en laggende entoesiaste opgelaai voor die “Uitspan”.

Deur die verfrissende môrelug het ons gery tot op Gordonsbaai en daarvandaan die nuwe seepad geneem Steenbrasmond toe.

‘n Reëntjie het ons langs die pad kom begroet, maar dit was gou-gou oor – net maar om te wys dat dit hier langs die see ook kan reën. Na ongeveer ‘n uur en ‘n kwart kom ons by Steenbrasrivier aan en baie nuwelinge sien vir die eerste keer hoe dat ‘n rivier in die see in loop.

Verantwoordelike persone het dadelik ‘n vuurtjie aangeslaan en weldra drink almal BTK-koffie. Dit was lekker! – veral vir die wat na hul flinke stap van Gordonsbaai ‘n swemmetjie in die monding van die rivier gaan neem het.

Kort daarna is die stap na Koeëlbaai aanvaar. Aangesien ons ‘n nuwe voetpad moes volg, was die stap nou minder maklik. Met hier en daar ‘n paar voete te vol blare en een dametjie met ‘n verswikte enkel het ons op Koeëlbaai aangekom.

Daar was darem vir jou ‘n baljaardery in die water dié dag, maar ons moes versigtig wees, want die vorige jaar het twee toeriste amper daar verdrink.

Na ‘n uurtjie het ons weer gaan eet, en na nog ‘n bietjie swem, kruiwa speel en ogies knip is die terugtog aanvaar. Moeg en afgemat het ons by Gordonsbaai aangekom laat die middag.

Daar het die lorries ons ingewag en singende is ons terug na Stellenbosch – elkeen tevrede met die dag en met homself. Die oefeningsuitstappie was ‘n volslae sukses!

T Coertze

TWEEDE WATERVAL – UITSTAPPIE Mei 1933

Twee agtereenvolgende ondernemings van ons het die reën laat verongeluk maar ons entoesiasme is met water nie te blus nie – nie solang as daar berge is wat almaardeur uitdaag nie, nie solang as die geur van die velde ons agtervolg nie, nie solang as onvergeetlike natuurbeelde obsiderend opdoen voor ons geestesoog en ons dwing, ja dwing om gehoor te gee aan hul geroep nie.

En so ‘n klompie van ons ten spyte van die nat veld en die snyend koue oggendwindjie weer ‘n excursie gemaak na Tweede Waterval – en seker nie een het teleurgesteld terug gekom nie. Die reën wat ons vorige uitstappies weggespoel het het egter ook die stroom van die Waterval aansienlik geswel en ons iets besonders te sien gegee by wyse van vergoeding en niemand het seker omgegee om so ‘n ligte stortbadjie te ontvang in ruil vir wat hy met sy oë kon inneem en saamdra huistoe nie! – net sommige moes duurder betaal, moes ‘n sitbad neem op die koop toe – natuurlik omdat hul meer wou kyk!

Oortollig was die energie van sommige die dag. Om uiting te gee daaraan het hul met die terugkom nog ‘n draai by die Eerste Waterval ook gaan maak terwyl party selfs die hele end pad terug Stellenbosch toe gestap het.

Reën energie, entoesiasme blus ….?

Inteendeel!

A Dreyer

GALAWEEK – JONKERSHOEK & TWEELINGSPIEK – UITSTAPPIE

1 – 2 Desember 1933

“Ons gaan bo in Jonkershoek slaap, en die volgende dag Pieke klim, weet jy?”

“So? wraggies ek gaan ook saam.” Baie sulke gesprekkies het gemaak dat daar ruim veertig jolige tog eksamenvrye studente hulle bondeltjies Vrydagmiddag by die Uitspan neergesit het om vervoer te word deur die lorrie na mej Watermeyer se plaas. Na ongeveer ‘n uur en tien minute stap het ons by ons slaapplek uitgekom. Dadelik is koffie gemaak en geëet. As gevolg van die ywerigheid van ‘n selfaangestelde houtkomitee was daar ‘n massa hout bymekaar en weldra het daar ‘n reuse kampvuur gebrand.

Rondom die vuur was dit ‘n gesing en ‘n geskerts van ‘n ander wêreld en hier moet ons spesiale melding maak van dr Coert Grobbelaar se skitterende solo!

Baie min mense het die nag geslaap. Die betowerende maanlig en die laggende stroompie was nou eenmaal te veel.

Vroeg die volgende oggend is ons vort, en ongeveer half nege het ons by Platteklip gehalt om te ontby. Vandaar is ons in die pragtige Langkloof, steeds hoër en hoër tot waar ons moes uitdraai en teen die berg opklim.

Nou begin die gekreun en die gesukkel. Maar ‘n Matie en ‘n BT-Kaner se gees kan geen berg uitdowe nie, minste van alles die onverbiddelike Pieke.

Na ‘n geswoeg en gesweet van byna drie uur was almal bo. Hier het, net na die etery, die sport van die dag begin, want alle mans wat vir die eerste keer op die Pieke gekom het, is op eg wederdoperswyse “ondergedompel”. Ongelukkig het sommige van die teisters ook deurgeloop.

Maar skielik blaas die fluitjie gebiedend. Die sakke word gepak en ons bestyg die hoogtepunt om vandaar ons oë te verlustig in die skitterende panoramas wat hulle voor die oog uitstrek. ‘n Halfuur lank staan ons in bewondering en toe begin die moeilike terugpad. In die Nerina-kloof het ons weer asem geskep en elkeen was bly dat hy hierdie paradys kon sien.

Moeg en afgemat het ons byna twee uur later by die wagtende lorrie uitgekom, maar steeds singende het ons uitgesien na ‘n lekker bad en na ‘n paar dae – Tafelberg!

T Coertze

GALAWEEK – TAFELBERG – UITSTAPPIE 5 – 6 Desember 1933

Om kwart-voor-twaalf het ons die trein op Stellenbosch geneem en ‘n rapsie voor één in Kaapstad aangekom. Nadat elkeen hom met vleispasteitjies belaai het, het ons ‘n trein gemonopoliseer tot bo-op Kloofnek. Vandaar het ons gestap tot by Blink Water.

Sal een van die ses-en-veertig wat saam was ooit daardie klim in die bloedige son, met drukkende rugsakke en warm komberse vergeet?

‘n Taamlike afgematte klompie het uiteindelik na vier uur klim op ou Tafelberg gekom. Nadat ons BT-Kaners die Kapenaars gewys het hoe om hout te kry waar daar nie hout is nie, het ons geëet en toe dit sterk donker was ons kampvuur verlaat om die liggies van Kaapstad vanaf Tafelberg te sien.

Kaapstad by nag! Vriende dis iets wonderliks. Daarom sal ek ook nie probeer om dit hier te besoedel deur dit te beskrywe nie. Wie dit wil sien, moet maar self gaan kyk.

Toe ons die aand gaan slaap wis ons dat ou van Honk al weer besig was om te rook, want die mis het in fantastiese figure, wat snel van gedaante verwissel, in alle rigtings verby ons gesnel. Daarom is ons ook die volgende môre vroeg die berg weer af, en as dit nie was vir ons skitterende leier nie, sou party seker nou nog daar bo in die mis gesit het.

Ons het ongeveer 2½uur geneem om “Skeleton Gorge” af te kom, en na ‘n lekker ete en ‘n stywe lekker BTK-koffie het ons die trein geneem Stellenbosch toe.

Die laaste uitstappie van die jaar is agter die rug. Die aktiwiteite van die Berg- en Toerklub is afgesluit vir die jaar 1933. Almal weet dat dit ‘n jaar van voorspoed was.

Ook die sketsskrywer lê sy pen nou neer, met besondere dank aan Anne Dreyer B Taute en die voorsitter wat hom getrou tot hulp gekom het in sy menige tekortkomings.

T Coertze

Leave a Reply