Franschhoek-Genadendal-Hermanus April 1936

Eindelik het die lang verwagte dag aangebreek waarna menige ou toeris met intense verlange uitgesien het en die nuwelinge met hoopvolle verwagting. Op Donderdagmiddag het ‘n string BT-Kaners belaai met toerbenodighede getou na die Uitspan vanwaar die tog sou begin. Die vyf-en-vyftig stuks versier met oulap se rooi om die nekke en op die koppe het vrolik hier weggetrek – voorwaar ‘n heterogene spul wat eens in die kookpot van die toer moes saamgesmelt word. Ons Kaptein dr Koertze wat die uitbundige klomp moes in toom hou het hom meesterlik van sy taak gekwyt en meer dan een toeris vir altyd gewen. Lank lewe ons Kaptein!

Die toeriste het dadelik hulle stapvermoeëns getoon en flink langs kronkelende weë Helshoogte uitgestap. Bo by die kafee was die eerste blaasplek en op die groen gras het ons ‘n genotvolle uurtjie deurgebring en die innerlike mens versterk. In die stilte het die klomp mekaar begin meet met die heerlike vooruitsig om vir die week wat voorlê nader kennis te maak en nuwe vriendskapsbande te sluit.

Gou het ons die aand by ons kampplek gekom – Seven Rivieren – en die komitees het flink aan die werk gegaan. Oom Koerasie, ons beroemde toontjiesdokter en konvenor van die tentkomitee kon nie saamgaan nie. Moos het hom toe die verwaandheid aangematig van Konvenorskap van die tentkomitee en gedink dit beteken mens moet net kyk hoe ander werk. Frans was toontjiesdokter en met groot vernaamheid het hy saans onder die lamplig gaan sit – die middelpunt van eerstejaars se verlangens. Die ou toeriste het nie kans gesien vir Frans se behandeling nie.

By ons eerste kampvuur het ons die eer gehad om mev Koertze, dr en mev Serton en mev Malherbe te hê. Ons waardeer hulle belangstelling in die BTK besonder baie. Die nag het almal heerlik onder die akkerbome geslaap met die fonkelende sterrehemel bo ons en vreugde oor die skoonheid van die vrye natuur in ons harte. Met ‘n gevoel van verrukking het meer dan een Vrydag wakker geword. Die lug was een towerland van saggetinte kleure en die sonstraaltjies het wonderlik mooi deur die geel en brons akkerblare geval. ‘n Heerlike dag was ons s’n. Onder ‘n stralende blou hemel deurgloei van sonnegoud het ons aangestap na Wemmershoek. Etenstyd was ons al daar en net gou het almal rondbaljaar in die koue helder water. Dokter het die middag ‘n tevergeefse poging aangewend om stilte in die kamp te kry. Almal het te veel oortollige energie gehad en kort-kort het jy ‘n onderdrukte gegiggel gehoor of ‘n uitbundige skaterlag of die geknaag van grondboontjies. Die spitsvoudighede van Jan Mentz, Gerhard en Bertie was een te veel vir ons.

Die aand met die kampvuur het die uitboulklub met hulle werksaamhede begin. Net jammer dat die klub moes swig vir die ease-mania wat soos ‘n vuur onder die toeriste uitgebreek het. Sou dit die invloed wees van Franschhoek se bergbrand?

Saterdag het ons aangestap na Franschhoek en net buite die dorp geëet. Hier het ‘n klein swart gediertjie, ‘n spinnekop genoem, dit in sy kop gekry om een van ons toeriste, Klims van Wyk, te byt. Een troos die spinnekop is dood. Ons moes haar toe dokter toe neem en die gevolg was dat sy Sondag na Villiersdorp is waar sy moes bly om te rus.

Op die hitte van die middag is ons toe Franschhoekpas uit maar die uitsig het ons alle seer voete en litte laat vergeet, Daar onder lê die dorpie, weggekruip tussen die groen bome en rondom hou die berge vir ewige swye die wag. Tussen die grappe van Moos deur het ‘n stille besef van die grootsheid van die natuur tot ons deurgedring. Die pas af het maklik gegaan en die aand het ons kampie veilig gestaan tussen die bome by die Tol. Soos bosgeeste het almal in die floue lig van die sekelmaan in die donker water gespeel. Weens Klims se siekte was die kampvuur baie stemmig – net Flip kon nie sy mond hou en moes elke keer sy longe oefening gee.

Sondag het ons deurgebring met swem, gebrande poeding eet en ander sulke aktiwiteite. Die aand het ‘n klein reëntjie ons oorval wat net die toeriste kans gegee het om nader na mekaar te skuif onder een seiltjie. Die nag het die wind byna Gericke se tent omgewaai en Moos en Bey het hulle net manmoedig gedra met tentpenne inklink.

Maandagoggend is die tog verder en die windjie het by tye maar skraal gewaai en almal het die aarde flink gemeet. ‘n Klompie wat te vooruitstrewend was het op ‘n lorrie geklim. Gerhard het die vrye rit by ‘n sekonde gemis en smagtend die lorrie agterna gestaar. Sy maer beentjies kon hom nie meer verder bring nie. Die vrye rit het die klomp so inspireer dat hulle die krag van jong leeus en arende gehad het en besluit het om Villiersdorp se pad te loop. Dokter was darem die aand so gaaf om die verlorenes welkom te heet (veral die ou toeriste wat beter moes geweet het.)

Van die eetplek van Maandagmiddag het die safari van toeriste met die paadjie oor die groen heuwels gekronkel. Nou was almal eers in hulle element weg van die grootpad en mense. Toe die son sy laaste goud op die vlammende herfsbosse gebrand het, het ons by Donkerkloof gekom; een van die mooiste kampplekke van die toer. Die sterwende lig van die aandson het fantasties in die groot bos geval en net die geskuifel van voete deur die diktapyt van herfsblare was hoorbaar. Die nag het almal soos prinse en prinsesse geslaap. Mej Jooste sê haar ma se verebed slaap nie so lekker nie. Hier het Rose geval vir die ryk boer van Donkerkloof.

Dinsdag was die wagwoord Genadendal! Ou Bey het bloed geruik en was onkeerbaar. Met ‘n warm son van bo het ons geswoeg oor die heuwels. Soos vetgesmeerde blits het Bey die pad afgenael sonder enige medelye met die ander toeriste wie se tonge al in die stof sleep het van moegheid want daar het nie soos in Bey se geval ‘n vuur in hulle gebrand nie – net die vuur van bo. Eindelik het die groen akkerbome van Genadendal verrys voor die oë van die toeriste en in die land van Kanaan het almal die tog deur die woestyn vergeet. Die middag het ons almal in die lorrie van Bey se baie gawe skoonvader gebondel en by ‘n salige swemplek gaan swem. Hier het ons na hartelus slang gespeel.

Woensdag is almal op ‘n uitstappie in die kloof. Die luies het kamp opgepas. Die skoonheid van Genadendal se berge is ‘n bron van lieflike herinneringe vir meer dan een toeris. Die middag het ons weer gaan swem en ‘n treurige voorval het gebeur. Flip het hom kinderagtig gedra.

Donderdag is ons met twee lorries oor Caledon tot bo-op Transberg. Die pragtige rotstuin van Caledon het party van ons gaan bewonder. Die middag op pad na Onrus het die reën ons oorval. Die ondervinding moes die nuwe toeriste ook deurmaak om met gloeiende wange en heerlike optimisme in die reën te stap en dit ten volle geniet. Om die aand buite te slaap was onmoontlik en ons het ‘n huis gehuur vir die nag. Toe was die pret op sy hoogste tot ons JJ die hele huis op horings gehad het. Vrolike gelag en gepraat het ver in die stille naglug weerklink. Langs die mure van die eetkamer het ons sleetjies gebou en was doodgelukkig na die heerlike eetmaal van die aand.

Vrydag was weer ‘n sonnige dag. Die reën het die lug so skoon gewas. Dit was ‘n genot om in die frisse môre lug van Onrus na Hermanus te stap en die glimlag van die blou see te sien. By Voëlklip het ons middagete gehad en in die branders en op die strand na hartelus kerjakker. Die tydjie was vir ons glad te kort en almal het verlangend omgekyk na die skuimtoppe van die aanrollende branders.

Vrydagaand was toe ons laaste kampvuur (Onrus). Reep, Einstein, Danie en Rykie het ons kom besoek en dit het ons laat besef dat die toer byna verby is maar ons het nog die meeste van die laaste aand gemaak. Helene en haar gevolg het ons weer heerlik laat lag met “Old King Cole” en Moos en Wynand se “Boom-Boom” het almal se lagspiere flink laat werk.

Saterdagoggend het die weer ons net kans gegee om kamp op te pak en in die lorrie te kom toe dit begin sous het. Niemand het omgegee want almal het heerlik en gerieflik binne in die lorries gesit en gesing dat dit klap. By Houwhoekpas het ons geëet en heerlik gespeel om warm te word. Hoe nader die lorries aan Stellenbosch gekom het hoe vroliker het Flip se Hei-diedel-diedel, Erika simba en “It’s not the pack” geklink. Ds Naudé en professor Malherbe het vir ons geld gegee en vir oulaas het almal saam in die Uitspan koffie gedrink. Die hele Uitspan was ons s’n en Wynand het homself oortref van vrolikheid. Die toer is verby maar die herinneringe van wasige blou berge wat die wandelaar lok om nader te kom en hulle geheime te deurgrond, van die sonnige dae en wonderlike sternagte die gemurwel van riviere en die diep basnote van die see se branders, dit alles is nog altyd ons s’n om ons met nuwe lewensmoed en lewenslus te inspireer en die vriendskapsbande wat ons in die flikkerende lig van die kampvure gesluit het is ook ons s’n vir altyd.

Heidiedel-diedel. Lank lewe die BTK.

I Odendaal

A B C VAN DIE TOER

A staan vir Abraham, die drywer van ons toer.
B staan vir Buntie, altyd aan rumoer.
C vir Coligny, “the tall and silent man”.
D vir Dempsey, ook maar ‘n also-ran.
E staan vir eet wat almal goed kon doen.
F staan vir Flip wat lekker kan soen.
G staan vir Gerhard wat Grietjie nooit verveel het.
H vir Helene wat wat die kos goed verdeel het.
I staan vir Izak en Ida somar saam.
J staan vir Jupie, op haar rus geen blaam.
K vir ons kokke wat lekker kos kan maak.
L vir Lalie wat Moos se hart kon raak.
M staan vir Mietjie wat tente goed opslaan.
N vir die nooiens wat flink op tol kan gaan.
A staan vir ons almal, ‘n gawe klomp maats.
P staan vir Petro wat heeldag deur praat.
Q vir die que en hier is almal gou.
R staan vir Roos wat baie kon onthou.
S staan vir Sheila, die case van Gamat.
T staan vir Tinkie aan wie Bertie graag vat.
U vir Umtali, sy draadjie is maar kort.
V vir Viljoen, sy energie was opgeskort.
W staan vir Wynand, die maker van pap.
X & Z – hiervan kan ons nou afstap.

Leave a Reply