Koue Bokkeveld September 1936

“Kom maats laat ons vrolik
Deur die velde stap.
Niemand is nou olik
Ons sing en lag.
Die hele dag is bly –
Oor die hoë berge sal ons toer nou gaan
Met die blou lug en die sonskyn
en die pad wat voor ons wegdein.
BTK. Hoera!”

Dit is die stemming waarin die toeriste Dondermiddag hier weg is met die trein na Hugenootstasie. Elkeen het die vooruitsig gehad om vir tien hele dae vry en onbekommerd in die heerlike natuur te gaan rondstap. Alles is vergeet – selfs die skadu van ‘n naderende eksamen het ons ontvlug en elkeen het net intens vir die oomblik geleef, heeltemal oorgegee aan die skoonheid rondom. Van Hugenoot het ons vier myl gestap na ‘n plaas waar ons die aand gekamp het. Alles was gou in orde en na ‘n ete van macaroni het die toeriste vrolik om die kampvuur gesing. Almal het weer onder die bekoring van die dansende vlamme gekom – vir party ‘n nuwe ondervinding, vir ander die aspek van die toer waarna hulle die meeste verlang het. Ons was skaars in die tent na Dokter se “Nag dames”, toe ‘n buitjie begin uitsak het. Net gou is op die tentkomitee se nommer gedruk en die helde het hulle heldhaftig gedra – Umtali se lang toonnaels was veral in die proses van slootjiesgrawe behulpsaam en aan sy sy was Jan Mentz vir inspirasie.

Die reëntjie het net die lug vir ons nog blouer gewas en Vrydag is die tog met vrolike gesang oor die berge in Du Toitskloof in. Die wasige blou berge het ons maar aldeur gelok om aan te gaan en almal was vervul met die “Wanderlust”. Langs die rivier het ons in die kloof in die heerlike sonskyn soos egte natuurkinders aangestap en die aand aan die einde van die kloof gekamp. Terwyl ons vir die lorrie gewag het, het die berge weerklink van die gelag van ‘n vrolike klomp toeriste wat soos kinders speletjies gespeel het op die groen gras. Dit is heerlik om jonk en lewenslustig te wees.

Saterdag het ons deur Rawsonville gestap waar almal die kafeetjie bestorm het en byna leeg gekoop het. Vandaar is ons na die plaas van mnr Le Roux waar ons middagete gehad het – ‘n egte Bolandse plaas met die wit huis wat tussen die groen akkerbome skuil. Hier het ons weer ‘n bewys gekry van ons Boere se gasvryheid. Mev le Roux het ons vergas op heerlike karringmelk en sewe bottels smaaklike ingelegde vrugte – Flip het sy mond drie maal afgelek en wou nog die skottel ook deurloop. Vandaar is ons in die Kloof op na die laaste plaas in Dwarsberg. Hier het ons die Sondag heerlik uitgerus onder die akkerbome in hulle eerste lente-groen en omring deur die grootse berge het ons weer dan eenmaal stil geword en stom gestaan voor die wonder van die skepping.

Hier het Poggie vir die eerste maal sy kleure gewys en die bewondering van die dames vir altyd gewen deur met mannemoed in ‘n boom te klim en met bobbejaanbewegings probeer het om ‘n groot tak af te ruk.

Maandag het ons eers ‘n paar myl gestap tot waar ons die lorries gekry het wat ons geneem het deur Rawsonville tot twee myl duskant die Witbrug. Ons het toe tot by die Witbrug gestap en daar middagete geniet. Die sonnetjie het warm geskyn en almal het dit geniet om in die helder water rond te baljaar en weer verfris te word na die end se stap. Die middag het ons oor Mitchell’s pas gestap tot in Ceres waar ons die aand in die Park gekamp het. Dit was ‘n genot om oor die pas te stap en ons het glads te gou in Ceres gekom – ‘n dorpie wat met sy pragtige omgewing meer dan een hart gesteel het. Die aand het ons ‘n heerlike kampvuur gehad in die dennebos want die helder maanskyn het daartoe bygedra om die toweragtige skoonheid van die kampvuur nog meer te verhoog.

Die aand het ons in die maanskyn geslaap en geluister na die nagwind wat so geheimsinnig deur die dennenaalde ruis.

Dinsdag is die tog weer die berge in en na ons oor heuwels en deur dale gekronkel het is die plaas van mnr Van Dyk eindelik bereik. Na ons uitgerus het onder die groen akkerbome waar die plaat roserooi suringblommetjies as ‘n inspirasie gedien het, het mnr Van Dyk se lorrie ons ‘n end weggebring. Vandaar was die plan na Rosendal waar ons die aand sou gekamp het maar die noodlot het anders besluit. Ons lorrie het vasgeval en die jong helde moes almal weer terug om te gaan help. Die skone geslag het stadigaan gevolg. Na ‘n groot gewerskaf is die lorrie uit die verknorsing gekry maar die pad was vorentoe te lank en ons het besluit om weer ‘n end terug te gaan en op ‘n ander plaas te gaan kamp. Dit was al donker toe ons daar aankom maar dit was volmaan en die skoonheid van die nag het ons alle moeilikhede laat vergeet.

Die groenteskillers het gou aan die werk gespring; die kokke het hulle flink gedra en om halfelf het almal ‘n smaaklike ete ingehad. Die nag het ons geslaap onder bloeiende peerbome en is bekoor deur die glansende wit bloeisels in die maanskyn.

Woensdag het ‘n motreëntjie ons wakker gemaak en met toerseiltjies om is ons verder weer deur die Skurweberge na De Keur. Die middag moes elkeen so goed as wat hy kon agter ‘n rots skuil teen die koue wind maar die warm sop het ons gou weer laat lekker voel. Deur die berge het ons safari gekronkel met Ismael vooraan. Na ons die berg oor is, is Ismael weg en toe het daar nog ‘n stywe endjie voorgelê. Die son is naderhand onder, die skemering is al net sterk, ‘n koue yswindjie waai, want dit is in die Koue Bokkeveld en al wat kom is De Keur. Eindelik is die groot pad bereik – maar watter kant nou? Die maan het opgekom en sy lig gegooi op ‘n klompie troostelose toeriste wat soos verkluimde hoenders op ‘n klompie langs die pad sit. Maar ons is nog nie raadop nie – ‘n Vuurtjie is gou aangesteek en die vrolike gesang van toeriste wat mekaar onderling inspireer het deur die naglug weerklink.

‘n Kreet van vreugde het die lorrie verwelkom en die aand om die kampvuur by De Keur was almal weer opgewek. Wie kan dan anders as mnr en mev Du Toit aan ons soveel vriendelikheid gegee het? Selfs hulle bad vir die nie te skoon toeriste om hulle in te gaan reinig.

Donderdag was ‘n lui-lekker dag wat ons dan ook almal verdien het na die twee veeleisende dae so na mekaar. Die aand het almal heerlik geniet van ‘n pot boontjiesop wat mev Du Toit vir ons gekook het. Gedurende die dag het almal die kans gehad om hulle breintjies en oorspronklikheid aan die gang te sit en die aand was daar dan ook ‘n puik kampvuur. ‘n Uitstaande nommer op die program was die opera wat deur die Spagheti-Marcoroni-Operageselskap gelewer is. Almal was flou gelag en sal seker nie vir Bey met sy “Flip vat die vark” en Flip se “I challenge you to mortal combat” vergeet nie.

Veral die broodmes wat Flip so behendig vir die tweegeveg hanteer het was nog die oorsaak van baie pret en grappe.

Vrydag het ons oor ‘n oop vlakte gestap tot by Bokfontein die middag. Vandaar is ons verder weer die berge in en almal het flink gestap na die dag se rus. Ons is verby die Hel (vir toeriste is dit nie gevaarlik nie) tot in Wandskloof – +25 myl, dus heeltemal ‘n prestasie. Die laaste endjie was maar swaar en oom Koerasie het die aand net werk gehad met die seer voete. Hier het Just deur sy hulpvaardigheid in die rivier getuimel en moes toe maar gaan slaap om warm te bly.

Saterdag is ons deur Wandskloof Sendingstasie tot by ons kampplek ses myl duskant Citrusdal. Ons was reeds met middagete hier en kon dus op ons gemak alles doen. Meeste van die meisies het verby gestap en het by ‘n plaas aangekom waar hulle op lemoene vergas is en met ‘n lorrie teruggebring is. Almal het hul tande geslyp vir ‘n lewendige kampvuur maar die reën het ons in die wiele gery en almal moes die aand skuiling soek of onder die groot bouseil of in die tente of in die lorrie. Die reën het nie in die minste ons entoesiasme gedemp nie – daarvoor was ons te veel van volbloed BT-Kaners.

Sondag was weer ‘n heerlike dag en die middag het ons gestap na ‘n mooi waterval ‘n endjie van die kamp af.

Maandag was toe die laaste dag van die toer. Ons het na Citrusdal gestap waar die Jannelies van Zyl ons trakteer het op tee, skons en heerlike lemoene. Ons het somar die huis in besit geneem en Flip het op die klavier gespeel terwyl almal hartlik saamgesing het. Vandaar is ons oor Gray’s pas en dit was ‘n wonderlike gesig om die groot vlakte te sien met die koringlande wat ‘n tapyt met fantastiese patrone vorm. Die middag het ons by The Rest geëet en vandaar deur die wuiwende groen koringvelde na Hendekuil. Hier was almal baie opgewek en vrolik want daar was almal besig met hulle eie gedagtes – die toer het ons so oneindig ryker gemaak. Vir oulaas het ons slaapliedjies om die kampvuur gesing en op meer dan een gesig was ‘n weemoedige trek omdat die besef diep deurgedring het dat die ‘n laaste toer en ‘n laaste kampvuur was. Almal wat weggaan het ‘n laaste offer aan die vuur gebring – ‘n ou jersey wat troue diens gedoen het, ‘n ou hoed, ‘n ou paar skoene en in die vlamme wat hoog opgeskiet het, het die wat weggaan hulle vir oulaas verlustig. Ons kon maar nie weg van die vuurtjie wat ons met towerkrag gevange gehou het – die simbool van so baie dinge – Maar vir die meeste van ons is die vooruitsig op nog sulke toere en met vrolike gesang het ons uit Hendekuil weggestoom. Ver agter ons het die laaste kole van die kampvuur nog gegloei in die donker nag – ‘n herinnering.

Die toer is veral gekenmerk deur die sing van liedjies. Heelwat nuwe liedjies het ontstaan want die toeriste het kreatief gevoel en ook ons koortjies is weer in die lewe geroep. Almal was besiel met die een verlange om uiting te gee aan hulle energie deur te sing, te sing in die vrolike sonskyn, te sing as die reën val, te sing as die skemering die aarde omsluier, en die sterretjies vrolik skyn.

Op Bellville moes ons oorstap en het die konneksie gemis. Maar dit het ons net ‘n uur langer gegee om op ons gemak vir Hoffie te queue en die skinkborde met brood te laat verdwyn. Om tienuur het ons weer hier aangekom en vrolik na die Uitspan marseer waar ons vir Dokter drie welverdiende hoeras gegee het. Bey was ook aan die beurt, ons voorsitter wat so geweldig baie op toer gewerk het. Almal het toe hul rugsakke gevat en die pad huistoe gekies. Die toer was verby.

Maar in ons harte sal dit nog lank voorleef as een van die heerlikste wat daar was! Waar gaan mens weer sulke heerlike kameraadskap kry, sulke uurtjies van uitbundige genot, sulke oomblikke van stille vreugde en meditasie.

Lank lewe die Bokkeveld-toer!

I Odendaal

Gelees met re-unie in Maraispark.

WANDERLUST

Gee vir my wye velde
Bestraal met sonneskyn.
Waardeur ‘n wit pad kronkel
Oor heuwels weer verdwyn.
Gee vir my bloue berge,
Gehul in dynsrigheid.
Wat stil die dae omdroom,
Groots in hul eensaamheid.

‘n Stroom met helder water
Wat deur die bosse vloei.
Die Boland met sy blomme
Wat in die Lente bloei.
‘n Slaapplek in die bossies
Omsluier deur die nag.
Bo my die donker hemel
Waar sterre lonk en lag.

Hou al jul prag en rykdom
Die valse vreug van geld.
Vir my blou lug en sonskyn
Die vryheid van die veld.
‘n Vuurtjie in die skeemring
Die stilte om my heen
Die ruising van die nagwind,
Net God en ek alleen.

I Odendaal

Leave a Reply