Die Wemmershoekkamp Maart 1937

Omtrent dertig jolige BTKaners het Donderdagmiddag van die Uitspan vertrek, per lorrie, na Wemmershoek. Die Toergees is sommer daar en dan in die lorrie gebore toe ons begin het met “Morgen muss Mein Schatz verreisen”. Na die vrolike rit oor ‘n lekker stamperige pad het ons mnr Du Toit se plaas bereik waar ons sou kamp. Die aandkokke het dadelik aan die werk gespring terwyl die res begin speel onder die akkerbome, maar gou verdamp na die wingerd en weggelê aan die natrosse wat mnr Du Toit spesiaal vir ons plesier daar aangehou het. Die aand om die kampvuur was daar baie grappe aangesien die dames in die minderheid was. ‘n Man moes ‘n ware wakker kêrel wees as hy nie kort-kort homself sonder sy slee wou bevind nie.

Op Goeie Vrydag was die oggenddiens in die bekwame hande van mnr Frans Geldenhuys. Al wat die stilte verstoor het was die periodiek-vallende akkers terwyl die kampers doodstil gesit het met hul oë op die hoë rotse-mure van die omringende berge. Daardie middag het ons ‘n klein endjie gaan stap. Saterdag het ons ‘n groot uitstappie gemaak tot op die top van die Wemmershoektafelberg. Daar het ons ‘n geselskap Kaapse bergklimmers ontmoet en ons name geteken op die papier in die blik by die baken. Daardie nag het die reën ons holderstebolder die tente ingeja en die volgende môre het ons almal so op ons kaal tone ons pad deur die modderhopies gesoek. Mnr Du Toit was so vriendelik om sy waenhuis aan ons af te staan waar ons ons die res van die dag geamuseer het so tussen die velle en strooibale. Daardie aand het die dames in mev Du Toit se voorhuis geslaap en die mans in die waenhuis.

Die volgende dag het dit nog gereën maar as ‘n mens oordeel na al die gedoentes in die Waenhuis kom jy agter hoe min reën eintlik kan doen aan die “Gees”. Na ‘n smaaklike middagete het ons al singende mnr en mev Du Toit vaarwel gesê en aangestap na die plek waar die lorrie ons sou ontmoet. Daar het ons Bey ontmoet en almal vrolik die lorrie ingebondel en gesing tot hulle ons by die Uitspan afgelaai het. Ons almal sowel as ons gaste wat sover gekom het (Ida, Izak, Lettie van der Vyver en vir een aand Einstein) was jammer dat alles verby was, maar die inspirasie wat ons van die hoë berge en stille klowe ontvang sal ons lank aanspoor om onverskrokke voort te gaan op die pad wat ons almal moet loop.

S J Schoonees
(namens Sketsskrywer)

Leave a Reply