McGregor April 1954

Op Vrydag, 30 April, het vyf-en-tagtig BT-kaners per bus na Robertson vertrek. Hier op pad na McGregor is die eerste nag met die sagte gesuis van reën op die tente, deurgebring. Die volgende dag stap ons met meer gestadigde weer deur McGregor om op Takap te gaan kamp. ‘n Skitterende krieketwedstryd het sy aanvang geneem. Die “veelslagtige” spanne het oor die algemeen beter met die mond as met die bal en kolf presteer. Daar is dan ook begin met die eerste kampvuur, waar die BT-Kaners kennis kon maak met die ultra-modern wonderbaarlike voertuig wat na Mars vertrek het. Volgens die laaste berigte sweef die voertuig nog tussen hemel en aarde. Piet Conradie maak dan ook sy slee die aand op ‘n baie strategiese punt – naamlik tussen “bachelors – and case corner”, en die hekelvrae reent!! Sondag is op die gebruiklike wyse deurgebring – dit wil sê met briewe skryf, stap en “sensible nonsense” gesels. Die aand se program het verskeie interessanthede opgelewer, onder andere ‘n skrikwekkende groot reus, ‘n tingerige Jack wat teen die boontjierank wat van ‘n “outsize” boontjie gekom het, moes opklim. Verder was daar ‘n Bybelvasvra en die gewilde item – versoeke per sleepil, bring baie interessanthede aan die lig. Daar is ons ook vereer deur ‘n besoek van ‘n sogenaamde Juffrou De Wet van McGregor.

Maandag breek aan en ons het toe nog nie geweet wat vir ons wag nie. Ons stap met ‘n stewige pas oor die halfvoltooide pas. Nadat almal by die galg verbygekom het, bereik ons ‘n lieflike waterval waar ons middagbrood. Die lieflike natuur duur voort tot by Greyton waar ‘n polisieman interessante informasie verskaf in verband met natuur en omgewing van rivier. Moeg, voetseer en met die dalende skemer om ons, kom ons eindelik by die skilderagtige plekkie, Genadendal aan. Tjaain in teenstelling met verskeie ander mense verkies nog om ontbaard te word. Moontlik is hierdie begeerte van hom te wyte aan Helena se “magic touch” met die skeerdery.

Dinsdag na ‘n stap in die harde pad, gaan ons weer oor vreeslike berge na Boskloof. Hier word die geledere aangevul deur onder andere twee honde wat ‘n besondere liefde vir Molly het en ‘n kuiken wat geen hoogtevrees openbaar nie. Die aand kry ons verrykte aartappels wat net die kokke nie wou eet nie. Selfs Tjaain wou hom van pure moedeloosheid in die vuilgoedgat werp.

Woensdag stap ons verder oor die berge en gaan af na Villiersdorp om daar ‘n kafee te omsingel. Middagbrood word gehou net voor die pas na Kaaimansgat, wat in ‘n sterk wind en fyn motreën afgelê sou word. Verskeie mense was verplig om weens hulle dors af te draai en water te gaan vra by plekke wat duidelike tekens van appelboerdery getoon het. Die aand het die komitees ge-item. Die kokke se item “Helena van Troje” het die prys verower. Met die oorstaandag die Donderdag, is ‘n groot bok-bok-staan-styf toernooi gehou. Appels is gebak in die as en die wat nie gebak is nie, is “ingelê”.

Die aand is die eerste toeriste ingelyf. Bo alle verwagtinge oorleef Piet Wessels die ontgroening. Met die uitslepery het die dames gesorg dat Theuns as konvenor van die tente, sy verdiende loon kry. “De machtige koning” het veral vir die tokkelokke skrikwekkend geword en hulle met naamlose vrees vervul.

Vrydag stap ons die groot stap deur die berge en kry die eerste vergesigte wat ons ooit sal beleef. Toe die son daal, stap ons almal op die paspad en “three cheers” die kos was amper klaar! So breek die laaste kampvuur aan bo-op Franschhoekpas. Tielman slee die aand met ‘n doos sjokolade, Piet Conradie se laaste hekelvrae word “afgeswitch” deur die wind! Die Mars-toeriste kon die aand nie verder ry nie, want Hessie verkies haar slee bo ‘n rit in die vliegtuig.

So kom die toer tot ‘n einde. Die laaste stap is deur Franschhoek na die Ouden Molen. By die rivier hou ons ons laaste middagbrood en vandaar gaan ons per bus verder. Op pad word ‘n afskeidsprogram vir Ockert aangebied.

Op Stellenbosch is almal na die groot skoonmaak huis toe vir nog ‘n skoonmaak.

Nog ‘n toer is verstreke – ‘n toer wat net sulke hoogtes bereik het soos die hoogste berge wat ons aangegaan het.

Helena Joubert

Leave a Reply