Boland Oktober 1959

25 September – 03 Oktober 1959

Anders as gewoonlik het die toer hierdie keer nie begin met die gedreun van vertrekkende motore en die gegalm van liedjies uit volgepropte busse nie, maar met ‘n klomp BT-Kaners wat streep-streep op die welbekende pad na Jonkershoek aangestap het. Na die eerste paar treë kon fanatieke versamelaars dan ook hul eerste stempel by Coetzenburg-poskantoor kry! Die akademiese sorge wat die laaste paar weke van die kwartaal op almal gedruk het, het al gou hul invloed op moeë ledemate laat geld, en toe die aandskaduwees oor Die Pieke toegesak het, was almal net bly om die kampplek diep in die bosreserve te bereik.

Die bosreserve het ons egter met ‘n snerpende windjie verwelkom en die aand het almal baie koulik om die kampvuur saamgedrom. Gedurende die nag het dit nie juis beter geword nie, want die ventilasie van die tente het beslis niks te wense oorgelaat nie. Die koue is die volgende oggend egter grootliks verdryf deur die warm afskeid wat Hennie Aucamp aangebied is, net voor sy vertrek op ‘n lang BTK oorsee. Hennie was al heeltemal blosend toe Lida vir die tweede keer verbygekom het, maar later het Dalene Ackermann nog steeds gekla dat sy te haastig van Hennie afskeid geneem het!

Nou het die toer in alle erns begin toe ons met ‘n steil paadjie teen Assegaaibosnek uit is en vandaar af in die lieflike kloof met hoë berge aan albei kante, wat lei na die La Motte-bosboustasie. Middagbrood is by ‘n pragtige waterval gehou en vandaar het dit al klikspringende rivier-af gegaan tot by die kampplek.

Dit was ‘n behoorlike dag se stap en die volgende oggend het almal van die geleentheid gebruik gemaak om deeglik uit te rus: sommige dames het selfs ontbyt in die bed gekry. Koos Oosthuizen het die kerkdiens gelei, maar toe Lida en J.R. so plegtig soos doopouers voor hom verskyn het, het hy nie verwag dat die daaglikse brood waarvoor hy nou net gebid het, uit sy preekstoel geneem sou word nie! Die namiddag het almal, nadat hulle enigsins van die sware ete herstel het, die stof in die rivier gaan afwas. Nadat Lukie al bibberende in die koue afgedaal het, was hy so geïnspireerd dat hy ‘n hele Sangfees-koor gedirigeer het.

Maandagoggend het die tog verder gegaan oor ‘n nek en deur die ruigtes af na Franschhoek toe. Oom Theo het as “braambreker” waardevolle dienste gelewer. Maar almal het van hul skrape en wonde vergeet toe hulle die kans gekry het om hul dors te les in die elite-hotel Excelsior. Vandaar het die pad verder teen die stowwerige Franschhoekpas uitgegaan en die BT-Kaners het net naelskraap voor die dinamiet-ontploffing daar uitgekom. Maar bo-op die pas het ons weer ‘n heerlike kampplek, met dam en al, gehad. Dit was dan ook ‘n gepaste agtergrond vir die komitee-items wat die aand besonder baie talent openbaar het. Die tentekomitee met flitse uit ‘n reis van tagtig dae om die wêreld, en die walaaiers wat al by voorbaat hul blikkie kondens uit Tafelberg uitgemelk het en geeïndig het met ‘n lektor in Fisika wat ‘n paar dae sonder sy brein kon klaarkom, was so goed dat die beoordelaars aan albei die prys toegeken het.

Die avontuurlikste dag van die toer het Dinsdagoggend begin toe ons van die kampplek in drukkende hitte teen die nimmereindigende steiltes uit is. Maar die inspanning het die water van die bergstroompies des te lekkerder laat smaak, soseer so dat Lida besluit het dat ons vir een keer maar sonder koffie kon klaarkom. Jammer net dat sy haar besluit eers geneem het toe die water al amper gekook het! Die laaste lang steilte na middagbrood het menigeen se moed byna gebreek, maar toe hulle daarna al-aan-die-een-kant-swaardra in die kloof moes afgaan het hulle amper daarna terugverlang. Dit was ook hier dat die BT-kaners besluit het om af te dwaal soos skape en elkeen sy eie weg te gaan, maar toe Jan Roos onder in Kaaimansgat as owerste oor honderd ‘n volkstelling gehou het, het hy gelukkig gevind dat die menigte voltallig was. Dit was ook aan die vermoeienisse van die dag te wyte dat J.R. die aand met gebrulde rugstring in die slee geslaap het, maar Stephanie het blykbaar nie omgegee nie.

Niemand was juis jammer dat die dreigende weer die volgende dag alle grootskaalse aktiwiteite verhinder het nie. ‘n Groepie BT-Kaners het die oggend die argitektoniese skoonheid van die plaaslike hoërskool van Villiersdorp gaan bewonder, en die dorp se haarkapper met die vuurpyl tot trane en gratis haarsny beweeg, maar verder het die dag rustig onder die lowerryke bome van Kaaimansgat verloop. Dit wil sê, rustig vir almal behalwe die tentekomitee wat meer as hul drie druppels reën gekry het, en ook Hanna en Jan Bouwer wat eers sop moes kook (onbewus van die implikasies), en daarna die eerste toeriste in die groot beproewing van daardie aand moes voorgaan. “Big dam fool” was die enigste kommentaar wat Hanna van die verrigtings kon lewer. Die aand is verder opgeluister deur die besoekers wat spesiaal van Stellenbosch oorgekom het om die blikke te was, en terloops, ook Lida se eensaamheid op die toer ‘n bietjie te verlig.

Die weergode het Donderdagoggend gefrons en ‘n flinke reëntjie het uitgesak toe ons die pad na Stettynskloof-dam aangepak het. Die reën het later opgehou, maar dit het vir sommige mense nie veel gebaat nie, aangesien hulle op die verraderlike blikke van die rivier gegly en die nattigheid weer van onder gekry het. Dit was ‘n lieflike kloof waarin ons afgekom het, met ruim grotte en pragtige stapels brandhout vir middagbrood, maar Koos Oos het sy Amerikaanse “efficiency” gedemonstreer en nie gestop voordat ons die kampplek by die dam bereik het nie. ‘n Mens kon dan ook verstaan waarom Trinette haar oorspronklike dieet van een beker koffie met twee snye brood en twee stukke kaas aangevul het!

Die aand het ons op ‘n skiereiland kampvuur gehou, en het Koos geleentheid gehad om sy langverwagte “galpil-item” op te voer. Die kus wat die klimaks daarvan gevorm het, was natuurlik bloot ‘n eksperiment soos Lünchen ewe ernstig aan Lucia verseker het.

Tot dusver het ons gelukkig baie min padstap gehad, maar Vrydag het ons ons volle aandeel daarvan gekry toe ons Rawsonville na ‘n plaas aan die begin van Du Toitskloof gestap het. By middagbrood was daar alreeds slagoffers, en of die kampplek nou langs die teerpad of die gruispad bereik is, almal was ewe moeg. ‘n Ysige wind het deur die kloof gewaai, maar die mans was vasbeslote om kampvuur te hou, en almal is opgewarm deur die nuus dat ‘n klein Tjaaintjie veilig aangekom het. Die sentamentele atmosfeer, geskep deur die laaste liedjies om die kampvuur, is wreed versteur deur ‘n reënbui, maar nie almal het hulle daardeur laat afskrik nie, en nog tot laat toe is daar om die rooi kole gesing.

Met die laaste stap van Saterdagoggend in die Du Toitskloof op het die weer met ‘n koue reënbui nog vir oulaas getoon wat hy kon doen, maar met middagbrood – die laaste – het die sonnetjie al weer geskyn. Die naderende afskeid het alreeds ‘n gedempte stemming by almal veroorsaak toe ons in die bus geklim het, en al te gou het ons verby die Ou Hoofgebou gery. Akademiese en ander sorge het weer die oorhand begin kry, en soos die Israeliete van ouds, het die menigte uiteengegaan, elkeen na sy eie tent toe.

Pieter Conradie
(vir Sketsskryfster)

Leave a Reply