Kleinmond Gala 1959

21 – 30 November 1959

Half-drie se kant Saterdagmiddag bondel ‘n opgewonde klomp met eksamen-verby gesigte en skoon kakieklere in die busse in, en weg na oom Erwee se plaas – so betyds dat selfs Truida amper laat gekom het! En – al het die mans dit nie besef nie – was dit goed dat ons nie te laat op Monteith gekom het nie. Hulle het toe tyd gehad om stewige, diep sleës te bou, want die Magtige Konings met ‘n profetiese blik en die beleid “Prevention is better than cure”, het sommer die eerste aand met geweld probeer om ‘n algemene soort hartkwaal wat reeds in sommige gevalle ongeneeslik posgevat het, te voorkom.

Sondag na middagete móés almal net êrens plat val en slaap want ons het geëet asof ons reeds ‘n stywe toer agter die rug het. By sommige was dit moontlik ook ‘n tipe post-hipnotiese slaap – want Manie was die oggend baie doenig. Die slaap het ons weer in Omie Erwee se groot poel gaan afspoel, afdryf of afbaklei.

Die aand was daar ‘n Kommissie van Ondersoek wat Hans, Helmüth, Eben en Kie. Eiendoms Beperk, se griewe ondersoek het. Uitspraak: Die Konings moet voel hoe dit voel as mens gekoning raak deur ‘n wraakgierige horde ongepreventeerde, ongenese pasiënte. En ons prediker van die oggend wys toe onder luide Spinnie-gille dat hy werklik van ‘n ds Ackerman in ‘n Mr Dracula kan verander.

Met Maandag se stap Palmietmond toe wys Jan Visagie mos vir ons: V.V.I.T. – Visagie-Voete-hoef-geensins-vir-Kelly-Bande-agteruit-te-staan-waar-laaigeit-op-die-spel-is nie. By middagbroodbruggie hou ons ‘n yslike watergeveg sodat ons deeglike rede gehad het om kampverdeeld te swem terwyl ons drade en doppe droog word. Die aand het die maniese Generaal Mamiaco met sy la-waaier manskappe die slag om die Komitee Kondens gewen, ten spyte van die Kokke se pogings om Tannie Vera met rosies om te koop.

Dinsdag is weer ingelui met koffie in die sak (slaapsak) wat een van die eerste tekens is van ‘n luilekker oorstaandag. Oom Piet was egter ‘n voorbeeldige toervader, op-en-wakker-en-rillend het hy gaan swem – in die boonste ses duim van die water want die was warm. Verder wou die mense hulle net nie maklik ver uit die kamp laat weglok nie – nie eers deur Chris en sy altyd gewilde Kaskenades nie. Hiervoor was die hoofrede miskien dat hulle in die nabyheid wou wees om te sien wat van Lukas en Jakobie se sop word. Sakies het hier so warm toegegaan dat Lukas, met verskroeide baard en ooghare, begin vrees het hy speel met vuur!

Daar was mos ‘n spulletjie, hul’t nie geweet wat hul wag nie, wat die aand net soos Reenen gevoel het – dat hulle die verkeerde name het. Na die “Bybies” ‘n massa begrafnis van die oues gehou het, het hulle beurt gekom en dit was beslis nie haastig afgehandel nie.

Woensdagoggend vroeg het ons die kus gevat Onrust toe. En ons moes deur die onrustige Botriviermond. ‘n Rugbyveld-kampverdeling is gehou maar sommige mans het nog hulle ridderlikheid getoon deur van die dames droogvoets te probeer oordra. Net jammer sommige van die helde se voete was van klei. Dis net daar waar Hammie besluit het dat hy weer later ‘n paar hoenders sal moet vang om sy prestige te herstel.

Die aand wys oom Hoon dat hy ‘n stoeikampioen is. Aangemoedig deur geesdriftige Spinnies het skoon Hoon vir Mieliepap kafgetrap.

Melkery, Bakhuis, Kafee – die hele Hermanus se Kamer van Koophandel – het Donderdag weer die dag van die jaar beleef, wat hulle bestaan regverdig. Maar was ons regverdig teenoor ons eie innerlike. Die aand se item het gewys hoe Hannah se inwendige reageer het op haar gulhartige ondersteuning van bogenoemde sake – en sy was maar een van vele. Drie muise het ook dié aand ondersoek ingestel na ekonomie van ruimte in slee’s. Sondags is dit glo veral moeilik om deur te kruip.

Vrydag was die dag van groot pomp. Die mans het die dames links en regs geskiet vir roei op Voëlklip se vlei. Ook die dag van dinge:
Hare was, skeer,
baard was en dies meer.
Hemde skoon
word vertoon.
Spesiale truie –
gespanne, opgewonde buie
word oral geskiet –
want dis damesskiet!

Na die vorige aand se dinge was die papkokers so half wakker dat Jan Roos na ontbyt sy een kous uit die pap-bad gevis het. Vir die karige middagbrood by die Kelders het party probeer vergoed deur op die golwe te gaan dein. Nog versterking op Gansbaai het ons egter genoeg energie gegee om die “Last long mile” Uilkraals toe maklik af te stap, veral ook nog met die hulp van die oompie met sy bokkie-karretjie en twee muilesels; Daaimint en Tsjoklit.

Sondagoggend was koud en klam en die lekker laaste slaap op BTK. Maar die koue klammigheid van die dag het in ons harte geklim, en, na Jasper se diens, kon mens dit agterkom aan al die bondeltjies toeriste wat met reënerige oë sit en hartseer-liedjies sing het. Die middag het die mense darem ten spyte van die weer ver-ver ente gaan stap, see langs of veld-in. Hangbrug toe ook. Hier het Eben gewys hoe ‘n bielie hy op ‘n rywielie is, deur op ‘n fiets op die hangbrug sy balans te hou. Mavil, Dirk, Hilary en Koos het so lekker gaan stap dat hulle net betyds vir sleë teruggekom het. Die aand se hoof-item is gelewer deur een spinnie (-kop) wat baie meer na haar web kon lok as al die ander spinnies saam.

Toe twee die aand net na koffie begin groet en terugry Stellenbosch toe, het almal besef die toer is verstreke, of so ‘n bietjie probeer rek aan hom deur te bly sit en sing dat Willem moes kwaai raak. Stille traantjies gesluk en vir oulaas gaan slaap.

Maandagoggend het nog sy pret gehad. Komitee-foto’s, lagger foto’s en kalkoene, die kloekmoedige waar bot Ewie is geslaan tot Ridder van die Orde Knoop. Na middagbrood in Gansbaai is ons in die busse. Onder die voorwendsel van dors wat net deur Hermanus se melk geles kon word, het ons nog tevergeefs aan die toer probeer rek, maar vieruur was ons by die pakkamer. Daar was nie eens uitslae by die leeuhok om voor te storm nie, en halfses was alles klaar gewas, geskrop en weggepak. Daar was geen rede om nog rond te drentel nie, en al wat oorgebly het, was om net elkeen sy eie goedjies uit die hoop te kry en na ‘n laaste handdruk en groet aan te stap in sy eie koers.
Baie het miskien vir die laaste keer bondels gevat en met nog ‘n groter seerder hart in die keel as na elke vorige toer, weggestap van Hamelhof. Walton het gesê: “Good company, in a journey makes the way to seem the shorter.” Op BTK geld dit ook maar te veel: “Your good company on our journeys made the way seem too much too short.”

Truida Immelman, &
Wilna de Wet
(vir Sketsskryfster)

Leave a Reply