Sederberge September 1960

Met “wie wil saam die Sederberge met ons klim” op ons lippe en in ons harte, het die wiele onder ons begin draai en is ons vort. Ja, ‘n lewenslustige klomp kakies met rooi behangseltjies het die ou akker vir ‘n sorgvrye week agtergelaat ………..

Die bus se aanhoudende gebrom wou-wou net die eerste oë laat toeval, toe die heerlike soet geur van lemoenbloeisels ‘n algemene opskudding onder die slapendes veroorsaak – “Haai, wat ruik so?” “Is ons rêrig hier?” Ja, dit was die pragtige sitrusplaas, Hexrivier en ons bestemming. In die flou lig van ‘n sekelmaantjie het ons via ‘n tennisbaan ons pad na Chris se lampe gevoel-voel. Sommer gou was die gesis van die wors in die panne hoorbaar en met die aankom van die BTK-kos in die maag, het die besef wel deeglik deurgebring – ons TOER mos weer!

Dit was allerlei hoekige en bonkige figure wat Saterdag die Dorslandtrek aangedryf het, want elke moontlike gaatjie en bêreplekkie moes herberg speel vir ‘n lemoen. Maar dit was ook nie altemut nie, welkom was hulle beslis later die dag. Dit was eintlik koddig om te sien hoe elke skyfie lemoen behoorlik twee of driemaal omgedraai word voor hy deur ‘n droë keel op pad na ‘n honger maag verdwyn. Ons beloning was groot – ‘n lieflike kampplek het by Algerië gewag. ‘n Glashelder bergstroom, sleeplek in die nabyheid van ons voorvaderlike geeste en ‘n weldeeglike gebrek aan ‘n brug vir die meisies aan wie natuurlik die óórkant van die rivier gegun word! Op Helmüth en Eben se ernstige pleidooi, verrys ou Meraai en vereer ons die aand met haar teenwoordigheid by die kampvuur. G’n wonder dat party mense soos Manie die Sondagoggend nie kon opkom nie, die geeste het seker te veel gepla.

Enrie en Tielie het hulle lyf die oggend feetjie probeer hou maar meer soos olifante geklink soos hulle deur die takke geworstel het. Na so ‘n heerlike beker koffie, het ‘n BT-Kaner weldeeglik besef dis Sondag of liewer ‘n BTK-Sondag. Na Jan Akker se preek is die ervare kuns van katswink eet herhaal en arme Oom Philip moes toe in dié onaktiewe toestand ‘n tiekiedoop ondergaan. Tog merkwaardig hoe indrukwekkend die mannegeslag in ‘n voorskoot vertoon, net jammer dat tant Helen dit nie kon aanskou nie. Die middag was dit ‘n grootskaalse bedrywigheid by die swempoel. As daar nie in die modder geskaats en seep gesmeer is nie, is daar iewers dromerig in die water gestaar – wieweet, miskien na ‘n flink ringetjie op die bodem, nê Lukas!

Voor die aandskemerte toegesak het, het ‘n paar manne hulle oor die vrouegeslag ontferm en so ‘n splinternuwe brug ingewy met die onverwagte geskril van Willem se fluitjie is dié gerief egter skoon vergeet en is in allerhaas luidkeels oor die rivier geskiet.

Maandagmôre het die wolke sommer volstroom gelek. Nietemin is ons al singend oor Middelberg en ‘n ou krotjie se mure het seker lanklaas só gebewe van uitbundige sang soos dié nag. Soos in wafferse spookwêreld het elkeen agter sy neus aangestap. In die omringende mis het vreemde rotsgestaltes opgedoem, maar stokstyf van die koue en sonder middagbrood het ons net één vooruitsig gehad – ‘n warm vuur! Ai, hoe welkom was die twee groot vure by Welbedacht se kampplek nie. Menige een het gewens dat hy sy vel kon uitdroog, maar Jan se koffie, gepaard met ‘n sny brood, was al weer meer as genoeg. Soos druipnat hoenders met trane van die rook het ons om die vure gebondel, terwyl ons skoene die koddigste krulmannewales langs die vuur uitgehaal het.

‘n Lieflike dag het Dinsdag bokant ons koppe gebreek. ‘n Dag wat vir ons sommer ‘n hoop mooi dinge ingehou het. Om elke draai of rots wag ‘n nuwe gesig of rotsformasie om jou aan te verwonder. En so op pad Dwarsrivier toe bestyg ons toe sommer so speel-speel vir Tafelberg ook. Mens voel maar klein en magteloos so onder die massiewe rotskranse, maar met ‘n stukkie ys om aan te suig en ‘n “pillar-box” wat jou bewondering afdwing, kom ons sommer gou bo. Eers eenmaal deur die tregter voel mens se bene maar jellierig vir die laaste 15’ wat met ‘n tou geklim word. Omdraai was min en selfs Gysje verras haarself. Halfpad teen die tou op het Oom Philip ‘n “serenade” van “Bobbejaan klim die berg” ontvang en dis jammer dat Hendrik nie daar was om Trixi se verwoerde “eindpoging” te aanskou nie. Ag, as ons maar almal Laurie se stelte gehad het!

Bo aangekomm, het ons verstom rondgedwaal tussen die kraters van ‘n ander planeet en rondom ons het die bergreekse agtermekaar uitgestrek gelê. Na ons verrykende besoek aan die vreemde “planeet” het Eben ons geduldig een vir een by die tou afgehipnotiseer. Eenmaal by die gevaarlike dele verby het ons soos donkies agter wortels aan, die berg afgestorm op bevel van ons knaende mae.

Janee, as dit nie lemoenbloeisels is nie, is dit appelbloeisels. Wat ‘n heerlike ondervinding om so in die appelboord te slaap en soggens wakker te word in ‘n stokstywe slaapsak as gevolg van die ryp! Woensdag was oorstaandag by Dwarsrivier en almal wat fiks genoeg wasm, het met ‘n flinke pas in die pad geval oppad Boesmantekeninge toe. Met die proe van sy boontjiesop die middag, het Oom Tjaain ons daarvan oortuig dat hy sy roeping gemis het, of was dit dalk ‘n pomp vir damesskiet, Oom Tjaain? Teen die middag was die eerste toeriste al erg benoud en die manne het metamorfoses ondergaan ter wille van die aand. Die twéé ure die aand was die oorsaak dat meer as een damesskietster haar skoensole moes deurloop agter haar prooi aan. Met ‘n kardoes rosyntjies vir seker elke tweede slee, kon die ou toeriste hul gerieflik inrig vir die aand se grootskaalse slagting onder die eerste toeriste. Maar wat, selfs Oom Danie het die vuurproef dapper deurstaan.

Al vroeg-vroeg het ons Donderdagoggend agter Oom Tjaain aangestreep oppad Wolfberg toe. Min het ons geweet watter onvergeetlike herinnering dié dag vir ons sou oplewer. Aangekom in die Voorhof van die Katedraal, kon mens maar net kyk, jou oë knip en weer kyk. Weerskante die reusagtige skeure, skerp afgeteken teen die blou hemel daaragter. Voor ons verder is, het ons op Oom Philip se versoek Psalm 8 gesing. ‘n Psalm wat weerskante teen die rotsmure vasslaan en dan deur die vensters na buite swewe ……………..

Voorts is ons deur ‘n donker skeur met net af en toe ‘n gilletjie van een wat mistrap of sy kop stamp. Ja, en dis toe wat ons sommer so skielik om ‘n draai by die onvergeetlike katedraal aankom. Voor ons was dit: ‘n goue gloed, soos sonlig wat kerkvensters binnestroom en ‘n groepie maats wat stilswyend daar sit. ‘n Gevoel van weemoed en nietigheid het ons oorweldig, iets wat net ons klompie sal verstaan. Spontaan het dit uit ons harte opgeklink “Die Hoogland is ons ervaring” en “Op berge en in dale en oweral is God”. As mens al ooit verbysterd gestaan het voor die wondere van die Skepper was dit dan en met “Die Stem van Suid-Afrika” het trane menige se gevoelens weerspieël.

Hiervandaar was dit ‘n gewurm deur ‘n ontsaglike hoë en nou skeur. G’n wonder dat Lukie se broek byna in die slag gebly het, die keer toe mens jou in die posisie van 90 deur ‘n gaatjie moes opstoot nie. Oom Tjaain se voorspelling dat alle kinkels en draaie sou deurgaan is darem bewaarheid. Na dese het Danie se broek ook ‘n pleister-lappie ryker geword. Asof ons nie reeds genoeg aanskou het nie, kon ons nog na die Groot Venster ook gaan kyk. Die wat kans gesien het om tot daar te klim, was sekerlik nie spyt nie.

Na ‘n deeglike weglê aan Oom Tjaain se heerlike stew, is Laurie se voorspelling die aand bewaarheid toe die Tentekomitee die trotse eters van die kondens geword het. Dit het hulle reggekry met hulle voorstelling van die Batteljon vir Toer en Korrupsie. So het ons vriend J.R. dan ook aan sy tragiese einde gekom. Ter wille van ‘n lekkie kondensmelk moes hy ewe gedwee aan sy nek heen en weer oor die slapende slees swaai ………….

Vrydagoggend was dit vaarwel aan Dwarsrivier met ‘n gevuurpyl aan die gasvrye plaasmense. Die dag was dit deur moerasse, riete en oor klippe, berg op en dan weer berg af. Vir oulaas kon ons ons verkyk aan die eienaardige kliporde van die vallei, dié keer in die vorm van ‘n Maltese Kruis. Op pad Syferfontein toe, behandel ‘n tak toe mooi vir Thea só sleg, dat sy die aand moes dokter toe. Op die plaas het ‘n mandjie heerlike lemoene en ‘n lieflike kampplek op ons gewag. Na ‘n lang spyskaart en ‘n reuse poedingafskeid van die paneters, kon ons vir oulaas saam slee onder ‘n oop sterrehemel met die geur van lemoenbloeisels om ons. Oom Philip plus aanhangers het gesorg vir ‘n uitstekende voorstellingsparade van onmisbare BTK-tipe. Daar was: die belhameltipe, die paneters, ge”case”des en die “tawwe”-tipe soos Chris, wat altyd óf ‘n boodskap vir Oom Tjaain óf vir die slotte moes aflewer.

Oom Tjaain het vir ons afgesluit met Psalm 121 en vir oulaas kon ons saam stil wees met alleen die geknetter van die vuur en geselskap van die stroompie. ‘n Donkie en die manne het die nag blykbaar ‘n serenade-wedstryd aan die gang gehad. Dis darem duidelik wie die prys moes kry.

Met ‘n pond botter in die pap en perskes vir oggendete kon mens sommer proe dat die laaste dag aangebreek het. Traag-traag en drupsgewyse het ons die kampplek verlaat. Seergebrande bene is vir oulaas deur geniepsige doringtakke gekasty en ‘n paar myl duskant Citrusdal het die busse ons kom oplaai. Chris was blykbaar toe al so mistroostig oor die verstreke toer dat hy hom roekeloos in-die-wiele laat ry het. Na middagbrood was dit net ‘n japtrap en al te gou het ou S’Bosch ons verbruindes ingesluk.

Ja, teen wil en dank was die toer verstreke en by die pakkamertjie aangekom het ons traag-traag Oom Philip se voorbeeld gevolg, ons bondeltjies met ‘n kragtige eindpoging opgeraap en verdwyn met ‘n “O, blame it on the last long mile ……..”

Corrie de Waal
(Sketsskryfster)

Leave a Reply