Jonkershoek Gala 1961

“Ons stap nou …………………..!” Daar is geen busse wat vertrek nie, want Gala 1961 is uniek! Ewie stap voor en Braam stap slot, en so val ons khaki-gekledes in die pad, Jonkershoek toe – ons eerste kampplek.

Maar eers sak ‘n klomp “suckers” Coetzenburgposkantoor binne om tjappies te kry – en moenie glo dis almal eerste toeriste nie! Dan verder, tot ons by Oom Kalie se halfwegstasie bietjie water kan ingooi.

Oom Ockie is mos ook onder diegene wat die “soetheid van die wraak” inwag. Tot groot vermaak van die omstanders wil Lukie bietjie weet wat hierdie eerste toeris “swot” en wen sodoende sy twee pakkies Lexington! Die mae is vol, maar om die snerpende windjie te probeer afweer, lê-sing ons op ‘n bondel die aand om. Oom Ockie beskou dit as heeltemal gereformeerd – hy’s mos gewoond aan Ikey-kampe!

Teen die agtergrond van melodieuse klanke (!) verskaf deur die “Lawaaiers” se blikke, hou ons Donderdagoggend gou voorstellingsparade voor ons die kurktrekker aandurf! Bokant middagbrood swem die slotte “kaalvoet” in die koffiewater, en dan is dit maar weereens opdraend en afdraend tot ons laat die middag by Nuwebergbosboustasie aankom.

Die aand lees Noag in die koerant van die groot reën wat aan’t kom is weens die ontploffing van Russiese bomme, en roep Sêm-hulle uit die wingerd uit om die Ark bietjie uit die garage te sleep en op te knap. So neem ons beroemde vervolgverhaal “Serial” weer ‘n aanvang. Telkens weerklink Eduan se kenmerkende laggie vanuit die Pastorale-slee – as “Hay” darem nie ‘n beroep kry nie, sal dit nie sy skuld wees nie!

“Opstaaaan” het skaars weggesterf, of ‘n klompie onskuldige nie-oggendbroders word ru uit hul drome gewek deur ‘n horde wraaklustige mans. Dan is dit oor Viljoenspas, deur Genadendal (waar ons lafenis kry in die vorm van koue koeldrank) Monteith toe. Nou begin ons éérs Gala!

Lyk my van die ganse het ontsnap uit Noag se Ark! Deon is die voorfluisteraar van hierdie besonder stemmige fluisterplan!

Jan, Danie, Jurie en Tinus sluit by ons aan en kom haal vier van die een-en-twintig spinnies van die rak af. Blykbaar het die BT-Kaners aan’t drink gegaan tot groot ontsteltenis van die waterdraers wat lang ente moet aflê in die vervulling van hul pligte.

As Alma Retief Saterdagoggend gespoor en gesteweld wil raak, vind sy slegs die uitgebrande wrakke langs die kampvuur lê. Dan stap ons deur die pragtige Palmietrivierkloof tot by ons eerste rusplek, die brug, waar Admiraal Braam en Luitenant Liep die voortou neem in die alreeds tradisionele watergeveg. Aan tot by middagbrood, en dis kampverdeling – mans op, dames af; daar word heerlik geswem, al hét ‘n mens nou vergeet om baaiklere saam te dra! Selfs M.J. hou ‘n paar oomblikke op met rook om met skoene en al die water in te val.

By Ou-Bos-Farm is alles kronies rustig – al die “baboons” is blykbaar ontwapen, want sonder enige moeite kom ons by ons strydplek van ‘n jaar gelede verby.

Die stew wat darem oor en oor die moeite werd is, veroorsaak dat ons baie laat eet. Deon en Andries jaag resies om uit te maak wie die voorreg sal smaak om Marietjie te skiet, maar hul moeite is verniet – dis te laat selfs vir slee! Dis ‘n troostelose aand – die wind waai geweldig en die enigste ligpunt op ‘n andersins itemlose horison word verskaf deur die aankoms van Bernard en sy al-giggelende mense “Jakoba” Kellermann.

Sondagoggend dra ‘n dwergie en ‘n bergie vir almal koffie in die bed aan. Lawrie en Danie verkyk hulle aan die vaal en vaak opstaangesiggies van die meeste van die dames.

Die wolke trek weg en negentig skoongeklede BT-Kaners stap die drie myl Kleinmond toe om die diens daar by te woon. Ons is dankbaar dat ons weer ‘n slag te midde van al die woel en gewerfskaf tot stilstand kon kom en kon luister na ds Ahleit se mooi boodskap uit Neh. 2.

Middagete – poeding – wynsous – dis genoeg om te verseker dat alle BT-Kaners die middag baie rustig deurbring. Tot groot vreugde van die Walaaiers, verdien die naweek-besoekers hul ete deur blikke te was.

Op hierdie stadium moet Oom Tjaain ons ongelukkig verlaat. Nou is dit ‘n geval van: “Nag, Oom Ewie!”

Dis ‘n wonderlike aand en saam stap ons af see toe om die maan oor die water te sien opkom. Daar volg ‘n lang slee, ernstige “items”, koorsang, en met gewyde sang om die kampvuur, sluit ons die rusdag af. Ons raak aan die slaap met die dreuning van die branders in ons ore terwyl ‘n halwe maan bokant die berg uitloer.

Maandag is nie meer soos van ouds ‘n oorstaandag nie. Ons lê weer die drie myl af Kleinmond toe waar almal hul stewels op Oom Hoon se vragmotor laai. Eers die innerlike versterk met roomys en koeldrank en dan is dit “al langs die strand” Onrustrivier toe.

As gevolg van Toffie se “rekbaarheid”, is dit vir ons moontlik om ‘n eksklusiewe foto te neem waar sy kop van sy voete gedistansieër is, soos Oom Ockie sou sê.

Die aand is dit Komitee-items. Die wraak-motief kom baie sterk na vore. Lukie se vraag “parpest thou” word byna slagspreuk. Die Tente-komitee se item bestaan daaruit dat Jan Bouwer die heel tyd op sy sokkies slot stap om die vuur, maar dis die Houtkappers met ‘n puik “item” uit Agtertang se wêreld wat wegloop met die blikkie kondens.

Dinsdag – die wel-eerwaarde Posmeester van Hermanus staan verskeie onthutste BT-Kaners te woord; en die uitslag? – geen tjaps nie. Nouja, dan gaan koel ons maar af met ‘n pint heerlike, koue melk. Selfs Oom Ockie met wit neus en sonbrille word opgemerk, sittende op die randsteen, voete in die sloot, bottel in die hand!

Hermanus se Posmeester het blykbaar met sy kollega op Voëlklip in verbinding getree, want weereens sit ons af met ons tjaps-kryery.

Hermanus se honde vervul ons met verbasing. Die een stap soos watse vakansie-ganger rond en gluur ons aan deur ‘n donkerbril wat Andries op een of ander manier daar bewerkstellig het.

Die reën wag oudergewoonte tot die Tente-komitee net-net in hul slaapsakke gekruip het, voordat dit hulle rus versteur. Hierdie helde antwoord swel op die dames se benoude “Tente-komitee!”

Die dag van alle dae vir die Eerste-toeriste breek aan. Te midde van al die verrigtinge het Oom Ockie darem nog die moed om die spreekkoor wat hom dreigend omring, af te neem. Iemand se sokkie beland per ongeluk in die pap, maar dit hoor ons eers nadat almal smaaklik geëet het. Maar sulke dingetjies skud ‘n mens maklik van jou af in die geski en bootjie-ryery wat hierop volg. Wat die ski betref, is dit veral die tokkelokke en predikante wat spark.

Diegene wat die oggend dorp toe gaan, sien ook iets wat die moeite werd is. Terwyl Oom Hoon se stewels by die skoenmaker besoek aflê, stap hy ewe houtgerus in Hermanus se strate op sy sokkies rond.

Inlywing beteken mos terselfdertyd Damesskiet. Die keer is die manne so seker van hul saak dat hulle glad stelling gaan inneem onder ‘n seil – net jammer dat party menere nie al te seker is vir watter dame hulle ja gesê het nie!

Die betrokke weer laat die eerste toeriste se moed nog verder sak, en genoodsaak verder ‘n lampvuur. In die beperkte ruimte tot hul beskikking, word ‘n heel oulike program aangebied. Onder andere word Eben daarvan aangekla dat hy nie alleen nie sonder sy ma kan klaarkom nie, maar dat hy nog boonop ‘n “waterproof”-broek dra!

Die reën gee ons gou ‘n “break” sodat die “afrekening” buite kan geskied. Daarna sluit Oom Ockie op treffende wyse af en bedank die BTK vir die mooi dinge wat hy by ons opgemerk het.

Die lang, tawwe sandstap Kelders toe word vol moed aangedurf. Weereens haal ‘n reënbui ons in, en druipnat kom ons daar aan voor ons middagbrood geniet – en Piet Venter wat by ons aansluit.

Uilkraalsmond – en ons laaste oorstaandag. Die toer kry nou vinnig koers end se kant toe. Net na Oggendbrood ontdek ons dat Hester mondig word. Die mans moet omtrent handeviervoet staan om haar geluk te wens. Die res van die oggend word deurgebring met ‘n rasende wedstryd op die sand. Dit is egter meer raas as wedstryd – in so ‘n mate dat omstanders bang is dat Eben en Lawrie mekaar te lyf wil gaan.

Marié en Piet Mielsop se pap vind groot byval na die oggend se inspanning. Maar nog steeds bly ons aan die eet, want Hester verras ons met kanne en kanne roomys.

Piet Hugo laat almal die aand deelneem aan ‘n magtige drama wat elke toneelliefhebber sal laat sidder! Toffie simboliseer so goed die golwe aan ons kuste dat mens se hande jeuk om jou branderplank te gryp! Hierna ontvang produksie-lyer Piet ‘n rasende ovasie en ‘n puik ruiker.

Die atmosfeer om die kampvuur is soos altyd op ‘n laaste aand, stil en vinnig. Dis amper asof mens die ruimte wil uitrek en vasklou voordat die werklikheid van nog ‘n toer slegs herinneringe word. Veral vir diegene vir wie dit die heel laaste kampvuur is, is die oomblikke nog groter, want ‘n wonderlike verrykende fase in hul lewe word nou afgesluit.

Om een of ander duistere rede word “Die orde van die Knoop” nie soos gebruiklik, die laaste oggend toegeken nie. Ons sing ons kele vir oulaas hees op pad Gansbaai toe waar ons weer warm koeldrank drink en in die hawe ronddwaal totdat twee hoekstene op wiele ons kom terughaal, beskawing toe.

Steph Naudé
(Sketsskryfster)

Leave a Reply