Knysna Gala 1969

Ai, die jaar is verby, en die eksamens. Dit beteken net een ding, dis Gala-tyd!

Die wa het Donderdagoggend, 27 November, om vyfuur (dit wil sê 05:30 BTK-tyd) vertrek. Daarvoor het Jurgens die waryers, wat die nag op die Hendrikse se mat deurgebring het, vieruur al uitgejaag.

Die bus het eers heelwat later gery. Oom Tjaain het ons kom groet. Hy het maar taamlik bekaf gelyk, maar enigeen sou as hy so ‘n bus vol lewe moes agterna kyk.

Kort duskant Caledon het Jurgens een van sy “betoger” vriende opgelaai. Hy is begroet met ‘n hartlike “Oom Olifant” en “Oom Bossie”, want die nuwe metgesel het omtrent ‘n stertjie van voor en van agter gehad. Sy bos hare is agter met ‘n vlegseltjie saamgevat en met ‘n stukkie pypskoonmaker vasgebind, verder het hy weggekruip agter ‘n ruwe, ongekamde baard. Die naam van die 6’5″-reus – Ben Dekker. Bok was van mening dat Ben se een been dikker is as sy twee bene saam. (Dit sê nog nie veel nie, want Bok se bene ………….)

Hierdie Ben gaan glo teen Sir Div staan in die nominasiestryd en is vas van plan om die pyp te rook. Ons hoop vir sy part nie sy twak word nat nie. En as hy inkom, het die BTK goeie kontak in die Parlement!

Die bus se band het net voor middagbrood, buite Heidelberg, gebars. Nogal ‘n heel geskikte tyd en plek. Gerda toontjies, die band sou darem eers gebars het as jy al middagbrood ook ingehad het, of hoe?

Met die afhaal van die band, was Ben net die man. Waar die ander manne druk, skop en trek om die moere te beweeg, wa-wiel Ben se lang, fris arms net so ‘n slag en als is klaar.

Nadat ;n familiefoto van Ben en Ben Dekker geneem is, vertrek ons met ‘n groot afskeid. Ons arriveer ongeveer vyfuur namiddag in Haroldsbaai.

Vrydag, 28 November: Ja-nee, Jurgens is ‘n “early bird”. Om agtuur blaas hy sy fluitjie vir hoera om te kom dat ons kan stap. Die eerste ent was styl, maar dit wat nog sou kom deur die dag, het opgemaak daarvoor.

Ons het gaan inloer by oom Burger Gericke, die groot Volkspeleman met die protea-kwekery. Hy neem ons deur sy tuin met die baie species. Oom Burger waarsku kort-kort dat ons tog nie van die paadjie moet afloop nie – ons trap dalk sy spesies plat. Bok besluit toe maar om op sy hande van die paadjie af te dwaal.

Na heerlike tee en nadat Pat ons mooi laat glimlag het vir ‘n foto geneem deur oom Burger, trek ons op.

Ons pad gaan verder oor Pacaltsdorp. Die dag het die skool ‘n verkeerde tyd gekies vir pouse. Ons koning die kleurlingkinders wild en wakker. Eers skrik hulle baie groot maar geniet dit later byna net so baie soos onsself. Die “meester” het groot moeite gehad om sy 1,100 leerlinge (die skool bied ruimte vir 500) tot bedaring te bring.

Ons besoek ook die pragtige ou kerkie waar meester vir ons ‘n historiese oorsig gee. By die poskantoortjie kry ons tjappies en daarmee is dit adieu vir Pacaltsdorp.

‘n Klein entjie verder loop ‘n paar BTKaners hul esel-familie raak. Bok, Koos en Hoffie annekseer elk ‘n donkie. Na ‘n bietjie rondskommel is Hoffie die eerste om grond te koop. Bettie Babbelbek van die Vrystaat kon die geleentheid nie laat verbygaan om ‘n dik, dom en difficult donkie aan te trek nie en die jongste lid van die eselgesin moes ewe gedwee “pose” vir ‘n foto, met ‘n nekdoek, hoed, bril en pyp!

Vir die res van die dag was dit treinspoor stap tot by Victoriabaai. Daar toe dit begin skiettyd word, was die manne in hulle element. Snaaks hoe ontspanne die mans kan raak as daar dalk damesskiet is. Met al die manne (behalwe die stokers) het dit maar moeilik gegaan om ‘n skiet te kry.

Saterdag, 29 November vertrek ons weer dou-voordag. Al het ons nie ‘n slakkepas gestap nie, het ons omtrent soos ‘n lang rooibruin slak gelyk, veral as mens kyk na die twee blink strepe wat ons weer agtergelaat het. Die treinspoor vat ons weer om die draaie en deur tonnels tot by die pragtige Kaaimansrivierberg.

Dáár wou ‘n onskuldige BTKindertjie wat nog nie weet nie, van Videa weet of as ons nou oor die brug stap, daar nog plek sal wees vir die trein ook.

Ons paadjie draai egter by die brug weg bosse toe. Ons gaan kuier by die tannie met die pont. By die Pont vind die Midde-Oosterse oorlog in die kleine plaas, maar dis nog onseker of die Israelis wel sterker as die Egiptiese Meide was.

Gedurende die wapenstilstand stap ons oor die pragtige Africa’s View na Wildernis. Daar drink ons eer die kafee leeg voor ons aanstap na die middagbroodplek toe.

Terwyl die middagbroodjies poog om soveel moontlik floppies te maak, speel die manne krieket. Net nadat al die kos opgeëet was, daag twee langverwagte motors op. They-O se skippie kom eerste om die draai met sy vol olie-gepoegde snoet. Net tien minute later kom Coert se Kombi met sy gat in die blok. Nou is ‘n paar BTKaners weer voltallig, of wat praat ons alles Bok, Jurie en Coert? Wilma en veral Estie was bly om hulle Moeder-ma te sien. Nie aldag dat mens saam met jou ma BTK nie – veral as sy nog nie weet nie.

Die aand spin ‘n paar mense wat nie baie graag wou spin nie, die is dat die spinnies toetentaal oorneem, totdat alombeminde Gerrit natuurlik weer hulle vlammetjie kan blus met ‘n blik water.

By hekeltyd verspreek iemand hom en “oom” Peet se status styg na Petrus.

Met die laaste stuiptrekkings van die dag gil tannie Hessie die hele dameskamp wakker toe sy die onskuldige 1,000-poot op haar kussing aansien vir ‘n slang.

Sondag, 30 November: Die sonnetjie het net lekker deur die bome begin skyn, toe vier vet feë en kabouters ons kom wakker maak het met die koffie en beskuit.

Om tienuur lei die bruidegom, ds Peet vir ons die diens onder die bome. Na die diens sing ons tot die kos gaar is. Al gehoor dat sing mens kan honger maak? Maar wat, die BTK se Sondagmaal kon weer enige koshuisdinee op Stellenbosch na ‘n koffie-party laat lyk.

Bettie het haar omtrent vergryp in die vrugteslaai en roomys. Of het sy dalk te ver gegryp, tot sy met kop en al in die bak beland en met ‘n wit, gesig daarvan afgekom het. Al voordeel – dit het haar babbelbek vir ‘n tyd lank afgekoel.

Die middag het ons heerlik op die rivier deurgebring met bootjies en blaasoppies. Daar was tot ‘n touswing oor die water (van die wal af natuurlik), net jammer mens se hoed bly nie op jou kop as jy van die tou af in die water spring nie, nê Philippie.

Na ete die aand het ons ‘n heerlike ent gaan stap en gesing en sommer net die mooiheid van die sterwende Rusdag geniet. Drie slangetjies in die pad het ons egter gou teruggejaag.

Die aand was dit Jurgens se voorreg om te sukkel om orde in die kampvuurkring te kry. En wat ‘n gesukkel! Dr en mevrou Brummer (van Kroonstad) wat die middag se roomys geskenk het, was vir die aand ons gaste.

Na ‘n paar geestelike items, onder andere ‘n knap eerstetoeris-item en koorsang, was Natie en Soapie die tweede paar gaste van die aand. Na ‘n baie hartlike verwelkoming, veral deur die dames, het Bok ook skielik van iewers vandaan ge-herarriveer. Ongelukkig vir hom was niemand oorgretig om hom op dieselfde manier te ontvang as vir Natie-hulle nie.

Die aand is nog ses gevalke BTKaners deur die kys-formulier; Stephan en Hulda, Philippie en Ella en Neil en Elsa – ja-nee, net voor solank het duren willen nê! Ja, die ou wêreld.

Nadat ons die Brummers op BTK manier maan toe gestuur het, het hulle opgetrek. Hulle was skaars weg of Scottie met oom Bethel, Bernard Lategan en Ansie daag op.

Met hekeltyd is Jurgens en Maretha so vas gehekel dat hulle nie langer die aap in die mou kan hou nie. En o gaats, toe hy uitspring, toe dra die aap jou waarlik ‘n goue ring!

Net voordat ons wou afsluit, was Annatjie Vorster die laaste om by ons aan te sluit met twee wrakelinge by haar, Babbels en Sonja.

Maandag se stap begin met ‘n vrolike hoera, wat nog later in ‘n singende knorra sou verander. Sommer met die wegspring al gooi Jurie en Tokkelokkie duim – wat hulle natuurlik ‘n blikwas besorg het.

By die kafee drink almal koeldrank, ook nie almal nie, die wraak akkordeer glo nie so goed met gaskoeldrank nie.

By die volgende stop op die eerste duin, probeer die ou manne hulle bes om die arme eerstetoeriste uit te kyk, maar die miere wat jou voete opvreet kan ôk maar lastig wees!

Ons eerste sandstap was ver, baie ver. Maar wat deur te sing bring ‘n BTKaner dit mos ver, selfs so ver soos Gerickepunt. By die enkele “smoke-break” – of swembreak, ondergaan Theo Mac ‘n gedaanteverwisseling, naamlik na die van ‘n regte sanderige beach-buggy.

Terwyl volunteers en middagbrode, let wel, nie middagbrode en volunteers nie, sorg vir die vleeslike behoefte, het ‘n paar wat skielik ‘n tweede asem geskep het, die vissers gehelp om hulle skuite uit die water te kry.

Van middagbrood af was dit sommer tjoef-tjaf en ons was in die kamp. Na ‘n koue koeldrank en ‘n koue stort sien mens sommer weer kans vir wat voorlê – veral as die WRAAK nog voorlê.

Om “‘n groepie ander ons te kalmeer” het Bernard by die kookvuur vir ons ‘n skitterende Simbamba-program gegee. Ronnie MacFarlain en nog ‘n paar ou BTKaners het die aand spesiaal oorgery vir die groot aand. Die items van die eerstetoeriste is weer gekenmerk deur ‘n besondere brawe, dog senuagtigheid – heeltemal te verstaan ook – die WRAAK bly maar soet, selfs al is hy so nat soos hy die aand was.

Weens die reën moes ons in die kerksaal gaan afsluit. Let wel, die Kerksaal wat uitsluitlik vir kerkaangeleenthede gebruik mag word. Ek wonder nou nog wat is kerklik van slaap. Want sien, die dames het ook toe sommer daar gaan slaap. Die naaste wat dit kom aan die Bybel is die Babelse chaos wat daar geheers het nadat die dames afgepak het. Ja-nee, dit is maar moeilik om vir Tey-O te hê as tente-gonvenor.

Die liewe koormanne het die dames aan die slaap gaan sing met die pragtige liedjie van die mielie. Hulle stemme het soos druppeltjies deur die lug geval – net jammer dat die druppels later nat geword het.

Daar was tog mense, baie optimistiese mense wat ‘n lieflike aand voorspel het. Ongelukkig is bome, ‘n wa of ‘n grondseiltjie nie heeltemal waterdig nie. Die mans onder die bome was vyfuur reeds op en nog vroeër wakker! Met die wakker word het die een wat so baie raas laat hoor: “Kyk, ek het nog altyd gehou van ‘n bad, maar ‘n bad in die bed is darem een te veel! Dit het versigtig uitgeklim gekos of die nat slaapklere bly in die nat sak agter. Van slaapklere gepraat, Scottie is al een wat teenwoordigheid van gees gehou het, hy het met sy baaibroek gaan slaap.

Ja siestog, dit was Jôni, Tjommie, Tey-O en Scottie wat die wa se waterdigtheid oorskat het. Jôni sê hy is seker dat hy onder die wa se geut beland het. Scottie sê hy is sjorrie, maar hy slaap nie weer onder so ‘n sjorrie-lorrie as dit begin sjor – nie.

Die dames se kerklike beskutting was ongelukkig nie met die teer van Moses se mandjie gesmeer nie (al het Tey-O kom seiltjies span dat dit ‘n aardigheid is). Cecile, Gerda en Biffie kan getuig dat elke kerk sy minder bevoorregtes het.

Die wat die natste was, was eerste om die nat, rookvuur om hulle slaapgoed van ‘n waterdood te red. Daar was ongelukkig net baie meer rook as hitte, sodat Joni later laat hoor het dat hy nou weet hoe voel gerookte biltong. Bernard sê hy kan nog nie mooi dink nie, sy gedagtes is nog te nat.

Toe Jôni gaar was, het hy sy pyp loop soek om verder te rook. Iemand wou weet waarheen hy is, oom Bethel se antwoord was dat Jôni net gou stroomaf is om sy pyp te gaan haal.

Met die walaai het die dames ‘n nuwe liedjie gemaak:
Laai manne laai,
laat die kiste waai,
Daar’s baie werk
vir manne sterk,
Op die BTK se Blue-Bird.

Nadat die seil, wat volgens Jôni net so groot soos Ackermans s’n is, oorgegooi is, het ons onsself oor en om die wa gedrapeer vir die groepfoto.

Daarna kon ons vertrek, party landwaarts met die Bird – met hulle het dit goed gegaan. Die ander het waterwaarts gegaan, met hulle het dit nie almal so goed gegaan nie. Die gety was aan die inkom. Meeste het darem baaibroeke aangehad, maar daar was diesulkes wat gehoop het om droogvoets deur te kom. Die trappe van vergelyking kan wees, droogvoet, kaalvoet, ………….ja, wat sal die oortreffende trap nou wees as mens jou broek verloor! Piet Rossouw was die ongelukkige man wat sy broek tussen sy tande vasgebyt het. Hy kan nie swem nie, en in die diep water moes hy skree.

Tannie Hester het die dag wa gery. Was dit oor seer voete, of was dit om vir oom Zackie te bel om simpatie te soek oor die wraak wat verby is. Sy kon ook net dag sê; toe val die trane.

Met stappery het Jurie weer geloop asof die duiwel hom jaag. Behalwe die heerlike ou sand – middagbrood was daar weer net die gebruiklike een smoke-break – en toe moes ons nog op ‘n koppie ook klim daarvoor. Selfs die slotte het nie rede gehad om te kla nie, ons het mos gewag totdat hulle by ons was voordat ons geloop het.

Met vuil, olievoete het ons uiteindelik die sand van ons knieë afgeskud en koers gekry deur ‘n pragtige Port Jackson-bos, na Gaukamma toe.

By die pragtige groen kampplek langs die swart rivier, was die tente opgeslaan, wa afgelaai, groente geskil en boonop het al wat ‘n nat slaapsak was, oor die draad gehang. So gaan dit as toervader en sjaperone wa ry. Toe laat Hester nog boonop vir ons heerlike kaai gemaak het, was dit net mooi die “cherry on top.”

Scottie was natuurlik so gou moontlik op die water met sy kano. Met die wegtrek het die ouens op die wal hom toegewuif met ‘n ry-maar, ry-maar. Toe Coert en Estie net daarna ook ‘n draai gaan gooi, het oom Bethel hulle gegroet met ‘n vry-maar, vry-maar.

Die dames het in die lang gras gekamp – ongelukkig het dit gou geblyk dat muisneste realiteit ook kan wees! Pragtige ou sagte klein streepmuisies was genoeg om al die dames te laat gryp na bagasie toe daar later sprake was van trek na die huis teen die bult. Ja-nee, die trekkery was nie net omdat Tey-O die wolke sien opsteek het nie.

En het die dames nie die huis oorgeneem nie. Hulle het gesorg dat daar nie ‘n plek sou wees vir ‘n enkele streepmuis nie! Arme Videa het dit sleg getref, daar was nie meer vir haar en ‘n paar ander plek op die vloer nie, toe moes hulle maar die nag op die rak deurbring.

Die aand eis ‘n “well” slee. ‘n Ou kennis van die Maccies, ‘n oom van die Vrystaat, het saamgeslee. Hy het ‘n klomp stories gehad oor die dae van 1930. Coert het kampvuur gehad, die oom wou weet of hy sleekommandant was.

Dié “omie” was toe al die tyd prof Du Plessis van Bloemfontein. Die kokke het sowaar die moed gehad om hom te gaan koning, uit te sleep en in die spinnie-slee te gaan gooi. Bok sou wel opmerk: Prof en die prikkelpop.

Wat items betref was dit ook ‘n baie vrugbare aand. Bok en Jôni lees die nuus soos net Peter Matwetwe dit kan doen. Jôni neem ook afskeid van ‘n paar van sy geliefde items, onder andere die Donkie. Ou Jôni ons voel geëerd dat ons dit vir oulaas so met jou kan deel. Volgens tradisie kon daar weer net nie ent kom aan die spinnies se vermoë om die items in hulle kanon te skiet met advertensies nie.

Woensdag: Andrew het die pragtige dag gekies om te verjaar. Na oggendbrood het die dames hom op eg BTK-manier gelukgewens deur eers vir hom die verjaardaglied te sing, daarna te koning en toe te queue. Nadat die vroumense met hom klaar was, het die mans oorgeneem en hom klere en al in die water gegooi.

Nadat Peet op eg Hollywoodse manier vir Ma-Gina gewys het hoe die walaaiers oor haar voel, het ons weer die pad gevat Buffelsbaai toe.

Ons draf sing-sing deur Buffelsbaai wat baie mense kopskuddend laat opkyk het. Op die strand was daar tien minute vir swem, Tokkelokkie het egter ander dinge gevind om hom mee besig te hou. Soos Bok dit later in sy nuus stel: “Today at Buffelsbay, it sound very gay – a very unfair dogfight took place, Tokkoloshe challenged a nude.”

Oom Bethel kon nie wag dat ons Buffelsbaai se sand uit ons skoene kan gooi nie, hy het heel pad voor gestap. Ja-nee, die swem was nie om dowe neute nie, dit het net mooi die tyd so opgemaak dat ons met breaktyd die trappies kon uitklim na die hotel.

Na ‘n heerlike Beer aus Bavaria, het ons mooiste stap van die toer begin, Mooi inhamme met die mees romantiese strandjies en spierwit seevoëls. Die laaste end na die middagbrood plek het ons omtrent gevlieg oor die bossies.

‘n Paar manne het gaan bad in ‘n ronde kom in die rotse, met Beer aus Bavaria het hulle al wat ‘n brander was probeer wegsing. Maar toe die seeskuim baie meer word as die bierskuim, het hulle ook maar gou padgegee.

Na middagbrood, gaan ons paadjie verby pragtige kranse oor bosse, dwarsdeur eina bossies en eindelik onderdeur bosse, verby die westelike kop en al met die laguunrand langs tot by Brenton on Lake, die heerlike kampplek met die baie gras, baie ronddawels en baddens – en die baie bosluise.

Nadat ons eers die kafee leeggedrink het, kon ons ons dors gaan les met die tien gelling melk wat in die kamp op ons gewag het.

Na ete is die kampvuur ‘n bietjie uitgestel deur lekker ou volkspele. Die blikwassers was so suur omdat hulle nie daaraan kon deelneem nie, dat hulle besluit het om ‘n slaggat te stel. Hulle het naamlik hulle ou vuil piffel-water in die koolgate van die vleisskottel gegooi. Hulle lis is bevredig nadat nie minder as vier mense in die vetterige slaggat getrap het dat die sop so spat!

Om die kampvuur sit Bernard sey Simbamba voort en Bok lees weer vir ons nuus. Die hoogtepunt was die Floppera onder die bekwame regie van professor dokter Bernard Lategan. Die Floppera? My regverdige dame.

Tannie Hessie het die aand gesorg vir koek by die tee. Net jammer Jurie kon nie ook daarvan eet nie – hy het hom ooreet in die pan. Oom Bethel noem sy siekte Gastrolitis maar Bok, alias Peter Matwetwe sê: “Have you any difficulty in stomach irregularities, use doctor Jurgens Makulu’s new advise – don’t pan or ram otherwise you’ll have to scram.”

Donderdagoggend het ons weer geslaap totdat die son ons uitgebak het – ons sou die dag energie nodig hê, Knysna word mos weer op alle moontlike maniere binnegeval en oorgeneem.

‘n Groot klomp het gestap – oor die treinbrug, ‘n vloot van vier roeibootjies en Scottie se kano het oor gevaar. Een bootjie moes halfpad terugdraai: Wás hy stukkend of wou Bok en Jôni dalk kom geld haal vir die Beer aus Bavaria?

In Knysna het hulle ‘n bootmakery gaan besoek, die houtfabriek deurgedraf en toe die kafees en winkels oorgeneem.

Met die terugkom het almal natuurlik lifts gesoek. Bettie en Gerda het by twee wolwe in ‘n motor beland. ‘n Ander groep het weer die outas gehike wat met so ‘n snaakse karretjie op die treinspoor ry om die piffel op te laai. Hulle moes glo net woes koes vir die outa-sweet, en dit het seker sweet gekos om die spul vroumense te beweeg!

‘n Ander groep van dertig het ‘n motorboot gehuur en baie windmakerig hulle draai kom gooi in die baie vlak water afgeklim en begin aanstap land toe. Hulle wind was maar taamlik uit hulle seile toe die water skielik weer begin dieper word het. Ok maar goed dat Scottie by was om die kameras te red.

Die middag het Hulda bietjie Doringrosie gespeel. Net, sy het nie toegerakn in haar bed nie, maar is ewe plegtig in haar hangmat toegewerk. Slaap het sy ook nie veel van gehad nie, Bok-hulle het haar sopnat gegooi.

Die aand het Tokkelok die komitee-items ge-orgy. Dit was ‘n groot sukses, net jammer dat mens die grootste deel van die aand agter jou kombers moes lag, sulke regte toe-spit items. Die tone het die kondens gewen van die dames en die tente-komitee van die mans.

Vrydagoggend na oggendbrood was dit omtrent Studio-7-tyd. Stephan kon hom nie draai nie, of die volgende groep staan reg om afgeneem te word, van baard-foto’s tot ponytail-foto’s.

Uiteindelik die hele groep die drie myl oor die berg terug ry en stap na Brenton on Sea toe om te gaan jol op die strand. Op die strand loop ons toe ‘n paar verdwaalde Tukkies raak. Oomblikke later was hulle nie net verdwaal nie maar ook verdwaas. Maar wat maak mens nou ook as ‘n spul vreemde mense jou begin koning op die strand!

BTK-jol op die strand en rugby is maar sinoniem. Die dames kom eerste aan die beurt. Na die prag van ‘n drompop-vertoning en afnemery, tree hulle in die stryd. Na ‘n geskop en getrap, geknyp en gekrap, wen die beste span, die Noorde (Daar was gelukkig geen ernstige ongevalle nie). Om die balans te hou, het die Suidelike mansspan toe maar gewen.

Na die groot opwinding het ons gaan afkoel onder die natuurlike shower in die spuitrots.

Die tradisie om iemand te begrawe moes behou word. Die dames spring die mans voor, Coert was die arme slagoffer. Na groot moeite het ons darem onder gekry. Ja-nee, die swakker geslag raak soms op slinkse maniere sterk.

So drie-uur was ons terug in die kamp. Die ou spreekwoord wat sê, vele hande maak ligte werk is weereens bewys toe die kiste na minder as ‘n halfuur kant en klaar gewas was. Na die episode is mens natuurlik lekker vuil, maar Tieks troos ons toe sy sê: “Weet julle ek hou so baie van BTK, dis die enigste plek waar ‘n meisie lisensie het om sleg te lyk.”

Die aand was dit mos weer die gróót skiet. Die Tukke was ook genooi vir ete en vir slee. Daar was al baie manne weg – die getal spinnies het so gevat-vat aan die twintig. Jurie het ons byna mal gehad met die fluitjie. Toe Coert verder sports maak deur ook ‘n piffel aankondiging te maak, moes hulle maar die gelag betaal.

Met die skietery het Johan Maccie vir hom ‘n harem van ses meisies geskiet.

Alles was vir die Tukke snaaks en vreemd. Die skietery en pannery…… In die pan verspreek hulle S.R.-voorsitter hom en praat van die pan as ‘n bak – hy het aanvanklik baie sleg gevoel, maar sy gesigsuitdrukking het vinnig verander toe hy hoor dat ons dit ‘n trog noem.

Ook in die slee veroorsaak die Tukke groot ontwrigting – hulle het niks om mee slee te bou nie. Vir straf moes hulle ook ‘n paar items gee.

Tjommie, Jôni en Bok het die aand vroeg reeds begin afskeid neem deur hulle geliefde items vir oulaas te item, dit was Vrot vis en Kleinhuisie en Wieloppomp – ai, ons gaan julle mis.

Met die afskeid val daar ‘n ligte buitjie wat alles soveel mistroostiger maak, maar wat al die ou herinneringe laat insak soos die water in die grond insak. Mens kan nie help om ‘n traan af te vee as legendariese gesigte soos die van Dan, Coert, Ma-Retha, Gerda Stoffie, Sussie Wilma en nog baie ander in die rooi gloed van die vuur gaan sit nie. Veral as Bok nog sy hartjiesbroek in die vuur gooi.

Na ‘n lekker slapie in die rondawels staan ons met nog baie van die vorige aand se hartseer op. Nog ‘n toer is verstreke, nog ‘n jaar is verby en nog ‘n groep maats gaan vir altyd weg. Dankie aan julle wie se vriendskap vir ons so baie beteken het. Sulke ou kennisse vergeet mens nie sommer nie! Daar is weer ‘n hele paar trane gestort by die afskeid net voor ons sou vertrek. Coert het sy voorsittersbroek aan Jurie oorhandig en sy hoed het hy vir sy Esté gegee.

Die terugrit het weer ‘n vroliker noot gehad, ‘n noot wat iewers vasgehak het! Ons het van George af tot op Stellenbosch gesing.

Met hees kele en hees verbrande lywe, het ons so sesuur hier afgeklim. Stellenbosch se strate was stil. Maar ons harte was ook stil. Stil en baie vol van dankbaarheid. Dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader vir alles wat Hy vir ons gee; die openbaring van Homself in die natuur, opbouende vriendskappe en die vreugdevolle studente-herinneringe.

Esté de Beer
(Sketsskryfster)

Leave a Reply