Gamkaskloof April 1977

Vasbeslote om van die Hel-toer ‘n helse sukses te maak, vertrek ons baie vroeg vir BTK-tyd (slegs twintig minute laat) Vrydagmiddag vanaf Stellenbosch. Daar word druk gesels en gesing en die yweriges krap kop om name en gesigte bymakaar te bring. Agter in die bus word boekies enne nekdoekies enne sakwapens enne… te koop aangebied.

Toe die honger begin knaag, word die verskillende koshuise se kos vergelyk en oor en weer uitgeruil. Daarna probeer enkeles tevergeefs ‘n slapie inkry. Sapa, Hendrik en Koos moedig almal aan om te sing, (“dié wat boekies het, moet sing, dié wat nie kan sien nie, moet probeer en die ander moet ook maar probeer”) maar hulle pogings eindig deurdat hulle drie ‘n trio lewer.

Miskien was Fielies, Cobus Annandale se klein Siamese katjie wat saamtoer, die dankbaarste toe ons op Montagu stilhou – die bus se vloer is darem ‘n bietjie hard! Almal is egter bly om sommer hul bene te rek terwyl hulle ook vars lug skep.

Hoe nader aan ons bestemming, hoe erger word die pad en sommige is eintlik jammer oor die helder maan waarsonder ‘n mens salig onbewus langs al die afgronde verby sou ry. Op plekke moet die bus om die draaie “reverse” en dit is nie sonder ‘n mate van verligting dat ons Eugene se aankondiging dat ons nie verder ry nie, aanhoor.

Ons vertroue in ons voorsitter se afstandskatting kry dadelik ‘n geweldige knou – volgens hom is die kampplek slegs honderd meter verder, maar as dit waar was, was ons hele toer korter as tien kilometer!

Ons is dankbaar om die kamp, die waryers en Tey-O en Marguerite te sien. Oor ‘n beker koffie luister ons na wat Eugene oor netnou se stap te sê het.

Tekkies is die enigste een wat wakker is, en hy maak ten sterkste beswaar toe ‘Gene aankondig dat ons “enigiets” kan aantrek, van “boots” tot tekkies, want met tekkies kan julle sommer deur die water loop.

Dis half-drie voordat ons klaar is en selfs die helder maan hou niemand baie lank wakker nie.

Saterdag:
Na die baie kort naggie is almal maar dik-oog in die oggendbrood-“queue”. Dit neem lank voordat ons aan die roer kom en ons stap eers half-tien.

Dis ‘n mooi stap langs die rivier op – die bruin water en hoë kranse laat ‘n mens plek-plek sterk aan die Visriviercanyons dink. Tydens ‘n lekker lang “smoke-break” durf ons die krappe aan en baljaar in die water. Die gallery by die voorstellingsparade beklemtoon dat Charlotte nie Janson is nie, maar Wouter s’n; Lieschen se van word Kock-e-diedel-doodel-daai; Jacolien s’n word Op-bergen-en-in-daalen en Sapa word sommer Sapa Reuter, “Ajaans Fraans Press” en “Deutsche Presse Agentur”.

Middagbrood word gehou onder ‘n groot bakkrans en almal sien uit na die koeldrank. Groot is die teleurstelling dus toe daar ontdek word dat daar geen koeldrank is nie. Die smaaklose lemonade is nie baie gewild nie, en die kosma en kosdogter nog minder.

Almal verseker dat tentekomitee die paar donderwolke wat voor die son verbytrek, raaksien, maar gelukkig is die verkleinwoordjies in “met dofsware ploffies val die druppeltjies in die stoffies” baie van pas en het ons niks te vrees nie. By ‘n rusplek in die rivier is die “druppeltjies” wat rondgegooi word, egter ietwat groter en ‘n paar mense kom redelik nat daarvan af.

Skielik verander die omgewing heeltemal as ons oor ‘n ruggie gaan en tussen die reuse-aalwyne deurstap. Ons spring oor ‘n breë donga en dit voel asof mens in een of ander storieboektuin rondstap. Net so onverwags kom ons by ‘n steil afgrond en sien ons Gamkaskloof in die laagte lê.

By ons kampplek langs die Gamkasrivier wag ons ‘n rukkie vir die wa om op te daag. Die tyd word verwyl met pogings om die arme donkies as vervoermiddels te gebruik. Een donkie verkies selfs die water bo sulke behandeling.

Nadat die wa afgelaai is en die walaaiers alles deur die rivier gedra het, skop ons nes. Koos maak oop en is baie gewild – veral die nuwe variëteit, naamlik Nougatte! Onder aanvoering van Sarina word daar telkens, wanneer Tekkies sy rug draai, ‘n “kom vat, kom vat”-rooftog op Koos uitgevoer.

Voor skiettyd vind daar woeste ingrawery op die seil plaas. Sommige eerste toeriste is heeltemal verward en die kookliedjies lei tot verdere ontsteltenis.

Na ‘n lekker bordspin is dit tyd vir kampvuur. Die spinnies ontdek gou dat Nico baie interessante sleepille het, en dit is so hittete of hy was sy pynappel kwyt. Vanweë ons besondere geografiese ligging, word ‘n hele paar Hel-aaitems gelewer – arme Nic het probleme met sy ACVV-tannies wat basaars reël om lugreëling in die ander plek in te stel. Die donkies lewer ook ‘n aaitem en veroorsaak Gamkaskloofse chaos deur in die dameskamp ondersoek te gaan instel.

Die “hoogtepunt” van die aand is egter Helproduksies se aanbieding: “Die heks vlieg oor die spreeu se nes.” Die arme katjies wat eers so liefies lê en “purr”, word wreed deur Sarina se nekdoek verwurg en dan afgeslag. Arme Eugene durf sy wrede nou aan en kom sonder sy vel daarvan af. Van toe af vloei die bloed konstant en het hy probleme om te bad, aangesien die bad van die bloed oorloop voordat hy klaar gebad is. Die grootste probleem is egter wanneer die bloed stol en hy in die bad vassit!! Toe hy eindelik sy vel by Sarina gaan terugsteel, is dit twee nommers te klein en versmoor hy. Die einde van die verhaal? “Die heks en haar man vlieg oor die spreeu se nes as dit volmaan is in die Hel!”

Na ‘n uitkenningsparade wat niks doen aan die eerste toeriste om hulle aantal swart kolle te verminder nie, drink ons tee en maak almal kennis met Johan Marais se gevreesde hekelboekie. Daar vind ook die eerste van verskeie episodes plaas – tee word omgegooi in Jat en Marié se slee!

Dit is nie meer Saterdag toe Tey-O “Nag dames” sê nie, en almal keer maar gou bedwaarts.

Sondag:
Na die gewone Sondagoggend-in-die-bed-ontbyt is almal, danksy die effektiewe kerkklok, betyd vir Tey-O se kerk in die sleekring. Miskien moes Tey-O ‘n bietjie vroeër die oggend vir ‘n paar donkies oor die agste gebod gepreek het, dan was daar meer pynappels in die slaai oor!

Tey-O is onnosel genoeg om op die toer te verjaar en, toervader of nie, word hy met klere en al in die rivier gegooi. Dit is seker nie nodig om te sê dat hy nie die enigste was wat nat was nie.

Na ete en Elsa bevry niemand die blikwassers hulle werk nie. Andre, Pierre, Nico en Hendrik (met sy byl) wat met hulle laaste kragte nog vir “seconds” (of was dit ‘fourths’) tot by die emmer Elsa gebruik het, sou definitief nie eens ‘n lepel kon was nie.

Ons middagslapie word versteur deur die aankoms van Rotjie, Adriaan Swanepoel, Gottlieb en Ters. Die meeste durf die rivier aan in ‘n poging om skoon te kom. Woeste oorloë vind ter see plaas en selfs Nico en Magriet se rustige vlot word wreed gekelder. ‘n Rots in die rivier dien as haar- en skoonheidsalon en Tekkies loop kwaai onder die lipstiffie deur. Laatmiddag versamel die sangfees-kore om hulle liedere vir die aand te oefen, en dis nie lank nie, of die hele kloof weerklink van BTK-sang.

Ongelukkig vir hulleself, verkies die meeste kore om reg in die rook te staan en sing en is die gevolg ‘n oormaat tranerige liedjies. ‘n Andersins rustige kampvuur word versteur deur ‘n aantal verskriklike spinnies (hoekom is almal tog nie so soet soos Betsie nie?!) wat op hopies en sleepille floreer. Volgens Ters is dit aaklig om met ‘n lampeman te slee, want hy is vreeslik onrustig – ‘n feit wat baie sterk deur Tey-O en Marguerite bevestig word. Louise en Sapa vind die aand egter nog meer onrustig – hulle beland albei in die rivier!

Tydens hekeltyd moet Claire verduidelik wat dit beteken as ‘n man hóé bles word. Die kwaai hekel dat Johan Louw gesé het hy hou van Kinnie se been, blyk toe nie so erg te wees nie – dit was haar “stew”-beentjie om sy nekdoek.

Ten spyte van die waarskuwings oor die volgende dag se stap, is dit so lekker om ná “nag dames” nog om die vuur te sit en sing, dat dit baie laat word voordat die laaste liedjie se klank in die kloof af wegsterf.

Maandag:
“Opstaan, opstaan, dis ‘n lieflike nag…” is ‘n baie gepaste liedjie om te sing toe die papkokers ons wakker maak om te kyk hoe die groen maanvreter die maan opvreet. Kort daarna sorg die oggendbroodjies dat al die manne deeglik wakker is.

Die wa is ver, en dit word ‘n bietjie laat voordat ons, met die eerste toeriste by Eugene vooraan, in die pad val. Dis padstap deur die Hel. Hier en daar langs die pad staan ‘n netjiese plaashuisie met sy tuintjie, dammetjie en begraafplasie en mens voel sommer aan dat ‘n gejaag en ‘n horlosie vir daardie mense maar min waarde het. Van ons beny in ‘n sekere opsig die ou omie wat rustig op sy stoel sit en rook terwyl hy ons hele optog aanskou. By ‘n skooltjie word daar “smoke-break” gehou en Cobus en Eugene in die klein bankies word terstond as die spesiale klas verklaar.

Te gou na almal se sin is ons by die einde van die kloof en durf ons moedig die steil “zig-zags” van die Otto du Plessispas aan. Dit is laaank en steil en die pad eis sy tol – gou-gou is daar slotte en slotte. (Ters, van wanneer af is hand-aan-hand stap bevorderlik vir ‘n seer enkel?!). Dit is Gamkaskloofs warm en elke druppel water is ‘n kosbaarheid wat stadig gesluk en waardeer word. Almal loop in die smal stukkie skaduwee teen die wand en stem saam: dit is definitief makliker om in die Hel in te kom as daaruit!

Uiteindelik bo, is dit nog ‘n lang en moordende ent voordat die salige lafenis van ‘n koel stroompie ons deel is en ons in die pad kan “uitpaas” vir middagbrood. Daarna het almal nuwe krag vir die vele verdere opdraande en afdraande, maar niemand voel jammer om eindelik die groen dennebos en die bosbouershuisie te bereik nie. Verkwik deur water en Vitamien C-pille wat Johan Gericke onder die skuilnaam van soutpille uitdeel, voel almal sommer weer reg.

Dis al sononder voordat die wa afgelaai en die kampplek ingerig is. Die plek lyk belowend vir die Wraak – lekker nat en modderig. Met die volmaan as enigste beligting, geniet die dames ‘n heerlike bad in die dammetjie. Die eerste toeriste doem wyslik nie die moeite om te bad nie. Ons is honger en die ingrawery vind plaas waar almal die kospotte sit en dophou. Kallie se bewegings toe Rachel as spinnie aangekondig word, verraai duidelik sy bedoelings.

Na ‘n kort volkspele-sessie is dit al amper elfuur voordat ons in die slees klim. Die eerste toeriste voer die heerlikste flopbare aaitems op – Claire sukkel behoorlik om genies te kry, so galant is Sapa gedurig met sy sakdoek by. Sapa kom egter sy moses teë in die Gericke-broers toe hy Carli in haar hoogskop-aaitem probeer steun. Myburgh se vliegtuig vol bakstene word iewers oor die Sahara geskaak en kom nooit by die aaitem se einde aan nie. Die “mees oorspronklike” aaitem is egter een van twee brommers wat om ‘n mond vlieg … (al wat oorspronklik was, was dat die arme tand, nadat Hendrik homself as plaak daarop gevestig het, vinnig ‘n wisseltand geword het!).

Die Wraak is woes – dis nie verniet volmaan nie. Baie, baie later, toe selfs Pierre se bloedneus ophou bloei het, sit ons nog lank en rustig om die kole en sing.

Dinsdag:
Aangesien die papkokers ook maar laat gaan slaap het en die dag se stap nie te kwaai is nie, sit die son al genadiglik hoog toe ons moet opstaan.

Tone het baie werk voordat die stap begin – behalwe vir die tientalle blase, moet Fielies se gebrande pootjies ook gedokter word. Tone sorg ook dat Claire die dag met een oog aandurf.

Die bosbouer, gewapen met sy amper-antieke geweer, vergesel ons die hele dag. Sy twee perde, Pollie en Sokkies, verskaf vir die bedrewenes groot vreugde en vir die onbedrewenes groot vrees. Dit is darem lekker om deur ander bene as jou eie teen ‘n opdraand uitgedra te word.

Dis ‘n mooi stap en ons kan rustig stap en die skoonheid indrink. Weerskante van die pad staan plate proteas vol in die blom en mens kan eenvoudig nie ophou kyk nie. Kort voor ons by die kamp aankom, hou ons middagbrood. ‘n Simpel buitjie reën laat almal net ‘n bietjie skrik en koudkry.

Sing-sing kom ons by die Tol aan en vly ons op die gras neer terwyl daar oor ons slaapplek beslis word. Tinie en Claire waag hulle lewens deur toe te laat dat Sapa met hulle op ‘n kruiwa rondjaag. Die groot pype wat daar rondlê, is baie aanloklik en Sarina vind uit dat water in ‘n skuins pyp afloop as dit bo ingegooi word. Die pype word ook as orrelpype benut.

Ten spyte van die koue water, durf feitlik almal óf die bad, óf die riviertjie aan en was dat dit klap. Later die middag “poseer” die Pypburgers op die voorgrond sodat gretige fotograwe die reënboog in die agtergrond kan afneem. Daarna speel ons “follow-the-leader”, maar met Adriaan vooraan, duur dit nie lank voordat ons in ‘n lamgelagte hopie neerval nie. Daarna verskaf “tele-toontjie” ‘n lang ruk se puik vermaak.

Met Charlotte in besit van die fluitjie, is dameskiet in die lug en die ingrawe-aksies hoogs aanskoulik.

Die kokke en stokers het ‘n mooi uitsig, en goedgemikte kookliedjies laat baie mense bloos. Die fluitjie jaag die senuwees steeds meer op hol – al is dit dan net om ‘n verdere kookliedjie aan te kondig. Tey-O span die kroon toe hy, na die onderbreking van sy liedjie, weer heel bedaard inval met: “….but it stopped, short, never to go again” asof niks tussenin gebeur het nie! Toe die fluitjie regtig blaas, vind baie snaakse goed plaas. Irma en Marié, wat albei verskriklik knaend by Johan Hattingh ingegrawe het, staan mooitjies terug sonder om ‘n vinger te roer en laat iemand anders hom skiet. Alta jaag glad vir Adriaan om die huis in haar skietpoging, maar eindelik is almal gereed om te eet.

Om kampvuur die aand, voer Karen en Rotjie weer die b-b-bordjie-aaitem op terwyl Tey-O die “sweet” ou weeskindjie in “Matron” se weeshuis is wat deur Eugene en Marguerite aangeneem en wat definitief later Olimpiese swemmer sou word as hy kon voortgaan om dit reg te kry om uit die sak met klippe te kom! Napoleon word met Philip ge-aaitem, maar daar is orals ‘n oormaat water, en hy en die walaaiers kom ewe sleg daarvan af. Die Hitler-variasie met Sapa en sy “nie und nimmer” en die spinnies as teikens, flop amper aangesien die spinnies lont mik.

Ongelukkig vir Jenny ruik sy nie lont nie en sien sy ook nie die lont in die drie marshies wat heel onskuldig aan haar gegee word om te braai nie. Die eerste wat almal dus hoor, is die slag toe die klapper afgaan!

Die chaos van die aand word volmaak deurdat die plathond op algemene aanvraag ge-aaitem word. Nadat feitlik alle slees total ontwrig is, gee Rotjie vir Pierre die doodsbyt en kan die stof gaan lê. Kallie se vertelling oor die honde-versameling op die plaas, is dus heel gepas.

Met oorstaandag op hande, is daar ‘n groot groep wat nog om die vuur sit en sing en later luister na Gottlieb se sang en ghitaarspel voordat almal eindelik omdop en gaan slaap.

Woensdag:
Beide die oggendbroodjies en die walaaiers is dié oggend besonder waterlustig en alle laat-opstaners en laat-kommers wat nie ver genoeg slaap nie, moet dit ontgeld. Na die karige oggendbrood, spring ons almal op die wa en vertrek na Prins Albert. By die ernstige waarskuwing dat ons ons ratte moet gebruik en nie op ons remme moet staatmaak nie, verlaat almal behalwe die siekes en lammes die wa en stap die pas verder af.

Die uitsig is ongelooflik mooi en ons staan verstom voor die “plooie” in die berg. Dit lyk kompleet asof iemand met ‘n groot hand die berg orals ingeduik en verwing het. Almal kom opnuut weer onder die besef van die mag en wonder van die Skepper wat dit alles gemaak het. Dit is so mooi dat ons amper jammer is om die wa weer te kry en verder te ry.

Soos op die toerprogram aangedui, “tref” ons toe Prins Albert. Die winkel word dadelik bestorm en kaalgestroop van kaas, koeldrank, roomys en sommer alles wat Koos nie aanhou nie. ‘n Groot groep verdwyn stilletjies na die hotel en beland in die biertuin…

Met Prins Albert se “tjappie” op ons nekdoekies, verlaat ons die dorp weer al singende. Niemand is lus om die pas uit te loop nie en die vreugde is dus oorweldigend toe Charles sowaar met vier-en-sewentig mense agterop brul-brul die hele pas uitry. Wraggies, Charles, met hierdie kragtoertjie het jy en jou wa tot diep in ons harte getoer!

Na middagbrood word daar “stew” gekook en rustig verkeer. Die koue, en die feit dat mens warm lê as jy styf lê, het ‘n interessante samevoegsel van mense op ‘n seil voor die huis tot gevolg. Volgens Rotjie is dit ‘n sardientjie-slee waarvoor daar ‘n spesiale koeksister-armtegniek ontwerp is – “regterarm onder die kop, linkerarm om die lyf, en – druk!”

Oor borde heerlike “stew” word komitee-aaitems druk bespreek. Terwyl die mis ons tussen die bome deur bekruip en alles in ‘n onwerklikheid toevou, klim ons moedig in die slees. Almal skuil onder grondseile, reënjasse en swart plastieksakke teen die “kondensasies” wat teen steeds toenemende tempo na benede plons.

Die papkokers aaitem eerste. Gelukkig galop oom Gys al om die vuur en kan elkeen darem die gedeelte van die aaitem wat reg voor sy slee plaasvind, sien. Daar word egter besluit om tente toe te verhuis en dit is ‘n groot geskarrel voordat ons eindelik rustig is en die volgende aaitem gelewer kan word.

Die groenteskillers se koördinasie tussen Purdey (Carli) en die reuse-rot is nie so goed nie; Neels vergeet sy sambreeltjie-peeltjie in Michael in sy bruid, Eddie, se kamer; Philip ontmoet dr Livingstone herhaaldelik in die oerwoud totdat die helfte van die tent darem die grap snap, en Hein en Johan wag geduldig hulle honderd jaar in die kroeg om. Rotjie se besluit om nie ‘n godsdienstige leeu te skiet nie, boemerang kwaai toe die leeus almal “vir spys en drank” begin sing – ek dink hy sou saam met die klomp skewebek-walaaiers wou sê “jy spot met my!” Ters doen ‘n opname onder die middagbrode (wat almal skielik manlik is) en kom tot die gevolgtrekking dat hulle almal met die aanvallige “Bubbles” bad.

Die walaaiers wil aanvanklik nie aaitem nie, en hou dan so lank aan dat almal later wens hulle het liewers nie begin nie! Eers aaitem Adriaan alleen – ‘n aaitem bestaande bloot uit Adriaan. Daarna word ‘n roerende-emosionele gedig in al drie tente uitgebeeld. Weereens maak ietwat swak koördinasie dat die akteurs in die eerste tent hulle mae vasgryp, dié in die tweede tent mekaar omhels en dié in die derde tent hulleself teen die tentpaal vasslinger – alles as meegaande aksies by dieselfde woorde! Nadat ‘n opname onder spoorwegwerkers in ‘n gasvrye losieshuis aan die lig gebring het dat hulle almal ook met “bubbles” bad, besluit die groep eenparig dat daar in die vervolg na Bubbles I en II verwys sal word om verwarring te voorkom. Die walaaiers verdwyn uiteindelik van die toneel nadat Philip hulle die pad na die doeane-kantoor by die tent se bek uit beduie het.

Die laaste aaitem is die kokke en stokers se Rooi-bloedjie en die nege walaaiers oftewel Lawaaiers. Dit is ‘n volwaardige flopera – met die klem op die flop.

Na “nag dames” is die kamp lank nog bedrywig – Tone werk hulle dood om sommer by voorbaat alle blase reg te kry vir die volgende dag se stap en almal vroetel vir oulaas in hulle rugsakke rond.

Donderdag:
Met almal se rugsakke gepak, die wa gelaai en mnr. Wicomb gekoning, neem ons van die wa-ryers afskeid en val ons en ons rugsakke in die pad. Dit is ‘n lieflike stap – ‘n mens bly hoog op die berge en ons sien ‘n groot deel van die Swartberge se proteaprag.

Gottlieb en Jat sing eenstryk deur – al is dit dan in aflos teen die opdraandes uit. Gans te gou en tot almal se verbasing, stop ons vir middag-Provita by ons aand se kampplek.

Vir dié wat nog genoeg energie oor het, is die onsigbare Blouberg ‘n uitdaging wat aanvaar móét word. Na ‘n lang stap en ‘n kwaai steilte, word ons beloon met ‘n fantastiese uitsig. (As die papegaaie op die ewenaar nie agter die blare gesit het nie, sou ‘n mens regtig die strepies op hulle bene kon sien!).

Net voor aandete laat ‘n paar groot druppels ons mooi verstaan presies hoe dankbaar ons moet wees toe ons sien hoedat die storm sowat ‘n kilometer van ons af verbytrek. Die kokery in die “billies” is minder prettig vir die huilende kokke, maar dit gee tog ‘n mooi uitsig op die manne se ingrawe-pogings. Gottlieb en Rotjie kondig aan dat, as hulle vanaand die regte een kry, hulle lekker gaan la-la-la! Terwyl ons ons “bully beef” en koring eet en ons “shake-a-pudding” drink, verkyk ons ons aan die lieflike reënboë en donderweerwolke.

Die manne vind blykbaar eers na donker uit dat selfs die natuurlike amfiteater waarin die vuur lê, darem ‘n versagting as sitplek nodig het, en almal behalwe lampeman Tekkies verwens die afwesigheid van die lampe terwyl klippe en rugsakke nadergesleep word om as slees te dien.

Die gebrek aan beligting het blykbaar ‘n uitwerking op die standaard van die aaitems wat aangebied word – vanaand word vasgesteek by die peil van kindertuin-gediggies soos “Juffrou sonder skoen” en “Copycat stole a rat”. Gelukkig het die krokodil van die platbek-padda-aaitem nie vir Rotjie beetgekry nie. Twee dronkies vind ook uit dat, wanneer die kroeg se relings so laag voel, daar dalk ‘n toot-toot van voor mag kom. (Dis nou ‘n ander toot as die een in Hendrik se maag nadat hy die karretjie ingesluk het!).

Hendrik en Sapa se “Mammie-mammie”-aaitems kry baie gou op versoek van die gehoor ‘n paar BTK-variasies by, byvoorbeeld “Charlotte, waar is Eugene? Bly stil en eet jou stew!” Kallie se “wraaksaam” hou ons aandag waar hy met sy een neusgat die grashalmpie afruik en met die ander een die ander kant op.

Behalwe vir die la-la-la-slees wat onder die hekelvraers deurloop, moet Tinie verduidelik watter lang wil kledingstuk sy so kort nadat sy begin kook het, vinnig gaan uittrek het. Nico met sy lang anorak ontvang ‘n dringende waarskuwing dat hy sy broek in die slee vergeet het! Baie later die nag ontdek sekere sleemaatjies dat hulle hulleself in die sleekring vergeet het. (Let wel: die kampvuur was in dameskamp!).

Vrydag:
Dis ‘n heerlike Goeie Vrydagoggend met die mis wat tussen die proteas rondsweef en wyk wanneer die son oor die bult verskyn. Later die oggend luister die blomme verwonderd na die lieflike gesange met blokfluit-begeleiding. Na oom Gys se diens in die gruisgat, val ons in die pad.

Die eerste opdraand bring ons by ‘n fantastiese uitsig oor die valleie en ons sien ver daar onder ons eindbestemming – die later berugte bloudakhuis. Na ‘n steil afdraand en ‘n stukkie verdwaal in die renosterbossies is almal bly om weer in ‘n pad te kan stap. Net soos die eerste nag se honderd meter, eindig ons toe nie by die bloudakhuis nie, maar ‘n aansienlike entjie verder.

Na ‘n blitsige middagbrood spring ons op die wa en jaag Kangogrotte toe. Net-net betyds vir die vieruur groep kom ons daar aan en vaar die grotte binne. Die arme gids het nog nooit met ‘n groep te doen gehad wat net wil sing en wat so vuil is dat hulle, sonder om enigsins om te gee, orals plat gaan sit het nie. Blykbaar besef hy later dat die BTK-humor sy afgesaagde gids-grappies oor is, en skei die normale mense van die studente. Dit gee ons die geleentheid om ons harte uit te sing en met die “Onse Vader” ons lof en dank teenoor God te betuig.

Nadat selfs Tey-O deur die rumatiektonnel is en ons teleurgesteld voor die toe skoorsteen moes omdraai, ken almal net een paadjie -storte toe! Skoon van kop tot tone, word die kafee en veral die terash druk besoek. Irma maak verskriklike skandes deur haar sjampanje-glas teen die muur stukkend te gooi – en dit nogal nadat die kroegbaas haar dit verniet gegee het! Op pad terug is almal baie vrolik – Hendrik in die besonder.

By die kamp word vinnig gespring om die kos reg te kry. Die dames sukkel om aangetrek te kry, want daar word soveel keer geskree “mans in dameskamp” dat dit oorweeg word om spesiaal aan te kondig wanneer daar nie mans teenwoordig is nie!

Met die kos gaar, die ingrawery goed op dreef en Eugene saam met oom Abré in die grot, voer die kokke en stokers ‘n skrikbewind deurdat Nico maak asof hy in beheer van die fluitjie is. Gemoedere loop hoog as die ouens wat dubbeld moet skiet aangekondig word. Betsie is hoogs bekommerd omdat Deon nog nie terug is nie – sy mag mos nie nee sê nie! Dan kom die grotgangers terug en werklike chaos heers as Eugene die fluitjie blaas. Gottlieb is die enigste wat korte mette van alle moontlike kompetisie maak – hy bekoor Sassie met ghitaarspel op die wa – “that’s style”.

Om die kampvuur herhaal Hendrik Adriaan se aaitem deur snorkend om die vuur te loop. Daarna vra Rotjie ‘n minuut se stilte – in die feit dat Adriaan moes swot en nie die rugsakstap kon saamstap nie. Karen wys watter fantastiese leeutemmer sy kan wees en Ters toon dat sy bobaas is as dit kom by boo-boo. Dokter Naaktgeboren is eindelik ‘n ware Nyderlander en Eugene se kurwes as suster Anna laat almal krul van die lag.

Om middernag vertrek ses verdere gelukkiges saam met oom Abré om die wondere van sy grot te gaan kyk. “Nag dames” is eers om twee-uur en daarna word nog lank geslee en later stokbrood gebraai. Teen vyfuur word daar met ‘n gesteelde kondênsie koffie gemaak en al die meisies klop darem die papkokers – al is dit net-net!! (of hoe, Sassie?!). André kan nie verstaan hoekom Louise wil gaan slaap nie – sy is dan al klaar in die bed!

Saterdag:
Na die kort naggie heers daar chaos in die kamp en Eugene moet die Blikwassers gaan wakker maak om die pappot te kom skuur, die Houtkappers ou lont te kry en die waterdraers om koffiewater te gaan haal. Tey-O en Marguerite verlaat ons dadelik nadat die groepfoto geneem is en ons begin opruim.

In die gebruiklike laaste-oggend hekeltyd is Rotjie hewig ontsteld toe Koos per ongeluk van “tra-la-la” in plaas van “la-la-la” praat, want “tra-la-la – dis ‘n lelike ding daai!” Claire word gehekel omdat sy weereens haar ma se waarskuwings verontagsaam het em met ‘n tokkelok geslee het. Sy erken dat sy haar moses teëgekom het – dwarsdeur die woestyn tot in die beloofde land.

Nadat die wa gelaai en al die dankies gesê is, vertrek ons. Die wa-ryers geniet ‘n rustige wa-rit, maar die busryers se rus word deur ‘n energieke en onrustige agterbank versteur. Dit is boonop gevaarlik om op die bus te slaap – soos Jenny en André wel deeglik uitgevind het!

Op Stellenbosch spat ons uitmekaar. Die wa-ryers se toer word afgesluit met ‘n braaivleis in Dagbreek se “quad” en die Bellvilliete geniet ‘n gratis treinrit huis toe. Skielik is ons nie meer een groep nie, maar weer vier-en-sewentig individue wat elkeen sy eie lewe het om te lewe. Maar in elkeen se hart leef daar ‘n groot dankbaarheid teenoor die BTK wat sulke belewenisse moontlik maak en teenoor God wat ons alles gee en ons die hele toer so wonderlik beskerm het.

Tinie Muller
(Sketsskryfster)

Leave a Reply