Berghutkamp Julie 1977

Vrydag:
Na ‘n week waarin die Stormgod op behoorlike wyse oor die Kaap septer geswaai het, is niemand baie verbaas toe daar van die reeds karige toerlys ook nog ‘n hele paar “afwesig met vraagteken” gemerk moet word nie. Eindelik is almal en alles wat agterop die wa moet kom, darem bo, en kan ons ry. (Dit is seker nie nodig om te sê dat, ten spyte van ons oorspronklik-afgekondigde tyd van twee-uur of drie-uur, ons eindelik twintig voor vyf van Stellenbosch af weg is nie!).

Al wapperende in die ysige wind onder die wa-seil, is ons ‘n triestige Helshoogte oor – op pad na ‘n nag meer triestige Franschhoek. By ons tuiste aangekom, vind ons tot ons ontnugtering uit dat dit nie so maklik is om van die wa af te kom nie – die grasperk is ‘n moeras. Maar soos altyd, is daar goeie en slegte nuus. Die goeie nuus: daar is los vloerplanke om ‘n brug mee te bou. Die slegte nuus: daar is nie meer vloerplanke op die vloer nie!

Een kyk na die aaklige gemors op die vloere van die halfgesloopte huis, en ons besluit om die garages te betrek. Die reën en ‘n ontstoke BMW laat ons egter besluit om wel die huis aan te durf. Gou-gou word besluit wie waar sal slaap en word die huis skoon “gegraaf”. Gelukkig is dit donker en kan niemand presies sien wat hy doen nie.

Die pogings by die vuurmaakplek sou baie geslaagd gewees het as die doel van die operasie die uitstuur van nood-seine was, maar gelukkig vir die honger magies kan die sop darem op twee geleende gasstofies gaar word.

Dié aand (en al die ander aande) slee ons in die dameskamp of liewers, dameskamer. Soos ons later sou uitvind, is die seil sommer bo-oor alles oopgegooi, en dit is snaaks om sonder ‘n vuur kampvuur te hou. Dit gaan maar sukkel-sukkel met die aaitems en ons wonder stilweg hoe dit gaan wees om vir die res van die week so van die omtrek van die kamer vir mekaar te sit en kyk. Daar is selfs nie reaksie toe Tinie en Sarina ‘n aaitem herhaal nie -hierdie keer raak Sarina verstrengel in Adriaan se welige baard.

Tydens teetyd lewer Nico darem ‘n verdere aaitem – hy reken blykbaar dat die beste noodhulp-behandeling wanneer ‘n mens jou wimpers teen ‘n warm beker brand, daaruit bestaan om die inhoud van die beker oor jou hande uit te gooi.

Die singery na aandgodsdiens is maar yl – dit voel vir elkeen of hy of sy besig is met ‘n solo – en tannie Magriet voel haarself gedwonge om redelik gou “nag manne” te sê.

Saterdag:
Almal se eerste gewaarwording die volgende oggend is óf dat die huis aan die brand is, óf dat dit geweldig mistig is. Wanneer ons egter buite kom, vind ons dat dit ‘n redelike mooi dag is, en dat die digte rookwolke maar net van die papkokers se pogings afkomstig is.

Na ontbyt word besluit dat almal wat nog nooit by die Hut was nie, sal opgaan, terwyl die res die huis in ‘n leefbare toestand sal bring. Met die SR-kombi op die pad wat hy eintlik nou al behoort te ken, spring die agterblywendes aan die werk. Sarina se besem-steel-tegniek (of orkaan-tegniek) en ‘n algemene fluksheid, maak dat daar sommer gou-gou orde is, en nadat die hooi-tapyte gelê is, lyk die plek amper soos ‘n paleis.

Japie en Hendrik daag net te laat vir die kombi op, maar toe daar ontdek word dat al die planne saam met Nico-hulle op Hut toe is, word die twee Le Roux’s se fiksheid en die Volksie se vasbyt uitgetoets. Almal is eintlik teleurgesteld toe hulle wraggies voor twee-uur al terug is, want toe word die siësta beëindig en word daar aan die balke gemeet en gesaag, terwyl die kokke hulle doodsukkel om die Elsa gaar te kry.

Toe die klomp van die berg af terugkom, is hulle aangenaam verras om ‘n netjiese huis en selfs ‘n “square” toilet aan te tref. Nie alleen is daar deure in die vensters om die koue en wind uit te hou nie, maar, danksy Marié se sorgsaamheid, hang daar aan die kombuisdeur ‘n waarskuwing vir Nico om tog nie weer sy kop teen die kosyn te stamp nie!

Nadat ‘n drie-delige olifant amper gesneuwel het onder die miere (en rysmiere) wat oor hom geloop het, word ons rustiger en dis toe dat Japie met sy program “Vir Ouma en Oupa” en op die ou end eindig met Siembamba en Otterjasie se gesnork.

Tobie slee dié aand met Anzette en na aanleiding van hulle skiettyd-wandeling, kry hy toe ‘n hekelvraag (die eerste van vele) en ons die eerste van vele lang onlogiese redenasie-antwoorde.

Die singery gaan al beter (al is dit so uit die boekies uit) en sit ‘n hele ruk en sing voordat Marié die manne verwilder.

Sondag:
Dis ‘n pragtige dag en dit is salig om laat te lê tot die feetjies en kaboutertjies koffie en beskuit bring. Daarna moet ons “spark” om betyds by die kerk te kom. Ons besluit om liefs so min steuring as moontlik te veroorsaak en gaan sit op die koor-galery – gelukkig word ons nie gevra om iets te sing nie. Tydens die opneem van die kollekte ondervind Tobie ‘n geweldige tweestryd tussen sy ordentlikheid en sy suinigheid – die finansiële oorwegings weeg egter swaarder, en die diaken kan maar net glimlag terwyl Tobie sy kleingeld uit die bordjie haal.

Na kerk drink ons op die pastorie se agterstoep in die son tee en gaan dan terug om kos te maak. Minette se ouers, oom Gys en Optel is die gaste. Die Elsa, wat aanvanklik so baie gelyk het, is toe, danksy min “firsts”, gouer op as wat gedink is. Die leë emmer Elsa se invloed is egter duidelik sigbaar in die gebrek aan beweging na ete. Ons lê in die son op die balke en probeer al belanserende slaap of al slapende balanseer. Japie, met Schalk se ghitaar, verskaf die nodige agter- of ondergrondmusiek. Toe hy weer een liedjie ‘n bietjie te laag speel, sê Michael vir hom om een toonaard hoër te speel. Hy weet egter nie mooi waarin hy speel nie: “Dis die een waar mens in die tweede ry die tweede, derde en vierde snare dooddruk.”

Laatmiddag ry ons na die Wemmershoekdam en loop daar rond. Die dam is heeltemal vol en dit is baie mooi. “Lilo”-resies op die oop sluis se water word oorweeg. Die oom se verduideliking van hoe al die pype en masjiene werk, is baie interessant, maar dit is seker net vir die ingenieurs nie Grieks nie.

Terug by die huis, wag Hendrik en Marié ons in – hulle het so erg gaan wandel dat Japie hulle glad nie kon kry nie! Ons neem afskeid van Sarina wat weer haar “juffrou-staat” moet gaan beklee. Dié aand het ons ‘n onwettige skiettyd met Eugene wat die fluitjie blaas en sê: “Bring borde dat ons kan eet”. Mens kan maar net hoop dat daar nie onwettige dinge in die slees gebeur het nie.

Wat in elk geval ook al gebeur het, dit het aanleiding gegee tot ‘n heel lewendige aaitemry – tannie Magriet moes ons drie keer herinner dat dit Sondag is. Eers bring die “bachies” ons in die stemming vir die Sondag deur van die prente teen die mure af te skeur. Hulle los darem vir “sweet sixteen” – seker vir die res van die week!

Japie, Hendrik en Eddie se spel oor idiome en uitdrukkings gee almal se vakansie-verroeste pampoenpitte weer kans om te werk, maar ons voel saam met Eddie – “Hier is ‘n skroef los” en “Ek maak geen kop of stert daarvan uit nie.”

Na die uitkenningsparade waarin Anzette selfs nie tussen Adriaan en Tobie kon onderskei nie, word die aand met ‘n rustige teetjie en singery afgesluit.

Maandag:
Iewers in die nag begin die noordewind waai en bring die reën met hom saam. Almal is dus maar bra mismoedig toe ons redelik laat met ‘n “Opstaan” van die nat papkokers gewek word – die laat opstaan is te danke aan die sukkelende vuur onder die pappot.

Na ontbyt word ons in groepe ingedeel en toe word die bakke met mening met potlode, liniale en winkelhake betakel. Nie lank nie of die sae gesels lustig op die stoep. Daar is nie altyd werk vir almal nie, en dikwels word die natuurlike talent ingespan om die balk stewig vas te sit vir die ou wat moet saag. Om die werk meer te maak, word die balk eers te lank afgesaag sodat iemand anders dit later korter kan saag.

Die middag se werkery word aangehelp deur die heerlike geure vanuit die kombuis. Koffietyd is almal dit eens – die Smit-susters kan pannekoek bak! Oom Tjaain bring ons kos van Stellenbosch af, maar sê hy moet weer terug wees die aand – miskien ‘n verstandige besluit.

Vir die kokke is dit ‘n treurige aand – hulle huil hulle byna dood omdat hulle die kos so moet laat warm kry. Gelukkig is Eddie ‘n doring – hy sorg nie alleen vir heerlike gekloofde hout nie, maar ook vir onwettig-geplukte aronskelke om die rokerige kombuis op te vrolik. In die “woonkamer” word daar singend ingegrawe en gewag vir Eugene se fluitjie.

Aangesien daar net drie eerste toeriste is, hoef hulle net vir ‘n halfuur se aaitems te sorg. Ok maar goed, want Eugene ken sy sleemaatjie goed genoeg om te weet wat sy sal antwoord op sekere vrae en ons weet almal reeds dat die geheim van die lewe is dat Vader Krismis nie bestaan nie. Behalwe in die item waar die randnoot in ‘n vol film verander, ‘n flopperige “wie het genies” en ‘n paar ander aaitems, word die aand opgehelder deur ‘n uitspattige Elsa-voerdery en ‘n hele paar heerlike hopies. Pierre en Minette, wat weens ‘n spesifieke aroma in die omgewing van een muur, met vele moeite nuwe sleeplek teen ‘n deur in die hoek gekry het, is die mees gewilde slagoffers.

Na so ‘n sessie moet hulle maar weer van voor af begin slee bou – die deur was skoon uit die kosyne gehopie. Die “bachies”, Adriaan, Johan en Tobie vind deeglik uit dat daar “things to be done and things not to be done” is. Om onder sleetyd kaart te speel, val duidelik in laasgenoemde kategorie.

Na ‘n kort woordewisseling word besluit om die wraak, ten opsigte van die gure nat weer, nie uit te stel nie. Ook maar goed, want toe word die oorsaak van die aroma tydens die oprol van die seil ontdek en word deur die dapper Neels verwyder. Na behandeling met Nico se “after-shave” en Marié se parfuum, haal almal (letterlik) makliker asem.

Dit is ‘n unieke wraak: Binne-in ‘n huis, om ‘n klein vuurtjie, slegs drie eerste toeriste en met agtergrondmusiek Adriaan se lustige gesnork wat elke nou en dan tydelik onderbreek word wanneer Japie sy neus toedruk. Dit is lekker toe Petrysia, Anzette en Eddie ook in die ware sin van die woord by ons kan aansluit.

Dinsdag:
Dis ‘n redelike mooi dag en een kombi-vrag gaan op berg toe. Asof die vol rivier nie genoeg vertraging meebring nie, word Adriaan ook nog deur die moeras terug huis toe gestuur om botter te gaan haal. (Onnodig om te sê: In die tyd wat hy geneem het, kon ons netsowel die botter gaan karring het.) Dis egter nie al wat die vergeetagtige kosma vergeet het nie, en die middag sny en smeer sy brood met ‘n knipmes met ‘n lem van ½cm x 4cm.

Met die sneeu wat nog wit op die toppe van die berge lê, is dit bitterlik koud bo by die hut en almal koester die hitte van die vuurtjie (wat skaars warm genoeg is om die sop aan die kook te kry). Verder word daar klippe by die dosyne aangery en ingemessel. Die kelder, wat min of meer soos ‘n swembad lyk, word ywerig toegetakel, terwyl allerhande slinkse planne in verband met spinnieverwyderende valluike gemaak word.

Na ‘n haastige beker rooibostee is ons op ‘n drafstappie die berg af en terug huis toe waar die werk aan die balke intussen fluks gevorder het. Die rivier as badplek word sumier-verwerp en ‘n hele spul van die mans gaan bad in die dorp. Eugene hou nie baie van hierdie bedeling nie en Tinie trek die skones ‘n streep deur die fluitjie vir ‘n tweede damesskiet te blaas net toe die kombi buite stilhou! Die gevolg – ‘n uiters higiëniese “bachie”-slee! Met die Le Rouxe’s gaan dit nie goed nie: Japie se reaksie toe Marié hom skiet: “Ag nee, ek wou nie geskiet gewees het nie!” en Hendrik maak seker geskiedenis deur die eerste “bachie” te wees wat kampvuur het. (Skoon boonop).

Die hoogtepunt van die aand se kampvuur is dr Naaktgeboren-aaitem van Japie. Vir sy verdere studies aan die Mediese Skool, is ek maar bly dat sy dosente geeneen teenwoordig was nie, want van senuwees soos Oralis-Abdominalis wat maak dat jou maag reageer (werk?) wanneer jy kos hoor en Fidner-Nonfunctio-Sindrome as gevolg van diafragma-breuke wat maak dat jou hart in jou skoene sak met gevolglike KH, het ek nog nie gehoor nie. (Terloops, KH is die omgekeerde van HK wat hoofkwartier, hoofkommandant of hoofkombuis beteken en staan vir kloppende hakskeen). Die laaste pasiënt het gely aan slegte spysvertering as gevolg van Enabstractio-Non-Obstructio, oftewel tekort aan ENO.

Verskeie slees moet dié aand onder die hekeltonge deurloop. Ingrid en Michael moet verduidelik hoekom daar ‘n bars in die muur bokant hulle slee is, Minette moet sê watter tipe spiere ‘n waterpolospeler het en Nico moet sy opgewondenheid oor ‘n kaalvoetslee verduidelik. Ilse en Adriaan se slee ontlok egter die meeste kommentaar aangesien hy aanvanklik omtrent drie voet van Ilse af lê en eers later, toe hy toestemming gekry het, kon naderskuif. Hy kry dus verskeie “knock-knock’s” soos Cyril (“sit a little closer”), Li’l (lie a little closer) en Keith (kiss me please!).

Woensdag:
Die weer lyk nie te goed nie, maar met die optimisme so tipies van alle studente, brul die kombi weereens die berg uit. Die wat by die huis bly, is so half en half dat hulle dit maar kan doen. Dit reën en ons het nog skaars begin stap of alles wat uitsteek is nat. Wat sokkies betref, is dit ‘n kwessie van “wash-while-you-wait” – ‘n mens moes net vooraf die waspoeier in jou stewels ingegooi het.

By die hutterrein lyk dit nie beter nie, maar die manne trotseer die reën met pikke en grawe en spring aan die werk. Die koue het nogal ‘n voordelige uitwerking op die tempo waarteen jy werk: ‘n Mens moet aan die gang bly anders vries jy!

Intussen word daar binne-in die sinkhok ‘n poging tot vuurmaak aangewend. Net toe die vuur uiteindelik brand en almal baie tevrede voel, kom Tinie met twee billies water vir die sop, slaan soos ‘n os neer en keer een hele billie water op die vuur om. Niemand weet of hulle moet lag of huil nie; kwaad wees of jammer voel nie (allermins Tinie) en Japie red die situasie toe hy skielik ‘n Sondagskool-teksvers (Psalm 27:2) onthou: “As kwaaddoeners teen my naderkom om my vlees te eet – my teëstanders en my vyande – struikel hulle self en val.”

Die sop word darem eindelik gaar en met middagete verdwyn dit tesame met die brood teen ‘n verstommende tempo. Die poeding, al is die temperatuur dieselfde as die van die omgewing, is net so welkom. Na ete gooi die getal mense wat dit hulle plig ag om die teewater warm te kry, vinnig aan, en terwyl ‘n Gideonsbende nog sand aanry, staan die res in ‘n nat rokerige sinkhok rond. Ten spyte van al die aandag sukkel die tee maar om te kook en na tjaila-tyd moet ons iets doen om warm te bly. Eers jaag Eugene en Neels kruiwa-resies om die sinkhut en toe speel ons aan-aan, hoogs effektief om warm te bly. ‘n Meer intellektuele “klap-klap-nommer-nommer”-speletjie eindig telkens, wanneer Adriaan se nommer geroep word, is totale chaos. Wanneer asblik en voorsitter ook nog bykom, word dit eens te erg, en die spel word gestaak ter beskerming van ons lagspiere.

Die terugstap en terugrit is weereens nat en koud, maar onder by die huis wag ‘n aangename verrassing en die pannekoekbakkers en baksters kan nie voorbly nie. Wagtende hande en gulsige monde is daar oorgenoeg. Hendrik wys vir Tobie dat die pannekoek nie net van die hand na die mond op die grond kan val nie; maar ook in iemand anders se mond kan verdwyn.

Na sy “bachie”-skap die vorige aand, besluit Hendrik om baie seker te maak van sy saak tydens skiettyd. André is egter ‘n ou wat nie op hom laat wag nie; en ten spyte van Hendrik se besitlike arm om Minette se skouer, is dit hy wat haar eerste skiet toe die fluitjie blaas.

Voor sleetyd word ‘n lewendige volkspele-sessie in die “sleekring” gehou. Dit gaan maar sukkel om regop te bly tussen ouens wat daarop uit is om ‘n mens dronk te draai en ‘n seil wat nie onder ‘n mens se voete wil bly nie. Dit gaan so lekker dat ons sommer ons eie passies opmaak vir die liedjies wat ons nie ken nie; en Koos sukkel maar om almal in die slees te kry.

Ter illustrasie van die emansipasie van die vrou en as ‘n variasie op die teme van die plat hond, word ‘n verbete stryd tussen twee katte (Minette en Tinie) aangeknoop. Op die ou end blyk dit toe dat die “arme wit katjie” ‘n luiperd was voordat sy in die Jik geval het!

Adriaan slee weereens saam met Ilse (hy het blykbaar besluit om permanent in daardie hoek te slee en het die mure met prente van sy eie smaak versier). ‘n Formele hofsaak word toe oor die geval van Du Pisanie en die dubbelsleëry gehou. Die aangeklaagde, wat vannaand baie vroeër die nodige nadersit-toestemming gekry het, is eers baie traag om voor die regter te verskyn en dring boonop daarop aan om met sy rug na die hof te sit. Nadat al die getuienis gelewer is (waartydens Neels as bode van die hof omtrent tien keer met ‘n lepel en ‘n potdeksel die orde moes herstel) kom Eddie as BA (Regte) III en met ‘n wit handdoek om sy kop, die uitspraak lewer: “Onskuldig – gaan vry!”

Ten spyte van die feit dat oom Tjaain in die gang net langsaan slaap, word daar lank na “Nag dames” nog gesing en na Schalk, ons gas, se kitaarspel geluister.

Donderdag:
Die wipplankryery van die weer word voortgesit en dis ‘n lieflike dag. Almal wil hut toe gaan en in twee vragte met die kombi is ons daar weg, terwyl Eddie die fort tuis hou. Tobie se besluit om ‘n sakkie sement op te dra, kom hom letterlik en figuurlik swaar te staan, want hy begin toe reg onder dra.

Dis lekker dat die son skyn, en almal dra klip, grawe sand, spit, pik, messel dat die stof so staan. Tussen die werk deur word gedurig verwys na “die nageslag” wat al die voordele van die hut sal kan geniet sonder om ook die soet en suur van die bouery te kon hê. Die vier sleetrekkers speel heerlik baas-baas op die plaas as hulle oor die stoepmuur leun en hees opmerkings maak oor die ‘volk’ se werkery. Dit lok wedersydse kommentaar uit en hulle word aangeraai om ‘Strepsils’ vir hulle kele te gebruik.

Na ete is dit “back-to-normal” en aan die end van die middag se werk, kan almal tevrede voel met wat ons bereik het. Die kelder se dreinering werk puik, die kaggel se basis begin vorm aanneem en die stoep lyk al soos ‘n stoep.

Op pad terug val dit almal op dat Nico nie alleen besonder haastig is nie, maar ook telkens in die spieël loer om dan sy baard en hare plat te stryk. Toe hy die wit Volksie sien staan, is daar van sy ou bedagsaamheid geen sprake nie – hy stop egter die kombi, los almal toegesluit agterin en hardloop huis toe. (Snaaks dat ‘n mens so dors kan word!).

In die kombuis word naarstiglik “stew” gekook – gelukkig maak die vloerplanke heerlike vuur. Dit skemer gou deur dat die fluitjie dalk mag blaas voordat die kos gaar is, en almal is te vas ingegrawe om te wil volkspele doen. Nico se gesig toe Eugene aankondig dat hy moet “back”, is ‘n gesigstudie van ongelowige teleurstelling. Gelukkig vir Magriet is dit net ‘n grap.

Dit is komitee-aaitems en die uitgedunde en saamgeskommelde komitees sit koppe bymekaar. Die tente-, water-, hout- en gastekomitee het die regte idee met hul nuutste treffernommer: “Let’s go” – en hardloop by die deur uit. Die swak kokke soek hulle dood na ‘n einde vir Gouelokkies en Japie kom tot hulle hulp met “As vyande teen my naderkom om my ‘stew’ te eet, struikel hulle self en val.”

Die hoogtepunt is egter die walaaiers se Balk Burger en die H, agge K van BTK. (K staan vir kelihopter). Die aanvallige doedie met “haar” serpie en romp met die gevaarlike spleet, is ‘n regte BB (“black baardjie”). Sy het duidelik nie baie verstand nie, want noem gedurig vir Pierre “staal” in plaas van “Balk”. Maar naamverwarring is blykbaar die eintlike hooftema, want Hendrik het probleme met sy dubbele rol van Willem en Dada – veral as Dada flou van en Willem haar moet vang! Die grootste probleem word egter geskep deurdat die twee boewe se name Sam en Mot is ter ere van La Motte. Dit is vir Adriaan se dam-skurk-mentaliteit net te veel om nie Gat te wees nie. Hy weet nooit of hy Lam of Mot is nie. ‘n Opmerking dat hy die gat in sy gesig moet toemaak, laat hom ten sterkste beswaar aanteken, want is gat wat toe is, kannie’n gat wees nie! Van ‘n storie is daar nie veel sprake nie en selfs in die kelihopter wat die balke wou skaak, is daar meer klem op die “earphones” as op die kelihopter. Hendrik se beswaar dat hy sy valstande gaan insluk as Adriaan sy mond toebind, kry geen simpatie nie. “Dan eet jy maar jou maag op”, is al wat Adriaan antwoord. Balk se vergeldingsdade wat die skurke teen hom laat naderkom, om sy balke te steel, laat die skurke deeglik struikel en val en Psalm 27:2 is weer van toepassing.

Asof een Psalm nie genoeg is nie, word die tradisionele BTK-Psalm (Psalm 119) ook opgevoer – ‘n twintig minute lange “ou grys merrie” in Afrikaans, Engels en Jazz. Anzette word uiteindelik omgepraat om vir ons te sing, en wys ons wat ‘n mooi aaitem eintlik is.

Vrydag:
Dis ‘n grys oggend en almal spekuleer of die grysheid mis of reën is. Nadat die eerste groep op is, word dit duidelik dat dit mis is wat (soos dit enige ordentelike mis betaam) voor die môre-son verdwyn. Eugene kom terug om die ander te kom haal. Hy vergeet om petrol in te gooi en dit kos weereens stap van onder af, terwyl die kombi teruggaan Franschhoek toe.

Aangesien die eerste groep reeds fluks aan die werk is, maak die laatkommers maar kos. Dit word ‘n heerlike gesellige middagete. As poeding eet ons witbrood met 2½ jaar oue geroeste aarbeikonfyt (voorwaar ‘n kompliment vir die inmakers). Ons werk lekker, want nou sien ‘n mens wat gedoen is. Die stoep is opgevul, die kelder feitlik klaar gemessel en ‘n groot gedeelte van die vloer skoongekap. Dit is met seer rûe en skouers en blase op die hande, maar met tevredenheid, dat ons iets bereik het, dat ons die deur van die sinkhok vir oulaas toeskop en in die, nou so bekende paadjie, terugdraf.

Die tipiese laaste-aand-ingrawery en skietery word deur Koos in die duister gehul deurdat hy die lamp wegneem net toe Eugene die fluitjie blaas! Dus weet niemand hoe Anzette geweet het dat dit Tobie is wat haar geskiet het nie. Na ete word ‘n pitspoegkompetisie op die voorstoep gehou. Johan spoeg die verste, maar Eugene is die wenner. (Slegs kenners van die spel kan dit miskien verstaan). As Hendrik egter net die energie wat hy in die aksie insit, op die pit kan oorplaas, sou daar aan hom geen keer gewees het nie!

Die aaitems is maar dun gesaai en dis meestal grappe wat ge-aaitem word. Koos en Nico lewer ‘n aaitem getiteld “Adriaan”. Volgens die hoofkarakter was sy slee saam met Marié ‘n vodde slee – “het nie ‘n oog toegemaak nie”. Tinie en Pierre laat vaar hulle planne om die Jik kat en die plat hond mekaar te laat aandurf – die werkery by die hut was te erg.

Hekeltyd word deur Pierre aangekondig deur ‘n donderbus wat buite afgaan. Aangesien ons in dameskamp slee, is daar nie kans vir die laat slee nie. Ons word darem ‘n ruk op Nico en Magriet se sang en kitaarspel vergas en Tobie maak nog eers ‘n laaste koffietjie voordat alles uiteindelik stil word.

Saterdag:
Vir oulaas kan ons opstaan met Adriaan se soete klanke – oefeninge vir sangfees – in ons ore. Ons eet en was kiste. Ingrid en haar pligsgetroue blikwassers is bly om vir oulaas potte te skuur, maar tog voel almal half hartseer om weg te gaan. Waar ons ‘n week gelede amper gegril het vir die vuil ou huis, het ons intussen amper lief geraak vir die plek.

Met die wa gelaai is almal reg om te ry. Bedankings deur Eugene… ook aan ons Hemelse Vader:

“As die Here die huis nie bou nie…
tevergeefs…”

Tinie Muller
(Sketsskryfster)

Leave a Reply