Witelskloof Januarie 1980

Witels is ‘n waterstap, ‘n wonderwerk, ‘n wanneer-kom-ons-weer. Dié stap van die somer sê Joos, en terug ook.

Maandagmiddag BTK-tyd drie-uur is ons toe onder by die stoor waar vyftien kospakkies reglê: vir agt Witelsers! (Nie dat ons omgee vir die ekstra tjôklit en kasies wat toe saamgaan nie!). Ons agt is toe Pierre en André en Willem en Wessie en Hendi en Braam.

O ja, en Hannelie en Ilse. (Wow! Dis nie aldag dat mens kans kry om drie op ‘n slag te “have” nie!). In Willem en Pierre se motors vertrek ons en maak vir oulaas ‘n draai by Berghuis vir NóG plastieksakke.

Loreley se tannie sê toe die reën kom eers aan die einde van die week. (Janee, die sedoos waai mos, kan julle nie voel nie? Willem). By die dam en sy poeierstof word ons afgelaai sodat Willem se motor omgeneem kan word na die eindpunt toe. Ons ander ses stap toe Wessie se drie honderd treë (met sewe-myl-laarse gemeet) op Basishut toe. En toe Braam sy tweede drie honderd treë aftel, belowe hy vir Wessie ‘n billie oor sy kop.

Die basishut is ‘n kabouterhuisie: ‘n vet ronde pyp met venstertjies en ‘n solder en ‘n rotsmuur agter. Die mooiste mooi sonsondergang met bloedrooi olieverfwolke is die laaste wat ons die volgende drie dae sien en ‘n voorspel tot die héél beste Boland-natuur. Toe Pierre en Willem terug is, word daar kosgemaak. Die eerste kennismaking met Meal-in-one en slap poeding dryf Wessie na sy Irish-koffie toe. Ag nou ja! Dis vroeg inkruip, want môre lê die Waaihoekbult voor.

Dinsdagoggend: Na die Muesli en inpak is ons sowaar kwart-voor-agt onderweg, niksvermoedend en vol moed. Joos se artikel sê dan (ewe kalmpies) “dis steil stap vir drie tot vier uur tot op Waaihoek se nek” steil-stap het hy gesê? En het ek nooit van Waaihoekbult gepraat?? As jy dalk na die definisie van ‘n understatement gesoek het ….

Mens werk vir jou ‘n hygritme uit dink mal dinke as die swaar vet klippe en nie takkie-klein bossies tot bo kon kom en ook trap en asem in klim en asem uit en nog en nog. Naby “Middle Hut” (middel? Maar hulle moet mal wees!) en die swaarkry-gediggie kry ons die laaste watertjie en die eerste beloning vir die klim: ‘n bloedrooi drieblaar disablom. En net hier vang die eerste sonnetjie jou tussen die blaaie. Ag nou ja, steur jou nie – iewers moet dit einde kry.

Manne, en as jy darem die allerlaaste bietjie moed bymekaarge-skraap het vir nóg ‘n wegsteekbult en jy staan skielik óp Waaihoek se net en net daar onder lê die Ickys se groendakkie-hut – manne, dan vóél jy darem na ‘n ‘game’-pie en ‘n tjoklitjie om te vier, hoor!

Na ‘n driekwartier-‘break’ waai ons presies half twaalf om al daai honderde meters maar net af te klim aan die ander kant van die berg. Mens se tone tjop af en jou moed tjop af want die kloof se canyon lyk so deksels náby maar nee, dis eers so twee-uur se kant dat mens die kloof se ongelooflike “Mountain Dew”-waterpoele in al hul glorie aanskou. Nou’s dit middagbrood (of te middag-provita) en daarna is dit digpak vir die swemme. Die onheilswolke van gisteraand en vanoggned het verdwyn. (Die sedoos bring mos nie reën nie, man! Willem) en dis WARM.

Venus-poel se waterval is feetjie-mooi, die versoeking amper té groot om eers ‘n swempie te vang, maar Wessie sê die regte swemme wag en ons stap aan.

En wat ‘n ondervinding was dit nie! Pens en pootjies: klere, skoene rugsak en al binne-in daai kristalwater – en dis nie eers koud nie!

Die eerste indrukke van hierdie stappie – soos die hele oes – is heeltemal onbeskryflik. Mens kán dit nie vertel nie, (nie eers in ‘n blaadjie-lange skets nie) jy móét dit vóél.

Na die sestig meter-lange tonnelswem en nog ‘n entjie se stap tot by ‘Sandy Camp’ is dit omtrent half-ses toe ons daar aankom. En nou die spanning om uit te vind hoe effektief die Munisipaliteit se swart sakke en Berghuis se 15c-sakke toe was.

En toe kry ervare Witelser en Berghuis-toonbankklerk Wessie ‘n papnat verrassing waar sy droë warm klere moet wees! Ag nou ja …. steur nou nie!

Laasgenoemde en André klim toe eers die naaste piek uit agter die laaste sonnetjie aan in ‘n poging om klere droog te kry.

Vir die tweede keer bederf die manne ons en maak die kos so te sê heeltemal alleen.

Toe die son onder is, waai daar ‘n lekker fris wind (“tipies van die sedoos” – Willem.) wat sommer gou-gou geniepsig word.

Die dag was lank en die nag is koud, dus: vroeg-vroeg inkruip na Payella-soya en opregte aarbei-“milkshakes”.

Ná die nag se wakker-lê in die wind is Woensdag oop en stil en WARM. Vandag is ons half-nege reg, al die sakke toegebind en lus vir Witels.

Dis huppel-huppel oor die grassies, trippel-trippel oor die plassies. Met ‘n wip en ‘n trap gly jy oor die boulers …. en partykeer daarvan af ook! Dis nogal ‘n hele entjie se stap voor ‘gamebreak’ by Oorvergenoegkamp – ‘n ideale kampplekkie met vier slaapkamers en al! Daarna is dit teen die kranse en deur die bosse paadjie-langs. So nou en dan is daar ‘n swemlustige wat dink omstap is te veel moeite en dan sommer regdeur hou, maar die ander is watersku, stel nie soveel vertroue in ‘n plastieksak om dit aanmekaar te beproef nie. Ná drie swemme en nog ‘n onvergeetlike waterval van ‘Goddess’s Pool’ kom ons by die langste swem, swem sewe uit en net daarna is dit opwarm in die sonnetjie en provita en PVM-bars. En skielik begin Braam vreeslik verlang na sy ma se kos! Nou’s daar nog so ‘n paar swemme en ‘n klein entjie (drie honderd treë?) oor, want vandag se stap is nie té veel nie, sê ons gids.

Ja, dit sou ook nie te veel gewees het as ons nie per ongeluk heel ongemerk by Triple Ledge verby is nie. Hier teen vyfuur se kant begin Wessie wonder of ons nie al in Happy Valley is nie en Braam se billie-oor-die-kop-dreigement kom weer ter sprake.

Toe ons eindelik begin rigting besef, is dit verby swem twee en in Bastard Corner! Ná ‘n beraadslaging en swiets op ‘n rots, word besluit dat Kamp Ses die enigste oplossing is. NB: genoeg slaapplek vir vyf tot ses mense! Die ou wat Kamp vyf stony camp gedoop het, se berekening was een uit. “Maklik”, sé Braam. “Ons druk net ‘n billie oor Wessie se kop en maak dit dryf in die poel, dan is daar net sewe wat moet ‘insqueeze'”. (Ag nou ja …. steur jou nie! Wessie).

Vanaand het ek en Hanlie ook ‘n hand in die kosmakery maar plaas dat ek my mond hou oor die een pakkie kerrie wat nie by die soja-blokkies is nie, salig onder die indruk dat BT-Kaners matige mense is, blaker ek dit mos ewe selfingenome uit – en daar beland die genoemde pak óók in die kos. Jaggg! En kan jy dit glo: drie army-panne vol vir Wessie. Hulle het dit opgeëet heeltemal! Onnodig om te sê dat die poel by ons slaapplek die volgende oggend ‘n hele meter vlakker gelyk het.

Die aand is dit amper-volmaan – mens kan die lig teen die hange sien – en daar’s ‘n paar wat vir die maan wou wag (ook skoon gepla met die ding!) Dis ‘n aand van harde sitplek en army-stories en spookstories en vonkklippe gooi teen die oorkantste krans vas. (Dit kon seker nóg ‘n rede vir die vlakker poel gewees het!).

Om in te pas moes Willem en Pierre elkeen ‘n aparte slaapplekkie uitsoek en André en Braam moes vasbyt op die klippe. Maar snaaks genoeg, dis die aand wat die oorgrote meerderheid nog die lekkerste geslaap het – wonder of dit aan die styfslaap te danke was?

Donderdag is dié dag: ‘n lekker loaf laaste dag. Die hoogtepunt van die eenkeer-in-‘n-honderd-jaar se uitsoektoer. Twee Spartane waag die water vroegoggend in, ‘n laaste Muesli-en-provita word weggeslaan, ons los ‘n boodskap vir Neels-hulle, neem ‘n foudie van sommernet-ons en kom toe nóg later weg as gisteroggend.

Daar is nog één moet-poel op ons stap – die res word wil-poele. Op die ou end is ons bly oor gister se lang stap want vandag kan ons uitkamp op elke stopplekkie. Boulder Pool is game-break en van daar af is dit bontstap – oor die water, in die water, langs die water – tot by Middagbrood se ‘Pantie Pool’. Lank gesels, swem – mens wil amper nie verder nie want die einde kom ontstellend vinnig nader.

Nou’s jy al gekonfyt, kan ‘n klip sommer van ver af uitkyk en sê of hy jou gaan hou of nie. ‘n Natspoorklip is niks, maar boetieee …. ‘n klip onder die water is ‘n duiwel! En sand onder ‘n skoen werk soos ball-bearings: dit GLY. Ja nee, ‘n man léér, al is dit op die harde manier. Een stukkie goue wysheid vir Witels: sorg dat jy nuwe super-grip-non-slip stapskoene het, want as die nate eers losgetrek en die riffels afgeloop is, is dit super-slip-non-grip! (Vra vir my).

Bum-slide-pool is ‘n ‘treat’. Dis mal! En Hendie neem foto’s met sy splinternuwe kamera (wat toe tóg natgeword het!). Eers toe hy ‘n swartsak as beskerming kan gebruik, waag Wessie dit, want altwee sy stapbroeke het so ‘n teer plekkie opgedoen wat nie eintlik simpatie by ‘n rots glyplank sou kry nie!

Nou is dit uitstap, en alles gaan goed, behalwe vir Braam wat opklim teen die kranse en hom lieflik vasloop. By die piekniekplek in Mitchellspas aangekom, gaan haal die een helfte van die geselskap die motor en hardloop toe op tot by die basishut om Neels s’n ook te kry – toe’s dit nie daar nie! Braam en Hendie en ons meisies bly agter om bietjie te tittewyt want dié grootse stap móét gevier word: met ‘n biertjie en ‘n prosit en tjips in Wolseley se hotel.

So na aan volmaak was die trippe in Witels se waterkloof as wat mens maar kan wens.

En dit was dan ons agt se Witels: Milkshakes, Meal-in-one, PVM-bars, klippe, water, son, plastieksakke en toutjies.

Probeer dit bietjie want Witels is ‘n móét. Dis ‘n klein entjie (drie honderd treë!) vir al die baie mooi, dit werk, EN: DIS PRET!

(Sketsskryfster)

Leave a Reply