Riviersonderend Oktober 1981

25 September – 02 Oktober 1981

Vrydag, 25 September: na McGregor:
‘n Handjievol BT-Kaners, een natverfwavrag-vol, vertrek vreugdevol van Neelsie. Op pad uit Stellenbosch waai ons eers vir al die studerende studente wat agterbly om ‘n Septembervakansie in sy glorie te stuur. McGregor is nege-uur die aand al stikdonker en selfs die polisiestasie is dig toe. Die enigste lewendes is siele agter die kroegdeurtjies en terwyl die wa daar pad vra na ons slaapplek, skop ons agterop so lawaai op, dat ‘n tannie verontwaardig deur haar hortjiesvensters loer. So ‘n lawaai is selfs voor die kroeg nie gewoonte nie.

Ons uitspanplek is langs ‘n stroompie in ‘n “Wuppertal”-kanaaltjie, maar die ergste gevolge is darem nie geelsug nie, net baie muskietknaagkolletjies. Ons skop stof op langs die vuurtjie met bossietee in ons blikbekers en bolletjies in ons pensies en probeer gewoond raak aan ‘n toergroepie waar almal in een klein kringetjie om die vuur inpas. Daar is net vyftien toeriste en ons wadrywer, Henry Stubbs.

Saterdag, 26 September: Deur Boesmanskloof en Greyton na Genadendal:
Ons dwaal eers deur McGregor, versamel nekdoek-tjappies en verkyk ons aan die Boeretuintjie-plekkie met kappertjies en rankrosies teen die heinings, perskebloeisels agter langs ‘n groentetuin waar ‘n omie sy rooigrond omdolwe, jasmynrank teen stoeppilaartjies en strooidakke wat skeef hang met toegespykerde vensterluike. Almal dink aan aftree en Corisa wil weet hoe vêr McGregor van die naaste dorp is. Heleen-hulle koop Bloekomolie as anti-muskietmiddel, maar Piet dink amper een aand dis ‘n anti-sleemaatjiemiddel.

Die wa neem ons tot bo teen die berg en ons eet nog eers oggendbrood oorskiet, min wetende dat ons al die kalorieë gaan nodig kry. Dis ‘n baie mooi stap, maar ons stroom heeldag waternat saam met die reën bergaf, verby kolle Nooientjie-blose, varkblomme, bloeiende keurtjiebome en talle ander pragtige klein veldblommetjies. Sonder enige “smokebreaks” is ons gou op Greyton. Ons koning nog ‘n boeredorpie binne met eende en ganse en hoenders wat mistroostig op ‘n hopie in die agterplase sit. Ons lyk seker self ook maar soos nat hoenders, want op die hotelstoep keer die tante net wild dat ons nie inkom nie. Ons kry darem lekker koffie saam met middagbrood daar. Dis te nat vir sit en ons volkspele vir Ernst skoon van die smal stoepie af. Oorkant die straat juig die toeskouers teen die kafeemuur en van die kroeg se kant is ‘n geskokte stilte, nadat ‘n nuuskierige neus bokant die swaaideurtjie verskyn het. Die kroeggangers groet mekaar twee tree voor die ingang met ‘n stem wat binnetoe roep: “Het julle dan nie huise die tyd van die middag nie?”

Van daar af padstap ons in die reën tot in Genadendal waar die oulikste huisies uit die grond groei saam met onkruid en blomtuine. So laag soos die huise is, so hoog troon die Morawiese Kerk soos kloostermure, maar Sondag vind ons uit dis lig binne-in met wit mure en banke en fyn wit gordyntjies bo tussen pilare.

Die wa staan net anderkant die kerk op kerkgrond, maar ons voel sommer vere vir die wa, want niemand glo ons gaan ooit weer droog wees nie. Wat kan ‘n ou wa nou help. Maar ons moet maar aflaai. Die ses manne kom gou agter wat dit beteken om mekaar én die meisies se laste te dra, want almal is terselfdertyd walaaiers, waterdraers, houthakkers, stokers en dan moet hulle nog damestent en kostent en pouhok ook staanmaak.

Kostent is manskamp en met aandete pleeg almal daar oordaad. Ons slee droog in damestent behalwe vir ‘n paar eerste toeriste wat in hulle nat klere gebly het, spesiaal uitgevat om die gevolge van ‘n wraakaand te hanteer. Hulle het maar bedroë daarvan afgekom.

Sondag, 27 September: Oorstaandag:
Seweuur lui die eerste kerkklok, maar ons laat ons eers ure later deur feetjies en kaboutertjies ontwaak. Daar’s ‘n uittog na die badplek en dis amper in aansig van Sondagoggend wandelaars, drawwers en kleutertjies, maar die meisies besluit hulle moet maar anderpad kyk en gaan rustig hulle gang. Later gaan ons kerk toe. Die eerwaarde se preek lok heelwat bespreking uit na die tyd.

Met middagbrood is daar self ‘n tweede porsie roomys. Nogal baie voordelig om min toeriste te wees! Die gevolge: Almal keer om vir ‘n middagslapie en Ernst word vinnig in die bek geruk toe hy planne maak om die hele Groot Verseboek voor te lees. (Kultuurarm barbare!)

Laatmiddag koning ons vir Ilse en Neels in die kamp in. Neels kom net vir een aand saam slee. Teen skemer bring Andries vir Alet ook aan en hy slee die helfte van die aand saam, maar langer kan hy dit nie verduur nie. Die spinnies krioel rond en gooi eers amper die vuur dood met houtbalke en daarna beoefen hulle heelaand die bedelbedryf en hulle sake floreer ten spyte van die uitgedunde getalle.

Marietjie moet weer vir Neels, ou man, aanpor oor die koue, maar hy is na al die jare nog net so stadig van begrip. (Het Alba hom die afgelope sewook weer vir Braam …. Braam …. Braam …. beet, maar daar’s ‘n lang kommunikasiegaping tussen Oubos en Genadendal.

Maandag, 28 September: Oor Boskloof na Kaaimansgat:
Ons ry eers ‘n hele ent met die wa al langs Riviersonderend. Betsie bly vandag by die wa met ‘n knie wat pla en ons ander bestyg die sonoorstroomde heuwellande en huppel ‘n Heidie-huppel oor die geel ramnaswolkies en lag en sing en gesels en eet kweperrolle, totdat die son koers kies agter die wolke in. Ons wonder maar net …. Later verlaat ons die gebaande weë en ook nie lank nie, of ons versteur ‘n slang se rus. Hy gly lui-lui van een graspol na ‘n ander met Tielman al agterna. Vir dors drink ons stroop uit suikerkanne en sit later met taai hande. Ons raak sommer skielik lam in die knieë en vaak van al die gegiste stroop wat ons opgeslurp het. Deon gun ons nie vrede vir ons siele nie en laat weet valslik dat ons die verkeerde pad gestap het. Ons is darem later aan die regte kant by Villiersdorp bergaf. Ons wag op ‘n plaaspad terwyl Deon, Piet en Tielman die wa loop haal. Van pure koue trek Heleen twee swembroeke oor haar bene, want Tielman het almal se warmgoed by hom in sy rugsak. Net ‘n rukkie toe doen ons vodde klompie volkspele net om warm te bly. Ons koning die wa toe hy aankom en klim onder die seil in. Op die Kaaimansgatpas gooi ons die seil af en ons oë rek, want dis nogal mooi, hoë kranse en ‘n swart bergmeer doer onder.

Op oom Petrus Roux se plaas, Elandskloof (Protea- en appelboer), kry ons ‘n staanplek langs ‘n dennebos en voor jy kan sê mes is al die meisies by die waterstroompie om die draai en daar word gewas dat die water so spat, terwyl die manne kamp opslaan. Hulle kry nie kans om dieselfde te doen nie, maar hulle is nie veel gepla nie en besluit dis tyd genoeg om môre op oorstaandag weer skoon te raak. Hulle het in elk geval ‘n unieke pouhok gebou met ‘n dak op, want dis reg onderkant die bult waarop die kampplek is – baie opsigtelik of liewer oorsigtelik.

Ons staan rustig en sing om die kookvuur en dink aan honger mae en aan planne om wakker te bly in vanaand se slee, toe ‘n donderbuis agter die damestent dreun en in al die klowe tot in Villiersdorp weergalm. Toe ons moed bymekaarskraap om weer ons oë oop te maak, staan oom Petrus met ‘n breë glimlag in ons midde. Toe hy later vertel hy het op Elsenburg geswot net om sports te maak, het ons dit maklik geglo.

“Bring julle borde en kom ‘queue’!” en vanaand word dit volgelaai met ‘n braaivleisie. Deon neem ‘n halwe aand om sy tentjie na smaak op te slaan en Betsie moet gedweë in ‘n ongeboude slee wag. Maar laat ‘n mens nou net iets begin sê oor Deon, dan sal Betsie hom sowaar nog verdedig ook! Terwyl Deon so aktief is, is die res van die sleekring rustende en selfs die spinnie-nessie is meer bek as binnegoed. Hulle vier se taktiek het goed gewerk, want hulle spreek net ‘n woord, dan dra die manne sleepille na hulle nessie toe aan. Piet lees voor uit Twee vir ‘n Stuiwer en die spul mossies kattemaai die spinnie-nessie skoon tjoepstil.

Dinsdag, 29 September: Oorstaandag:
Terwyl party sommer nog tot elfuur in hulle slaapsakke rondlê stap ‘n klompie saam met oom Petrus in ‘n kloof op met dikstam Rooi-elsbome en groen mosbedekte klippe. Ons eindig waar die hoë kranse in ‘n amfiteater bo ons koppe uittroon. Aan die voet lê rotsblokke gestapel en gestrooi.

Deon en Betsie is sover die enigste verliefde paartjie op die toer en hulle kan nie sop kook nie, toe kry Piet en Arnold die werkie. Na middagete sit ons in die sonnetjie in ‘n kring van spotters en twak gesels, terwyl wyse tussenwerpsels kort-kort vanuit Deon en Betsie se tentjie, waar hulle sogenaamd slaap, kom. Die beskawing, maar veral Caramello beertjies roep en laatmiddag gaan ‘n klomp Villiersdorp toe met die wa.

Jat du Toit wat sewe jaar gelede die toer hierdeur gelei het en môre se stap weer lei, sluit by ons groep aan. Vanaand is dit ‘n singery en weer ‘n grootskaalse vleisbraaiery in plaas van heelmiddag bredie te stook. As oom Petrus en sy vrou ook bykom, kom daar ‘n wyntjie. Dit word sommer ‘n vrolike affêre. Ons vergeet skoon om Ein Prosit te sing! Dis damesskiet en die vrywillige spinnies lyk baie verdag soos die vorige aand se spinnie-nessie. Uit hulle geledere item Alet en Heleen een van die enigste goeie nuwe items van die toer. Die toktokkie en die miskruier spreek hulle teleurstelling uit oor die moderne tegnologie. Selfs die BTK se wa is net beloftes.

Woensdag, 30 September: Oor Aasvoëlberg na Purgatory, aan die voet van Franschhoekpas:
Die eerste helfte van die toer is verby en die tweede deel kry ‘n ander gevoel. Miskien omdat almal mekaar goed leer ken het, miskien omdat Pierre vanoggend hom en kosma kom blymaak, ‘n hele dag vroeër as wat beplan is. Ilse se vyfpuntplan is onderbreek, maar ‘n mens maak gou aanpassings onder noodomstandighede. (Een van die aanpassings, ‘n langbroek, laat Ilse en Pierre vandag amper verdwaal en so ver agter raak dat ons ‘n vroeë middagbrood afkondig.)

Miskien is die toer nou ook anders, omdat dit nou meer van ‘n bergklub as ‘n toerklub verderaan is. Jat is vooraan met “bundubashing” iewers deur ‘n kloof in Aasvoëlberg. Dis ‘n daglange stryd tot halfsewe namiddag ‘n voet bokant die grond, bo-op bosse en takke en deur die ruigtes met hewige gevegte met Proteabosse en hakea. Later as ‘n fyn ou heidebossie jou pootjie, kry hy sommer ‘n vernynige skop dat sy wortels doer trek. Tielman trap nog amper weer op ‘n adder ook. By een van die knieknakkies knip Renate haar broek nog korter van pure moedeloosheid. Die BTK staan vandag vir Bosse-en-Takke-Kraak en Baie-Toerlede-Kapot. Ons skoensole trek los en veters breek, dis bloedneuse en bloedskrape, dis stortreën uit ‘n blikbeker, dis ‘n laaste afdraende en dan is dit die wa koning.

Ons kampplek is by Purgatory – “The Place of Temporary Suffering”.

Vanaand na die skietery kry sleetyd ‘n nie-amptelike status en almal sit sommer om die kookvuur en drink warm sjokolade. Riaan se sleemaatjie en die bevoorregte spinnies vier fees met Caramello Beertjies, sodat Alet, Marietjie, Helene en Ilse se oë net groter en groter rek, totdat hulle elkeen ‘n hap van een beertjie kry.

Corisa hekel vir Piet oor sy vleislyste wat hy so met die hand uitsoek. Terwyl Ilse so lekker onder Pierre se vlerk inkruip, wil ons weet wat van Pierre se vleislys geword het? Piet antwoord hier uit een hoek: “Wie sukkel nou met ‘n vleislys as jy klaar ‘n ‘steak’ op die tafel het?”

Donderdag, 1 Oktober: Na Nuweberg-bosboustasie:
Jat en Betsie verlaat ons vanoggend. Heeldag sonskynstap oor die Bolandwandelpad. Middagbroodpoeletjie is net reg vir swem en baie kattekwaad. Piet ly ten minste een nederlaag, want hy kannie juis sy eie trui natgooi nie. Marietjie steek vir Deon op om vir Pierre nat te gooi en Pierre gooi weer vir Marietjie nat. Daarom gooi Ilse vir Pierre nat en daarom gooi Pierre ook vir Ilse nat. Na die tyd is almal min of meer nat en Renate se beker is nou nog soek. ‘n Ent verder by die houtbruggie oor die Riviersonderend (die begin van Boegoekloof) neem Piet deeglik wraak met Deon as vrywillige regterhand. Die V.V.V. (vreeslike Van Niekerk vroumens) word groot gedoop. Net Alet het sowaar droog gebly!

Vanaand is laaste aand en ‘n klomp ou items herleef met ‘n sleekring wat rondkrul van die lag as Piet met sy mooi pak rukkings en stuiptrekkings kry. Twee Iere toer ook deur die Laeveld se kroeë met ‘n veraste lyk by hulle wat vir ‘n snuifdosie aangesien word. Deon en Pierre “perform” alweer as Edi en Queenie en die Ou Grys Merries klippetie-klap vooraan die wa. Dis nog ‘n bietjie gesels en kitaarspel, koffiedrink met marshies in en dan is dit slaap langs die waterstroom onder die dennebome.

Vrydag, 2 Oktober: Na Jonkershoek:
Vroegoggend is dit kiste skrop en kamp afbreek. Uit die damespouhok kom Deon en Pierre se brullende lag en hulle roep: “Blikwassers, sien julle uit na hekeltyd?” Die hele toer het Arnold en sy blikspan hulle temaliedjie gewissel en aangevul, maar die hoofsaak was iets van dié aard:

“Staalwol, staalwol
skuur dit blink met staalwol.”

En vanoggend ontdek oom Pierre en oom Deon ‘n stukkie STAALWOL in die POUHOK! Die gevolg was nogal ‘n rumoerige hekeltyd, maar Tielman wil weet of die blikwassers vandag die blinkkant bo gaan hou.

Die wolke sweef vinnig verby en dit raak koud. Net ‘n entjie se stap, dan is ons in die mis. Tielman stap slot, maar ons groepie is heeldag op mekaar se hakke, want ‘n mens kan net twintig treë vêr sien. By Landdroskophut het ons gou vir oulaas probeer warm word voor die gure weer ons beetpak. Pierre het beslis geweet watter dag om te kies om wa te ry.

Dit begin te reën, gelukkig nie soveel as Saterdag nie. Die wind waai snerpend koud en swiep heeldag oor helder geel, bruin en swartgroen grasse en riete. Daar’s nie weer ‘n hotelstoep vir middagbrood nie en ons stryk dus maar aan ….

Die mis flous ons lekker, want ons moes by Swartboskloof afgaan, ons het gedink ons gaan by Bergriviernek af, en ons het toe al die tyd by Kurktrekker afgegaan. Die bordjie wat sê “Voetslaanpad gesluit” was oninterpreteerbaar, want dit het in die verkeerde voetpad gestaan. Al die Engele wat waghou oor BTK-paaie was volstoom aan die werk, want ons het veilig in Jonkershoek aangekom, waar Henry en Pierre vir ons met die wa gewag het.

Onder by die BTK-stoor is daar eers ‘n hewige stryery oor waar ons gaan koffie drink. Op die ou end vaar ons toe met die hysbak die Neelsie binne, swerm deur die kombuis en beset ‘n ronde tafel met klinkende koppies.

En so is nog ‘n toer verstreke na ‘n pizza Sondagaand en ‘n reunie braaivleis. Ons verbeel ons dis ‘n goeie voorbereiding (heerlik uitgerus?) vir die laaste skof wat voorlê. Die hoop beskaam nooit!

Fransie van Niekerk
(Sketsskryfster)

Leave a Reply