Suidelike Sederberge April 1983

“Wie wil nou die Sederberge met ons klim
wie wil nou ‘n liedjie saam met ons sing?”

As daar selfs ‘n liedjie oor die gebied gesing word, moet dit mooi wees, en dít is wat die ses-en-dertig stappers dié vakansie uitgevind het.

Tussen die laaste dag-bedrywighede deur, het die voornemende toerlede gou nog die laaste rape geraap en skrape geskraap om alles wat gewoonlik vergete bly, te onthou …. sodat ons betyds kon vertrek. Die ongelukkige bus op wie die lot geval het, het met Gustav Sahlerz aan die stuur en opgewonde toeriste binne-in, betyds vertrek – net so ‘n uur laat – nie voordat Pieter Kriel vir hom ‘n heerlike vars “hotdog” gekoop het nie! Vergete was die akademie en seminare wat lê en wag. Vir ons het nou ‘n hele week van ontspanning en mens-wees voorgelê.

Tussen al die gesels en stiltes deur, het ons mekaar opnuut ontdek en die agt eerste toeriste het gretig probeer om die res se name te onthou. Bolandse passe en Kaapse draaie het mekaar opgevolg en die smal paadjies en ongeduldige motoriste het Gustav se taal en senuwees tot op die uiterste beproef.

“Dat oom Tjaain oud is, is waar, maar dat hy nie stout is nie, is ‘n wolhaarstorie!” Hoekom anders sou hy dan op Ceres die dames in die geriewe wou toesluit? Pure onnutsigheid!

Op De Berg, waar ons die groente en vir Ilne Greef opgelaai het, het ons heerlike koffie en beskuit losgeslaan en op die koop toe ontdek dat Elsie Meiring en Anna-Linda de Wet so op 1 April verjaar. Gelukkig het net die “April fools” hulle geglo.

Om die bus oor ‘n lastige middelmannetjierots te help, moes ons iewers in die Karoo eers uit en litte rek in die maanlig. Teen elfuur was ons by ons kampplek te Zandfontein. Koffie en broodjies het gaatjies gevul en teen vroegoggend het almal darem ‘n plekkie tussen die dennenaalde gehad.

Vrydagoggend, ons eerste stapdag, het almal vroeg geroer. Die kos is uitgedeel, “Die Hoogland” vir die nuwes gesing en almal het hulself georiënteer vir die twee dae se stap. Net voordat Gustav met die bus kon weg, is elke rugsak vinnig opgetel, geweeg en te swaar gevind. Sleepille en alle ekstras moes uit! Deon van Niekerk het die Goeie Vrydagoordenking gelei en knap daarna het ons ons laste opgeneem.

So met die kort asems en ongeoefende spiere saam, het dit maar rus-rus teen die eerste bulte uit, gegaan. G’n wonder dat Betsie van Niekerk en Pieter Kriel so vinnig van hul appels ontslae wou raak nie! Raad van een appelliefhebber aan ‘n ander: Moenie ooit vir Deon van Niekerk ‘n “happie” van jou appel gee nie. Hy eet die heel ding op en los nie eens die stronkie vir die oorspronklike eter nie! Skande op die huis.

Net soos elke Transvaler ‘n foto van ou Tafelberg tussen vergange se stof kan opdiep, en elke Kapenaar iewers een van die Voortrekkermonument sal hê, so sal elke stapper wat ‘n kamera byderhand had, eendag ‘n foto van die Zandfonteinboog aan sy kindskinders kan wys. (So van die Kaap en Transvaal gepraat: Het mens ‘n “bêk” of ‘n “biek”?).

Net nadat ons by ons plato-slaapplek aangekom het, het Gustav en Arnold Müller ons vanuit die teenoorgestelde rigting tegemoet gekom met ‘n welluidende “Ag man, dis lekker in die Ceders”, op hul lippe. Die groente is aan die week gesit en kort voor lank het die dames, en daarna sommige mans, hulle tussen die paddavissies gaan afspoel. Dit het gevoel asof ons lank reeds weg was van Stellenbosch af. Tussen koskook en ingrawe deur, het Neels en Kosma Henriëtte de la Bat gekonkel en so op die eerste deurmekaarvallery, tussen stofies en “wie se billie is wie s’n”, moes die verbaasde dames die skietwerk doen. Onortodoks!

Aan items was daar geen tekort nie. Selfs die op-sy-laaste-dae Neels het nie gehuiwer om ‘n “honeymoon”-item saam met Gustav te doen nie – ewe koel en kalm voor die groot val! (Hy het seker geoefen!) Die dames onder leiding van Sylvia Vorster het nie op hulle laat wag nie, en gekreukelde probleempies is maklik uitgestryk.

Saterdagoggend se stap het rus-rus gevorder en tussen al die rotse en formasies het ons chaperone, tannie Mercia Roos, die dapper Dighkie opgemerk. Die eerste gevaarlike klimmerasie van die toer het plaasgevind met die bestyging van Apex-piek. Bo-op was almal opgewonde oor die uitsig en die benoude oomblikke vinnig vergeet. Ver in die vlak kon ons die bus sien wag.

Af van die boonste spits af, het ons op ‘n vrolike noot Volkspele gedoen en selfs Steve Worth, die Engelsman op die toer, het tussen die klippe rondgedans. Redelik hol en honger het ons gaan plekke dêps vir middag-provita en dis net dáár waar Karel Schnetler die bal aan die rol gesit het met sy ontydige droëwors. Neels se stuitigheid het hom duur te staan gekom en terwyl hy besig was om ‘n groeplid aan te rand, het sy bril uit sy sak gespring en in die proses lensloos geraak. (Tipies BT-Kaners om ‘n blinde leier te volg!)

Geen ernstige dwarswinde of ander probleme kon die Dighkies keer nie en elke moontlike klip moes beklouter word. Daarna was dit teen ‘n rustige pas bus en skoon klere toe.
Die boer se uie moes dit ontgeld toe bekersteler (Ilse Bahneman) en bekerlose (Nelius Smith of Klein Tjaain) ‘n onderonsie besleg het. Tot verligting van almal wat visioene had van ‘n oorstaandag op die warm vlak, het die bus sy neus gedraai en ons kon op Suurvlei afpak.

Vriendelike Bruinmense het ywerig bergwater aangelê kampplek toe. Voordat jy nog kon sê “dam”, was man en muis in die modderige damwater. Klei het geklap, maar die manne moes waardigheid vergeet en die aftog blaas voor die vuur van die dames onder leiding van Sylvia. Terwyl Neels en Pieter K. goed die kop gewas is, het Ernst Conradie sy krulle vertrou aan die snykundige hande van Ilne. Die probduk was ‘n oulike karakoellammetjie-dis nou net as jy nie verder as sy kop kyk nie!

Die eerste toersite (E.T.’s) was teen dié tyd al heel opgewerk vir hul groot intrede tot die geheimenisse van die WRAAK. Steve se olifante se “tande” is deeglik geborsel, terwyl Bonzi (Hennie Jacobs) en Annerie Schoeman hul tyd in die fliek verwyl het. Teen hekeltyd kon almal spog met ‘n nekdoekie, dankbaar dat DIT oorleef is. Die vrolike vinkies om die vuur moes hul sanglus kortknip toe daar vanuit die manskap beswaar gemaak is teen hul musikaliteit.

Die Sondagsonnetjie het ons uit die slaapgoed gebroei en kaboutertjie Karel en sy twee feetjies Annalie Greeff en Patrys du Toit was vinnig by met die koffie. Nadat Pieter K. die diens gelei het, het vele hande om die kospotte vergader om te help met die voorbereiding en ontvliesing van die aartappels (volgens oom Tjaain net tydmors en hoogs onnodig.) Nico en Magriet Treurnicht wat reeds vanaf Zandfontein by ons was, se twee dogtertjies Petra en Jeanne het moederlike en vaderlike instinkte laat hoogvlam.

Sondagaand damesskiet? Sowaar! Die ongeskiete Gustav was vinnig om hom aan te bied toe Gretha Greeff haar by ons gevoeg het. Net voor aandgodsdiens het oom Tjaain ons meer vertel omtrent die oorsprong van sekere BTK-gebruike en -tradisies. ‘n Interessante feit het aan die lig gekom: sestien van ons se ouers het ook nekdoekies gedra! Op die daad is daar besluit dat almal van ons se kinders eendag sal BTK!

André Bester se toer is gemaak toe Elsie Meiring aan ons die wysie van ‘Bonnie Charlie’ voorgedra het. “Maar dis dan Williston se skoollied!” – die begin van veel pret en plesier op die toer. Sou dit dan nie ons temalied word nie:

“Daar’s ‘n bar op Williston
waar die BT-Kaners sing
en ons drink glad nie te min
in die bar op Williston!”
Koor: Herhaal vers 1.

Maandagoggend is ons, vergesel van familie Treurnicht weg na Malteserkruis. Wat hom gejaag het, weet nugter maar as voorstapper het Pietie Müller getoon dat voornemende dokters haastige mense is. Met gamebreak teen ‘n ongemaklike, blootgestelde helling, is die dames vooruitgestuur vir kampverdeling met “onthou vir Lot se vrou” in ons ore. Of haar hoed óf haar boksterte het gekeer, maar Sylvia het dit nie gehoor nie.

Groot verligting en vooruitsigte toe Pieter Müller sê: “nou vir die kort stappie na Disapoel.” Stofheuwels op en af, by beeste verby, maar al wat kom, is die poel! Na vele verwensing en dreigemente om te staak of op die plek te bly sit en wag, het ons darem daar aangekom. Nét betyds! Na “game on the rocks”, het dit min gekos om in die water te kom. Met haar intrede het Henriëtte “a giant leap for womankind” gedoen. Ons dames laat ons merk!

Malteserkruis was ‘n verrassing. Gustav en Arnold het hulle weer by ons aangesluit. Dié slag met “Ag man dis lekker in ou Citrus.” Teen etenstyd was dit al koud-koud-koud en gesoute BT-Kaners het raak voorspel: “Vanaand gaan die items maar dun gesaai wees.” Arme Jaap had veel probleme om sy sleemaatjie uit die kloue van die Bachies te red. Laasgenoemde lot was seker opgeskeep sonder vroulike geselskap, want hulle het op allerlei maniere probeer aandag trek, tot met die berugte ‘plathond’ ook.

Vroeë opstaners is beloon met ‘n swart kruis teen ‘n rooi hemel -‘n pragtige sonopkoms! Die Dinsdagluggie was fris en vars. Nadat Gustav sy groep se pap verbrand het en toe op die ander se goedhartigheid moes steun, het ons koulik ons rigting gekry. Danksy Neels en oom Tjaain se optimisme het ons tog, ten spyte van ‘n effense mistigheid, die klofie Sneeuberg toe, aangepak. Party het omgedraai om oë oor die rugsakke te hou terwyl die res voort is na die nekkie. Gelukkig was dit nie koud nie, né Bonzi.

Die mis-terie het soos mis voor die wind verdwyn en na ‘n happie suiker en ‘n paar grondbone, is ons die berg uit. Hoe hoër, hoe mooier en dié met korter ledemate beny die geseëndes met hul lang bene wat so ligvoets oor die onklimbare steiltes kon seil – om van die skeure en tonnels nie eens te praat nie! Alle vrese is oorkom en groot was die dankbaarheid en verwondering toe ons besef dat ons op die hoogste piek in die Ceders was. Ons kon die hele wêreld sien en in ‘n ander bergreeks het Kleinboet Tafelberg soos ‘n mier gelyk.

Almal het hul name geteken in die boekie en tussen al die papiertjies het ons afgekom op die name van BT-Kaners wat in 1978 ook daar was. Ook was daar ‘n verlowingskennisgewing: dié van Hendrik le Roux (volgens Neels die ‘stooge’ van die BTK) aan Ester Nieuwoudt. Op die daad moes ons ons eie verlowingspartytjies hou: Pieter M. aan Catherina Neethling en Ernst aan Ilne (gelukkig nie ernstig nie!).

Tydens die aftog het Bets en Deon, wat laat by ons aangesluit het, ons breedvoerig vertel hoe en waar hulle op hul ééntjie moes op. As die lot wat onder gebly het al honger was, was ons wat teen twee-uur, vol ekstra skrape en dorings, by hulle aangesluit het, hééltemal hol. Karel se droëwors het nog ‘n diefstal beleef maar tot groep een se verligting het Barry de Wet dit weer aan hulle terugbesorg – eerlike groep twee!

Tot by Eikeboom moes ons in ons groepies stap. Ons was nou vinnig aan die daal en na die Sederberghutte het ons die eerste Cederbome teen die rantjies gekry. Vier akkerbome het amper daarin geslaag om ‘n Stellenbosch-atmosfeer te skep – net die hakbrekende sypaadjies het geskort. By die bus is die dames met groot woorde en oë van die rivier af weggehou. Gelukkig is dit net vuil mense wat water nodig het en gelukkig was die water nie koud nie! Die groot oomblik het aangebreek en Pieter K. het ten aanskoue van belangstellendes getoon dat ‘n paar dae se rugsakstap niks kan doen aan die kwaliteit van ‘n Neelsie hotdog nie!

Algaande het ons begin besef dat die voetseer verby was, die stappery was oor, die toer amper op ‘n end. ‘n Vlak riviertjie het die bus se modderskerm effens gebrei, maar niks wat nie met ‘n bewuste hamer gedokter kon word nie!

Vir die salige kampeerders te Driehoek was dit seker die begin van ‘n maagseer toe hulle die bedrywige bus in die paadjie sien afkom het. Vinger in die oog vir hulle, want ons het op ons eie gaan kamp. Daar is vinnig deur die koel rivierwater gespring en toe is kookvuur se kant toe begin staan – groot eet en laaste aand se ingrawe. Ernst, Pieter K. en Arnold het aan die E.T.’s gewys wat “aantrek” in die BTK beteken. Daar is tot laatnag om die vuur gekuier voordat ons ons tussen die rollende akkers reggewriemel het vir ‘n slaapplekkie.

Woensdag is daar vroeg geroer, die emmers geskrop en die bus gepak. Ons moes ry om voor elfuur op Citrusdal te wees vir Hendrik en Ester se troue. Vir ‘n wonder was ons betyds (eintlik byna ‘n halfuur te vroeg). Terwyl die ex-stappers besadig op die gallery gesit het, het die volgende toneeltjie hom in die konsistorie afgespeel: “Mnr le Roux, hoekom het jy my nie gesê hier kom van jou stapmaters nie? …. mor mor …. Ek het hulle dadelik gallery toe gestuur!” Ná die seremonie voltrek is, het skoon en vuil BT-Kaners saamgespan om die bruidspaar te koning -tot verbasing van die getooide gaste.

Terug in die bus en weer op pad na Stellenbosch, het die gedagtes begin loop neem na onvoltooide seminaarsimfonieë en ontluikende toetsspoke op die horison. Gelukkig is ons almal slim én hardwerkend. How’s about that?!

Catherina Neethling

Leave a Reply