Amatola Junie 1985

Die groot dag breek toe uiteindelik aan en Vrydag, 12 Julie, vergader ons by die Neelsie. Kort na sesuur die oggend is ons gereed om te vertrek, maar wag, hier kort iemand – Kobus Stoeder natuurlik. Hy moes eers wakker gebel word!

Ons het nog nie behoorlik reggeskuif en ons sit gekry nie toe die voorwiel van die bus besluit hy sien nie kans vir die lang pad wat voorlê nie. Net daar kort duskant die Paarl moes ons toe maar die bus ontruim en buite in die yskoue windjie staan en wag. Daar is die ys sommer ook gebreek en so in die wag het ons mekaar begin leer ken. Met die hulp van die noodtelefoon en Mastertreads is ons toe nege-uur eers weer reg om die tog voort te sit.

Die rit was lank en terwyl ons so verby die sneeubedekte berge gery het, het almal seker gewonder of dít dalk is wat vir ons voorlê. Na + 14 uur se ry, begin die opwinding ons so stuk vir stuk beetpak, want die Ciskei kom al hoe nader. Boonop hoor ons toe nog dat Hogsback oornag ‘n baie bekende plek geword het vanweë die swaar sneeuneerslae – maar dis dan waarheen ons op pad is! Barry besluit toe dat hy eerder Fort Beaufort se kerksaal verkies as om nou in die koue sy tent te gaan opslaan, en ons was baie dankbaar vir sy besluit.

In die saal of bus het almal gou nes geskop en die slaapsakke oopgerol. Nadat ons warm koffie en kaasbroodjies geëet het, het ons afgesluit en die moeë lywe gaan neerlê.

Kwart voor sewe die volgende oggend weerklink die rympie vir die eerste keer in ons ore: “Opstaan, ons eet oor ‘n kwartier.”

Vies-vies oor dit so vroeg is, het ons gou opgepak, geëet, bus gelaai en vertrek. Min het ons tóé geweet dat dit nog een van toer se laatslaap-oggende sou word. By Hogsback is daar geen teken van die beroemde (berugte?) sneeu nie, maar ‘n motreëntjie en modderige kampplek wag ons in.

Maar, wat nou, daar is mos niks wat ‘n BTKaner kan stuit as hy eers ‘n toer geruik het nie en dit was nie lank nie of ‘n helderkleurige tentedorpie het in die grou weer verrys.

Die middag stap ons Kettle’s Spout-waterval toe en op pad terug het die Peanut-Gallery ‘n paar spitsvondige sêgoedjies uitgebroei (die béste was seker: “PASS”).

Met aandete verwelkom ons vir Gawie-hulle met ‘n lekker koning. En later vang Barry almal onkant met sy ongewone, ontradisionele, onverwagte, ondenkbare en uiters onwelkome damesskiet (en hy gee ons toe ook nie eers weer nóg ‘n kans nie!). Maar met die hulp van die buro het elkeen darem ‘n sleemaatjie gekry en het ons mooi ingepak om almal in die huisie in te kom. Die items was maar traag, maar Priscilla het darem gewys wat ons moet doen as ons te koud kry – roep net vir Barry.

(Vir diegene wat ook die Kouga-toer meegemaak het, verneem ons van betroubare informante dat hierdie “item” die vervolgepisode van die Kougatoer-troue was.)

Op Sondag is ons op die tradisionele wyse wakkergemaak: Feetjies en kabouters het vir ons koffie en beskuit in die tent gebring. Dis nie al nie, ook die weer het verbeter en ons is met sonskyn begroet. Sondagoggend is rustig deurgebring, alhoewel die Amatola-skoonheidsalon betreklik bedrywig was! Die kosma’s en groepleiers het egter hul tyd nuttig verwyl deur die kos uit te deel. Riaan het die kosma’s se harte verbly met die doos vrugtelekkers wat hy aan ons gestuur het, en minder verbly met die baksteen wat hy saamgestuur het!

Oor middagete is die rustigheid effens versteur – Tannie Miems, Swannie, Riaan en Gerhard het aangekom! Gelukkig het stilte gou weer oor Hogsback gedaal, en terwyl sommige al agter die son aangetrek het, het ander gaan stap.

Na aandete was dit sleetyd en Ernst het ‘n diens gehou. Daarna, nou ja, net die eerste toeriste kan werklik beskryf hoe hulle gevoel het. Die WRAAK het weereens sy slagoffers geeïs.

Maandagoggend half-ses word ons weer gewek. Ons pak sorgvuldig ons rugsakke en dink aan alles wat moes agterbly. Na ontbyt pak ons klaar in en laai die bus. Net voor ons ry, sluit Jaynee Levy by ons aan. Ons klim in die bus en ry na die beginpunt. Met ons rugsakke op ons skouers vertel Jaynee kortliks vir ons wat op ons wag – sy’t egter vergeet om melding te maak van al die opdraendes wat ons sou kry.

En daar gaat ons teen die eerste bult uit. Die res van die dag stap ons op en af, styg net om weer te daal. (Barry, dalk moet ons volgende keer die pad van die anderkant af probeer. Dink net – dan sal al die opdraendes afdraend wees!).

Die voorste klompie kom so na vyf die middag by die eerste kampplek aan waar ‘n pouhok vir ons staan en inwag tussen die geel gras. Die agterste avonturiers het eers ‘n paar ander afdraaipaadjies verken voor hulle ook uiteindelik die kampplek bereik. Na aandete hou ons aandgodsdiens en gaan slaap sonder om te slee.

Uitgerus na die nagrus het almal vrolik opgestaan en was baie lus vir die dag se stap. Barry was so haastig dat party meisies nie eers behoorlik tyd gekry het om die pou-hok te besoek nie.

Wat ‘n heel interessante dag het daar nie vir ons voorgelê nie. Dit was die heelpad opdraend tot by middagbrood. ‘n Paar ouens was selfs so vriendelik om sommer twee rugsakke te dra. As dit darem nou nie “fyn flirt” is nie. Hulle besluit sommer om die heel dag in te grawe. Ongelukkig vir hulle het ons die aand toe glad nie eens geslee nie.

Die staptoere self het verby ‘n paar interessante watervalle gekronkel. Die “gamebreaks” was soms meer waardeer as die pragtige watervalle op die dag se stap.

Met middagbrood was almal uitgeput, almal behalwe tannie Miems. Sy sien selfs kans om vir Gawie met ‘n leë waterbottel te jaag. Hier was dit die begin van die einde vir tannie Miems.

Na middagbrood het ons skerp begin daal na ons kampplek vir die aand. Dit was nou nie meer so ver nie. Na verskeie knieknakkers bereik ons uiteindelik die kampplek. ‘n Paar helde was tot sterwens toe moeg en het so ‘n ou bordjie vol toppers en koring dan nie lekker gesmaak nie.

Die Pouhok wat tot ‘n Erna bevorder is, het gerieflik op die meisies se badplek afgekyk. Tannie Miems het gou-gou opgedraf om te sorg dat geen mansmens besluit om die plek tydens die meisies se badtyd te besoek nie.

Die aand word baie vroeg afgesluit en die laastes het rondom halftien in die bed gekruip, om hulle moeë, maar gelukkige liggame te laat rus. Nog ‘n dag van baie aangename en interessante dinge is verby.

Woensdag, vroegoggend, is almal al besig om te roer. Die asemrowende sonsopkoms belowe dat daar ‘n mooi dag in sig is en tannie Miems gaan voort met haar streke. Vandag is dit toe ook mos sommer ou Pieta se “verjaarsdag”. Die meisies “queue” en ewe gedweë ontvang Pieta al die gelukwensings.

Gamebreak kom net betyds en verskaf aan almal nuwe moed vir die dag wat voorlê. Die laaste rêrige groot bult van die toer stap ons so rus-rus tegemoet. Die bopunt word in ‘n rekordtyd bereik en Barry besluit dit is die ideale plek vir middagbrood. Weereens is dit tannie Miems wat die geselskap oorheers. Tannie Miems gryp ‘n paar gedwonge geesdriftiges om saam met haar volkspele te speel. Die manne is egter almal te moeg en tannie Miems begin om haar strategie vir die volgende sessie te beplan.

Ons daal weer en stop by ‘n stroompie om water te drink. Tannie Miems se beplande strategie om vir Hendrik en Mauritz en vele onskuldiges te verkoem met heerlike, yskoue water boemerang en Tannie Miems, papnat van kop tot tone, moet aanhoor hoe die manne planne beraam om haar ‘n les te leer.

Ons stap rustig verder en daal vinniger as wat ons gedink het, tot in die kamp by die dennebos. ‘n Paar brawes besluit om te gaan was waar hulle nie gister gewas het nie.

Ons eet weer ons gunsteling resep. Vanaand is ook die aand vir ‘n groot slee-sessie. Daar word aan weerskante van die pad geslee en was dit nou nie ‘n rêrige pret-slee, met tannie Miems wat die “Bachies” besig hou nie.

Na aandgodsdiens besluit ‘n paar dat dit te lekker is om te slee en hulle probeer om ‘n sinvolle gesprek te voer. Klaasvakie doen egter sy rondte en so een na die ander gaan kruip elkeen in sy tent. ‘n Rustigheid daal oor die kamp neer.

Donderdag kon ons wakker word met die gedagte dat dit die laaste dag van lank stap is. Nadat ons in die donker geëet het, kon die ouens wys van watter stoffasie hulle gemaak is toe hulle hul beurt kry om te “queue”. Jaynee was díe keer die “slagoffer”, maar darem tereg, want sy het regtig verjaar.

Donderdag was die dag van redelik-gelyk-stap, goed-stap en water-saamdra-stap. Water was skaars en “Gamebreak” is nie by water gehou nie, alhoewel ‘n paar vindingrykes water geskep het by ‘n uiters stadig “vloeiende” stroom deur ‘n gat te maak en met halfvol bekers die bottels vol te maak.

Middagbrood is vinnig afgesluk en ons was gou reg vir die opdraend wat in die plantasiepad gevolg het. Bo-op ‘n nekkie het ons “gamebreak” gehou. Let wel, sonder game met net sjokolade. Die eerste tekens van die beskawing moes sommige mense se oordeelsvermoë aangetas het, want Barry het gesorg dat die Groot Pampoen die tradisie voortsit – dat ‘n leë Cokeblikkie nou van ver af so vol kan lyk!

Terwyl die lug vol reënwolkies begin word het, het ‘n leë bakkie verbygery. Dit het natuurlik vir groot opgewondenheid gesorg. By die huis aangekom het dit sterk na reën begin lyk, en die gevolg was dat al die meisies en die helfte van die manne in die huis geslaap het. Die meisies se eerste gedagte toe hulle die huis sien, is woes verwyder – daar was geen warm water nie!

Ons het darem weer ‘n kans gekry om te slee dié aand. In die slee’s het Jaynee ons van al haar wedervaringe vertel. Haar eerste staptoer was maar net 3 maande in Alaska!

Vrydag is almal vinnig op en wakker en gereed vir die laaste dag se stap. ‘n Span-foto word met ‘n groot geskaterlag geneem. Uiteindelik is ons almal gereed en begin skerp afwaarts te daal.

Met “Gamebreak” stap al die bestuurders en Jaynee vooruit nadat sy eers ‘n koning moes aanhoor. Tannie Miems raak al hoe stiller, want die dam kom mos al hoe nader. Uiteindelik bereik ons die dam. Ons eet ons laaste rogbroodjie, wat die hele pad saamgestap het, met smaak op.

Tannie Miems probeer vir Hendrik omkoop, maar pure verniet. Sy word pens en pootjies in die water gegooi. Papnat en bedremmeld klim sy uit en besluit dat sy darem nie alleen wil swem nie. “Bekfluitjie” – dit is wat al die meisies moet skreeu. “Die ouens sal ons rêrig nie vang nie”, belowe tannie Miems. Die nagevolge? Wel dit was nou sommer maar net pret, want almal het deurgeloop.

Ons ry na ons kampplek in King Williams Town. Almal dink aan ‘n lekker warm stort. Vreemde gesigte maak hulle verskyning. ‘n Paar ouens besluit om die dorp aan te durf, arme King Williams Town.

Saterdagoggend moet ons vir oulaas vinnig wakker word (wat vir party maar moeilik was ná die vorige aand se láng slee.) Na koffie en beskuit pak ons op en laai die bus vinnig.

Die terugrit is aanhoudend sonder onderbrekings en ons stop net vir uiterste noodgevalle. Op Somerset-Oos koop ons heerlike warm, varsgebakte brode wat vir middagete gesmeer word. Watter heerlikheid na ‘n week van harde rogbrode!!!

Aandete maak ons toe weer so en so al met die geëetery en geselsery gaan die pad ook vinnig verby.

Twintig voor elf sien ons Stellenbosch voor ons opdoem en dis asof die aanblik van Stellenbosch se liggies finaal die sluimerende gevoel van skeiding tussen ons kom lê. Die toer is verby en op die Bos sal elkeen weer van môre af sy eie paadjie loop, maar waar ons vroeër as vreemdelinge verby mekaar geloop het, sal ons, wanneer ons paaie weer op kampus kruis, as BTK-vriende ‘n hartlike glimlag wissel.

Maar soos BTKaners maar is, hunker hulle maar altyd weer terug na die samesyn en bly nie lank uitmekaar nie. So moes die besoekers van “The Island” ook Sondagaand agterkom toe almal in ‘n skoon gewaad en gesig vir die ander kom wys hoe hy of sy nou éintlik lyk.

Ek wil ook net graag die vrymoedigheid neem om namens almal wat saam getoer het vir Barry baie dankie te sê vir die groot taak wat hy moes uitvoer.

Barry, jou leiding en positiewe houding, en al die moeite, geduld en krag wat jy in hierdie toer gesteek het, het dit vir óns almal die moeite werd gemaak.

Baie dankie vir ‘n baie lekker toer!

Lize, Laetitia & Annalinda

Leave a Reply