Waenhuiskrans-Uilkraalsmond Gala November 1987

Vrydagoggend, en nog ‘n Gala lê voor (dus: baie weke later en nog ‘n toerskets lê voor).

Die walaaiers het al die bagasie perfek volgens tipe en grootte rangskik en trots teruggestaan om hulle handewerk te bewonder. Die laaiery het vinnig in ‘n lekker bedryf ontaard toe Jannie T en Leon Verster hulle unieke tegnieke toegepas het. Daarna het al die wa-ryers vir hulle ‘n nes geskop om die tog na Waenhuiskrans gemaklik aan te pak.

Die eerste kandidate vir die “verlore goedere-tafel” was Anine de Wet en Willem Conradie se sonkeppies wat al sommer op die strandpad afgewaai het. Die volgende item wat afgewaai het was die “boogy board” (nadat Leon V eers ‘n bietjie die “waves gecatch” het – bo-op die wa se dakkie). Noodgedwonge moes Henry toe maar halfpad teen Sir Lowry’s-pas op stop sodat Leon die “boogy board” kon gaan “catch”. Dit was maar die eerste van die gereelde skree-stop-lag-draf-soek-lag-optel-draf-lag-lag-lag-ry-episodes. Ongelukkig was daar ‘n skree-stop-lag-draf-soek-soek-soek-draf-lag-ry episode ook!

Op Waenhuiskrans het die wa-ryers al tent opgeslaan en die bagasie afgelaai toe die bus daar aankom. Na aandete, aandgodsdiens en ‘n bietjie kuier, het almal maar vroeg gaan slaap.

Saterdagoggend het almal vinnig opgestaan. Toe ons klaar gestort en ingepak daar rond staan (gereed vir stap), kom die bevel van Pieta en die stokers: “Oôôôôôpstaaaaaan! Ons eet oor twintig minute!” Die hout was ‘n bietjie nat!?

Jannie T en Cobus T het hulle solank met hulle onderskeie groen en pienk “zink” vermom. (Danie T se ma het vir hom géles gekoop!).

Die stap was lank en uitputtend tot by die riviermond. Daar het ons voorstellingsparade gehou met die hulp van ‘n peanut-gallery, wat nie gehelp het nie. Van daar was dit net ‘n klein rukkie se stap tot by die bosboustasie, waar ons onder ‘n groot boom middagbrood gehou het. Leon Verster het egter binne-in die boom middagbrood gehou. Nadat Danie T en al die ander “medics” die oergeraamtes bewonder en begeer het, het ons weer aanstaltes gemaak om by Struisbaai te kom. Elkeen kon homself ten volle uitleef op die brug. Veral Cobus Botha, Leon Verster, Danie T en Jannie T het nie op hulle laat wag nie! Van daar af was dit maar weer die uitgestrekte, uit (dié keer darem harde) sand en die sogenaamde Struisbaaiplaat. Die eentonigheid is ‘n bietjie afgewissel met bal speel, draf en so nou en dan ‘n “lift” op een van die plaaslike vakansiegangers se voertuie. (Van ver agter tot daar waar jy moet begin blikke was!). Nét na só ‘n geleentheid is daar ordentlikheidspraatjie gehou. Danie T het hom vermom (miskien moes Cobus T ingestaan het) om te spioeneer in dameskamp maar hy is verwilder en het onvroulik weggehardloop.

Nadat die onderskeie ordentlikhede meegedeel is, het die mans en dames mekaar gekoning!

Die laaste stuk na Struisbaai toe het elkeen intens bewus van die voete gemaak. Die kondisie was darem nog van só ‘n aard dat hulle die storte kon haal! ‘n Nommer(tjie?) was die “in-ding” en kort-kort het nommer 24 kom verneem of nommer 3 nie so effens vinniger te werk kan gaan nie.

Dié aand is daar nie geslee nie. Sommer so in die pad kos gemaak, gesing, gekuier en amper geslaan ook! Na aandgodsdiens het ons amptelik gaan slaap. Leon Staker en Hymli Krige het ‘n uitputtende dag agter die rug gehad (Leon jy’t mos saam met die wa gery??) en niks kon hulle nagrus versteur nie – nie eers die spingeluid van wiele op gruis toe die get away car met die buit van twee tasse weggejaag het nie.

Sondagoggend het die feetjies en kaboutertjies ons kom bederf en later die oggend het die wind ook begin om dinge te bederf. Maar, wie sal hom dan deur so ‘n ligte briesie laat onder kry. Hennie Kotz-é-krokkodilletjie het met die mees desperate poging vorendag gekom (om die wind te tem) tydens die oggenddiens wat hy gelei het. Ek sou graag wou skryf wat dit vir elkeen beteken het, maar ek kon nie ‘n woord hoor nie.

Na koeldrank het almal besig geraak; óf in die kostent óf in die sosiale semi-dameskamp-tent. Die poedingmechanics het egter in algehele afsondering gefunksioneer. Die middagete het weer sy gebruiklike pruimedantpitte en dus ‘n kampioenskap opgelewer. Buiteperde soos Pieter Smit en Daan Claassen het sterk kompetisie verskaf, maar Danie T se reuse poging het hom die 1987 kampioen gemaak. (Miskien moet Pieter S en Daan C eerder terug klim in die boom en brei!). Die dames het maar dié jaar op die agtergrond gebly, want daar was geen inskrywing van hulle kant af nie. (Of miskien wou hulle net uitrus voor die middagbedrywighede). En was dit nie plesierig onder die wa nie!

So in die loop van die middag toe die wind begin bedaar het die walaaiers oorgevat. Intussen het Oom-Bethal-en-tannie-Miems-hulle met die her-bussie aangeland. Barry was ook by – hy het dié jaar H.O.D. geswot!

Corné Linde het Leon Verster se kapsel in orde gekry. Damesskiet was nog ver, maar hy is ‘n ou wat beplan en voorsorg tref!

Die aand móés die eerste toeriste die kollig steel. Hans Combrink het as seremoniemeester opgetree, maar in die ABC-waspoeieradvertensie het hulle links en regs getree. Sien jy die verskil? Sien jy die verskil? Sien jy die verskil? Sien jy die verskil? ………

Cobus Botha het al die spinnies geskiet vir slee. Jammer Cobus, maar vlieënde perde en breiende koeie sê vir my die geselskap was bra flou.

Net toe die eerste toeriste die aand wou begin geniet, toe geniet hulle dit nog steeds nie. Die tee ná die wraak was gelukkig nie flou nie.

Maandagoggend was die pap darem betyds klaar en ons kon net na agt begin stap. Ons het padlangs tot by L’Agulas gestap. Die “sqaut” het weer die gebruiklike draffie uitgepak – volkspele ook (tot tannie Miems se spyt). By L’Agulas is die mees suidelike groepfoto geneem en is die mees suidelike volkspele afgehandel (tensy hulle in Rio ook so mal is). Daar is beslis nie ‘n Leonardio Versterinin nie – Leon was met sy unieke styl teen die vlagpaal op en af.

Middagbrood is by die kliphuisie gehou. Danie T wou darem die drie broodjies aanvul met ‘n vissie of twee, maar met sy mondering het die visse vinnig ander kant toe geswem. By dieselfde geleentheid het Hetta P baie opgewonde geraak oor dameskamp se ingeboude (slag)gate! Só het ons gevorder – verby romantiese wittebroodstrandjies – tot by die duine. Eers het net die heel flukses opgedraf, maar so stuk-stuk het minder flukses ook begin kans sien vir die lang tog boontoe. Ons het mekaar gekoning – dit was maar mooi trap of jy val af.

So oor en deur en om die duine was dit maar weer terug tot waar die twee groepe bymekaar aangesluit het om verder te stap. Die kampeerplek was net ‘n katspoegie ver.

Na ‘n vinnige swem in die see het almal weer begin nommer vir ‘n nog vinniger stort in die stoor ….. (pakkamer?). Voor etenstyd het dameskamp verander in manskamp, sodat die manne ook darem in orde kon kom vir die sleëry. Intussen het die “teams” mekaar uitgedaag vir “volley ball” en tannie Miems het die res besig gehou met haar demonstrasie van “Honey if you love me ….” Willem de Waal het haar doodstil gehad toe hy ewe verveeld antwoord: “Honey, I don’t love you, and I can’t smile!” Danie T het sy naamgenoot Claassen getrou ondersteun in dié se poging om vir einste Willem aan die lag te kry. Hy het sy(?) tante uit sy tas gepluk en Daan C se tande daarmee vermom!

Na die heerlike gebakte vis vir ete, het almal diep in hulle slee’s geklim, maar die items het nie agterweë gebly nie. “Barrytjie, ek kry vanaand dan so wárm” en a-hm die k-k-k-serial was só boeiend dat Pieta nie eers agtergekom het dat sy sleepille verruil is met ‘n filmrol nie.

Teen slaaptyd was daar gevaar in dameskamp, maar die man het hom min aan dié vreeslike grensbaking gesteur en ewe in dameskamp geslaap. Maar nou ja, die gevaar was groter in manskamp waar tannie Miems haarself tot twee-uur geniet het. Sy het darem die mossels ook geniet.

Dinsdagoggend was dit ‘n kronkelende paadjie tussen rotse en kusstruike deur met ‘n lieflike uitsig oor die helderblou, koel see. K-k-k-k-dolfyne! Hallo julle dolfyne!

So saam met die dolfyne het Braam Hanekom aangesluit. Dit het natuurlik ‘n lekker lang gamebreak beteken én volkspele! Dié slag het Braam darem vir ons ‘n nuwe ritueel geleer. So het ons toe gevorder tot by die volgende rivier waar ons middagbrood gehou het. Die middagbroodjies het as toeskouers opgetree by die baie opwindende “baseball”-wedstryd. Tannie Miems het seker die kykery so geniet dat sy toe sommer haar vinger raak sny. Waar was die mediese student toe? – Danie T se kommentaar: “Ek’s nie ‘n veearts nie!”

Na ‘n rukkie se stap het ons by “Die Dam” aangekom. Hier kon ons weer lank stort en selfs die sleepilblikvoorraad aanvul. Intussen het die bussie-ryers al die heeldag geswem en gebraai (vleis en self). Die voor-ete-aktiwiteite was weer “volley ball” en sokkie! – nee, nie die sokkie wat by tone affilieer nie – sokkie, soos in die gat!

Ons ingrawery is byna geboikot deur die bure se hi-fi wat musiek vir die hele suid-kus verskaf het. Na hulle goeie samewerking kon die skietery darem afgehandel word, maar Tannie Miems moes by die buro aanklop. Braam en oom Bethal het kragte bymekaar gesit en haar toe maar geskiet.

Die spinnies was erg entoesiasties met hulle “Row, row, row your boat” tot die walaaiers ingegryp het met die water. Miskien was die onrustigheid as gevolg van die feit dat Cobus B nie dié aand by was om sy spinnies te vermaak nie. Hekels was ook volop: Hanlie Dreyer moes mooi verduidelik waarom die blommetjies op haar een broekspyp afgeslee is. Jannie T het ook in die loop van die dag ‘n gevaarlike aanbod gemaak toe hy sy hele liggaam vir die spinnies wou gee ….

Woensdagoggend het die son ons behoorlik uit die slaapsakke laat rys. Na ‘n laat oggendbrood het ‘n paar plesiersoekers gaan k-k-kyk na die oorblyfsels van die k-k-k-kaptein se plesierige rit wat toe minder plesierig geëindig het. (Ingevoerde?) uitgespoelde “artikels” het die hele strandgebied vol gelê – oulike persente?!

Met die terugtog was die swem ‘n gewilde keuse – sommer so kortpad oor die baai. Meanwhile, back by die tente was dit maar die standaard Johnny “Hoep” en Groen hekkie. Daarna was dit weer middagbrood en toe is die oorstaandag se betekenis in ere herstel: slaap! Dit was net die arme kokke en stokers wat getrou hulle stokerspakkies moes aantrek om te begin uie roer.

Dié aand was die groot aand: Toe Sonja ‘n bietjie lank draai met die fluitjie was daar ‘n vals alarm, maar spoedig daarna kon die manne amptelik begin weghardloop – en die dames laat nie op hulle wag nie: sommer so twee-, drie-stuks storm hulle!

Die aand se sleëry is toe darem mooi veilig afgehandel met onder andere ‘n paar piesangflou items.

Die volgende oggend was dit weer vinnig inpak, eet en tent afslaan. Dié keer het almal op die wa geklim. Henry het ons dag se las met omtrent 10 kilometer verkort. Van daar het ons op ‘n motorpad gestap en ewe ‘n bietjie langs die pad huis-huis gespeel. Daarna het dit bloedig warm geword. By gamebreak was byna die helfte van die geselskap eers agter die duin in en toe die see in. Ons het vinnig gevorder tot by middagbrood, maar dit was vinnig sluk en verder stap, want dit was sand links, sand regs, sand agter, hoogwater voor en die skroeiende son van bo. Net Fanie O kon sy middagbrood in die skaduwee geniet onder sy afdakkie: bamboes en hemp. ‘n Paar oud-see-sandmanne het die geselskappie gelei wat gou na ‘n wrak uitgeswem het. Manskamp en die terrash was blykbaar nog in ‘n heel skaflike toestand.

Pearly Beach was die volgende kampeerplek. Elkeen het maar met sy eie pas die lang stuk strand laat krimp tot waar ons uiteindelik tussen die bosse afgedraai het na die karavaanpark. Die was al afgelaai en elkeen kon sy bagasie tussen die duwweltjies uitsoek en op ander duwweltjies neersit. Voordat die kokke moes aantree, het almal gou gaan swem en stort. ‘n Paar was al moeg vir BTK-kos (niks persoonliks nie, Sonja!) en het tussen die rotse van hulle duikbrille gebruik gemaak om ‘n ekstratjie vir die aand uit te haal.

Die aand het die ou-ladies gespin en die komitees het geïtem. Die sleëry is maar vinnig afgehandel, want die “KTP” het gewag en daarna is daar nog laaaank saam met die perlemoen gekuier.

Vrydag het die laaste dag se stap voorgelê tot by Uilkraalsmond. Terwyl ons aangestryk het, het Wouter en Gawie saam met die wa om gery en ons tegemoet gedraf. Net voor die karavaanpark was daar nog die rivier om oor te steek. Sommer so met klere en al het ons deur geswem. Party het nog ‘n desperate poging aangewend om op die sandbanke deur te stap, terwyl party dames duim gegooi het en ‘n rug gekry het.

Lank na middagbroodtyd het ons sommer so nat-nat “namiddagbrood” gehou. Na ‘n vinnige stort, was almal reg vir die terrash.

Agter op die wa saam met “Ou Ryperd” en “Cotton fields” was dit reguit Kelders toe. Die hotel het nog nooit só ‘n bedryf beleef nie. Na ‘n baie kwartiertjies en lekker lag én daai “loving feeling” was dit weer terug Uilkraalsmond toe.

Die laaste-aand-slee was weer diep en lank. Selfs nie die dreigende storm kon afbreek doen aan die plesier nie. Die aand het ook so mooi, maar hartseer oomblikee gehad toe daar van die laaste toeriste afskeid geneem is. Barry het sy sleepilblik en leerbroek aan Pieta oorhandig.

Saterdag na oggendbrood is die laaste toeriste weggeblaas voordat die bus en wa weer koers gekies het: Stellenbosch en Neelsie toe. Maar die pittighede en plesiere van die toer was nog lank nie klaar nie ….

Sondagaand was almal weer skoon gewas en ingekleur op sy pos aan tafel by die Dros, aan’t wag vir ‘n pizza en aan’t lag vir die gewones. Die sanger wat die aand opgetree het, kon darem so tussen “Cotton fields” en “Ryperd” self ‘n paar nommertjies inkry. Dié tye het ons benut om te dans, van die dameskroeg tot op die stoep en in die straat, waar ons eers ‘n bietjie “volkspele” gehou het …. thumbs up, elbows up …. en net Leon Verster kon klaar maak.

Weer terug by die pizza’s het Leon S, Pieta en Danie T eers die kelnerin bedank? vir haar harde werk met daai “lonving feeling”. Sy kon dit nie meer uithou nie en het vinnig nog pizza’s begin aandra.

Van die Dros af was dit na Cobus en Baap se huis vir koffie. Nou ja, alle goeie dinge kom tot ‘n einde, dié dat daar volgende vakansie wéér ‘n BTK-toer wag.

Ansie Roos

Leave a Reply