Gouritsmond-Witsand Gala 1989

Novembermaand op Matieland beteken net twee dinge, naamlik her en BTK – dit is mos waarom ons telkens terugkom Matieland toe. Die gala is dus weereens met groot ywer aangepak wat weerspieël is in die miernes van bedrywighede wat daar in die BTK-stoor geheers het.

Vir ‘n wonder het die wa net ‘n kwartier laat vertrek, maar Aninge de Wet het hom nog steeds verpas. Dit was byna donker toe die wa ook die karavaanpark te Riversdal binnery. Die bus was toe reeds daar.

Die eerste aand van die gala het kenmerkend verloop, naamlik vrolike weersiens en gesels van ou toeriste, verwarde rondstaan van eerste toeriste en ‘n atmosfeer van niksdoen aangesien alles nog effens deurmekaar is en daar nog nie werk uitgedeel is nie. Die toerlys word ook naarstigtelik bestudeer om die aantal bekende siele op te spoor. Nadat die kostent egter verrys het, het daar gou rigting gekom en moes die komitees begin funksioneer. Nadat Rita ook al die konvenors onder vier oë gespreek het, het elkeen geweet wat vir hom voorlê op hierdie toer.

Joyce Slabbert, kinderopvoeder van Riversdal, het ook kom hallo sê en saamgekuier – dit is nou nadat sy die kinders in die koshuis toegesluit het.

‘n Kenmerk van hierdie toer was definitief die verskeidenheid persoonlikhede wat getoer het. Dit het gewissel vanaf die skaamste eerste toeris, via Elbie Louw tot by die ou manne soos Knersus, Danie T. en Piet Müller. Kobus Stoeder het ook vir ‘n wyle sy buiging kom maak. Braam Hanekom (ds.) was ons toerpa en hy het maar stil (tot nog toe sonder die hulp van ons chaperone, Nig Miems Swanepoel) hierdie bedrywighede gade geslaan en aan die einde van die aand die kamp as die Bontebroekpark gesertifiseer.

Louis Nel word terstond bedank toe hy hoor hoe vroeg die papkokers moes opstaan. Dinge het egter vlot verloop en gou was almal slaggereed op die wa. Die walaaiers, onder leiding van Pieter Smit, moes eers agterbly op Riversdal om met die terugkeer van die wa die bagasie te laai. Intussen het ons almal, gepak soos skape, met die wa gery tot by die beginpunt van die dag se stap (Rietvlei).

Teen middagbrood het die walaaiers by ons aangesluit en toe was dit nie meer ver na Stilbaai nie. Daar aangekom het almal gaan swem en dit was ‘n ware lafenis.

‘n Rustige kamptoneel het geheers met die stokers (nee stakers) wat die kokke moedeloos gehad het (Danie T. en Knersus). Hulle het maar gesukkel om hul oonde by die regte temperatuur te kry.

Die eerste slee het aangebreek en die spinsters was baie. Van die spinsters het toe by die vuur vergader om om te sien na die stokery van Sondag se hoenders. Hier is hul rustige verkeer onderbreek deur die aankoms van ‘n groep skoolverlaters wat iemand soek om te “party”. Hulle het die rustige slee een kyk gegee en wou toe weet watter rituele daar uitgevoer word en watter gebare dié persone maak. Die woord item het vir hulle niks beteken nie en Celia de la Bat moes geduldig verduidelik dat hulle konsert hou. Barry de Wet het ook later die aand sy opwagting gemaak.

SONDAG:

Sondagoggend was dit weer feetjies en kaboutertjies en stadigaan het almal uit hul gate begin kruip. Die rit agter op die wa kerk toe het al singende geskied en Karlwin Heese was net betyds vir die opklimslag toe hy met sy “scooter” vanaf Stellenbosch arriveer. Stilbaai se kerk het vinnig volgeloop toe die 110 BTKaners sy trappe betree het. Die ander kerkgangers moes maar verlief neem met ons kerkdrag en selfs die vuil voete en rooi pet is later aanvaar.

Die koppe het maar gesukkel om regop te bly en dit was dalk ook ‘n oordeelsfout om Leon, Dirkie en Frans langs mekaar te plaas, want die Gesangeboek kon nooit op die regte hoogte gehou word nie.

Terug by die kamp het die voorbereidings vir ete in alle erns begin. Joyce het ook weer kom kuier en stadigaan het nog BTKaners hul by die groep aangesluit, naamlik Richard en Piet Müller, Kobus Stoeder en later die middag eindelik ook Tannie Miems en Jean Davies.

Tradisionele items op ‘n Sondagmiddag program is byvoorbeeld ‘n rustige middagslapie, ‘n groepswoeps in die koelte (hier broei gewoonlik wonderlike hekels uit) en jukskei.

Halfpad deur die aand is almal uit hul slees gejaag deur ‘n onverwagse buitjie reën, maar vinnig was almal weer aan die sing om die vuur.

MAANDAG:

Wat die papkokers op hierdie môre aangevang het, weet nugter, want op die spyskaart het daar toe slapperige krummelpap verskyn – Rita het dit nie so daar opgeskryf nie! Terwyl ons gewag het om in die pad te val, het Knersus tannie Miems effektief besig gehou en het sy selfs op ‘n stadium in manskamp gaan stort. Tannie Miems se kommentaar hierop: Dit was net ‘n grappie en kyk wat maak hulle nou. Die “Peanut-gallery” het ook goed gefunksioneer en Stefaans Snyman moes maar fyn trap, want hy was nie lus vir nog ‘n rinkhalsdans nie. Tydens middagbrood was tannie Miems weer in haar element, want hier was baie water.

Op Jongensfontein is die pragtige kampplek ten volle benut en die gemarineerde varktjops was die cherrie op die koek – vir die eerste toeriste was daar ook nog ‘n “after dinner mint”.

Toe tannie Miems op ‘n stadium wakkerskrik in haar slee, kyk sy toe in haar ewebeeld vas. Dit was die eerste aflewering van die slang-episode. Sy het daarna verklaar dat sy nie so vol bulte is nie, soveel so dat sy die volgende oggend nie haar pap ou eet nie.

DINSDAG:

Hierdie was oorstaandag en het ook beteken dat ons ons verlore slaap kon inhaal, want gedurende die nag moes ons ook vinnig droë slaapplek gaan soek het. Tannie Miems, egter, het eers hier in die laat oggendure van ‘n nattigheidjie in die lug bewus geraak.

Tot tannie Miems se skande het sy nog verslaap ook – dit word egter as ‘n geheim gereken.

Hierdie dag kan ook nog gereken word as ‘n geskiedkundige dag, want eindelik het ons dit reggekry om in dameskomitees te slee. In die voorsitter se slee het daar dan ook ‘n groepswoeps ontstaan – ‘n wriemelende massa.

Tannie Miems kan geëerd voel, want die temalied van die toer is aan haar opgedra – op hierdie aand vir die eerste keer ge-item. Halfpad deur die aand, nadat die twee Müller broers ‘n marathon items afgehandel het, vertrek Piet Müller, Hessie en Baap Botha na Transvaal.

WOENSDAG:

Die stap na Blombos was lank, maar onbeskryflik mooi. Die boog was dan ook die ideale plek vir die groepfoto. Toe ons eindelik aan die voet van die duin staan wat toegang tot ons kamp verleen, was ons maar taamlik moeg, want dit was heeldag hoogwater en die sand was maar sag. Hier was ek darem bly dat ek nie ‘n waterdraer is nie.

Nadat die kamp opgeslaan is en almal ‘n holte vir sy voete gevind het, was dit weer af teen die duin om te gaan bad in die gemeenskapsbad wat in ‘n varswaterstroompie gebou is.

Hierdie aand is daar lank en rustig om die vuur gekuier totdat ons teen twaalfuur vir Wouter de Goede geluk kon sê met sy verjaarsdag. Dit was seker ook die eerste keer dat hy so ‘n bospartytjie gehad het.

DONDERDAG:

Aanvanklik was dit ‘n lekker vinnige stap, maar toe ons moet middagbrood hou, het al die middagbrode verdwyn. Hulle het hulself toe onder die bosse versteek waar hulle die brood gesit en smeer het.

Intussen het ‘n uitheemse haarkapper egter sy verskyning gemaak en die De Wet susters se kapsels omskep in iets barbaars, maar ook darem skaars.

Byna aan die einde van die dag se stap moes ons toe eers deur ‘n rivier swem. Dit was ‘n lekker afkoelslag, maar koel was dit beslis. Om op te warm moes ons ons toe maar wend na tannie Miems en haar volkspele.

Die laaste kilometer of wat is vinnig afgelê en gou-gou kon ons gaan uitrus op die grasperke by Puntjie. Die aand is daar informeel geslee en dit was ook nie lank voor almal hul ter ruste begewe het nie.

VRYDAG:

Ons laaste dag van stap en almal was dit eens dat die toer ongelooflik vinnig en soos ‘n droom verby gegaan het. Op hierdie laaste was dit dus ‘n laaste poging om die meeste uit elke oomblik te haal.

Vroeg-vroeg het ons uitgespan vir middagbrood nadat ons al ‘n redelike ent afgelê het. Hier het dit soos ‘n kermis in ‘n skuur gelyk met ‘n bokjol, kaartspel en ook die alomteenwoordige broodtafel. Die Wilgenhoffers het ook vir pragtige sang gesorg.

Nou was dit nie meer ver na Stilbaai nie en heel gou het ons sy buitewyke betree. Hierdie was dan ook die dag van die terrash.

“Is julle miskien ‘n koor?”
“Nee, ook nie ‘n toneelgeselskap nie.” Het jy dalk al die BTKaners hoor sing en item in ‘n kroeg? Hierdie was dan weer so ‘n geleentheid en daar was geen keer aan hierdie klomp Maties nie. Selfs die hoender was later hoenderkop en het nie mooi geweet of die dominee nou sy baas is of nie.

Almal wat al gegala het weet wat laaste aand beteken. Dit was dan nou ook weer so en ons moes na jare se saam toer afskeid neem van mense soos Sonja Wend, Anine de Wet en ook Louis Nel. Die kuier vir oulaas het lank geraak en die nag kort.

SATERDAG:

Op hierdie oggend moes Anine afstand doen van haar ware identiteit en het sy haar sleepilblik (‘n bus) vir Henry gegee. Dit was ook die laaste keer dat Henry saam getoer het en in sy geval sal dit ook wees soos in “make new friends but keep the old ones”. Onthou egter: As die wind wit oor Witsand waai, weet ons daar’s onheil in die baai.

Leave a Reply