Namakwaland Staptoer

(Of te wel, die ‘Pomp hom, Jacques!’-toer.)

’n Skinderstorie deur Rudolf de Haan.

[Baie dankie tannie Maretha Steinmann vir die lys name van “die meeste van die blomme” wat sy gesien het, bylaag B, en die tik van die spontane liedjies se woorde, bylaag A. Die toertips verskyn aan die einde van die skets.

Ek kan nie sê of die aanloop tot ’n BTK-toer altyd só lekker verloop soos juis hierdie een nie, maar Christine Steinmann het almal tydens die toervergadering genooi om Vrydag-aand, 12 September, by hulle te kom koffie drink. Daarna het ons gesmul aan sjokolade koek met lemoenkonfyt-vulsel soos net Christine dit kan bak. Nadat Thalia Kruger gehelp is om die eerste “bylaag tot die sangbundel” te bind, het ons lekker gesing, en tannie Maretha en oom Dieter Steinmann het gou gewys dat, met hulle as toerouers, dit nie ’n sommer-so toer sou wees nie. Daar was maar enkele ure slaaptyd oor toe die laaste toeris daar weg is, want vertrektyd was Saterdag-oggend, vyf-uur.

Saterdag, 13 September:

Kort nadat die bus vertrek het is die ‘wie-doen-wat’-toerlys uitgedeel en ’n informele uitkenningsparade het gevolg. Daleen Lordan was besonder gretig om te help vir daai tyd van die dag. Jacques Wasserfall moes die bus op die pad hou en is by elke geleentheid opgevul met boeretroos. Diegene wat wou slaap inhaal kon ook nie eintlik nie, want dáárvoor het die bus te veel geratel.

Net anderkant Citrusdal, het Jacques besef dat dinge begin skeef loop toe hy die koppellaar tot op die vloer moes intrap ‘om die ratte te laat vat’ … Christiaan Terblanche het sélf al twee motors opgebou en kon die fout gou opgespoor. Met raad van oom Dieter het hy, saam met Wim Morris en Johan Thiart, die los koppelling terugwig in posisie. Dirk Uys moes die koppellaar binne-in die bus met die hand maneuver. Niks wat ’n paar ingenieurstudente nie met ’n tang en stuk bloudraad kan opfieks nie! ’n Uur-en-half later was ons weer oppad om te gaan blomme kyk tussen Kamieskroon en Garies.

Dit was bloedig warm in die bus, en liters water het vinnig verdwyn – minstens die helfte is darem gedrink, toertip 1. Helena Marie (Piet) Theron het gesorg vir die eerste pak ys – wat gedeeltelik langs ruggrate af verdwyn het. Middag-ete was in Garies se Munisipale Woonwapark en daar was nog ’n paar uur se sit in die bus oor voordat ons op die plaas Bovlei aangekom het.

Oeps! Dit was die verkeerde afdraai, maar omdraai was nie so maklik as wat dit gelyk het nie. Die grond het miskien droog en hard gelýk, maar dit was net totdat die Likkewaan (soos dieselfde bus reeds op ’n vorige toer gedoop is) dit behoorlik van die pad af gewaag het. Toe begin die uitgrawe en klippe pak, want al vier wiele het feitlik asdiepte weggesak in die waterige mulsand. Hans Hendrikse mis sy kinderdae darem baie, want selfs nadat die eienaar se seun, Thys, daar opgedaag het met die trekker, wou hy beswaarlik ophou grawe in die modder. Met genoeg gesukkel, en almal wat “baie hard” help stoot, was die bus darem weer los.Saterdag-aand het ons eers ná sewe begin kamp opslaan op die plaas Modderfontein – hmm … ons weet nou waar die naam vandaan kom! Dit was by ’n gerieflike sementblad, tussen ’n klomp populier- en peerbome wat naby ’n waterstroompie groei. Charl Schabort het by mevrou Beukes gehoor, dat die sementblad destyds gebruik is vir kerkhou, maar ook vir danse en ander byeenkomste.

Die eerste aaitem van die toer was Jacques, Hans, Christiaan Steytler en Benjamin Stehr, wat David Kramer se “Bokkie” (ek wil nie vi’ jou jok ‘ie), gesing het. ’n Bietjie later het hulle vir Daleen, ’n eie “Daleentjie [soek ’n ou]” gegee.

Hekeltyd moes Jacques verduidelik waarom Monré Meyer se aanmoediging (om die koppellaar te trap): “Pomp hom, Jacques! Pomp hom!”, eintlik “haar” moes wees. Blykbaar net “omdat [Jacques] die bus as vróúlik beskou, dis al.” Nietemin het die “pomp hom”-frase bly vassteek as die manier om daardie ietsie ékstra uit Jacques te kry. Goed dan: uit die bus te kry.

Dominique Mernier, a french Belgian, saved the day for Jacques, when she pronounced his name with her strong french accent: 3a:k (phonetic, from the Oxford dictionary). Daleen wondered why he introduced himself as 3a:k to Dominique, and not d3a:k, as to the other [Afrikaans] ladies. “Franse meisies ken die joie en romanse van kerslig-etes,” was his answer. The follow-up question, “Werk dit?”, was answered by him, asking: “Dominique, what is my name?” …

Sondag, 14 September:

Aangesien die kruin van Sneeukop op die vorige Namakwa-toer nooit bereik is nie, is daar besluit om dit hierdie keer ’n sekerheid te maak: “middag-ete is bo,” was die antwoord. Dagstapsakke is gepak met die nodigste en ons het die eerste “koppie” van die toer aangepak. Aan die bo-punt van die eerste klipbank, was ’n massiewe rots met ’n grotterige holte daaronder, en genoeg ruimte aan die kante om in te kruip. Keith Browne, Christiaan Steytler, Benjamin Stehr en ek, het dit dan ook gedoen: so ’n kamma grotkruip-storie. Dit was ’n goeie klim vir die eerste stapdag en teen 1500m is Sneeukop een van die hoogstes in die omgewing, indien nie die hoogste nie. Die 360° uitsig, vanaf die son se slaapplek tot by Ezelskop op die horison, was beslis die talle vingerafdrukke werd wat die bosse op ons gelaat het. Die wind het ook maar lekker gewaai daar bo! Toertips 2, 3 en 4. Teen half-vyf was almal onder en die kos vir die res van die toer reeds onder die groepe verdeel. Nadat die Likkewaan vir eers gegroet is, het ons vertrek. O ja, bevraagteken áltyd iemand wat dóódseker is dat dit is nie sý groepie se kossak is wat oorgebly het nie. Indien dit Monré is, neem tog die sak saam: hy sal dit wel later vermis, wanneer hulle die ‘Game’ begin soek.

Dit was ’n rustige, mooi stap tot by ’n beskutte kampplek teen die helling verby die plaashuis op Pendoringhoek. Blykbaar word die huis nie voltyds bewoon nie en die buitekraan teen die muur kon dien as waterpunt.

Die groepie ‘wraak’-gieriges het ons vir oulaas herinner dat die aand ’n onvergeetlike een sou wees, en die eerste-toeriste het begin skarrel om aaitems saam te flans. Die ‘Flink dink’-paneel was een van die beteres: ’n filosoof (Viljoen Thom), Pierre van Zyl as ’n predikant, ’n bioloog (eintlik Dewald van Heerden), en Runine Visser as “a lady who takes care of entertainment in the evening”.

Selfs met Stella Siqcau, Karen Steenkamp, René Potgieter, en Dominique as hul pratende ‘buzzers’, kon hierdie paneel egter nie ’n antwoord gee op die vraag: “Wat dink hulle oor die afskaffing van voorhuwelikse genadedood?”, nie. (Daar word vermoed dat die ‘quiz mistress’ (Carryn Watson) die ander vrae reeds vóór die aaitem vir hulle gegee het.) With a new version of “Die Alibama”, Jacques en Hans added to the BTK’s treasure of songs. Jacques’ “Mom I want a Women”, left no doubt as to the characteristics of his idealized “woman”.

Hmm … al wat mens uit Monré gehekel kry, sover as dit sy “pointers” vir ’n slee saam met Karen van der Merwe aangaan, is dat die ou “moet sorg dat Karen haar hande bó die komberse hou”. Sy kan blykbaar ’n ou nogals moeg maak in ’n slee.

Maandag, 15 September:

Vandag was die eerste volwaardige stapdag, en sowat 16km het voorgelê. Die roete het vanaf Pendoringhoek verder oor die plaas gelei, met Pierre wat, snaaks genoeg, verras was om kort na die eerste ‘Game-break’ (ons stop om ‘Game’ te drink), uit te vind dat hy verjaar. Eintlik verjaar hy 31 Mei, maar wie tel nou? Die dames het in tradisionele BTK-styl gesorg vir die lekkerte van verjaar op ’n toer; die mans moes die balans handhaaf. Deur ’n koeikamp, met koeie en ’n bul wat ons wantrouig aangluur, het ons by die grondpad aangesluit. Die pad het ons later teen ’n styl bult uitgelei en elkeen kon teen sy eie pas bo kom. Ga! Dit was nes hoe Toffie Turner en Wim dit wou hê: terwyl ’n groepie ouens – met Viljoen aan die voorpunt, Christiaan T., Hendré Jordaan en ander agterna – teen die bult uit stoom, het húlle-twee in die bondel bly rondhang om hul kans af te wag. Halfpad het hulle by ons verbygekom op ’n sleepwa agteraan ’n trekker! Later was Wim se verweer dat hy nie sy groep in die steek gelaat het nie: “[hy] leer hulle om vir hulleself te dink”. ’n Uur of wat ná die ‘Game-break’ bo-op die bult, het ek besef dat ek nie meer my bril op my neus het nie (kan redelik goed sien daarsonder). Die eerste motor wat verbygekom het is voorgekeer, maar voordat ek nog kon vra vir ’n geleentheid terug, het die bestuurder genoem dat hulle ’n bril op die bult sien lê het en aangebied om dit te haal. Wonderwerke gebeur steeds.

Later is middag-ete naby ’n “pypwater”-windpomp (water smaak die ene yster), onder ’n paar doringbome voorberei, toertip 5. Almal se streke kom na vore op ’n toer: Hendré het weer die neiging om goeters vol Bovril te drup en Wim se matrassak het deurgeloop. Die res van die dag se stap het geen noemenswaardige bulte ingehou nie en later is besluit om tent op te slaan aan die voet van Makwassieberg. Met aankoms word mens begroet deur twee poele water wat in ’n granietbank gevorm het, met Wilgerbome in die agtergrond – asemrowend mooi. Hier is drinkwater geskep en ook water om die ergste vuil af te was, toertip 6. Wie nou eintlik met die idee vorendag gekom het weet ek nie, maar steun is gewerf vir ’n ‘skiet’-staking om sodoende ’n dames-skiet af te dwing. Ongelukkig het Christiaan T. as toerleier vetoreg en het die voorstel teëgestaan. Miskien het hy reeds ’n ‘slee’ gehad, maar was nie so seker dat sy ook vir hóm sou skiet nie?? (Thalia was toe die “wonderslee”.) Om die kampvuur het Jacques en Hans gesorg dat Christiaan en Daleen bewus word van mekaar met ’n uitgebreide “Daleentjie”. Johanna Maritz, groep 3 se kok, moes saamlag met hul weergawe van “Jo-anna [give me hope]”. Om die een of ander rede wou groep 3 nie Sondag-aand hul (gebrande) sop, en ertjies (van die grond af), eet nie. Ek moet byvoeg dat dit nie als háár skuld was nie.

Dinsdag, 16 September:

Teen kwart voor agt was ons reeds onder weg; Teuns Kok en Jacques, reeds besig om te werk aan die volgende “liedjie” se woorde. Met afloop van die eerste ‘Game-break’ het Teuns, Jacques, Wim, Hans, Pierro Jonck en ander, ons dit as ’n spreekkoor aan Christiaan laat hoor. Ek dink hulle wou vir Christiaan T. paai, ná die “Daleentjie” van die vorige aand. Middag-ete sou op Ezelskop genuttig word en ons het die eerste koppie met drif aangepak. Die koppies het stelselmatig hoër en styler geword – diegene wat eerste die kruin van die sogenaamde “goeie oefenlopie vir Ezelskop” (alias Wim) bereik het, het graag foto’s geneem om die gradiënt aan te toon. Hier het ons dan ook ’n ‘Game-break’ gehad en ek het van die geleentheid gebruik gemaak om die “fasiliteite” in manskamp te toets. Hiervoor was dit nodig om my Matie-penspakkie (‘Moonbag’) af te haal.

Omtrent ’n driekwart-uur se stap later het Elricka de Villiers “’n laagtepunt in haar lewe” beleef: Johanna het vir haar gesê om oor ’n bossie te spring, maar Elricka het dit nie gemaak nie. Iemand het opgemerk dat sy “eintlik ’n diep mens” is en dit wou ek gou neerskryf. Skielik het ek besef dat my Matie-sakkie, met my notaboekie in, steeds lê waar ek dit laas afgehaal het. Ek het alleen teruggedraai om dit op die ‘Game-break’-koppie te haal, maar moes weer vrugteloos saam met Teuns terugkeer nadat hy my kom soek het, toertip 7. Die Namakwaland-son het sy tol begin eis en ek was moeg toe ek weer die agterhoede van die groep, aan die voet van Ezelskop, inhaal.

Die uitsig vanaf Ezelskop word net deur dié vanaf Sneeukop geëwenaar. Nou kon ons weer vanuit ’n ander hoek terugkyk op die eerste dag se klim. Die son was warm en almal was redelik haastig om weer onder te kom, want dáár het die belofte van ’n dam op ons gewag! Soos tannie Maretha tereg gesê het: “[Ek was] darem ’n ongeluksvoël,” want oppad ondertoe het die stuk rots waarop ek getrap het losgebreek en op my enkel te lande gekom. Pynlik, aar niks gebreek nie.

Hendré-hulle was binne ’n driekwartuur by die dam op Ezelsrivier en die laastes het ná omtrent ’n uur en ’n half gearriveer. Soon there were enough people in the water to organize a swim “gala”. Carryn Watson had to race against the men, since she was the only female participant. She didn’t despair, but left them in her wake, just past the half-way mark! Little did they know, but not too long before, she had been swimming for Maties, and even gave her a head start.

Sedert Saterdag, het ons gereeld gehoor van “’n verrassing” wat Wim kwansuis vir die laaste aand gereël het. Dit móés ’n truuk wees om stemme te werf, want hy sou op die komende bestuursverkiesing vir Voorsitter staan. Die “geheim” het ook al uitgelek, maar dit was tog iets besonders om daar op die rotse te sit, en “Wim se” maansverduistering te aanskou. Jacques-hulle het weer eens gesorg vir ’n nuwe liedjie (“Die Namakalied”), en ’n paar bekende aaitems het ook weer die lig gesien. Monré is net ’n ietwat k-k-kriewelrige k-k-k-kanon. Die dames van groep 3 het ’n liedjie aan die mans in hulle groep opgedra, met elkeen sy eie versie.

Dominique summed up the general atmosphere at the end of any BTK-tour with a french song, the translation of which I will quote later.

Woensdag, 17 September:

Vandag kon ons tot “laat” slaap, want dit was maar sowat 2km se stap tot by die plaashuis. Die bus het reeds daar op ons gewag het, danksy Jacques en Hendré wat dit die vorige aand reeds gaan haal het.

Die rit terug het gouer gevoel, want dit was nie weer so warm nie, en ’n hele paar moë lywe het dit toe oë aangepak. Tog het ons eers kort ná agt weer op Stellenbosch aangekom en almal wat kon, het opgeruk na die ‘Spur’ vir ’n informele toer-afsluiting. Hier het ons ’n her-uitsending van Jacques en Hans se toerliedjies gehoor en hulle ‘grand finale’ was ’n “Toerskets” van 15 verse.

Om af te sluit, kan ek nie verbeter op ’n vertaling van Dominique se liedjie nie:
“Who can sail a ship without a sail?
Who can row a boat without an oar?
Who can leave his friend[s], without shedding a tear?
I can sail a ship without a sail,
I can row a boat without an oar,
But I cannot leave my friend[s] without shedding a tear.”
(Vertaal uit die oorspronklike Frans, deur Dominique Mernier en Paula Müller.)

TOERTIPS

1) Drink ‘te veel’ water, wanneer jy in die bus sit en die termometer by 40°C draai. ’n Mens dehidreer sonder dat jy dit besef.

2) ’n Veter is ’n goeie ding om jou hoed op jou kop te hou, bo-op pieke soos Sneeukop of Ezelskop.

3) Sorg maar vir genoeg lip- en velrome (ook LipIce!), want die son het gebrand en die wind het lekker gewaai.

4) ’n Langmouhemp teen die son, en selfs ’n lospassende langbroek teen die bosse, is miskien ook nie ’n slegte idee nie. (Tensy jy dikvellig is en ’n ‘tan’ wil kry op die koop toe.)

5) Neem ’n paar sakkies ‘Game’ saam om brakkerige of “pyp”-water op te kikker.

6) Vra maar vir oom Dieter: ’n klein plastiekbakkie (so 20cm in deursnee) is goed vir was, eet, en selfs koffie drink, as dit moet.

Moenie alleen omdraai indien jy nie die omgewing soos die palm van jou hand ken nie. Veral as jy moeg word begin die koppies baie eenders lyk en verdwaal jy maklik.

BYLAE A – Namakwaland-toer liedjies:

Meisie sonder sokkies (alias “Bokkie” – Dawid Kramer)
Iewers hier binne in my bokkie,
klop my ou hart nes ’n tok-tokkie.
Ek-a-droom van ’n warm Kersfeesdag
en ’n meisie sonder haar sokkies.

Nes ’n bicycle sonder sy klokkie,
nes ’n lollipop sonder sy stokkie,
nes ’n hoenderhaan met sy kop afgekap,
hardloop ek agter my bokkie.

Koor:

Waai, windjie, waai,
die dae gaan verby.
Môre kom daar ’n groot gelyk,
dan staan sy, oo, dan staan sy hier langs my.

Bokkie, ek wil nie vir jou jok’ie,
of jy my liefhet weet ek ook’ie.
Ek droom van jou voor die Sendingkerk
in jou wit hoed en jou mooi, rooi rokkie …

Bokkie, met die blou doek op jou koppie …
Die klokkie aan my hart wil nou nie stop nie.
Vannaand sing ek soos ’n bok wat blêr,
want die verlange hou nooit op nie.

Koor…

Daleentjie (Karolientjie [soek ’n man])
Daleentjie, Daleentjie, Daleentjie soek ’n ou.
O, Daleentjie, Daleentjie sal sy hom ooit kan trou?
Daleentjie is ’n donkerkop van drie-en-twintig jaar.
Sy wou só graag ’n drukkie hê,
haar sê-goed was al klaar.
Toe kry sy ook haar drukkie,
so skuins van agter af,
Daleentjie spring só vinnig om,
sy skrik hom sommer af.

Daleentjie, Daleentjie, Daleentjie soek ’n man.O, Daleentjie, Daleentjie sal sy hom ooit kan vang?
(Verlenging van die oorspronklike “Daleentjie”
O, Chrisjan, O Chrisjan, O Chrisjan soek ’n vrou.
O, Chrisjan, O Chrisjan, sal hy by een kan hou?
Chrisjan was ’n ingenieur met min hier op die kop.
Die tyd het vir hom uitgeloop, hy hou net meisies dop.
Hy kom toe na die BTK en sien ’n fraaie nooi.
Toe hoor hy weer sy Pa se stem:
“You’ll be a Bachelor Boy”
O, Chrisjan, O Chrisjan, O Chrisjan soek ’n vrou.
Daleentjie, Daleentjie, wil jy nie met hom trou?

Die Alibama-BTK (Die Alibama)
Nooi, nooi die BTK,
die klub is daar jy sien,.
die klub is daar vir jou
van al jou stapraad te bedien.
Nooi, nooi Namakwaland,
die plek het my verstom,
want toe ons in die veld gaan stap
was dit net ene blom.

Koor:
Die Alibama (3x), B-T-K.
Die Alibama (2x),
hy kom saam met ons swaar dra.

Nooi, nooi ou Likkewaan,
sy maak my moed so plat,
want toe ons in die veld gaan ry,
gaan sit sy in ’n gat.
Nooi, nooi die raamrugsak,
dit is ’n sware sak.
Ek sit nou nog en dink,
wat het ’k als hier ingepak.

Koor:

Nooi , nooi die sleë bou,
die goed is soms so mooi,
maar dan is daar die enkeles
wat dink dit is ’n kooi.
Nooi, nooi die sleëkring,
die sleekring is berei,
die sleekring is vir ons berei
om daar te sit en …
Koor:

Mom, I want a woman. (Mama ek wil ’n man hê)
Mom, I want a woman.
And so Chrisjan, what would you like?
Would you like a foreign girl?
No! Mama, no!
A foreign girl it cannot be,
because “dis” English not for me.
What was meant for me,is the BTK-girls hier.

Mom, I want a woman.
And so Teuns, what would you like?
Would it be a hiking girl?
No! Mama, no!
A hiking girl just goes to fast,
and my poor body, wouldn’t last.
What was meant for me,
is the BTK-girls hier.

Mom, I want a woman.
And so what woman would you like?
Would you like a Belgian girl?
Yes! Mama, yes!
A Belgian girl is what I like,
because she makes me feel all right.
It’s not my cup of tea,
with the BTK-girls hier.

Namakwa-lied (As ek moeg word vir die lewe in die stad)
As ek moeg word vir die lewe in die stad,
roep my Namakwaland.
As ek moeg word vir my studies op die bos,
gaan soek ek beter kos.
Dan stap ek met die BTK;
speel hul met my honger gou-gou klaa’,
en sing Namakwa-lied,
en sing Namakwa-lied.

Give me hope, Johanna
Johanna was a very shy Inglish gal
who couldn’t really cook or clean,
so she came to sunny South Africa
to learn at university.

Johanna met a very rich Inglish bloke
who couldn’t speak Afrikaans.
She taught him to cook and clean his house
and a “regte Afrikaanse dans”:
Maria Magdalena was a “tonedokter”,
plak elke toontjie op sy plek,
maar haar idee van goeie steriele werk,
is om eers haar vingers skoon te lek

Wim is a mean oak from Wilgenhof
with a big fat padda on his head,
and he wears his Holland beanie over there
to hide it underneath instead.

Toffie is a very sticky character
with one-way mirror specticles.
To get him and Wim to wash their own plates,
is like working a miracle.

Mon-ré is ’n ou wat bie-tjie sta-dig is:
hy kan nie lek-ker lees of skryf,
maar sy groot-ste pro-bleem in die le-we is,
om sy Clifton in sy sak te kry.
Jacqie is a busdriver with little hair,
but stil the sun didn’t fry his brains,
because the nonsense he thinks of every day
causes many people lots of pain.

Toerskets (’n Padda wou gaan opsit)
Die likkewaan’s bus met kwaliteit, ha-hum … (x2)
Maar by Citrusdal val die koppelaar uit, ha-hum …
Die likkewaan ry na Namakwaland, ha-hum … (x2)
Met Keith wat sit in die agterkant, ha-hum …
By Modderfontein gaan ons kamp opslaan, ha-hum … (x2)
En ons gaan sien hoe die son ondergaan, ha-hum …
Dis manskamp hier en dameskamp daar, ha-hum … (x2)
En oom Dieter vertel dat ons nie mag staar, ha-hum ..

Die kokke staan op en begin te roep, ha-hum … (x2)
Maar Monré soek nog steeds sy groep, ha-hum …
Die volgende dag draf ons Sneeukop op, ha-hum … (x2)
Toe is ons so hoog dat ons ore pop, ha-hum …
Christiaan lei en Johan stap slot, ha-hum … (x2)
Toe ons onder kom ruik ons voete vrot, ha-hum …

Die derde dag klim ons bulte dat dit fluit, ha-hum … (x2)
Maar Wim en Toffie “chicken” uit, ha-hum …
Want toe ons stop om water te kry, ha-hum … (x2)
Kom Wim en Toffie in ’n bakkie verby, ha-hum …
Ons drink uit ’n poel wat in granietsteen is, ha-hum … (x2)
In die middel van die poel lê ’n bol koeimis, ha-hum …
Wim het die leierskap oorgekoop, ha-hum … (x2)
Jaag ons bulte uit en dryf ons dood, ha-hum …
Maar Rudolf is ’n man wat stap met drif, ha-hum … (x2)
Met sy rugsak en sy tent, maar sy bril kry ’n “lift”, ha-hum …
Die aand wag Jacques om geluk te slaan, ha-hum … (x2)
Toe kyk ons op en verdwyn die maan, ha-hum …
Garies se “shopping-mall” is maar goor, ha-hum … (x2)
Maar gelukkig is daar ’n poskantoor, ha-hum …
Namakwaland-toer was ene jolyt, ha-hum … (x2)
Nou’s dit terug boeke toe en ons is so spyt, ha-hum …

BYLAE B – Blommelys:
Hier volg ’n lys van blomme wat tannie Maretha Steinmann op die Namakwaland-toer kon identifiseer. Alle foute of weglatings is my skuld:

Albuca altissima, A. cooperi … Slymstok of blougif
Anchusa capensis … … Vergeet-my-nietjie
Androcym bium … … … Uilblaar
Anisodotea malvas … … Wild stokroos (Ezelsfontein)
Aptosimum … … … Karooviooltjie
Arctotis … … … … Daisie (Bitter gousblom)
Babiana … … … … Bobbejaantjie, perde-uintjie
Bulbinella … … … Geel katstert
Clifortia … … … … Steekbossie
Coleonema pulchrum … … Bokboegoe
Cotula … … … … Knoppiesopslag
Cyphia volubilis… … … Bouroe
Dianthus micropetalus … … Wilde angelier.
Diascia longicornis … … Bokhorinkies
Dimorphoteka … … … Daisie
Erica coccinea … … … (Sneeukop)
Eriochephalus ericoides … … Kapokbos
Erodium cicutarium … … Horlosiebos
Felicia … … … … Sambreeltjies
Galenia africana … … … Kraalbos
Gazania … … … … Daisie (Botterblom)
Gladiolus … … … Groenkalkoentjie
Gortera … … … … Daisie (Beathe daisy)
Grielum humifusum … … Pietsnot, duikerwortel
Heliophila … … … Sporrie (blou en wit)
Herrea bland/blana … … Varkiesknol
Hesperantha … … … Aandblom
Homeria … … … … TulpHyobanche sanguinea … … Katnaels, jakkalsblom
Lachenalia … … … Viooltjie
Lapeirosia silenoides
Leucadendron brunoides … (op Ezelskop)
Limosella capensis … … Waterlelie (in dam op granietrots)
Lobostenon trichotomus … Ag-dae-geneesbossie
Metalasia
Moraea … … … … Uintjie
Nemesia … … … … Kappieblom
Ornithogalum pruinosum … Chincherinchee, wit Dirkie
Ornithogalum xanthochlorum … Slangkop
Osteopermum … … … Daisie
Othonanna … … … Rapuisbos
Oxalis … … … … Suring
Pelargonium crithmifolium
pulchellum
– incrassatum
– triste
– scabrum
Pharaceum croceum … … Wilde anys
Rhus undulata … … … taaibos
Romulea … … … Froetang
Rumex lativalvis … … Veldsuring
Salvia dentata … … … Bergsalie
Senecio … … … … Hongerblom
Sparaxis
Spiloxene … … … Sterretjie
Sutherlandia fruteseus … … Kankerbossie
Sutera … … … … (nie geblom nie, baie stink)
Trachyandra … … … Hotnotskool, veldkool
Ursinia … … … … Daisie
Wahlenbergia … … … Blou klokkies
Whiteheadia bifolia
Wiborgia monoptera … … Ertjiebos

Leave a Reply