Visrivier Canyon Julie 2000

Dag 1
Sondag 9 Julie

Die Visrivier toer, die toer met die langste waglys en belangstelling nog, begin vir die meeste van ons 06:00 Sondag op ‘n bra koue triesterige oggend met druppels wat wil-wil val. Ou kennisse groet mekaar hartlik en eerstetoeriste staan maar skaam-skaam nader net om vinnig ingetrek te word in die BTK-hartlikheid en algehele opgewondenheid wat in die lug is. 06:45 (baie stiptelik vir BTK-tyd) trek die konfooi weg, met Corne van Daalen voor, Hannelie Morris agter en Wim Morris (in sy cool bakkie), Willem van der Merwe en Elisabet de Waal tussen in. Nog net 28 van die 60 is al bymekaar, die origes van die groot groep word nog so stuk-stuk deur die loop van die volgende 24 uur bymekaargemaak.

Dis nog stilnag donker met die wegtrek, en 22 van die 28 is maar net te dankbaar dat hulle nie bestuur nie en skuif hulleself reg tussen vriend en vreemdeling vir nog ‘n paar uur se slaap. Baie vinnig is dit stil en word daar net elke nou en dan ‘n sagte gemompel gehoor as daar ‘n elmboog kontak maak met ‘n oog of neus in die gepakte motors.

Teen 11:00 is ons al op VanRhynsdorp, en stadigaan begin die mense ondooi en gesels, behalwe in Wim se bakkie, die dreig om hulle om te ruil vir mense wat meer praat, maar self dit help nie. Tannie Miems ontdek ‘n ou BTK familie in Casper Steenkamp en ‘n hegte vriendskap word net daar en dan gesmee. Die pad is lank en reguit en Elisabet sorg darem vir ‘n bietjie opwinding toe sy haar sleutels in haar kar toesluit, maar wat ‘n versameling ingenieurstudente en ‘n stuk draad nie kan regkry nie, moet nog ontdek word.

14:00 op Springbok vanwaar die spoed aangedraai word en ons 15:30 lekker styf en moeg geslaap op Vioolsdrif aankom.

Net buite die grenspos word daar weer gestop en gewag terwyl Hanneli en Corne rond hardloop, ry en bel opsoek na ons slaapplek en orige verlore of verdwaalde BTKners wat die hele Namibie rondswerf.

Daar word net kameras uit alle oorde geruk om die eerste blik van Namibie vas te le, en Willem se padkos word so vinnig deur ‘n klompie korrelkop kinders opgeeet dat dit amper nooit daar was nie.

Gelukkig ontferm ‘n hartlike Namibier en sy vrou, meneer en mevrou Beyers van Zyl hulle oor 40 honger, daklose BTK-ners, en die ma onder ons (dis nou tannie Miems) word‘n bed aangebied, tot haar groot ontsteltenis.

En sommer gou, terwyl die son vir die eerste keer op die Visrivier 2000 toer oor ons koppe sak, word daar kosgemaak en lekker gesels. En so om ‘n lee swembad maak die eerstetoeriste kennis met Elsa, kry Keith Browne lekker sterk reaksie uit ons Kosma, waarna almal vroeg slaapsak toe gestuur word met die belofte van ‘n lang dag wat vroeg (Namibiese tyd of is dit nou SA ty?) sal begin.

Dag 2
Maandag 10 Julie

06:00 Namibiese tyd, word ons almal wakker gemaak met die Voorsitter se geweldige vriendelike, “More, komaan, ek wil GESIGTE sien”

Ontbyt is oorskiet broodjies…en Elsa, wat baie oe laat blink.

Ons ry maar eers laat en na ontrent 2 ure se lekker grondpad ry, word daar eers gestop by die Hobas, Ai-Ais afdraai, om vir Piet te wag wat eers moet bande omruil. Die eerste blik van die Canyons slaan baie asems weg en kameras word weer uitgepak om alles en nog wat van alle kante af, af te neem. Ons sit al heeltmal te lank, en daar word lekker-lekker volkspele gehou, die meeste van die eerstetoeriste, en ou BTKners wat nie vinnig genoeg kan hardloop nie, speel saam.

In die laaste rukkie se ry word Casper se woordeskat uitgebrei, hy leer van Sleep, wat volgens Pirow Joncken tannie Miems ‘n vreeslike gevaarlike bedryf is, van KDT’s met die voorsitter aan die voorpunt met drie SD’s (stert draers), waarop Irene en Ilana hardop wonder of hulle dan kan kies tussen ‘n RD (rugsakdraer) en ‘n SD? Want hulle weet wat hulle sal kies!

Net voor Hobas maak tannie Miems bekend dat dit nou selfs die laaste bossie is voor onder in die Canyon – en daar word op grootskaal mans- en dameskant toe geloop – net om etlike minute later pragtige skoon ablusieblokke op Hobas te kry.

Eensklaps het die groep verdubbel, ons toerouers, oom Dieter en tannie Maretha Steinmann ontmoet ons ook by Hobas saam met nog 30 stappers en name word weer hard geleer.

Na ‘n ligte openhoud te wyte aan Afrika-tyd en organisasie, kom ons by die begin die beginpunt van die Visriviervalleie uit.

Weke se organiseer, uitsien, wag is verby en die Valleie le in volle asemrowendheid voor ons uitgesprei, vallei op vallei, kronkel op kronkel, vaalgrys op blougrys op groengrys op mooigrys – unieke Visrivier mooi.

Rugsakke word geweeg en sakke wissel tussen 15kg tot ver van die skaal af, en Keith is vreeslik opgewonde oor SY blikwassers wat so lig gepak het.

Uiteindelik (al na aan middagete) en dis selfs SA tyd laat, vertel Johann Diener ons, begin die stap.

‘n Lekker stadige pas verseker dat almal bymekaar bly en 50 BTKners kronkel stadig die helling af.

Oom Dieter ry die bestuurders om, wat ons later van agter sal inhaal.

Ander toeriste in die Canyon wat die skoonheid in stilte wou kom bewonder moet maar uithou want daar word lekker gesels, gelag en geterg in die steil sak na onder.

Met Gamebreak word Groepie 1 herdoop na die Viskatte. Daar is ‘n paar pare bene wat maar lekker bewe, maar dit maak nie saak nie, want die omgewing is ongelooflik, die lug ‘n skoon blou en die geselskap net die beste.

Middagete is op die oewer van die rivier en na die lekker los sandstap is almal maar dankbaar om ‘n rukkie te rus. En die gebruiklike voorsitter-ding van “almal MOET swem” woord vir die eerste keer gehoor.

Die bestuurders haal ons in net voordat ons werder stap, oftewel verder van klip tot klip spring.

Slaapplek die aand is op ‘n terras, met dameskamp bo by die kloof, en manskamp onder by die rivier. Douw Franken sien groot potensiaal vir gunste opgaar en dra klomp moee meisies se rugsakke tot bo.

Die ordentliheidspraatjie veroorsaak groot pret met Wim en Natalie Lawson wat die term ‘skiet’moet demonstreer, en word ook sommer gebruik om ‘hekel’ te verduidelik met ‘n: “Oom Dieter, ek wil net graag by Natalie hoor wat sy nou eintlik bedoel het toe sy gese het dat sy nie geweet het dat Wim SO stadig is nie!”, verder word daar mooi deur die voorsitter verduidelik dat daar na Nag Dames geen dames aan dameskant mag wees nie.

Die Buro verklaar haarself oop, met lekker voorraad – maar volgens Klause von Pressentin is die buro regtig DIE laaste uitweg.

Hierdie eerste sleeaand van die Visrivier toer onder Namibiese lug, kry Hanneli en Wim se vliegtuigie Item en Fransoa Fourie se lu-gwaan (likkewaan) groot aftrek en alhoewel Nr. 9 van Keith eers verduidelik moes word vir baie, is dit ook opreg waardeer.

En so met die 1ste aand se aanstap kom Casper agter dat die Slepery toe nie so ‘n slegte bedryf is nie…

Dag 3
Dinsdag 11 Julie

Ons word weer hartlik wakker gemaak net toe die hange begin lig word, en langsaam word alles gedoen terwyl die uitrykspan solank begin sing in die agtergrond. Colyn borsel tot sy tande, want hy’s mos nou tussen ordentlike mense!

Die stapdag begin met ‘n lekker stukkie klipspringery en sandstap. Tannie Miems probeer haar slag met Honey (en Wim se sonbril) maar moes maar tou opgaai toe nie Wim, Riaan Doorduin, Casper of Riaan Kok eers wil grinnik nie.

Ilana en Inge Smit het gou geleer, en bly nou by hulle goue reel: hulle stop net as Corne stop, as Corne sy rugsak afhaal, dan haal hulle hulle rugsakke af, as hy sy hoed afhaal dan kom hulle hoede ook af en so voorts en so voorts. Volgens ons voorsitter nie ‘n slegte reel nie.

Net vir afwisseling van sandstap en klippe spring bring die bestuur ‘n lekker stukkie rotsklim ook in – met die gevolg dat Dick eers blikkies tuna uit die poele met red.

By Gamebreak laat Groepie 2 en 3 nie op hulle wag nie en die Soprotte en Babers maak ook hulle verskyning.

Teen middagete vorder ons nog maar stadig en die Swawelbronne is nog ver. Die eerste toeriste hoor vir die eerste keer van die Wraak wat wag…

Die res van die dag leer die eerstetoeriste verwoed name en teen laatmiddig ruik ons wel deeglik dat ons uiteindelik die swawelbronne nader. Keith was Piet Theron en Marthe du Plessis se voete met die heerlike warm water – want hy wil nie sy M doen nie! En Colyn wil ewe onskuldig by tannie Miems weet, dat as die swawelwater sulke genesende kragte het, hoekom was sy dan haar gesig?

Kamp word opgeslaan tussen riete en rotse en Dameskant se rivier lyk soos die Jordaan soos die meisies die stof en sweet probeer afwas.

En skielik is dit tyd vir die WRAAK (oftewel nog tien minute Nam tyd).

Maar die eerstetoeriste kwyt hulle goed van hulle taak, en veral Willem met sy ongelooflike stem wat ‘n Franse liefdesliedjie laat weergalm deur die klowe het almal stil gehad (die moet ook nog later die aand mooi aan Mathilde de Beer en die res van die groep verduidelik wat hy nou eintlik bedoel het toe hy gese het hy raak sommer honger as hy na Natalie kyk).

Koning word 2 maal gesing , almal oorleef weer wonder bo wonder die res van die aand, en dis 14 trotse nuutingelyfde BTK-ners wat sommiges sommer net so met hulle nekdoekies nog aan, gaan inkruip

Dag 4
Woensdag 12 Julie

Ewe skielik het die styfheid sommiges ingehaal en Wim se luidrigtige “BABERS-Koffie-Is-Reg, word nie ewe veel waardeer nie!

Dag 4 is ook die begin van die talle rivierkruisings (7 die dag) waar die ouens regtig bitterlik gaaf was en meeste meisies droofvoets oorhelp. Die eerste rivier het net Klause as slagoffer, maar sleg hoef hy ook nie te voel nie, want hy is maar net die eerste van baie.

Karen van der Merwe en tannie Maretha verkondig die wonders van sinksalf, blou sinksalf, en kort voor lank loop almal met blou lippe. Maggie van der Merwese verontwaardige uitroep van “Jou Hoender!” toe Corne haar natgooi, is vir hom so goed dat hy net daar sy natmaak pogings verdubbel.

Na Gamebreak stap ons met ‘n goeie uitsig op Tafelbergagtige rotsformasie – oom Dieter het geweet ons stap Kaap se kant toe.

Voor middagete is daar nog ‘n paar riviere om oor te steek en ‘n paar ongelukkiges (of gelukkiges) aan wie daar uitdruklik deur Tone aangese is dat ‘hulle nie NABY die water mag kom met daardie pleister tone nie’, word oorgedra. Die gesprekke loop gewoonlik soos volg: “Irene, soek jy ‘n man?” Teen die tweede rivier het Marguax Joubert dit ernstig oorweeg om haar toonnael ook uit te trek.

Die eerste dieperige oorsteek verskaf groot pret met George Murray wat Irene McLachlan oordra (the only way to travel: Air George), Heleen Gericke wat Johann Diender oordra, Colyn Murray en Keith wat tannie Miems se hare was en Karen wat in die water beland, sonder Monre Meyer se hulp.

Middagete is na ‘n lekker lang standstap onder ‘n groot doringboom naby die rivier.

Met al die hulp oor die riviere kom daar darem elke nou en dan glipsies en Jean de Villers swem lekker met haar rugsak en skoene deur, en weier ewe lojaal om te se wie se hand sy vasgehou het met die oorsteek slag.

Dis Dameskiet vannaand en Keith hardloop heeltemal te stadig vir Piet weg. Die aand volg daar ‘n hewige gesprek tussen Stephan Bothma en Hanneli oor wie nou eintlik met Dameskiet die slee moet bou – die voorsitter se raad word ingeroep, en dit lyk of Stephan aan die wenkant is, tot Hanneli Corne vra wie sy slee gaan bou, en hy gou verduilik dat dit anders is.

Groot opgewondenheid heers in Groepie 3 toe Casper ‘n baber, NET SO GROOT vang en foto op foto word geneem. Dis so tussen die Baber storie deur dat Marthe ernstig vir Wim inlig dat hy nou ‘n vrou moet kry en sy onskuldige vraag van : om wat mee te maak, ‘n baie reguit antwoord kry.

BOM word oopgestel en tannie Miems is op die oorlogspad, en praat net met jou as jy hand en mond kan belowe dat jy geskiet is of geskiet het. Of ala Keith, “Yes, I got skieted.”

Baie van die ou Items word met mening uitgepluk en rondgeskop, van Bramaan wereld, waar Hanneli voos gekielie word), deur Koud-koud-koud (tannie M gaan NOOIT weer saam met Keith en Wim Item nie, dis sommer ‘n slegte bedryf!”, Dokter Naakdgebore, ‘n pragtige Groentetuin, met Elisabet wat skitter as Stoffel die Knoffel, en natuurlik die Spoegbakkie Item, met ‘n nuwe berghut kinkel.

Hekeltyd is dit weer Willem wat deurloop toe Jean hom ernstig vra wat het hy bedoel met sy opmerking van vroeer dat hy nie die water wil drink nie, want hy’t gesien watter soort mense swem daarin?

Dag 5
Donderdag 13 Julie

Karen verjaar en word hard en duidelik geluk gewens met -volgens haar- die beste nootvaste samesang in jare.

Die dag begin maar modderig toe Realize Loubser en Dorette du Plessis hande viervoet in die modder beland toe hulle te kort op die voorsitter se hakke loop, Monre gly self lekker – Ag nee padda’tjie, nou’s jy vol modder! – en George beland ook onverwags kniediep in die dryfsand.

By rivier 5 kry Wim dit darem reg om Nicolette se skoene droog te hou, al is die res van hulle altwee sopnat. Irene kom steeds droogvoets deur die waters, maar die begin te kla oor haar lies wat so sser raak van al die rivieroorkruisings, dis nou van aanmekaar op die ouens se rue klouter! O my Swakke Hart!.

Net oorkant rivier 6 word ‘n vinnige middagete gehou, die Babers besluit die gras is groener en die skaduwee groter aan die anderkant van die rivier. Corne se STAP OOR 20 MINUTE- toe Groepie 3 nog nie eens sit nie maak Wim besluit dat Corne nie deur hom of een van die Susan-susters laat intimideer nie en Dick se “Wim, you’ve created a MONSTER” lok baie gelag uit.

Die res van die dag stap ons met die ongelooflike 4 vinger rots in die agtergrond en ‘n lekker stofpad wat voor ons uitstrek.

Die slang in die stof (waaroor 4 mense al geloop het) maak mense maar lekker bekommerd (niemand het gese hiers SLANGE nie!) en die paadjie word met nuwe ywer dopgehou.

Langs die volgende rivier loop ons ons vas in ‘n muggie-bedryf uit ‘n ander wereld en oom Dieter se patent van jou hoed op ‘n stok kry groot aftrek by muggie en mens.

Slaapplek die aand is op die pragtigste terrein, met die mooiste uitsig op die sonsondergang van die meisies badplek af, en dis net die mans wat kla dat hulle myle ver moet loop manskamp toe vir ‘n ordentlike bossie.

Dis die laaste aand in die Canyon, en almal kuier heerlik in hulle groepies om die kospotte. Stephan keer net as Hanneli kos inskep, hy voel al kompeet soos ‘n gans wat vet gevoer word vir Kersfees, hy moet net sluk, alles wat oorbly.

Colyn kom maak sy gebruiklike draaie by al die groepies en ruik te lekker, sy nuwe longjohnmode trek ook baie aandag. Is sy baard effe korter?

Die wolke trek die eerste maal oor en daar word benoud gepraat van reen en nat slaap, maar gelukkig trek dit oor.

Maar Mara, die aand in die canyon is dit ONGELOOFLIK, die atmosfeer…(met apologie aan Fronsoa) tannie Miems trap weer in die slaggat om saam met Keith en Wim te Item, tot groot vermaak van die res van die gehoor, en hier en daar word die grappies bietjie verander. Fransoa en tannie Miems voer darem ‘n pragtige Tanne-tanne op, Wim word weer in ‘n paar Items ingetrek wat hy nie wil doen nie, Willem sing weer, Eberhardt bewys weereens dat hy ‘n ware Steinmann is en skitter in al sy troeteldierrolle en mnr. Dietroeteldierwinkeleienaar is ook maar min in sy slee.

Dag 6
Vrydag 14 Junie

Alle tekens van die vorige aand se wolke is weg en na ontbyt word daar kringetjie aan die oorkant van die rivier gemaak, daar word op groot skaal bedank van alle kante af (ook vir die Kosma wat bewys het dat sy nie ‘n aspirant hoender is nie). Fransoa verjaar, ons laaste verjaarsdagmaatjie en word ook lekker voor gesing en kry die ordentlike SHD behandeling,van al die meisies (en Keith?!)

‘n Enorme fotosessie word gereel op die rotse en toe almal hulle selftime knoppies aan die werk het is dit ‘n gelik en geflits en gelag uit ‘n ander wereld. Veral Douw was maar te dankbaar toe STAP NOU weerklink, hy’t maar baie ongemaklik gesit.

By die derde rivier besluit Wim die makliker pad soek is nie meer vir hom nie, en hy loop sommer reguit deur. Net om sop-nat amper gered te moes word en luid aangespoor word van alle kante met ‘n “K-k-kaptein, moet ons jou bruin broek bring…?”

Vandag is die dag wat Karen heeltyd nat bly, maar sy het die perfekte wraak, sy is tog so lief vir Wim.

Die lug het intussen toegetrek en daar val net genog druppels om almal na hulle splashcovers te laat soek, die klippe lekker glad te maak en die mooiste lae reenboog te voorskyn te bring.

Na die laaste rivier van die dag is daar toe nog twee wat in goeie gees oorgesteek word, al is Irene se bene so seer!

Lisa van Wyk begin hik, en Dick Barry en sy vriende hou haar aan die praat sodat haar mond oop is as sy hik, want dit eggo dan so mooi!

Stadig begin die omgewing verander – die eerste tekens van die beskawing skyn deur, pype, drade pompe en later ook mense.

Geleidelik begin almal vinniger stap – kompleet soos perde wat stal ruik en die trane sit maar vlak, maar die glimlagte breed en die drukkies in oorvloed toe Ai-Ai’s deur die BTK binnegeval word.

Kringetjie word gemaak en Koning dreun oor Ai-Ai’s, daar word dankie gese, weer gesing, nekdoekies uitgedeel, totsiens gese waarna almal in die warmbaddens induik, sommiges (soos Hannelore Olivier) sommer van pure opgewondenheid met handoek en al – net om agter te kom dat hulle sommer met die intrapslag 7 van die 9 swembadreels oortree het. Sonder dat hulle eers wou. Maar wat – die water is warm en dis lekker om weer skoon te voel. Daar word maar moeilik van die wat agterbly afskeid geneem, maar Corne is haastig en mense word uit die winkel gehaal want hulle moet klim, ONS RY NOU.

Die grondpad terug is lank en koud en dis stil in die motors. Die reen haal ons in, en almal is net te dankbaar dat ons die Canyon uit is voordat dit begin reen het.

Ons kom net voor 8 koud, nat , moeg maar tevrede weer by die Van Zyls aan waar kos gou georganiseer word so in die nat donkerte, voordat almal kouerig, maar gelukkig droog en baie dankbaar vir ‘n dak in die gietende reen gaan slaap.

Dag 7
Saterdag 15 Julie

Saterdagoggend begin vir party van ons vroeer as vir ander, toe tannie Miems manskant met ‘n hartlike Good morning to you, wakker sing- net om tot haar skok agter te kom dat dit ‘n uur vroer is as wat sy verwag het.

06:00 Namibiese tyd word die res van ons wakker gemaak, die wat wel geslaap het, Irene en Margaux beweer die ouens begin al in stereo snork voordat hulle koppe grondvat. Tot tannie Miems wil weet hoe hulle dit agtergekom het? Daar word nie eens koffie gedrink nie, almal moet net pak en klim. Self Dick se gebed word vinnig ge-Amen, toe die druppels weer begin val. Teen 07:10 val ons weer in die pad. Duane gaan weer vinnig en Chris besluit finaal om homself aan die Namibiese regering uit te huur, want dit reen altyd as hy hier kom.

Ons Terash op Springbok en daar word groot geeet want almal is HONGER. Weer word daar foto’s geneem en gesing (net om die kos gouer te laat kom) en 11:30 val almal weer in die pad in stortreen.

Net voor sewe maak ons ons laaste stop van die toer op Stellenbosch.

Die Visrivier Afgronde Toer 2000 was ‘n wonderbaarlike ervaring wat baie mense baie geleer het. Hanneli het geleer dat mens nie enige nagereg wat stol in ‘n bottel moet aanmaak nie.

Dat mens selfs jou slee maatjie kan ruil vir ‘n pakkie Miems fudge.

Dat mense nog moeite doen en omgee.

Dat hoe meer mens gee en vir ander doen, hoe gelukkiger raak jy.

Dat die Hemelse Vader altyd Sy hand oor jou sal hou, al is jy waar.

Dankie sal ons nooit genoeg kan se nie en my woorde sal nooit kan beskryf wat ek hierdie sewe dae tussen 59 absolute wonderlike mense, in die unieke stukkie skepping van die visrivier ervaar het nie, so ek sluit hierdie onvoldoende skets van die Visrivier 2000 toer af met Jocelyn Bruce se treffende gedig:

Leave a Reply