Bergfietstoer van 20/22 April 2001

Wag, voor ons eers verder gaan kom ons hoor wat sê die experts:
“Never seen before – amazing” – Mountain Bike SA
“Good variation in hills and flat scenic routes – ideal for the experienced amateur” – Backcountry cycling
“Jislaaik, nie eers my donkies doen dit nie !?” – boer Neels langs die pad

Nou weet ons wat die ander mense van die toer gedink het, wel hoe was dit nou rerig? Baie gehard en die beste georganiseerde toer van die BTK (na my persoonlike en beskeie, maar regte waar mening). Die toer het bestaan uit vier fietsryers:

Johann (jo) Diener
Hermann (flikkers) Bührmann
Christian (honger) Webster
Coos (afval) Diener

Die gebrek aan fietsryers hat die weg gebaan dat die toer ontaard het in ʼn familie-uitstappie van die Dieners. Met dit ingedagte het die toer op die ou einde bestaan uit: 2 bakkies, een Land Rover (om die ander karre te gaan uithaal), 2 kokke, ʼn barman, fisioterapeut, ʼn oud BTK-voorsitter (die etos is behou), twee boeties en ʼn pa (wat kyk hoe die ander werk). Ons het baie lekker en genoeg geëet en alles (soos kook en kampmaak) is meestal vir jou gedoen.

Die eerste dag het ons vanuit die Ceres-Karoo Katbakkiespas (mense gee snaakse name vir passe as hulle bang is) aangedurf – ʼn pas wat die illusie gee dat dit nou klaar is en dan vat hy jou vir ʼn vaak “pie” met nog ʼn laaste bult. Daarna is ons verby Kagga-Kamma en af by Skitterykloof en onder in die rivierloop is die ondersteuningsvoertuie se personeel eers vermaak deur ʼn Boesman (met net ʼn lendevel – dis die mooi Afrikaanse woord) wat sy passies in die duine uitgehaal het, maar die suinige “bloukop boer” wou nie vir hom drank gee nie… Die pad het ons oor berge en dale en natuurlik ook oor baie sinkplaat gelei na Grootrivier, waar ʼn baie lekker kampplek op die trappers (en ander dapperes) gewag het. Ons het almal die eerste dag klaargemaak, maar soos jy aangery kom na Grootrivier het die baie steil en ontsagwekkende Grootrivierhoogte jou in die gesig gestaar. Nou, Grootrivierhoogte sny kontoere soos miere wat die heuningpot gekry het, en die volgende dag sou ons net die pas uitry, maar wat is die pret daarin as jy nie die bult kan afry nie?! Voor aandete trek die baiesukkels toe weer daar uit om die pas te gaan op EN afry… AFry was nie die enigste ding wat af gegaan het nie… Ons almal het mooi bo uitgekom, maar die afgaan was minder geseënd…net twee sou die onderpunt haal op twee wiele – die res sou op vier wees (agterop ʼn bakkie sʼn).

Soos die ruiter van Skimmelperdpan (voor hy natuurlik sy kop verloor het) het sekeres onder die ruiters die afdraend bietjie onderskat en die draaie bietjie oorskat. Dis toe dat Afval sy naam kry en Flikkers oor sy keel geraps is. Die enigste uitweg is toe om maar die heerlike koue water van die rivier en sagte dameshande wat die grond baie hardhandig uit jou wonde krap te trotseer. Afval het darem hard genoeg geval dat hy sy voorste wiel so gebuig en ge”buckle” het (dit is nou op drie verskillende plekke) dat hy nie meer kon ry selfs al wou hy nie. Verder het hy ook ʼn krap oor sy bors gekry, maar dis van die ysbeer wat daarnaby rondgeloop het. Julle moes sien hoe het die ysbeer gelyk na hy met hom klaar is…

Die volgende môre is die oorblywende drie ryers weg, oppad na Wuppertal, met die ondersteuning wat agterna kom. Aan die anderkant van Grootrivierhoogte is eers bietjie uitgespan by die “Cedarberg Mountain Bike Inn”. Daarna is ons deur pragtige vista’s, van onder andere Sederberg Tafelberg, Wolfberg en Sneeukop, verby die Langkloof en Eselbank nedersettings, waar ons middagete geëet het. Na almal versadig en verkwik is, is die ryers baie vinnig by die pas af – die motors het meer versigtig gevolg, tot by die sendingnedersetting Wuppertal. Die aand het ons in die plaaslike kampterrein saam met ʼn ander groep bergfietsryers van Stellenbosch gedeel. Hulle sou die volgende dag min of meer dieselfde roete as ons volg. Daar was ook Hoeksebergpas wat die volgende môre uitgery moes word, maar party van ons leer uit ander se foute en ongeluk…

Die roete het ons die volgende môre deur die Bidouw-vallei oor Pakhuispas geneem tot in Clanwilliam. Die dag het gelukkig sonder voorval verloop. Daar was ryers wat heel rustig teen die afkant van Pakhuispas af is en in Clanwilliam het ons weer fietse gelaai en die pad terug Stellenbosch toe gevat. Toe was dit klaar.

Hopelik sal daar by die volgende een nog ryers en nog meer ongelukke wees – dit maak jou dag minder saai.

Coos Diener. (nie-meer-eerstetoeris, tweedeklas)

Leave a Reply