Overberg Roeitoer April 2004

Vrydag, 2 April

Hierdie storie begin, soos vele van sy voorgangers, by die Neelsie parkeerterrein. Sommige van die bestuurslede is al reeds besig om die kratte in die bus te laai toe toeriste een vir een hul verskyning maak. Oud toeriste is gretig om die verlore kuiertjies in te haal terwyl eerste toeriste skugterig geselsies maak met die wat hul reeds ken. Kort voor lank is alle bagasie ook gepak en ‘n bus vol afwagtende studente is oppad, weg van die kwartaal se bedrywighede, oppad na die Overberg Roeitoer 2003.

In die bus was dinge heel rustig… onbekende gesigte is uitgesoek en ontmoet en daar is verder kennis gemaak met die ander waarmee die volgende paar dae spandeer gaan word. Die pragtige sonsondergang oor verbygaande wynlande was ‘n perfekte afskop vir dit wat die toer nog sou inhou. Aan die anderkant van die tonnel is sekere seer harte gesus deur die feit dant dit nie net Stellenboschberg is wat brand nie, maar die Worcesterberge ook – Ernest het selfs oor die radio gehoor dat Heemstede afgebrand het… maar dis Ernest, ons vra maar eerder nie vrae nie. Mae het begin grom en voordat ons by Worcester uitgekom het, het Kosma Minkie gesorg vir smullekker boereworsrolle.

Daar was ‘n vinnige stop by Worcester Shell. Paar het geskarrel na die badkamers en ander na die winkeltjie, terwyl Leon te Wit Baardloos, die Wraakkaptein, nie op hom laat wag het nie en daar stil-stil begin is met die uitkyk. Sommer direk daarna is eerste toeriste toegerus met de Magtige Koning se woorde en daar is in die bus gretig begin oefen… needless to say, dit was ‘n power poging, maar tot die vermaak van die oudtoeriste.

Aangekom by ons oorslaapplek op ‘n plaas naby Robertson, is daar verward onder die ligte van die bus gesoek na bagasie en George het ons die duisternis ingelei op ‘n kronkelende paadjie na ons slaapplek. Paar van die katte met dik sterte (en van die ander wat slim was) het later met ‘n bakkie daar opgedaag, glo om die koskratte te bring, maar dit het vir my meer na hul eie bagasie gelyk as iets anders. Dit was natuurlik tot groot ontsteltenis van die wat amper skouerspasmas gekry het van hul swaar bagasie wat hul sonder hulp tot daar moes kry.

Daar was ‘n fancy lapa en ‘n badkamer – veel meer as wat die gewone BTKner aan gewoond is. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die BTK is die sleëkring in Dameskamp. Almal is vinnig in hul sleës ingejaag, sonder ‘n sleëmaatjie. Volgens my was dit maar ‘n ongemaklike en stowwerige spul sonder ‘n ou wat vir my ‘n ordentlike sleë kon gebou het. Tannie Miems het ook nie op haar laat wag nie en het sommer dadelik ons almal opgebeur met haar manewales. Nadat Johan sy spreekwoordelike en figuurlike uitleg van die BTK se tradisies aan die eerste toeriste gegee het, is daar gewys wat bedoel word met Item en paar van die Classics is uitgeruk.

Oom Wynand het afgesluit en na “Nag Dames” is almal weg om vir hul die geskikte slaapplekkie onder die sterrehemel te vind en aan die slaap te raak met die sussende geluid van kriekies en naggeluide in die agtergrond.

Quote of the day: “Hoe oud is Oom Wynand regtig??”

Saterdag, 3 April

Die kamp is wakker gesing en daar is vinnig begin skarrel: mueslie is geniet (of afgewurg), koffie gesluk, slaapsakke ingedruk en tande is geborsel – of ten minste helfte van ons… want die water het opgeraak. Die weer het ons ook net ‘n halwe kans gegee, daar is nog laaste draaie gemaak toe dit begin drup-drup het en almal het laat spaander na die bus, waar daar darem is lopende water voorsien. Die kwaliteit daarvan sou egter eers later ontdek word… of dit nou vrot was of net BAIE brak, is ‘n saak steeds onder bespiegeling.

Opgewonde stappers is teleurgestel (of is dit nou verlig) toe Johan die nuus breek dat dit te veel reën op die berg en dat ons sommer direk gaan deurskiet na ons slaapplek vir die aand. Die goeie gees word egter veel moeiliker gedemp as dit, en daar is onder leiding van Tannie Miems en Leon te Wit (en tot ontsteltenis van George) lekker gesing in die bus.

Op die plaas was die weer opgeklaar. ‘n Plan is vlugtig uitgedink om die BTKners besig te hou vir die dag en ‘n sirkelroete is aangepak. Johan was ‘n slawedrywer en vele skimpe vir gamebreak is summier geïgnoreer. Middagete het uiteindelik aangebreek bo-op die langste en stylste bult wat vele van ons laat besef het hoe onfiks ons werklik is. Retief het nie ‘n oomblik laat verlore gaan nie en hierdie geleentheid aangegryp om verder te werk aan die verlore slaap wat ingehaal moes word. Die henne is van die hane geskei vir die ordentlikheidspraatjie, en in goeie BTK-gees is daar gekoning.

Tot meeste van ons se verligting het ons ‘n paar tree later klaargemaak en kon ons uitspan op ‘n groot groen grasperk langs ‘n dam. Mense het in verskillende rigtings gespat: party is af kamp toe om hul swembroeke te gaan aantrek, Elbie, Annemie, Judith en Kate het dit egter nie nodig geag nie en het sommer met hul klere die duikplanke uitgetoets en baljaar in die water. Intussen is Leon en sy spannetjie druk besig met die eerste toeriste. Tannie Miems het ook amper onder die uitkykers deurgeloop toe sy hulle probeer kielie het. Hul wraak was egter ongeslaag en sy kon wegkom net met ‘n halwe kielie en geen uitkyk. Almal (behalwe die normale een of twee meer avontuurlustiges) was net-net betyds onder die veilige skuiling van ons dormitory voordat hael ons getref het.

Daardie middag was lui-lekker. Daar is geslaap, gestort, gewerk aan eerstetoeris items, gefoefieslide, krieket gespeel, koffie gedrink, gekuier en nogmaals gekuier.

Retief, Johannes, Abrie en Francios wou nie uit voel nie, en het hulself ook gaan reinig, maar in die dam, want hulle het nie geweet dat daar storte is nie. Dit het egter nie veel gehelp nie, want Retief het gegly en geval in die modder – met handoek en al.

Koeki was ook baie opgewonde oor sy nuwe baba steffie wat hy present gekry het. Ons het later ontdek dat dit ‘n baie meer bruikbare produk is: muskadel wat die oom vir ons geskenk het! Dit is net jammer groepie een het die beskuit, wat ook bedoel was vir almal van ons, vir hulself gehou en heerlik daaraan gesmul, alleen. Toemaar, ons onthou…

Nadat Lou-Ann amper haar hele groepie beseer het met brandwonde, het almal met vol mae in die sleës geklim, opgewonde oor die aand se gebeure: eerste toeriste het redelike kwaliteit items gelewer en op ‘n heelwat laer kwaliteit gesing, maar na die soetheid van die wraak is almal gelukkig terug in die sleës en is verder geitem. Hekeltyd het vermaak vir baie verskaf toe Lou-Ann haar net verder in die moeilikheid gepraat en ons almal oorreed het dat sy werklik enige iets sal doen vir Baardloos se aandag. Ernest het verder ons verstande aan die gang probeer kry met grafieke, vraag en aanbod en ewewigstoestande.

Die enigste ewewigstoestand wat ek egter kon aan dink is droomland… kort voor lank is dit waar almal van ons ons bevind het (behawe, weereens, die normale een of twee avontuurlustiges wat gaan foefie het)

Sondag, 4 April

Met Wynand se komposisie vir die BTK girls het ons daardie oggend ontwaak, of almal behalwe George wat geslaap het totdat hy wakker gespring is net voor oggendgodsdiens. Arangieskop is aangedurf. Van vroeg oggend af het die wolke en misbank kort-kort gelig en kon ons die asemrowende uitsig bewonder.

Tannie Miems se sort cuts het baie gehelp en ons het ‘n uur vroeg by die halfwayhouse uitgekom… daar is dus voldoende gepartytjie. Gamebreak was lank en lekker en redelik warm, behalwe vir groepie 4 lede wat nie kon stook nie aangesien Leon de Baard nie die stofies ingepak het nie. Die 2 Leons en Koeki het die res van ons groen van jaloesie gehad met kondensmelk wat hul uit die stoor gezop het. Die dames het Sarie gelees en van die ouens het hul rotsklimvermoë op die proef gestel. Die geleentheid is aangegryp om foto’s te neem met die Koo-vallei in die agtergrond. Vol energie het ons daarvandaan vertrek om maar net vinnig weer te stop vir ‘n vergete verjaarsdagmaatjie – Cornè!

Middagete was die weersomstandighede dreigend – toe dit begin drup-drup het Johan ons vinnig opgejaag. Hambroodjies is opgeveil deur groepie 1… wonder wat het van die koekimonstir se kapasiteit geword?? Elbie en Judith het die bondelverwarmingsisteem aan die gang gekry en daar het vinnig ander koue stappers aangesluit terwyl daar vir die res gewag is.

Die res van die dag was, om Heleen se woorde te gebruik, “asemwegrapend verruklik mooi” Ons het die berg afgestap langs kranse en waterstrome. Zach was die enigste brawe en het geswem; Henk, Leon en hul klang het gesing; daar is gesels en gebou aan vriendskappe wat sal strek lank nadat hierdie skets vergete lê.

Met die einde in sig wou paar mense bietjie grond koop: Koeki het gegly, Tannie Miems het gegly, Retief het gegly en soos Lou-Ann haar verlustig in al hierdie geglyery het sy al laggende op die selfde plek óók gegly!

By die bus het Tannie Miems woorde van wysheid met ons gedeel wat verklaar hoekom ‘n amper 70 jarige dame nog berge op en af kan hardloop. “Klim op die bus van die lewe”, “Moenie wag vir geleenthede nie, attack life!” Moeg het ons op die bus geklim en ‘n rukkie later vir Tannie Miems, Elbie en Heleen vaarwel gewuif by die Worcester vultstasie.

By die kampterrein was die bootjies vir die volgede dag al opgeblaas, maar daar was geen sprake van die Breërivier nie. Dit sou hopelik later gevind word. Ons het tente opgeslaan, kos gemaak en so ver moontlik van die vuil badkamers af weg gebly. Terwyl almal gekuier het, het die getroue stoorman, Leon de Baard, soos die vorige, én die vorige aand gewerskaf aan stofies wat nie hul samewerking wou gee nie.

Retief het sy tyd spandeer om kos by groepies te bedel en groepie een moes maar afstaan, ons weet elk geval teen dié tyd dat daar ‘n tekort aan kapasiteit is. Groepie drie was slim genoeg om rég agter die bus kos te maak, dit is natuurlik buite rekening gelaat dat die bus onverwags, met ‘n groot gedreun, aangeskakel kan word, en hulle is amper omgery…

Díé aand is daar geitem vir die beker. Soos daar terreg opgemerk is “Leon het in die pingpong item geact soos nog nooit tevore nie”. Zach het egter die koek gevat met sy Slaapsak Sammo. Dit het lewe in al die slapendes in die sleëkring geblaas en daar is oor en weer gechallenge. Hugo en Marietjie het as onoorwonne sleë uit die stryd getree.

Johan het ‘n kort, met die klem op kort, briefing gegee oor die volgende dag se roei. Dit was egter heeltemal onvoldoende vir Ernest en Johan is gepeper met vrae, wat onbeantwoord gebly het tot die volgende dag.

Maandag, 5 April

Tot groot verligting, het Johan verslaap. Die stokers het nie terug gestaan om die dag vir almal van ons op ‘n slegte noot te begin nie… Ek het êrens gehoor George claim dat dié power poging deur die stokers a.g.v. sy afwesigheid was… Hoe die saak ookal staan, suiwer of vals… meeste was maar te verlig om verlos te wees van die hele land se muskiet-populasie wat daardie nag onophoudend in ons ore gezoem het.

Flukse en vinnige hande het gehelp om die bootjies klaar op te blaas en af te dra na die rivier. ‘n Uur later as beplan, is ons almal gereed vir die water. Judith en Annemie het die salige gewag langs die rivier as heeltemal te boring erfaar en ‘n sandgeveg begin… dit was egter van korte duur, aangesien ons oorrompel en deeglik oorwin is deur Leon te Wit en sy makkers.

Die guide het sy danspassies vir ons almal gewys en gesê dis glo vir safety. Kort voor lank was almal op die water en die roeiery het begin! Behalwe 360° (ook genoem Die Wit Olifant) wat, getrou aan sy naam, die eskimo rolls van die guide horisontaal probeer namaak het. Dié probleem is opgelos toe deeglike ondersoek bewys het dat die dames sterker roei as die ouens en hulle is na die agterkant van die boot verskuif as die enjins.

Die spane was nog skaars nat of daar is watergevegte gehou vir lewe en dood… sekere ander het strategies hul bote vêr weg gehou van die aksie en die saligheid van die Breërivier geniet. Retief het op een of ander slinkse manier af geval van die 360 en op die Plesierpaleis geklim waar hy daar ‘n rustige rit geniet het tot die volgende stop. Net soos Judith wat maar te bly was toe haar bootmaatjies oorgretig was om te roei en sy het byna heeldag gelê en die uitsig oor die Breëriviervlakte waardeer. Ernest was net so slim… ek weet nie hoe hy dit reggekry het nie, maar Constans het agter gesit en AL die roeiwerk gedoen!

Gamebreak het aangebreek. Lou-Ann het vir haar groepie appels uitgedeel, maar Ernest dit liewer van die hand gewys aangesien: “Adam glo verlei is met ‘n appel”. ‘n Gerieflike windjie van agter het die dames ‘n verskoning gebied om die roeiery te laat vaar en eerder seil te span… Minette se poging was al wat suksesvol was met haar tent as seil.

Lank voor middagete was almal rasend honger. Van die meisies se blase het egter harder gepraat as hul mae en hul het gehardloop na dameskamp (wat, ek net moet noem, sub-standaard min bosse gehad het) voordat hul kom smul het aan hul peanutbutter en stroopbroodjies. Magie vol, ogies toe… en die middagsonnetjie is tot die maksimum benut voordat almal deur ‘n haastige guide in die bote gejaag is.

Met bietjie meer energie is ons verder die rivier af tot by ‘n bruggie waar die ouens maar te bly was om hul spiere bietjie te bult en die bootjies oor te tel.

‘n Roomer het versprei dat ons net 45 min. weg is van die aand se kampplek… die helfde van die groep stig toe af en belê die ekstra tyd om ‘n killer van ‘n Floattilla aan mekaar te slaan. Dit was ‘n prettige affêre … daar is lekker geselsies gemaak, maar die hoof aktiwiteit was braai in die son op ‘n lekker warm Breërivier middag terwyl ons rustig in die rivier afdryf. Terloops, dankie aan Hugo en Kate wat gesorg het dat ons op koers bly met hul vernugtige stuurvermoë.

Dié saligheid was egter van korte duur, aangesien die guide HOOGS ontsteld was oor die feit dat hy nie die samewerking van die groep het nie… bla..bla..bla.. Niks kan, of kon nog ooit BTK se gees demp nie en die meeste van ons het maar in ons mou gelag en die toer verder geniet – hierdie keer net met bietjie meer “samewerking”.

Net daarna het ons onsself vasgeroei… die probleem is egter vinnig opgelos deur, weereens, ons helde se bultende spiere, wat ons teen die stroom opgestoot het en oor die klippe gedra het. Die wat nie skoene gehad het nie se voete was maar redelik afgeskryf na hierdie eskapade.

By die kampplek moes ons wéér wag vir die Wit Olifant wat vasgesit het op ‘n sandbank. Intussen het Francios, Hugo en Constanse dit gewaag om op twee wankelrige dromme te klouter tot by die Foeifieslide. Gelukkig het die boer se leer tot ons redding gekom en meer mense het dit gewaag…

Die lekker aanddis, koel aandlug en knetterende kampvuur het die ideale atmosfeer geskep vir lekker kuier tot sleëtyd. Baardloos het op een of ander onverklaarbare rede met ‘n stink spoed agter Koeki aangehardloop net na skied oopgemaak is… gelukkig was Johan vinniger as hy. Leon, Henk en Judith het ‘n reünie-item gedoen van hul eerste toer twee jaar gelede en Johan kon nie daarmee wegkom om nié die hondjie-item te doen nie. Hy bemeester nou al die tegniek en kry dit elke keer reg om meer spiere te wys as die vorige keer.

In hekeltyd is duidelik bevestig dat dat Marietjie opsetlik aan Retief se been gevat het… Retief se gladde bek kon hom nie eers uit die situasie kry nie. Na “nag Dames” is daar nog heerlik gesels in die sleës en later het die mense stadig maar seker begin verdwyn na hul onderskeie slaapplekke vir die laaste aand se nagrus onder die sterre.

Dinsdag, 6 April

Met ’n vir ‘n slag op die noot opstaanliedjie, is ons betyds wakker gemaak uit ‘n nag van uiterste koue en BAIE dou. George het wéér verder geslaap en is wéér wakker gespring deur Annemie en Lou-Ann. Retief het glo ook vroeër die oggend deurgeloop, dit was egter nie verniet nie, want die stokers het dringend ‘n ekstra stem benodig.

Daar is lekker gesing en voor ons die laaste maal die koue water trotseer het het Carla ons voorberei met ‘n streksessie. Een of twee het vinnig vir die laaste maal gefoefieslide en die Geel Kameel het skelm die beter wit spane van Plesier Paleis verruil vir hulle pap bloues…

Sommer dadelik is daar begin veg: Lou-Ann het een van die Plesier Paleis se spane gesteel en hulle het byna die hele dag gevat om vir haar en Hugo in te haal. Johannes het ook op een of ander stdium vir Lou-Ann oorrompel en in die proses het haar hoed verdwyn in die dieptes van die Breërivier. Die Breërivier was ook gans te breed vir die hoeveelheid water, want boot stoot oor sandbanke was aan die orde van die dag. ‘n Sesiale dank aan al die ouens van die Geel Kameel wat elke keer so getrou afgespring het vir die stootproses.

Daar word ook spesiale vermelding gemaak van die Geel Kameel wat salig pragtige classics gesing het toe die Plesier Paleis hul kom aanrand het. Afgesien van die feit dat hul ons saligheid verbreek het met ‘n watervermorsing, het hulle boonop die omgewing met geraas soos Waltzing Matilda besoedel.

Ouder gewoonte, is daar weer heeltemal van Gamebreak vergeet en Fizzers en Grondboontjies is sommer oor en weer uitgedeel. Tot die groot verbasing van Chris (of beter bekend as Anton) en Jacobus het daar onverwags ‘n vis in hul bood gespring… ??. Die wag tot middagete was hiper lank en ons het geroei laat dit klap, veral die Geel Kameel, wat a.g.v. ‘n dringende besoek aan dameskamp vêr agter geraak het. Die roeiery, bakkende son en wind van voor was maar ‘n energiedrainer en die watergevegte is vir eers agter weë gelaat. Elke nou en dan het iemand die boot verruil vir die koel rivier, ook Annemie en George wat nie lekker gefokus het nie en onwillekeurig, onverwags in die rivier geslinger is deur ‘n boot wat skielik tot stilstand gebring is teen ‘n klip.

Toe middagete uiteindelik aanbreek was dit verbasend dat Groepie 1 tussen 10 mense net een brood verorber het. Groepie 4 het baie strategies hul broodjies gaan smeer aan die ander kant van die muurtjie sodat hulle ‘n blik Caramel kon wegsteek… gelukkig het paar van ons dit wel ontdek. Die brawes het die bote oor die wal geroei terwyl die ander die dorings aangedurf het om weer by die rivier uit te kom. Die Geel Kameel is selfs terug gedra om bietjie aksie te verskaf vir die wat dit weer wou waag om deur die maalkolk te roei.

Verskeie roeipartners is geruil. Die middag se stretch was lank met ‘n sterkerige wind van voor en die Geel Kameel het wéér vêr agter geraak. Henk het gelukkig tot hul redding gekom deur vir hulle ‘n ekstra spaan te gee. Johan en Minkie het hul boot bietjie dieper in die water gesit as wat nodig was, en hulle het ‘n puncture gekry. Jacobus het ook gedink hy’s cool toe hy ‘n kans gekry het om op die guide se kano te roei. Dit was egter veel moeiliker as wat hy verwag het en hy het gezig zack oor die rivier tot by die einde.

Hoewel party vroeër as ander, het almal tog by die eindbestemming aangekom. Toerusting is vinnig gewas, sakke uitgepak en boodjies afgeblaas. Paar meisies het selfs kans gekry om te gaan stort voordat ons in die bus gejaag is. Klomp moeë, honger en vuil toeriste het die Breërivier vaarwel gewuif en vertrek na die naaste Spur vir die Terrash.

Zach het verjaar in die Spur en Johan kon niemand kry om hom te face in die burger kompitisie nie.

Vir die laaste maal het almal rustig gekuier voordat ons finaal die vlaktes van die Overberg verlaat het…

Leave a Reply