Tafelberg Kabelkarretjie

Dit was ‘n winderige Sondag oggend toe 20 opgewonde BTK’ners by Tafelberg sou opstap. Daar is eers gevrees dat die beloofte gratis kabelkarretjie rit nie sou gebeur nie, weens die wind. Die beamptes by die karretjie gesê het die wind gaan heeldag waai (alhoewel dit soos ‘n briesie gevoel het) en dat die karretjie nie sou ry nie. Min wetende dat moeder natuur te werke sou gaan…

Ons het by die “N1” van Tafelberg, naamlik Platteklip Gorge opgestap. Die tweede stap groep het ‘n ietwat ander roete gevolg wat blykbaar ‘n draai deur die boendoes gemaak het. Die twee stap groepe het mekaar plek-plek gesien op die berg. Die eerste groep was onder leiding van Reinhardt Venter en die tweede onder leiding van Anton Kraemer. Langs die pad is vele ywerige drawwers teëgekom wat die berg sommer so draf-draf aangepak het. Daar was gerugte dat die groot hoeveelheid drawwers te wyte was aan een of ander marathon wat daar plaasgevind het. Na ‘n steil 800m se klim het die kloof homself ontvou en vir ons die “tafel” van Tafelberg ontbloot. Wolke soos mis het oor ons neergedaal en die ergste is gevrees rakende die karretjie rit vir later. Die mistige paadjie na Maclear’s Beacon, wat die hoogste punt van Tafelberg is (1084m), het soos ‘n wandel in die park gevoel na die steilte van Platteklip. ‘n Welverdiende middagete is geniet by die baken en die uitsigte oor die Kaapse skiereiland tot in Valsbaai is bewonder. Van daar kon mens van Muizenberg, Stellenbosch tot in Groenpunt sien (en dis wyd). Tydens ete is daar lekker gesels waartydens Murray sy kennis van liefde met ons meegedeel het. Met sy mediese kennis meen hy die liefde is swak vir mens se hard en dat dit uiteindelik lei tot ‘n vroë dood. Al die ouens kan daaroor getuig Murray…;)

Tydens middagete het die weer mooi verbeter en die windjie gaan lê. Die tydsindeling kon nie vir ons beter gewees het nie. Ons het die goeie nuus gekry van ‘headquarters’ dat die kabelkarretjie weer oopgemaak is en ons met dit sou kon afkom. Na ‘n entjie se stap terug na die kabelkarretjie met uitsigte oor Kaapstad van 400m hoë kranse is daar weer gestop by die restaurant. Ons kon dit net nie help om eers ‘n koffie en roomys te koop by voor die rit met die berg af nie. Die karretjie rit was ongelooflik en alles het vreeslik skielik tot ‘n einde gekom. Ons wil graag hierdie geleentheid gebruik maak om Carla van GivenGain dankie te sê vir die reël van die kaartjies. Ons wil julle ook aanmoedig om vir tafelberg te stem as een van die nuwe 7 natuurwonders van die wêreld by http://www.votefortablemountain.com/. Doen dit sommer nou!

— Reinhardt Venter