Namakwaland 2025
Deur Hannah Botha
Proloog
Dit gaan oor die klein dinge in die lewe, soos kondensmelk op jou vinger, 7:30 in die oggend… in ‘n dam vol waterlelies te bad terwyl die son sak… te skoffel-skoffel in die stof en sand… of doodeenvoudig jou hart in die Namakwaland te verloor…
Dag 1: Afwagting
Die koue van die winter smelt weg, die aanbreek van ‘n nuwe seisoen. Goue, sonstrale strek oor die berge. Ons verlaat Stellenbosch. 6 ure, 468 km, en ‘n leeftyd van moontlike ervarings wat voorlê. Bene is lam gesit, nek seer gele, maar ‘n diep opwinding begin te borrel, want die mooie Namakwaland lê voor.
Na die lang busrit klim ons af by ‘n oulike klip-kerkie in die middel van Kamieskroon- afgeleë, maar nie vergete. Ons is verwelkom deur die kerkbasaar tannies, asook Oom Karl en Tannie Theresa. Hier open ons met gebed en oom Karl lees Psalm 121, wat op die randsteen van die kerkie gegraveer is: “Ek kyk op na die berge; waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE, wat die hemel en aarde gemaak het.”
De Magtige Koning word gesing en ordentlikheids praatjies is gedoen. Jacobus is as slot aangewys, Marietjie as sleutel; vir die dag. Omdat vandag die eerste dag is, stap ons maar net 6 km. Die N7 sit aan ons linkerkant, en ons is omring deur die Namakwaland berge. Die warm son bak op ons gesigte, ‘n voorsmakie van die sonlig wat nog kom.
Op oom Cornelis Genis se plaas word skiet oopgemaak; dis net stof en mense wat hardloop en op een been knieel om die bekende vraag, “sal jy met my slee” te vra. Tente word in die kloof op geslaan; kort voor lank is almal vars “gestort” en liedere soos “Klein Tambotieboom” hang in die lig. Die sonsak brand helder, en die stokers is op hul pos. Kaas is gerasper, uie gesny. Vanaand eet ons nachos en mince; by vere ‘n gunsteling onder die groep!
Ons slee onder die sterre, die maan skyn in al sy glorie – volrond en helder! Slee skop af met SW se bekende “Balade van ‘n Sterwende Bok”, af gedra van generasie tot generasie… (gevolg deur snaakse dooie bok geluide…)
Koppe is verkoop, ouma en oupa maak ‘n verskyning en die pasiente is omtrent siek. Jian side-step al sy hele lewe lank, Jacobus kannie nies sonder om sy heupe los te twerk nie en… Pieter is swanger.
Hekels skop af met Schutte wat aan ons verduidelik hoe om baie mense met een pampoen te voer. Sy pampoenkoekies is beslis gewild onder die honger studente. En ja, ons soek graag die resep.
Talyah merk op dat Marialle eintlik so sterk is soos die average man. Martin spog oor sy ma wat ‘n “bombas” is.. Sy vat vas in die kombuis. Guillaume “strip”, net sy een been… ek bedoel, hy sukkel op sy broekspyp af te zip, en natuurlik word Marialle hieroor gehekel. En ons kannie vergeet van Jacques se bekende trademark nie… Hy is eintlik ‘n “bouncer by night, charmer by day.” Alle grappies op ‘n stokkie.
Die aandlied word gesing, “Grote God wat altyd waak. O, beskerm my deur U almag…” Slee behoort aan die mans, almal sien uit na ‘n goeie nag se rus.
Dag 2: Bitter-Soet
Voordat die stokers sing besluit ons om Bybel te lees en in die Here se sterk stilte te sit. Op ʼn rots sit ons, en kyk uit oor die vallei. Die vars oggend lug en gesuis van die stofies gee ons nuwe krag om die lang dag aan te pak. BTK pap, kondensmelk koffie en beskuit, is maar net van die klein dinge wat aan ons vreugde verskaf. Vir die mans, is orige lensies en mince nog meer van ‘n bederf…
Talitha verjaar vandag! Vrolik en opgewonde, neem sy elke oomblik van die verjaarsdaglied in en vertel trots dat sy vanoggend haar “birthday glow,” dra.
Vandag se stap skop af met ‘n paar stywe bulte. “Hierdie bult gaan ons hella boude gee,” merk Jacobus op. Buiten dit, brand ons kuite ook… Maar, man is man, ons vat vas en durf die rots aan – huig en snik na asem. Tree vir tree, al moet ‘n man ons dames van agter af stoot. Op verskeie plekke van ons 400 m klim droom ons oor ‘n yskoue bier en ‘n jakuzi wat uitkyk oor die vallei.
Dis uiteindelik game break op die bokant van die rots, en ‘n tevredenheid spoel oor ons. Die wit vlinders dans om ons en ons kyk terug om te sien hoe ver ons al geklim het.
Na ons “seven stages of grief”, is dit “suns out, bu… guns out,” en die peak van human performance (minder bekend as Frederick Botha), stel voor dat as ons val “val ons aan”. Dat sulke wysheid eendag tot niet moet gaan.
Ons stap in die kloof in, om oor middagete ‘n seil neer te lê en middag broodjies te eet. ‘n Sagte sny witbrood, roomkaas, en vyf snye salami… Dit se genoeg. Diep vreugde.
Nog broodjies word gesmeer met peanut butter en kondensmelk. Magies vol, ogies toe. Salig lê ons onder ‘n boom se skaduwee. Omring deur skakerings van geel-goud en oranje. ‘n Koel, sagte windjie koel ons af en die gefluit van ‘n voëltjie sorg vir ‘n goeie middag slapie.
“Sakke op” en ons stap weer verder. Ons leer Portugees, praat oor ons drome en lag oor die eenvoud van die lewe. Die son bak warm op ons skouers, enkele bye bestuig die helder blommetjies wat ons omring. Aanvanklik luister ons net na hul soet, monotone gesang, maar die kalm bars binne oomblikke wanneer ‘n voet onverwags die korf tref. Ons is omsingel met ‘n storm vlerke, angels en paniek. Brandpyn waar die bye ons steek. Vinnig probeer ons na veiligheid hardloop, en is ontmoet met Allergex en game om te kalmeer en die angels versigtig te verwyder.
Nog so ‘n paar BTK eenhede en ons arriveer by ons slaapplek vir die aand. Na die chaos van die middag besef die Botha boeties hul tent het iewers langs die pad weggeraak. Hoopvol pak hulle die berg weer aan.
Met geen lopende water nie, maar ‘n groot dam vol waterlelies hoop ons maar dat die water-suiwerings tablette hul werk doen. Tente word in die oop veld opgeslaan, en ‘n verfrissende bad in die dam sorg dat ons skoon en vars voel na die dag se stap.
Na 600 m se klim en 40 minute se soektog, kom die Botha boeties uiteindelik, kort voor donker, by die kamp aan. Verlig en dankbaar. Almal is klaar gebad en skoon, die stokers se stofies suis alweer.
Daar is net nog “1 uur, 20 minute en eitlike sekondes…” Intussen staar ons in bewondering op na die sterrestel en maan verduistering- bloedrooi en volrond.
Tydens aandete kan SW nie genoeg beklemtoon hoe werklik dankbaar hy is dat die knoffel gebruik word nie. Die “hot girl walk” van vandag het meestal bestaan uit knoffel deur die manne se sake ruik. Kehan se 10 jaaroue whiskey is darem meer as genoeg om “die edge” af te vat, terwyl ons in afwagting uit sien na Pesto en Sundried Tomato Pasta. Soos die kokke pasta skep, pak die kosgroepies af oor die dag. Dis ongelukkig weer “roast Talitha tyd” in die Sewejaartjies groepie en SW probeer weer matchmaker speel met Kyan-ti en Ke-han (want hulle name is blykbaar baie eenders). SW se pogings is nie suksesvol nie.
Theuns Jordaan sing vir Demi Levato, “what a power couple”. ‘n Tap danser sonder ritme vlei vir Money Money Mister Crabs. Die Arabier, sonder ‘n toon, vind liefde in ‘n slap tjippie. Jacobus-en-Pieter-se-alter ego raak beste maats met die Hoender met asma, en ou Liewe Heksie, of wel, Stoute Heksie, wil ‘n sigaret koop, maar vind liefde in die winkeleienaar…
Wat items betref kyk almal stuk-stuk Blou-Yskas. Niemand onthou eintlik enige iets verder nie, tussen die gesnork en ligte gape- aanduiding van ‘n lang rowwe dag se stap.
Hekels maak oop en edelagbare oom Karl is gevra wat Marialle bedoel het toe sy se, “Ek boer in Eendrag.”
“Dit is wat dit is…”. Iemand wonder, “Hoe was die oes?”. *stilte*
Ons bevestig dat Fred bekend staan as die Peak of Male performance (ug uhm, dankie Muller vir daardie opmerking…)
SW verduidelik aan ons hoe om na 10, 20, 30, 40 jaar verlief te bly, “Jy raak net weer en weer verlief.”
Martin spog liggies oor sy glutes wat “unmatched” is, en Marialle se voet-fetish, wel, kom ons se maar net, “Moenie haar kwaad maak nie, want anders byt sy jou tone…”
Edelagbare oom Karl, ons is almal baie moeg, hekels moet nou maar toemaak sodat ons net kan gaan slaap…
Dag 3: ‘n Meisie op jou “hande” dra
Dagbreek en ons proe klaar die warm, sterk koffie. “Pampoen” en “My Hartjie my Liefie” weergalm deur die vroeë oggend lig. BTK pap en swart koffie in bialetties, filters en aeropresses word aangemaak en gedeel. SW het alweer iets te se oor “die Bothas” wat nie boundaries het nie…
Tente word afgeslaan, waterdraers maak hulle papsakke vol, sonroom is gesmeer en hare word in ‘n treintjie gevleg. Jacobus vleg Carla se hare, Carla vleg Hannah se hare, ‘n kombinasie van Duitse- en Fransevlegsels.
Bucket hat secured, shades aan, sonbrandroom gesmeer en vandag verjaar Kobus “money, money” van der Westhuizen! “Yass queen, today is your day,” a classic Kobus one-liner.
Ons “slay-day” begin met ‘n lekker stappie tot by die oorblyfsels van die oorspronklike Kamieskroon kerkie. Blykbaar, eers nadat hulle die kerkie gebou het, en die dorpie probeer vestig het, het hulle besef die stuk grond is te klein vir ‘n hele dorp, en begin toe êrens anders bou. Spieëlkop kan nog van hier af gesien word, en ons staar in bewondering op na die res van die bergreeks wat ons omring.
Van die historiese oorblyfsels dra die manne ons dames op hul rûe om dorings te vermy en veilig weer by ons sitplek onder die boom te kom. Hier word skiet oop gemaak in die stof en sand. Eers dink ons, mense word weer deur bye gejaag (mmm, bietjie PTSD na gister se “insident”), maar besef vinnig dat dames-skiet oopgemaak is. Carla gee nie eers vir SW ‘n sekonde se kans om weg te hardloop nie, voordat sy hom vinnig in ‘n hoek druk en vra, “sal jy met my slee…” Marialle “COMMIT!!!” en hardloop heen en weer, in sirkels, om vir Muller te vang.
En toe, die oomblik waarvoor ons almal uitsien… ‘n Afkoel- en haarwas sessie in die dam, tuna en mayo broodjies eet ons onder ‘n seil (een man per stapstok-poot), en stilte… Of wel, 11 minute en 41 sekondes van stilte- ‘n rekordtyd vir Marialle. Gustav gaan op ‘n “soul-searching” avontuur en bederf ons meisies met blomme, “what a lad”, hy vlei ons. Tip nommer een, manne: dis nie so moeilik om ‘n meisie se hart te wen nie, dis die klein goed wat raakgesien word… Kyanti soek graag ‘n aandeel in Muller, en Muller vang nie die “hint” nie. Hy soek eerder graag ‘n aandeel in Fred se oormaat geblikte pilchards en tamatiesous.
Na middagete durf ons weer die hitte aan, maar nie voordat ons, ons quick-dry handdoekies nat maak en soos Shaylas om ons koppe bind nie (soos ʼn serp om ons gesigte gevou) – ‘n stukkie Midde Ooste hier in die Namakwaland.
Dis net berge en blomme en kunstenaars. Ons sing. Ons dans. Ukelele. Bekfluitjie. Engelstemme.
En wanneer die dag lank word, weet ‘n BTK-man hoe om ‘n meisie op sy “hande” te dra. Sonder moeite dra Schutte, letterlik, vir Ingrid op sy skouers (ter selfde tyd dra hy ook sy Stoorman-rugsak!). Tip nommer twee, manne: “die ekstra moeite is altyd die moeite werd”…
Ons slaan tent op tussen skakerings van helder geel en oranje blomme. Die riviertjie is opgedroog, maar die dames maak steeds mooi… want vanaand is dameskiet.
Die son het ons wange rooi gekleur- natuurlike blos. Ons lippies- glans warmrooi van ”Juicy Bomb”. Rooi nekdoekies is soos kopbande gebind, reg om die oomblik in fotos vas te vang, terwyl die daglig sy laaste asem uitblaas. ‘n Sielsrus hang in die koel aandlug. Vanaand sien ons die melkweg en ‘n sterrestel wat ons herinner aan die Here se beloftes. Matthys speel kitaar, ons sing saam, “Bless the LORD oh my soul, we’ll worship His Holy Name.”
“Talitha, vertel ons ‘n storie!” ‘n gewilde opmerking onder ons groep. En so word Switserland se stories vertel oor ‘n oorvol bakkie Alles-Wat-Lekker-Is… Biltong, chutney, rys en kips! Gevolg deur die geliefde Beertjie Poeding- ryk en romerige sjokolade poeding met Biscoff koekies.
Vanaand se slee is afgeskop met “Hans en Mans”. Muller (Hans) proe die vrot vis en is verskrik deur ‘n mondvol sand. ‘n Wille tweeling (Talyah en Marialle) skop en skree vir Princess en Rainbow gegeurde roomys, terwyl hulle hang op die “2 suckers op ‘n stick”. “The Jills” bring nog meer vermaaktheid, toe “Little Joe” shot, shot, shot, shot, shoshotttt is… in haar houtbeen. Flip, Flippert, Frik, Frikkert (watookal sy naam was) sit vas in meneer Fourie se drankwinkel, hy rook ‘n lekker sigaret en suip Amarula tot die vroeë oggend ure… “Edelagbare oom Karl” sonder konteks:
“Wat het Jian bedoel toe hy vir Stefani ‘n vet vark genoem het? Of toe hy vir Kobus se om te dink aan ‘n zyn in sy mond sit wanneer hy De Magtige koning sing?”
“Ek soek ‘n aandeel in Muller…”
“Ek dink jy het genoeg geëet.” (Daar’s geen tuna in die sewejaartjies groepie nie, net BEEF…)
En so kom nog ‘n heerlike aand in die Namakwaland tot ‘n einde. “Dan lê ek my rustig neer, dood of hel sal ek nie vrees nie, want U is my Rotssteen Heer.”
Dag 4: Lofprys aan Hom
‘n Vroegoggend vuurtjie brand, en die son begin stadig oor die berge loer. Ons sit, knus toegedraai in ons slaapsakke, en staar in bewondering uit na die berge wat ons omring. Stokers se lofliedere “loof Hom, prys Hom Hallelujah”, hang salig in die lig. Tente word opgepak, en ‘n ligte mis trek oor ons toe. Hare word weer gevleg en Bobby van Jaarsveld, One Direction, Mamma Mia classics en golden oldies soos Toto speel oor Kyanti se luidspreker.
Tannie Theresa lees uit Psalm 33, “Dank die Here met begeleiding van liere, besing Hom met tiensnarige harpe. Sing vir Hom ‘n nuwe lied; speel mooi snaarinstrumente met uitroepe van vreugde.”- ‘n Vooruitspelling van die gesang en dreuning van die bokant van die heuwel. Sonder sakke stap ons ‘n sirkel roete tot bo op ‘n koppie waar Marialle ukelele speel en sing, en ons volg. So ook volg die motreën en ‘n koel, verfrissende wind- die Here is hier teenwoordig…
“Sakke op,” is geroep nadat ons waterbottels volmaak; en die grondpad word weer aangedurf. Ons stap in die stof, en die son maak weer sy verskyning. Dit bak warm op ons gesigte, terwyl ons jolig gesels oor ons liefde vir piesangbrood en ‘n biertjie. Game break- en ons stop om te rus onder ‘n brug. Uiteindelik bietjie skaduwee.
Die speaker word weer aangesit en ons skoffel-skoffel op Afrikaanse musiek in die stof en sand. Kinderlik opgewonde en tevrede – dis so maklik om Stellenbosch studente gelukkig te maak! Pretzels en grondboontjie botter, nartjies en yskoue, soet game, “Dit is FINOMINAAALLL (in growwe-mansstem)” merk Marialle op. Ons stap verder om in die dam op oom Cornelis Genis se plaas te swem en middagbroodjies te geniet.
Skiet is oopgemaak voordat ons eet. Frederick hardloop agter Karla aan. Met die duikslag eindig sy broek op sy enkels.. SW jaag vir Kyanti, hulle swem vir ‘n paar minute net in sirkels totdat hy haar vang… En Marietjie, sy is “oor-it” en besluit om op haar stoel te bly sit wanneer Jacobus haar vra of sy al geskiet is…
Afkoel in die dam, middagslapie op die syl, Provitas met tuna en mayo, peanut butter en jam… Dis tog te lekker om aan niks anders te dink as, “watter ander weird kombinasie kan ek op Provita eet.”
Ek leer by die Daisies oor die “Hikersdownfall cocktail”, wat beslis ‘n resep is wat op volgende toere benut moet word:
- 100 mL Bugu Brandewyn
- Mango & Pineapple flow electrolytes (meng dit eers by die brandewyn, en wanneer dit ophou borrel kan jy die ander bestandele bygooi)
- 3 x scoops Game (nartjie)
- 500 mL water
Met nog so kilometer om te stap voordat ons by ons slaapplek kom vir die aand, trek ons crocs en plakkies aan en stap die laaste stukkie grondpad. Vinnig verander die grondpad in ‘n krieketveld. Pieter se stapskoen word die kolf, Jacobus bowl, en Carla bat net sesse. Wolke stof dans om ons voete terwyl ons lag en agter die bal aanhardloop.
En natuurlik, die bekende DTF (Down to Frolick) moes ‘n verskyning maak. Kobus se Amarula word diep waardeer, en die icy zoos word vinnig opgeëet. Die son sak stadig, die veld gloei in pienk en oranje. SW verras ons met bier en skaaptjoppies – ‘n beantwoorde gebed van vroeër vanmiddag. Vuur is weer aangesteek en ons kuier lekker terwyl die kokke op hul poste is.
Vanaand eet ons mieliepap, smoor en wors. Pieter maak pap soos ‘n swart vrou in Zambia – ervare, ‘n ou hand met die houtlepel. Tussen die lag, stories en eenvoudige kos, besef ons dit is ons laaste aand op toer.
“Let’s get the slay on the way,” roep Kobus (“Money Money”), sy mond nog vol taai malvalekker terwyl hy nog aan ’n “s’more” kou. Vanaand maak ons die laaste van ons sleelekkers en -sous klaar. Amarula en vla – hoogs underrated, timtams en sparkling water, en ‘n “Bless Aeropress” warm koppie swart koffie sorg vir ‘n lekker slee vanaand.
Vanaand se Items:
Talitha is switched on by the Imbiscles and Capitan. Agnes deo is ‘n “Must, so hier is ons om te sing…”. Jian en Jakes maak “4” .
Troepe hou ons op die punt van ons stoele… “Hier kom ‘n “trop” mansmense”. Die “Money Money” hond “waf waf” net heeltyd. Een troep se ma is oorlede terwyl sy haar seun se khaki hemp was, “tra-jic”. “Hoekom khaki hy in sy hemp,”- Troep Botha. Troep Botha se ma is toe oorlede toe die kunsmis in haar koek ontplof, ‘n herbal-life is toe nou nie die play nie. En troep van der Westhuizen se broek skeur… Sersant lei nou nog aan PTSD…
Maar, die hoogtepunt, of wel hoofpyn punt, van die items, was Salome. SW sing saam. Nekdoekies is op die kop en om die nek gebind. Marietjie nies, headbutt vir Marialle, sy val voorentoe, en “domino-e” nog drie meisies… en ja, Marialle het die volgende oggend met ‘n hoofpyn en ligte concussion wakker geword…
“Cinema” volg, met die liefdes-stryd tussen Talitha en Fred, met ‘n kwaai Kobus en Pieter tussen die twee.
In die 6-Botha item roep Fred (pappie), “Mmm, uhm, uhm, Pappie bly net hier, Pappie was al by baie begrafnisse gewees,” uit wanneer Carla (mammie) nie meer in die prentjie is nie…
Schalk Willemina en Jianina “debrief” alweer oor die afgelope staptoer, elk met ‘n Plato koffietjie in die hand. Hierdie BTK-meisies “loveee” ‘n stukkie Nivea room en ‘n crop-top. “Vriendin, daar was nooit water nie… en dan verwag hulle dat ons stilstande water drink, imagine that…”
Edelagbare oom Karl…
Schutte: “Volgende maak ek hom reg… (Beduie na Pieter)”. Drakensberge 2025 bewys dat Schutte eintlik enige wilde perd kan mak maak…
Fred: “Muller, jy het mooi nipples…”. Eintlik, Fred het gese, “rooi”, nie mooi nie…
Guillome: “When nature calls, and it’s a missed call…”. Dankie tog hy het verwys na Stefan se pastei-storie!
Andrew: “Sit jou arms om my Jakes…”. Wel, “dis een manier om te vra dat iemand jou rug knak”…
Pieter: “Gee my 2 Melbrows, 12 jaar en ‘n Henessey, dan sing ek hom vir jou…”. Geen konteks, dis maar net
Pieter…
Toermaters, so kom ons laaste aand tot ‘n einde… “Hoed my as ek my gaan neerlê, Grote God wat altyd waak…”
Dag 5: die Namakwa-vlaktes
Mis hang vanoggend laag. ‘n Vuurtjie knetter in die duisternis, en die stokers se liedere vul die lug met vreugde en soetheid. “And then I saw her face, now I’m a believer,” en “Sweet Caroline” bring aan ons genot; die beste wekker na ‘n goeie nag se rus.
Vanoggend leer ons van die THAT (Talitha se Handboek van die Afrikaanse Taal) terwyl ons ontbyt eet. Sy verduidelik aan ons wat grievels is, “die dun stukkies beskuit of koffie aan die onderkant van die koppie, wat absoluut noodsaaklik is om te meng.”
Vir oulaas word tente gesak, en die ligte motreën begin val. Dames kamp is verras met ‘n stroom water wat van die middel van die kamp af begin vloei. ‘n Pyp is raakgeslaan met die tent-op-slaan, en toe Nikoali die tentpen uittrek, is dit net water wat volg. Vinnig skarrel ons om tente te skuif. Die manne spring vinnig in, en die situasie is binne minute onder beheer. Almal ontspan, en die meisies besluit dis weer tyd vir bietjie musiek… kort voor lank dreun Vrystaat Vlaktes oor die luidspreker, en Naude vra vir Laurika om te dans. So in die stof – ‘n prentjie van genot en vreugde!
In vanoggend se stiltetyd lees oom Karl vir ons uit Spreuke 12: “Daar is skinderpraatjies wat soos dolksteke is, maar die tong van wyses is ‘n geneesmiddel.” (AFR20 Bybelapp)
SW gee sy laaste toespraak as voorsitter en oorhandig sy walkie-talkie en medicsakkie aan Jian Slabber- “die BTK is in bekwame hande.” So word Jacques Robbertze, Hannah Botha, SW Zeeman, Chris-Marie Olivier en Pieter Botha maan toe gestuur.
“Stap so veel as wat jy kan,”
“Kom terug as jy kan,”
“Natuur genees dele van jou hart wat jy nie weet is seer nie,”
“Hier ontmoet jy lewenslange, hartsmense,”
“Dis die Here, Sy mense, en Sy skepping…”
Dis nou SW se beurt om te verjaar. Ons serenade vir SW; bietjie vals, maar uit volle bors met ‘n oorvloed van dankbaarheid vir alles wat hy vir die BTK beteken. Die manne tel tot drie… en SW vlieg deur die lug…
“En ons hardloop in die veld in”… nog 4km se stap en ons eindig weer by die kerkbasaar op Kamieskroon. Hier tel die bus ons op, pannekoek in die een hand, ‘n jaffel in die ander- en route tot Terrash.
In Piketberg stop ons vir Terrash. Die eerste toeriste is almal op hulle plekke, reg vir die kompetisie. “Roeiers, roei..” Na bietjie meer as 2 minute is Reuben se tjips, uieringe en burger opgeeet. Heinrich is kort op sy hakke, Gustav en Danie, nie te ver agter nie. Ons klim weer op die bus, om die laaste 114 km, tot in Stellenbosch, te ry…
“Ek het my hart verloor
Langs ‘n stofpad in die Namakwa waar die
Vlaktes en berge toor
En van vreemdelinge hoofkarakters maak
Sal jy verder skryf aan hierdie storie saam met my?
Jou hart verloor langs ‘n stofpad in die Namakwa”
En so is nog ‘n toer verstreke. Die ou lede maak klaar, en die nuwe tree nou in. Ons kyk terug oor die afgelope 5 dae, en kan bevestig, dit is wel die “klein goed” wat die lewe net soveel soeter maak. Eerste lig na ‘n goeie nagrus, soetheid van die wraak na ‘n lang dag se stap, hare was in die dam oor middagete, kondensmelk koffie en Ouma beskuit, en sing-sing en dans-dans deur die Namakwaland saam met vreemdelinge, nou vriende…
Met trots, en ‘n oorvloed van dankbaarheid vir drie van die bestes, se ek vir nou “totsiens, lewe lank, lewe lank, BTK.”
