Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Toepassings

Maties toepassing bekendgestel

Vrydag, Augustus 26th, 2016

Die blinknuwe screenshot1Maties App is verlede Woensdag in die Neelsie bekendgestel, maar moenie FOMO ontwikkel omdat jy dit misgeloop het nie. Hier is alles wat jy moet weet.

Die Maties App is ʼn gesamentlike poging tussen Informasietegnologie en Maties Sport. Dit het ontstaan met die idee om ʼn enkele platform te skep waar personeel en studente interaksies kan hê oor verskeie aktiwiteite wat op kampus gebied word.

Die toepassing poog om ʼn aktiewe lewenstyl te bevorder en personeel en studente betrokke te kry by kompetisie-gebaseerde leierborde. Gebruikers kan hulle gunsteling Maties sportspanne volg en ook die nuutste resultate, nuus en speelbeurte sien. Studente kan weer tred hou met hul groepe (clusters) of koshuis se plasing in kampuswye kompetisies.

Die doel was om ʼn mobiele toepassing daar te stel wat kan dien as ʼn aanvanklike basis vir verdere ontwikkeling saam met belanghebbendes. Terselfdertyd moes dit dadelik ewe veel waarde bied aan die gebruiker en die universiteit. 

ʼn Groter verskeidenheid aktiwiteite en geleenthede sal mettertyd op die Maties App gelys word. Tans kan gebruikers reeds ʼn verpersoonlikte lys van gebeure waarin hulle belangstel en gaan bywoon, sien. Dit kan dan bygevoeg word op jou foon se kalender en met vriende gedeel word.

Soos met ander sosiale media platforms, kan jy sien hoeveel mense ʼn geleentheid of aktiwiteit bywoon. Jy kan selfs aanmeld (check-in) by geleenthede sonder ʼn papierkaartjie deur ʼn QR-kode te laat skandeer.

Aan die ander kant van die spektrum kan organiseerders van geleenthede maklik inligting oor belangrike geleenthede versprei en vinniger en meer effektief studente aktief en betrokke kry. Organiseerders kan ʼn idee kry van die hoeveel geïnteresseerdes en wie aangedui het dat hulle die geleentheid wil bywoon. Dis nie nodig om ʼn ingewikkelde vorm te gebruik nie. Die gebruiker is reeds aangeteken en sy details is sigbaar.

ʼn Ekstra voordeel van die Maties App is dat gebruikers maklik nuwe, opgedateerde inligting oor gebeure, sowel as kampuswye kommunikasie, kan ontvang. Enige boodskap kan direk na gebruikers se fone gestuur word en dit kan geteiken word tot ʼn spesifieke geleentheid of demografiese groep (byvoorbeeld studente, personeel of almal) Hierdie funksie is besonder handig gedurende noodsituasies wanneer inligting vinnig by studente en personeel moet uitkom. 

Is jy nuuskierig om te sien hoe dit lyk? Kyk gerus die video hier of lees die artikel op die US-tuisblad.

Die Maties App kan gratis afgelaai word by die Google Play store. Laat weet ons wat jy daarvan dink en wat ons kan doen om dit te verbeter?

 

Leer = kinderspeletjies: Toepassings vir kinders

Vrydag, Julie 22nd, 2016

kids-appsNadat Barney, die dinosourus, of Lollos, die onidentifiseerbare kreatuurtjie met die groot ore, vir die sewe-en-twintigste keer dié week dieselfde liedjie gesing het, mag menige ouer benoud begin soek na iets anders –  al is dit net ter wille van hul geestesgesondheid. 

Videos en televisie is lankal nie meer die enigste beskikbare opsies vir ʼn gefrustreerde ouer nie. Vandag verskaf tegnologie nog ʼn handige platform wat kinders besig kan hou, waar hulle vaardighede kan aanleer en kennis insamel. Slimfone en tablette kan maklik propvol speletjies, toepassings en flieks gelaai word.

Daar is wel nog éen uitdaging – hoe maak jy, as ouer, goeie, veilige en opvoedkundige keuses, wat ook jou kind se aandag vir so lank as moontlik kan behou?

PC Advisor, een van die Verenigde Koninkryk se vooraanstaande tegnologie- en mediamaatskappye, het die dinkwerk vir ouers gaan doen. In samewerking met ʼn groep ouers, het hulle ʼn lys van 46 toepassings saamgestel en op hul webwerf publiseer.

Die keuses is onderverdeel in die beste toepassings vir babas, vir kleuters, vir primêre skool leerders en tieners. Moenie afgeskeep voel nie, daar is ook ʼn afdeling vir kinders van alle ouderdomme, dis nou jy.

Het jy enige voorstelle vir toepassings wat beide pret en opvoedkundig is? Laat weet ons gerus by bits.bytes@sun.ac.za en ons kan jou gunstelinge by die volgende artikel insluit.

Winter is fliektyd

Vrydag, Junie 24th, 2016

Die afgelope week se koue weer is genoeg om enigiemand te dryf na die naaste bank.

Ons blameer jou nie. Inteendeel, Popflake is `n toepassing wat jou kan help om jou tyd voor die skerm optimaal te benut.

Deesdae is ʼn goeie fliek so skaars soos hoendertande. Wanneer die geleentheid vir ʼn tydjie voor die skerm opduik, sukkel die meeste van ons om aan iets te dink wat die moeite werd is om te kyk.

popflakeDit is juis hierdie dilemma wat ʼn groep studente motiveer het om Popflake, ʼn toepassing wat flieks opspoor met behulp van sleutelwoorde, te ontwikkel.

Al wat jy moet doen, is om die sleutelwoorde te kies wat opsom wat jy in ʼn fliek soek. Byvoorbeeld, “horror”, “teenagers”, “woods” –  nie die beste voorbeeld nie, maar julle verstaan die beginsel? Die sleutelwoorde is veronderstel om verskeie aspekte van die fliek te beskryf.

Wat Popflake onderskei van Wikipedia of IMDB, is dat dit probeer om nie die storielyn weg te gee nie. Anders as wanneer jy Wikipedia raadpleeg en voor jy jou oë uitvee, weet jy hoe die fliek eindig.

Al die flieks word met die hand etiketteer. So ver het die beta gebruikersgroep 820 flieks klassifiseer. Hulle het egter ook jou hulp nodig om die databasis uit te brei. Om deel te wees van die proses, los net vir hulle ʼn boodskap op hul Facebook-blad en jy sal toegang kry tot die databasis.

Popflake wys ook die fliek se telling, soos aangedui op Rotten Tomatoes, IMDB, en Metacritic.

Die toepassing is tans slegs beskikbaar vir iPhone, maar ʼn Android-weergawe word wel ontwikkel. 

 

Is jy `n aspirant wetenskaplike?

Woensdag, Mei 25th, 2016

sciencejournal

sciencejournalGoogle het onlangs ʼn toepassing vrygestel wat jou innerlike wetenskaplike sal aanwakker. Science Journal meet en neem intyds data op deur middel ingeboude sensors in Android-fone.

Met die Science Journal-toepassing kan jy data insamel vanuit jou omgewing. Die toepassing gebruik die foonsensors om lig en klank, te meet, sodat jy die data grafies kan voorstel, eksperimente kan opneem en vrae en idees kan opneem.

As jou doel is om die wêreld oor te neem soos ʼn wafferse, bose wetenskaplike, is hierdie dalk nie heeltemal vir jou nie. Dis wel gepas vir in plaas van klein eksperimentjies vir jou eie vermaak.

Die hoofdoel van Google se nuwe projek is om kinders opgewonde oor en betrokke by wetenskap te kry. Moet egter nie dink volwassenes kan dit nie geniet nie; hulle kan net so lekker weteskaplike speel. 

Science Journal is deel van Google se groter inisiatief, The Making & Science Initiative. Dit glo dat enigiemand ʼn wetenskaplike kan wees as hy net die alledaagse dophou, probeer verstaan hoe dit werk en projekte skep wat dalk ʼn impak op die wêreld kan maak.

Met Science Journal kan jy ook ʼn digitale joernaal hou en notas maak van jou eksperimente – net vir ingeval jy `n wetenskaplike deurbraak maak en vergeet het wat jy gedoen het.

Die toepassing is gratis beskikbaar op die Google Play-winkel en jy het ʼn slimfoon met Android 4.4 KitKat nodig om die 14MB toepassing te installeer.

Lees ook meer oor Google se ander projekte, onder andere ʼn modulêre selfoon en slim klere.

 

Hoe veilig is inligting op jou toestel?

Woensdag, Mei 25th, 2016

Slimfone is dikwels die beheersentrum waar vergaderings geskeduleer, e-posse gestuur en sosiale aktiwiteite beplan word. Om dié funksie te vervul, vereis dit ons persoonlike inligting.

Ons doen en late word dokumenteer en gebêre in e-posse, sosiale netwerke en toepassings. Al hierdie informasie word vervolgens ook soomloos integreer met jou werkrekenaar en tablet. Na die eerste opstelling, is dit, in sommige gevalle, nie eers nodig om `n wagwoord in te tik nie. Wonderlike nuus as jy hopeloos is met wagwoorde onthou. Ook wonderlike nuus as jy `n opportunistiese skelm is wat slimfone steel.

Watter inligting sal `n slim misdadiger tot sy beskikking hê as hy vandag jou slimfoon in die hande kry? Bankinligting? `n Kopie van jou ID of paspoort wat erens gestoor is op e-pos? Al jou vakansiefotos op Dropbox?

Hier is `n paar wenke om seker te maak hy kry dit nie in die hande nie:

  1. Aktiveer altyd die wagwoord opsie om jou foon te skerm te sluit. Die meeste fone het verskeie opsies, byvoorbeeld om `n wagwoord in te tik, `n PIN-kode of selfs om in `n spesifieke volgorde `n patroon te vee. Hierdie is jou eerste en belangrikste afskrikmiddel.
  2. Moenie remember password op jou e-pos of ander toepassings kies nie. Ja, dit is irriterend om elke keer `n wagwoord in te tik, maar wil jy regtig hê iemand anders moet jou e-pos lees?
  3. Skakel cookies en autofill af. Dit keer dat jou toestel jou gebruikersnaam en wagwoord onthou en invul op webwerwe wat jy gereeld besoek.
  4. As jy toegang tot sensitiewe inligting moet kry, byvoorbeeld bankinligting, gaan eerder na die webwerf d.m.v. `n webblaaier in plaas van die installeerde toepassing.
  5. Stel jou foon op dat dit opgespoor kan word as jy dit verloor. (Lees ons vorige artikel oor die opsporing van verlore of gesteelde toestelle hier.) `n Toestel kan ook vanaf `n afstand skoongevee word om seker te maak jou inligting word nie misbruik nie, selfs al is jou toestel in die verkeerde hande.

Onthou dat jy ook, wanneer jy jou selfoon verkoop of daarvan ontslae raak, seker moet maak dat AL jou data daarvan verwyder is (bv. e-posse, foonnommers, SMSe, ens.) of enige inligting wat jou kan verbind tot die foon.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.