Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Toepassings

Wat is Microsoft Office 365?

Maandag, Junie 5th, 2017

Wat is die wolk?

Wolkdienste is ʼn wye beskrywing vir IT-dienste wat oor die internet verskaf word. Jou dienste word nie gehuisves op jou stelsel by die huis of werk nie, maar word elders gestoor en bestuur. Vandag gebruik baie dienste die wolk, soos e-posdienste (byvoorbeeld Gmail), datastoring (byvoorbeeld Dropbox) of fotostoring (byvoorbeeld Flickr). Omdat alles aanlyn of “in die wolk” lê, het jy feitlik vanaf enige plek op jou toestel toegang – solank jy ʼn internetverbinding het.  Nog artikels oor die wolk. 

Wat is Microsoft Office 365?

Office 365 is ʼn aanlyn, wolkgebaseerde toepassing van die Microsoft Office produkte. Dit sluit Word, Excel, PowerPoint, OneNote, Outlook, Publisher en Access (Publisher en Access is slegs beskikbaar vir PC) vir alle personeel en studente met aktiewe rolle, in.    

Wat kry ek?

 

  • Vyf aflaaibare weergawes van Office365 vir persoonlike toestelle, byvoorbeeld skootrekenaars, tablette en slimfone. Hierdie weergawes sluit NIE toestelle met batenommers in nie. 
    NB: Om die weergawes aktiveer te hou, moet jy ʼn personeellid of student wees met ʼn aktiewe rol. Aflaaibare weergawes se lisensies moet ook op ʼn maandelikse basis hernieu word, anders sal dit ophou werk.
  • E-pos: 50 GB posbus in die wolk.
  • Toegang tot die Microsoft Office365 aanlyntoepassings vanaf enige toestel verbind aan die internet.
  • Calendar: aanlyn kalender
  • Word: aanlyn toegang vanaf enige toestel
  • Excel: aanlyn toegang vanaf enige toestel
  • PowerPoint: aanlyn toegang vanaf enige toestel
  • People: aanlyn-kontakte
  • Planner: organiseer take en spanwerk
  • OneDrive: 5TB aanlyn stoorspasie
  • Teams: samewerking
  • OneNote: digitale notaboek
  • Class Notebook: OneNote vir klaskamers
  • Sway: Skep en deel interaktiewe verslae, aanbiedings, ens.
  • Forms: bou vorms vir opnames en deel dit sonder moeite met studente, ouers en kollegas.
  • Tasks: skeduleer take
  • Video: aanpasbare, maklik bruikbare portaal vir die oplaai en deel van jou korporatiewe video’s. 
  • SharePoint: aanlyn stoorspasie en deel van lêers.
  • Yammer: help om samewerking tussen jou en jou spanne te bewerkstellig. Voer gesprekke, werk saam en reël projekte. 

Wat is die verskil tussen die wolk en jou PC?

Nadat die skuif na die wolk, sal jy plaaslike data op jou rekenaar en op die netwerk (G en H: skywe) hê, maar jy sal ook data op die wolk hê. Dieselfde geld vir toepassings. Sommige toepassings sal plaaslik op jou rekenaar wees, terwyl ander wolkgebaseerd is. Die data op die wolk sal jou primêre bron wees, terwyl die kopieë op jou rekenaar en netwerkdrywe sinkroniseerde weergawes is.

Dieselfde geld vir jou Office365-toepassings. Om hierdie rede is dit belangrik dat jy tred hou met waar jy jou data stoor. 

Wat is die voordele van wolkdienste?

  • Meer stoorspasie beskikbaar – tot 5TB op OneDrive en 50GB op Outlook.
  • Jou data is beskikbaar vanaf enige plek, enige tyd en op enige toestel. Jy sal altyd toegang tot jou data hê as jy `ʼn internetverbinding het. 
  • Jou inligting word veilig gestoor, selfs al verloor jy een van jou toestelle. 

Wat is die nadele van wolkdienste? 

  • Raak vertroud met kopiereg-regulasies. Maak seker jy weet wat jy aanlyn mag stoor en deel. US kopiereg-ooreenkomste sluit nie die stoor en deel van dokumente wat beskerm word onder kopiereg op OneDrive for businessSharePoint online of enige ander publieke stoorspasies in nie.
  • Jy is volledig verantwoordelik vir jou eie inligting.  Wees versigtig vir wie jy regte en toegang gee, aangesien dit jou inligting in gevaar mag stel as dit sigbaar is vir ander mense. 
  • Jy is verantwoordelik vir die sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data. Sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data moet korrek opgestel word en op `ʼn gereelde basis uitgevoer word. 
  • Hou in gedagte dat die gebruik van wolkdienste terwyl jy op kampus is, nie enigiets sal kos nie, maar as jy tuis werk sal jou eie datakostes gehef word. 
  • Dit is baie belangrik dat jy jou privaat gebruikersname, wagwoorde en inligting apart hou van jou amptelike werk om te voorkom dat jou data deurmekaar raak. 
  • Digitale identifikasie is kwesbaar as jy toegang tot die wolk het vanaf enige rekenaar. Moenie rekenaars of toestelle wat jy nie vertrou nie, toelaat om jou wolkdienste te gebruik nie. 

Wat as ek OneDrive personal, Dropbox of ander wolkopsies gebruik? 

Jy kan aanhou om dit te gebruik, maar dis baie belangrik dat jy hierdie opsies slegs vir persoonlike data gebruik.

OneDrive for business en SharePoint online is beskikbaar onder die US MS lisensieooreenkoms vir stoor en deel van institusionele data. Stoor en deel van institusionele data word nie toegelaat op Dropbox, OneDrive personal of enige ander wolkstoorspasie nie. US kopiereg-ooreenkomste sluit nie die stoor en deel van dokumente wat beskerm word onder kopiereg op OneDrive for businessSharePoint online of enige ander publieke stoorspasies in nie.

Wat is die verskil tusse die verskeie stooropsies?  

 

ONEDRIVE

ONEDRIVE FOR BUSINESS

SHAREPOINT
ONLINE

DROPBOX

GOOGLE DRIVE

DOEL

Persoonlik

Besigheid

Besigheid

Persoonlik

Persoonlik

BESTUUR DEUR

Jou

Jou

Teamsite eienaar, moderator 

Jou

Jou

WATTER DATA MOET EK HIER STOOR?

Persoonlike lêers 

Werklêers
bv. Word of Excel dokumente, PDFs.

Lêers vir spanne om saam aan te werk.
Groot data lêers, ens.

Persoonlike lêers

Persoonlike lêers

HOEVEEL STOOR-
SPASIE?

5GB
(meer as die rekening voor Feb’16 geskep is)

5TB

Beperk tot jou werksbehoeftes.

Eerste 5GB gratis, betaal vir meer.

Eerste 15GB gratis, betaal vir meer.

DEEL VAN LêERS?

Ja, soortgelyk as Google Drive of DropBox.

Ja.
Jy bestuur die deelspasie en sekuriteit of lêer.
Eenvoudige weergawes.

Ja, `n area vir spanne om saam te werk; bestuur deur moderators.
Mees eenvoudige struktuur.

Ja, baie eenvoudig.

Ja, baie eenvoudig.

Moet ek nogsteeds my data rugsteun as dit in die wolk gestoor word?

Ja, dis altyd voordelig om meer as een weergawe van jou data te hê, verkieslik ook op verskillende plekke. .

 

 

SUNLearn mobiele toepassing nou beskikbaar

Woensdag, April 26th, 2017

Informasietegnologie het sopas `n nuwe SUNLearn mobiele toepassing ontwikkel en dit kan nou afgelaai word. Die toepassing is beskikbaar vir Android-, sowel as iOS-toestelle. Jy kan dit ook aflaai deur die QR-kode aan die regterkant te skandeer met jou foon.  

SUNLearn is Universiteit Stellenbosch se kragtige, oopbron platform vir gemengde leer en onderrig.  Die stelsel is maklik om te leer en kan deur beide personeel en studente gebruik word. `n Volledige gebruikersgids is ook beskikbaar. 

Die SUNLearn mobiele toepassing kan gebruik word om:

– die inhoud van jou kursusse na te gaan, selfs wanneer jy nie aanlyn is nie, 
– intydse kennisgewings van boodskappe of gebeure te ontvang,
– vinnig ander persone in jou kursusgroep op te spoor en te kontak,
– grafika, oudio, video en ander leêrs op te laai vanaf jou mobiele toestel,
– jou kursuspunte te sien, ens.

Volledige funksies kan hier gesien word.

Studente wat die stelsel vir die eerste keer gebruik, sal by die Student training skakel verskeie hulpbronne, videos en selfhelpgidse vind. Onthou dat die SUNLearn mobiele toepassing jou nie enige data gaan kos as jy op kampus d.m.v. Maties WiFi of die netwerk daarop aanteken nie. Jy het dus ook nie nodig om Inetkey oop te maak nie. 

Die SUNLearn ondersteuningspan kan bereik word by learn@sun.ac.za of 021-808 2222.

Aandag alle teësinnige ontwerpers

Maandag, April 24th, 2017

Of jy ʼn aspirerende, teësinnige of professionele ontwerper is, soms moet jy `n pamflet, plakkaat, advertensie of vorm van grafika saamflans.

Canva ʼn Australiese maatskappy, is in 2012 begin om gebruikers in staat te stel om maklik grafika te ontwerp, vir watter doel ookal. 

Die gewildheid van die webwerf het vinnig toegeneem en binne die eerste jaar is 750,000 gebruikers registreer. Op die oomblik het Canva meer as 10 miljoen gebruikers in 179 lande en word dit geag as een van die maklikste grafiese ontwerpplatforms tans beskikbaar.

Die grootste uitdaging met grafiese ontwerp, is om die sagteware onder die knie te kry — gewoonlik ʼn tydrowende proses. Sagteware soos Adobe Photoshop is duur en  ingewikkeld. Canva skakel die leerproses uit en verwag nie dat jy ʼn kundige ontwerper moet wees om dit te kan gebruik nie. Hoe kry hulle dit reg?

Eerstens vereenvoudig Canva die ontwerpproses deur ʼn intuïtiewe sleep-en-los proses te gebruik wat dit maklik maak om elemente by te voeg, verwyder of redigeer. Verder is daar 11 template beskikbaar of jy kan jou dokument van nuuts af ontwerp. Dit bied ook 8000 gratis en betaal-uitlegopsies.

Laastens is daar ʼn gratis funksie vir fotoredigering, ʼn kleurpalet-genereerder en ʼn databasis met meer as `n miljoen foto’s, grafika en lettertipes. Van die grafika is slegs beskikbaar in die Premium-pakket en kos $1 per foto, maar jy kan ook maklik jou eie grafika oplaai en gebruik.

Al hierdie bronne kan gebruik word vir beide web- en printmedia ontwerp en grafika. Canva is gratis vir individue, maar bied ook ʼn ‘Team’ opsie teen $12.45/maand.

BRONNE:
www.wikipedia.org
http://www.pcworld.com
https://www.cnet.com
http://socialconceptsconsulting.com
http://sociallysorted.com.au
https://beautifulpixels.com
http://createyourlaptoplife.com
http://executivesecretary.com/canva-a-design-tool-for-the-non-designer/

Goeie nuus vir MATLAB-aanhangers

Maandag, April 24th, 2017

MATLAB en Simulink is fundamentele berekeningshulpmiddele wat wêreldwyd by opvoedkundige instellings gebruik word. Meer as 500 universiteite het reeds die TAH (Total Academic Headcount) webwerflisensie aangekoop en dit sluit een derde van die top 300 universiteite en 23 van die top 25 universiteite ter wêreld in.

MATLAB en Simulink is deesdae ʼn integrale deel van Universiteit Stellenbosch se kurrikulum. Die sagteware word gebruik in verskeie akademiese omgewings, byvoorbeeld Geografie, Agriwetenskap, Ekonomie, Biologie, Informatika, Sielkunde, Wiskunde, Statistiek en Fisika, sowel as die verskeie ingenieursvakrigtings. Die universiteit verskaf werksareas (labs) met 8 verskillende gelisensieerde klaskamerbedieners wat deur studente gebruik word op universiteitsrekenaars. Toegang vir navorsers word verskaf deur ʼn aantal installasies: 6 netwerkbedieners verskaf gelyktydig toegang aan 35 gebruikers, 8 groeplisensies aan 79 gebruikers en 35 individuele lisensies.  

Studente wat MATLAB en Simulink gebruik, vestig ʼn kennisgrondslag wat hulle deur die res van hulle universiteitsjare kan gebruik en dit berei hulle voor op loopbane in ingenieurswese, sowel as biologie, wetenskap, finansies en wiskunde. Fakulteite gebruik MATLAB en Simulink om studente te betrek by kursusmateriaal en navorsing deur ʼn buigbare omgewing te bied vir onderrig, toepassing van algoritmes en modelle en data-ondersoekings. Studente kan teorie toepas op probleme in die regte wêreld binne ʼn wye omvang van student-georienteerde navorsing – in lyn met die groter neiging na aktiewe leer, byvoorbeeld PBL en CDIO.

Universiteit Stellenbosch het ʼn Total Academic Headcount (TAH) lisensie vir MATLAB, Simulink en addisionele produkte. Fakulteite, navorsers en studente kan hierdie produkte gebruik vir onderrig, navorsing en leer. Met hierdie lisensie kan individue produkte op universiteitstoerusting, sowel as persoonlike toerusting, installeer. 

Om ʼn individuele lisensie vir skootrekenaars en tuisrekenaars te bekom:

Opsie 1 – Op kampus aflaaibare lêer. Kliek hier vir instruksies.
Opsie 2 – Weg-van-kampus aflaaibare lêer op die Mathworks webwerf. Kliek hier vir instruksies.

Leer meer oor die vermoëns en gebruik van die sagteware

Gebruik die TAH Hulpbronne vir tutoriale, webseminare, leermateriaal, boeke en veel meer om jou te help met die gebruik van MATLAB en Simulink. Wanneer jy die bronne op so ʼn manier raadpleeg, hoef jy nie registrasievorms in te vul nie.  

Neem kennis dat jou MathWorks-rekening jou ook gratis toegang gee tot aanlyn opleiding met MATLAB Onramp, sowel as toegang tot aanlyn werkstukke met behulp van Cody Coursework.

Bemagtig jouself met MathWorks hulpbronne

Besoek die MathWorks for Education webwerf by mathworks.com/academia
Besoek die MathWorks Academy webwerf vir gratis aanlynkursusse by matlabacademy.mathworks.com

MATLAB vir mobiele toestelle

Verbind aan MATLAB vanaf jou iPhone, iPad, of Android-toestel: mathworks.com/products/matlab-mobile.html

Hulp nodig?
E-pos: ithub@sun.ac.za

[Inligting verskaf deur Kirsten Smith, Bestuurder: Toepassingsingenieurswese by MATLAB]

Whatsapp-verblindery

Woensdag, November 23rd, 2016

WhatsApp word deur studente en personeel gebruik as belangrike kommunikasiemiddel. Ongelukkig bied dit aan kuberdiewe nog ʼn platform om hul aktiwiteite op uit te oefen. 

WhatsApp kuberstreke kom in verskeie formate voor en is dikwels besonder oortuigend.  Maak seker jy bly oplettend en word nie geflous deur iets wat te goed of te problematies om waar te wees lyk nie. Net omdat ʼn familielid of vriend vir jou iets aanstuur, beteken nie dis veilig nie.

Koepon-truuks

Jy kry ʼn boodskap via Whatsapp van (wat lyk soos) een van jou vriende en hy beveel ʼn aanbod waarop hy afgekom het, aan. Gewoonlik is daar ʼn skakel in die boodskap wat jou na ʼn ander webwerf neem en waar jy jou persoonlike inligting invul. Moet nooit op ʼn skakel kliek waaroor jy nie seker is nie en moet definitief nooit persoonlike inligting gee op ʼn webwerf wat jy nie ken nie. 

WhatsApp maak toe

Daar is heelwat vals boodskappe wat beweer dat Whatsapp gaan toemaak indien genoeg mense nie ʼn spesifieke boodskap deel nie. Die boodskappe lyk dikwels heel oortuigend en gebruik die regte woorde en frases vir die konteks, asof dit deur ʼn direkteur van ʼn maatskappy of iemand amptelik gestuur is. 

ʼn Amptelike verslag sal egter nie van kliënte verwag om dit heen en weer te stuur nie. Dit sou deur middel van normale nuuskanale verkondig word of as ʼn kennisgewing in die toepassing self deur die Whatsapp-span.

WhatsApp dreig om jou rekening te sluit

Hierdie voorbeeld is soortgelyk aan die vorige een. Dit lyk soos ʼn amptelike boodskap wat beweer dat jou Whatsapp-rekening gesluit gaan word omdat dit nie aktief gebruik word nie. Dit versoek dat jy die boodskap aanstuur om te bewys dat dit wel gebruik word.

WhatsApp dwing jou om te betaal

Ook soortgelyk aan die vorige kuberdiefstalpoging. Die enigste verskil is dat jy blykbaar vrygeskeld word van betaling indien jy die boodskap aanstuur na ander persone.

WhatsApp Gold of WhatsApp Premium

Dié boodskap stel voor dat jy ʼn spesiale weergawe van Whatsapp, gewoonlik genoem Gold of Premium, koop of aflaai. Blykbaar bied hierdie nuwe weergawes opwindende ekstra kenmerke, soos die vermoeë om meer fotos te stuur, nuwe emojis te gebruik of ekstra sekuriteitsopsies. Ongelukkig is hierdie verbeterde weergawes glad nie veilig nie. Wanneer die toepassing aflaai word, word die foon besmet met malware, wat opsigself meer vals boodskappe genereer op jou onkoste.

Whatsapp e-posse 

Gemorspos e-posse is erg genoeg, maar saam met Whatsapp raak dit onbeheerbaar. Daar is ʼn verskeidenheid kuberdiefstalpogings daar buite wat e-posse uitstuur wat soos Whatsapp-kennisgewings lyk – gewoonlik ʼn kennisgewing van ʼn verlore oproep of stempos. Maar wanneer jy daarop kliek, word jy oortuig dat jou inligting, wagwoord, ens. moet verklap.

Moet nooit op ʼn e-pos van ʼn twyfelagtige sender kliek nie. Whatsapp stuur nie e-posse oor verlore oproepe of stempos nie. 

Onegte WhatsApp afloer-toepassings

Whatsapp gebruik end-to-end enkripsie en gevolglik is dit nie moontlik om iemand anders se boodskappe te lees nie. Boodskappe kan slegs gelees word deur die fone wat dit stuur en ontvang.

Hierdie pogings moedig jou aan om iets af te laai wat nie bestaan of moontlik is nie. Jy betaal eintlik vir malware wat jou eie boodskappe lees wanneer jy dit op jou foon laai.

Laastens –

Hopelik het jy reeds die verstelling verander wat jou Whatsapp-details (telefoonnommer, naam, ens.) met Facebook deel en sal Facebook nie jou Whatsapp-rekening toeganklik maar vir 13 miljoen Facebook-gebruikers nie. 

Meer inligting oor dié kontroversiële beleidsverandering deur Whatsapp kan op die volgende bladsy gelees word:  http://www.mirror.co.uk/tech/you-can-stop-whatsapp-sharing-8893949

[ARTICLE DEUR DAVID WILES]

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.